Menu terloops
In Silwerskermfees [17 Jul 2024]

‘Niemand anders’ as Erica Wessels sou dié fliek kon laat werk, sê ‘Selah’-regisseur


Die veelbekroonde regisseur en vervaardiger, Brett Michael Innes, bring met ‘Selah’ ’n ingetoë, ontstellende verkenning van postnatale depressie na die Silwerskermfees.

Deur Herman Eloff
‘Niemand anders’ as Erica Wessels sou dié fliek kon laat werk, sê ‘Selah’-regisseur
Kyk lokprent

In Brett Michael Innes se ontnugterende kortfilm Selah vertolk Erica Wessels ’n slaap-ontneemde ma wat worstel met die wrede werklikhede van moederskap terwyl sy na haar koliekbaba omsien. In die looptyd van tien minute beeld die kortprent die dikwels versweë uitdagings uit van nuwe ouers wat sukkel om die fisieke, emosionele en geestelike eise van ouerskap baas te raak.

Brett (Sink, Fiela se kind) het meer oor die kortprent – én die film se verkenning van postnatale depressie (PND) – vertel.

Verduidelik asseblief die oorsprong en betekenis van die titel Selah?

“Die woord ‘sela’ word 74 keer in die Psalms van die Hebreeuse geskrifte gebruik. Dit is ’n liturgies-musikale instruksie wat aandui hoe die teks gelees moet word, en beteken ‘stop en luister’ of ‘stilte’. Toe ek oor die funksie van klank in die film gedink het, het dit na die regte titel geklink om die ma-karakter se sleutelmotiverings te beskryf. Al wat sy begeer is stilte, en dit motiveer haar optrede.”

Die stelontwerp is funksioneel om dit wat kykers nie kan sien nie, oor te dra. Wat het die stelontwerp alles behels?

“Ek is mal daaroor om stelinkleding in te span om temas uit te beeld, en in hierdie film is dit weer so. Ek het nou saamgewerk met die produksieontwerper Vicky Sawkins, en ons het elemente ingebring wat aan kykers wenke gee oor die vrou na wie hulle kyk – van familiefoto’s tot die woorde ‘geloof, hoop, liefde’ teen die muur, die chaos rondom babas, en ’n huis wat mooi ontwerp is. Ons het selfs ’n beeldjie van ’n koplose vrou, wat deur Marieke Prinsloo gemaak is en in Sink te sien was, ingesluit as ’n eerbetoon aan Sink en om die tema van hulpeloosheid te simboliseer.

“Die idee was dat kykers nie moes kon sê dat armoede die ma in hierdie situasie gebring het nie. Ons wou eerder seker maak mense verstaan dat postnatale depressie niks met ekonomiese status uit te waai het nie. Gegewe die lengte van die sekwens op die skerm, wou ons kykers soveel inligting moontlik gee terwyl hulle alles inneem wat voor hulle afspeel.

“Nikkila Mann se hare en grimering en Lori Myburgh se kostuums het verdere afronding aan die atmosfeer gegee. Om realisme in die film te verseker, wou ons hê die karakters moes eg oorkom, en glad nie gestileerd nie.”

Erica Wessels beeld Maria uitstekend uit, sonder om ooit ’n enkele woord te sê. Hoe het dit gekom dat Erica die hoofkarakter vertolk het?

“Erica Wessels was nog altyd op my radar. Haar spel in Donkerbos het my en die vervaardigers Paulo Areal en Nick Ahlers egter oortuig dat niemand anders hierdie film sal kan laat slaag nie. Haar vermoë om ’n ruimte te vul sonder om dit te domineer, het min gelyke.

“Omdat Selah ’n statiese film van 10 minute is, het ons geweet die hoofrol moet gevul word deur iemand wat besit kan neem van die skerm, sonder dat daar noodwendig veel gebeur. Erica het diep binne haarself gedelf om gestalte aan die karakter te gee. Wanneer mens na die film kyk, kan jy dit tot in haar liggaam sien. Dit was ’n groot eer om twee meter ver van haar vertolking te kon wees.”

En Keenan Arrison as Callum?

“Keenan se betrokkenheid het eers veel later gekom toe ons besluit het Callum se karakter is nodig om die agtergrond uit te brei. Namate die verhaal ontwikkel het, het ek besef ek wil die eggenoot ’n naam en teenwoordigheid gee. Ek het toe vir Keenan, met wie ek al geruime tyd wou saamwerk, gebel. ’n Hartverskeurende aspek van die produksieproses was dat sy pa, Derick Arrison, enkele dae voordat verfilming sou begin, oorlede is. Keenan het die opsie gehad om te onttrek, maar hy en sy ma het gevoel dat, deur voort te gaan en te doen waarvoor hy lief is, dit ’n gepaste manier sou wees om sy pa se nagedagtenis te eer.”

Selah, Silwerskermfees

Die tema wat in die film aangeroer word, is ook in jou vorige werk teenwoordig. Is dit moeilik om so ’n komplekse onderwerp aan te pak?

“Ek voel van nature aangetrokke tot komplekse sosiale temas. Dit was dus nie moeilik om die PND-onderwerp aan te pak nie. Ek hou daarvan om te weet waarom mense op bepaalde maniere optree, veral in daardie grys gebied tussen binêre denkpatrone en moraliteit. Met dié morbiede belangstellings is ek seker maar bietjie van ’n masochis. Maar solank dit uitloop op ’n betekenisvolle produk, is ek bereid om dit te doen.”


Koop kaartjies vir die 2024 Silwerskermfees op Quicket. Vanjaar se fees loop van 28 tot 31 Augustus 2024.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Silwerskermfees 2024: Waar en wanneer om vanjaar se kortfilms die week op TV te kyk

Vanjaar se Silwerskermfees het weereens voortgebou op meer as ’n dekade se ontwikkelingsprojekte in die plaaslike filmbedryf – en die eerste sarsie stories word hierdie Saterdagaand, 7 September 2024, op kykNET uitgesaai.

Meer

‘Wyfie’: Jou kykgids vir September 2024

Amanda kom voor moeilike besluite te staan en Kyla is in ’n desperate situasie verstrengel. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer
12

12 klassieke chick flicks en reekse om te kyk

Gryp die popcorn en rosé en kyk ’n paar van die mees ikoniese chick flicks en reekse wat ons oor die jare vermaak en geïnspireer het. Of jy nou lus is vir ’n lekker romcom, ’n hoërskooldrama, of ’n feel good-reeks, hierdie lys van 12 throwback-juwele is beskikbaar op jou gunsteling-stromingsplatforms.

Meer

Redakteurskeuse vir Augustus 2024: ’n ‘Eksie Perfeksie’-romkom, beste seisoen nog van ‘Fargo’, en meer

Wat om te kyk: Die tweede seisoen van die epiese TV-vertelling van 'Lord of the Rings', heerlike humor in 'JACKPOT!', die Afrikaanse romkom, 'Eksie Perfeksie' en die ongelooflike historiese drama, 'The Tattooist of Auschwitz', tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer
Sien alle opsies