Menu terloops
In Wat om te kyk [2 Sep 2024]

‘My F*k, Marelize’ word wraggies ’n fliek


Die verfilming van die vollengte filmweergawe van dáái ikoniese ‘My F*k, Marelize’-oomblik begin eersdaags in Namibië.

‘My F*k, Marelize’ word wraggies ’n fliek

Die virale video met ’n sêding wat die hart van die nasie verower het, word vir die grootskerm verwerk. MultiChoice het die vervaardiging van die speelfilm getiteld My F*k, Marelize by vanjaar se Silwerskermfees aangekondig.

Die rolprent speel in Windhoek af en is geïnspireer deur die ware gebeure wat tot dié onvergeetlike rugbypaal-voorval gelei het. Dit volg die ongeluksvoël Marelize Horn terwyl sy voorberei om ’n au pair in Nederland te word, en haar ma, Heidi Horn, wat met ’n kankerdiagnose moet omgaan. Dit alles vind plaas teen die agtergrond van WIKA, die jaarlikse Windhoekse Karnaval.

As ’n Afrikaner is dit regtig spesiaal om my taal, kultuur en mense te vier in ’n storie wat gaan oor ons humor en manier om die lewe aan te pak.

Zandré Coetzer

Die draaiboek is deur die Safta-bekroonde Brett Michael Innes (Sink, Fiela se kind, Selah) geskryf. Zandré Coetzer – een van die televisieregisseurs van Dinge van ’n kind en ook een van die vervaardigers van die reeks Donkerbos, wat twee Safta-toekennings ingepalm het en internasionaal verkoop is – maak met dié fliek haar debuut as speelfilmregisseur.

“Hierdie film gaan almal verras,” sê Innes. “Wanneer mense dink aan ’n fliek gegrond op die frase ‘my f*k, Marelize’, verwag hulle waarskynlik ’n klugkomedie oor ’n tiener wat aanhoudend teen goed vasloop. Die verhaal van die Horn-familie het egter soveel meer diepte as dít. Ons kan nie wag om kykers daarmee te verras nie.”

“Hierdie storie is ’n viering van die lewe,” sê Coetzer. “ ’n Warm blik op hoe ons mense in Namibië en Suid-Afrika elke uitdaging met ’n grappie en ’n glimlag in die oë kyk. Ek was gelukkig om tyd met die Horn-familie deur te bring. Om hulle dinamika as ’n eenheid te ervaar, het my so ’n duidelike visie vir die film gegee. As ’n Afrikaner is dit regtig spesiaal om my taal, kultuur en mense te vier in ’n storie wat gaan oor ons humor en manier om die lewe aan te pak.”

Die Horn-familie – Marelize, Heidi, Tiaan en Wilmari – was sedert die begin van die ontwikkeling betrokke. Hulle het hul huise en lewens vir die produksiespan oopgemaak, en die verfilming begin vandeesmaand.

“Dis ongelooflik hoe hierdie ding bly groei,” sê Marelize. “Toe ek verlede jaar uit die bloute ’n Facebook-boodskap van Brett gekry het oor sy planne om ’n fliek oor ons gesin te maak, het ek nie geweet wat om te verwag nie. Nou is hulle op die punt om te begin skiet. Ek kan nie wag om te sien hoe ons ervarings lewe kry op die skerm nie.”

Liefdesbrief oor grense heen

Die film is ’n Namibiese en Suid-Afrikaanse ko-produksie – ’n samewerking tussen die Windhoekse vervaardigers Joel Haikali en Sophie Haikali van Joe Vision Productions (medevervaardigers van die 2024 Berlinale-geselekteerde Pepe) en die Kaapstadse produksiehuise Nagvlug Films en Nostalgia Productions. Paulo Areal (Ellen: Die Ellen Pakkies Storie, Five Fingers for Marseilles) is ook deel van die span vervaardigers.

“Hierdie sprankelende Namibië-Suid-Afrika-ko-produksie is ’n liefdesbrief aan die manier van lewe in Windhoek,” sê die vervaardiger Haikali. “Dit vier ons eiesoortige Namibiese sjarme en gees met baie humor en ook ons Afrikaans met sy kenmerkende Namibiese geur. Dit is ’n rolprent vir die hele familie, en ons is baie opgewonde om deel daarvan te wees!”

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Chanél Muller oor ‘Sy, die meeue en die Heilige Gees’

"Enige persoon se geloofsreis is ’n baie persoonlike reis, en dit gebeur alles baie innerlik", sê Chanel Muller, die skrywer, regisseur en vervaardiger van die kykNET-reeks 'Sy, die meeue en die Heilige Gees'.

Meer

Lag, liefde en soveel meer: Ons kykNET-kyklys vir Oktober

Oktober op kykNET bring plaasromanse, slim speletjies en stories vir boekliefhebbers. 'Boer soek ’n vrou' se liefdeskeuses sorg vir afwagting, 'Haas se gat' speel met woorde en feite, terwyl 'Boekmerk' by skrywers en leeskringe kuier vir gesprekke oor Afrikaanse boeke.

Meer

’n Skokwending en gevaarlike versoekings vier hoogty in ‘Suidooster’ dié Oktober

Ou vetes vlam op, nuwe liefde vertroebel oordeel en ’n skokwending ruk een gesin se wêreld in Ruiterbosch. Dié Oktober loop spanning hoog in Suidooster. Hier is vyf storielyne wat jy nie wil misloop nie.

Meer

Neels van Jaarsveld, jong talent en lekker kos op VIA in Oktober

VIA sorg in Oktober vir lekker kykstof met Neels van Jaarsveld se troeteldierstories, kombuiskuiers saam met Aneeka Papier en kookinspirasie van Herman Lensing. Jong kunstenaars wys hul staal in Gekies vir die kollig!, terwyl Die beste in die Noorde wegbreekidees bied. Huisgenoot: Ware lewensdramas keer ook terug vir sy twintigste seisoen.

Meer
Sien alle opsies