Menu terloops
In Redakteurskeuse [5 Mar 2024]

Redakteurskeuse vir Maart 2024: Hou vas vir wilde rit in ‘White Lies’, Thabo Bester-dokkie, ‘Plan B’ en meer


Wat om te kyk: Van twee stories wat op Deon Meyer-boeke gegrond is, ‘Plan B’ op kykNET en ‘Heart of the Hunter’ op Netflix, en ’n moordraaisel-whodunnit soos min in ‘White Lies’ op M-Net, tot plaaslike dokkiereekse soos ‘The Illuminated’ en ‘Tracking Thabo Bester’ op Showmax – hier is ons keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Deur Rozanne Els
Redakteurskeuse vir Maart 2024: Hou vas vir wilde rit in ‘White Lies’, Thabo Bester-dokkie, ‘Plan B’ en meer

Wat om te kyk vandeesmaand – hier is my redakteurskeuse vir Maart 2024.

Neem asseblief kennis dat datums en titels moontlik kan verander.

White Lies

Weeklikse episodes van Donderdag, 7 Maart 2024, om 20:00 op M-Net (DStv-kanaal 101) en DStv Stream. Dit sal ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar wees.

Dit vat nie lank voordat die whodunnit White Lies se vertelling jou só meesleur en intrek dat jy amper genoop voel om dan nou self die raaisel, die spil waar om áls in hierdie storie draai, op te los nie.

Soos ek in my resensie van die reeks skryf:

“Dit begin dalk met ’n moord, maar wat die ondersoek daarna opdiep, krap van Kaapstad se lelikste lelik oop. Nie alles is mooi hier by die see nie. Beslis nie as geld eers ter sprake is nie. 

“Meestal volg ons die joernalis Edie Hansen (vertolk deur die Game of Thrones-aktrise Natalie Dormer) soos sy probeer sin maak van haar broer se moord in die weelderige Bishopscourt in Kaapstad se suidelike voorstede. Haar broer se twee tienerkinders loop veral onder die veteraanspeurder Forty Bell (Brendan Daniels) se vrae en valkoog deur, terwyl daar ook trane langs hul ma se bed in die hospitaal, waar sy in ’n koma lê, val. Deurentyd word nie net die onbeholpe polisiediens en wydverspreide korrupsie in oënskou geneem nie, maar ook die geraamtes wat die rykes diep, diep, diep in hul kaste, agter die ontwerpersklere, wegsteek.”

Met John Trengrove, Christiaan Olwagen en Catharine Cooke as deel van die regiespan, word Darrel Bristow-Bovey se draaiboek met ’n helse hou in die lewe geroep.

Hou vas, dié is ’n wilde rit.

Plan B

Weeklikse episodes vanaf Dinsdag, 26 Maart 2024, om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en DStv Stream. Dit sal ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar wees.

Plan B het al die regte bestanddele vir ’n trefferreeks – karakters wat deur die topverkoperskrywer Deon Meyer geskep is; ’n draaiboek geskryf deur die bekroonde Tertius Kapp;  Jozua Malherbe se briljante regie-hand, en gesoute akteurs wat die storie vorentoe dryf. 

Plan B draai om Ivan Malan (Tim Theron), ’n ex-military man, en sy vennoot, Paul Schmidt (Arnold Vosloo), wat Vermeer se Vlammemeisie, waarvan die waarde honderde miljoene rande beloop, by ’n bendebaas steel. Intussen word Ragel Bergh (Amalia Uys) deur die glyjakkals Joshua Lansky (Armand Aucamp) uit haar erfporsie geswendel. En dis net hier waar Ragel se paaie ment die twee diewe s’n kruis…

Anders as Devil’s Peak, wat ook op ’n Meyer-storie gegrond is en so ook deur Malherbe geregisseer is, het die misdaadverhaal  ’n heel ander aanslag; een waar die kwinkslae en slimstreke soomloos met die avontuur en aksie vermeng.  

Onder die ander spelers wat deel van dié caper is, tel Rolanda Marais, Dorette Potgieter, André Jacobs, Sobantu Nqayi, Wanda Banda, Roberto Kyle en Anrich Herbst.

Plan B, wat in en om Kaapstad verfilm is, bestaan uit vyf episodes.

Heart of the Hunter

Vanaf Vrydag, 29 Maart 2024, op Netflix beskikbaar om te stroom. 

Die nuwe Netflix-fliek, Heart of the Hunter, is gegrond op die gelyknamige boek deur die skrywer Deon Meyer (die Afrikaanse weergawe heet Proteus) en spog met ’n indrukwekkende rolverdeling wat onder andere die Devil’s Peak-ster Sisanda Henna insluit. 

Die fliek volg dieselfde premis as die boek met die storie wat in post-demokratiese Suid-Afrika afspeel. Bonko Khoza vertolk Zuko Khumalo, ’n voormalige sluipmoordenaar en nou ’n familieman, wie se wêreld omgedolwe word as ’n oud-kollega hom nader met inligting oor ’n samesweringskomplot wat Suid-Afrika tot ’n algehele val kan bring. Terwyl hy poog om sy gesin veilig te hou, word dit egter duidelik dat hy wel iets sal moet doen om te keer dat ’n korrupte politikus seëvier. 

Ook in die rolverdeling tel Tim Theron (ook vandeesmaand in Plan B te sien), Connie Ferguson, Deon Coetzee en Masasa Mbangeni. 

The Illuminated

Weeklikse episodes vanaf Woensdag, 6 Maart 2024, op Showmax. 

The Illuminated, ’n nuwe ondersoekende dokumentêre reeks op Showmax,  kyk na Suid-Afrikaanse godsdiensbewegings wat buite die hoofstroom val. Dit sluit onderhoude met kundiges, leiers, oud-lede, nuwe voorstanders, asook teenstanders van dié groepe in. Só probeer die vervaardigers om in elke episode ’n insider-siening, ’n koekeloer agter die gordyn, te gee. 

Terwyl die eerste episode handel oor Israel-visie, fokus die daaropeenvolgende episodes op The Church of Scientology; die Christ in Me International Collective; netwerkbemarkingsondernemings en korporatiewe transformasie-afrigtinginisiatiewe wat sekere ooreenkomste met godsdiensgroepe het; KwaSizabantu; nuwe evangeliese kerke; Mancoba Seven Angels Ministries; en The Fellowship in Hermanus. Daar word ook gekyk na hoe ekstreme godsdienstige oortuigings mense kan dryf om afgryslike dade te pleeg – soos die moord van die Lotter-egpaar deur hul kinders, Nicolette en Hardus. 

Tracking Thabo Bester

Terwyl twee van die vier episodes Vrydag, 15 Maart 2024, vrygestel word, word die laaste twee op Vrydag, 22 Maart 2024, beskikbaar gestel. 

Tracking Thabo Bester is die nuwe ondersoekende dokkie uit die IdeaCandy-stal, dieselfde vervaardigers wat onder meer Devilsdorp, Rosemary’s Hitlist, en Steinheist vervaardig het. Dié ware misdaaddokumentêr vertel oor hoe die moordenaar en verkragter, Thabo Bester, uit die tronk ontsnap het deur mense te laat dink hy is in sy tronksel in ’n brand dood. Maar nee, die man het, glo met die hulp van sy medebeskuldigde en lover, dr. Nandipha Magudumana, die gereg ’n rat voor die oë gedraai en daarna by die Woolies in Sandton City gaan shop

Die eerste episode volg die GroundUp-joernaliste Marecia Damons en Daniel Steyn – wat eerste was om die kullery te ontbloot – soos hulle ondersoek instel nadat hulle ’n anonieme wenk ontvang het dat die verkoolde lyk wat in Sel 35 by die Mangaung Korrektiewe-sentrum gevind is, dalk nie Bester is nie. Die daaropvolgende episodes werp lig op hoekom Bester die “Facebook-verkragter” genoem is en hoekom hy oorspronklik tronk toe gestuur is, asook hoe ’n celeb-dokter op dié misdadiger verlief geraak het en ook haar kinders agtergelaat het om saam met hom op die vlug te slaan. En dan natuurlik – wie is regtig daai dag in Sel 35 dood?

Road House

Vanaf Donderdag, 21 Maart 2024, op Prime Video beskikbaar.

Road House is ’n herverbeelding van die oorspronklike 1989-aksiefliek met Jake Gyllenhaal wat Patrick Swayze se skoene in die hoofrol volstaan. 

Die fliek draai om Elwood Dalton (Gyllenhaal), ’n voormalige UFC-vegter (á la Dricus du Plessis) wat van sy donker verlede en voorliefde vir geweld probeer ontsnap as Frankie (Jessica Williams) hom aanstel as die bouncer by haar roadhouse in die Florida Keys. Frankie hoop Dalton sal kan keer dat ’n gevaarlike bende wat vir die misdaadbaas Brandt (Billy Magnussen) werk haar geliefde kroeg vernietig. Dalton maak vinnige werk daarvan om van Brandt se boewe ontslae te raak, maar die bloed loop as Brandt dan ’n wrede gun-for-hire, Knox (Conor McGregor) kry om met Dalton klaar te speel. 

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Redakteurskeuse vir Februarie 2025

Wat om te kyk: Die popkultuur-fenomeen ‘White Lotus’ keer terug vir ’n derde seisoen, ‘Suits’ se spin-off, ‘Suits L.A.’, maak sy debuut, en Kate Hudson is in haar element in die nuwe Mindy Kaling-komedie, ‘Running Point’ – hierdie stories tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer

Jou telenovela-gids vir Februarie 2025: Ontvoerings en opskuddings in ‘My naam is Farah’

Tahir neem sake in eie hande en Farah sal enigiets doen om haar ma te red. Dít en nog meer wag op ‘My naam is Farah’-kykers in Februarie. Hier is ons handige kykgids.

Meer

‘Suidooster’: Kyk uit vir dié 5 storielyn-kinkels in Februarie

Dié ‘Suidooster’ kom in Februarie nie saggies teen die hange van die berg af nie… Hier is vyf storielyne wat ‘Suidooster’-kykers in die maand van die liefde hul naels behoorlik gaan laat kou.

Meer

Jou kykgids vir ‘Kokkedoor Vuur & Vlam’ se tweede seisoen

In die tweede seisoen van die kykNET-kosreeks 'Kokkedoor Vuur & Vlam' is die bekroonde sjef Bertus Basson en braaighoeroe Kobus Botha weer op soek na die perfekte kombinasie van ’n onthoubraaier en kinkelbraaier. Hier is waarna kykers oor die loop van die tweede seisoen se 13 episodes kan uitsien.

Meer
Sien alle opsies