In hierdie episode besoek die Lottoland help ’n dorp-span vir Elim, ’n klein sendingdorpie in die Overberg.
Die dorp
Dis ’n eerste besoek vir sangeres en programaanbieder Leah en sy erken sy het nie eers geweet van Elim se bestaan nie.
“Dis letterlik ’n dorp uit ’n skildery uit. Die rietdakhuisies is in rytjies langs mekaar. Hulle het almal soveel karakter. Die mense van Elim is ongelooflik vriendelik,” sê sy ná haar kennismaking met die dorpie. “Jy voel so warm en welkom. Jy voel so vreedsaam en rustig.”
Hennie Ulster, onder-voorsitter: Feeskomitee en projekspanlid, vertel dat Elim ’n Morawiese sendingstasie is.
“Dis eintlik ’n plaas wat ons gekoop het, destyds bekend as Vogelstruiskraal,” vertel hy oor die dorpie waar al die inwoners aan die Morawiese kerk behoort.
“Ons is ’n unieke dorpie, hoor. Ons is een kerk, en ons is privaat-eiendom van die Morawiese kerke huidiglik. En wat julle hier sien, is wat ons voorouers vir ons voorberei het en ons het hom voortgevat tot vandag toe,” vertel Amanda Cloete, erfenis- en kultuurbeampte.
Eerwaarde Sandra Abrahams bevestig dat almal in Elim Morawiërs is.
“En so aanbid ons en so dra ons mekaar se laste,” sê sy.
“Die dorpie is spesiaal want ons mense is baie lief vir mekaar. Ons gee om vir mekaar en ons is ’n Christelike gemeenskap,” bevestig Luleen Hopley, gemeenskapslid.
“As jy gebore is in Elim, dit maak nie saak waar in die wêreld jy beland deur jou loopbaan nie, jy gaan wil terugkom huis toe, want Elim is huis,” sê Lorenda Adams, voorsitter: Opsienersraad.
“Elimmers is vir baie, baie dinge bekend. Hulle is wêreldberoemd vir veral rietdak-dekkery, basuinkoorblasers, koorsangers, messelaars. Jy weet, van die Elimmers het gehelp om die Kaap Agulhas-lighuis te bou. En dan, Elim het baie fynbos. Op onse kop hier anderkant genaamd Geelkop, is daar spesies wat nêrens anders in die wêreld voorkom as hiersô nie,” vertel Hennie.
Daar’s ’n gevoel van hoop in die dorp en dit is een van die grootste goed wat Lottoland help ’n dorp wil bring in ’n dorp. En dis hoop. En jy voel dit hier in Elim.
Leah
“Elim is eintlik die fondasie van my lewe. Die kerk – dis waar my fondasie gelê is. En ek is die Here ewig dankbaar dat ek Elim toe gekom het,” sê Dirk Jantjies, gemeenskapslid.
“Daar’s min mense wat met soveel liefde en trots oor ’n plek kan praat, en dis so tasbaar. Jy voel dit sommer net aan. Jy voel saam trots,” erken Leah.
Daar is immers in 1974 ’n boek uitgegee met die titel Daar is maar een Elim, vertel Hennie.
“Hier’s jy deel van ’n gemeenskap, met gedeelde waardes, tradisies en gebruike. Elim is ’n rustige plek. Op Elim is almal familie van mekaar,” sê hy. “As iets nie lekker gaan by die huis nie, dan’s daar iemand wat ondersteun.”
Hy noem dat daar sowat 2 000 mense in die dorpie bly. Hy self het hier leer kerk gaan omdat sy pa die predikant was en sy ma het gesorg dat hy Sondagskool bywoon. Maar hy moes ook die twee dienste op Sondae bywoon. Woensdagaande was daar weer kerk en op Saterdae die weeksluitingsdiens.
Elim is vanjaar 200 jaar oud en ’n groot feestelikheid daarvoor beplan.
“Makietie is die regte woord,” help Hennie gou reg. “Maar ons gaan feesvier met ’n Christelike inslag, meestal. Ons wil eintlik vir die Here dankie sê vir 200 jaar van genade.”
Help, Lottoland!
“Kyk, ek is nie eers ’n bietjie verbaas dat hulle die kerk ingeskryf het as deel van hulle projek nie want dit is regtig die plek wat die hele gemeenskap bymekaar bring.
“Hulle het al so bietjie opknappings buite gedoen, maar binne . . . daar waar jy regtig jou siel uitleef en wat almal daarbinne bymekaar bring, kort ’n bietjie hulp,” sê Leah.
“Ek sit baie dae, dan sit ek so en dink: as ons maar net kan geld kry vir hierdie kerk, binnekant. As ons darem daai kan kry. Ek weet nie, ek weet nie wat sal ek doen nie. Ek sal maar net . . . die mense moenie sien ek raak bewoë nie, ek sal maar weghardloop,” vertel Ronald October, voorsitter: Feeskomitee en projekspanlid.
Die ou skool, wat nou as gemeenskapsaal ingespan word, se dak het ook aandag nodig. Dis die plek waar alles plaasvind van troues tot konserte en vergaderings.
“Baie van die inwoners is pensioenarisse. En dis hoekom ook hulle kinders moet uitwyk na die stad toe vir werkgeleenthede. Daarom moet ons by hierdie fees, moet ons uitreik na organisasies soos Lottoland. Om te kyk, ons wil graag ’n nalatenskap agterlaat vir hierdie gemeenskap,” sê Dirk.
Die groen koevert
“Prys die Here, man, prys die Here!” is Hennie se reaksie toe Leah vir hom die koevert wys.
“Ek kan nie glo wat hier staan nie!” sê hy heeltemal verstom. Ja, Lottoland help ’n dorp skenk R417 000 aan Elim vir hul projekte.
“Ek gaan nou môre Kaap toe, maar ek moet terugkom sodat ons Sondag in die kerk kan afkondig,” laat hy opgewonde hoor en vertel hoe lekker sy hart gebokspring het toe hy die koevert gewaar het.
Waar Ronald in die kerkbank sit, kry hy net ’n, “Nee, moenie grappe maak nie” uit toe hy sien wat in die groen koevert vir Elim bewillig word.
“Oe, ons het baie gebid vir hierdie aansoek! Ons kan net die Here al die lof en al die eer gee,” kom dit arms in die lug van Dirk.
Vir eerwaarde Sandra is dit soos ’n gebed wat waar geword het. Sy sê sy het altyd stilweg gehoop Elim word deur Lottoland help ’n dorp raakgesien.
Ses weke later
Ronald was bang dat hulle nie alles betyds afgehandel sou kry nie. Meer nog, gaan Lottoland help ’n dorp dalk hul geld wil terughê.
Leah se eerste stop is by die ou skool wat nou die gemeenskapsaal is. Die nuwe dak is op, die fascia-borde is vervang en nuwe geute is geïnstalleer.
Hennie kan nie uitgepraat word oor hoe die gemeenskap na vore gekom het met allerhande idees en skenkings nie.
Die binnekant van die kerk slaan byna Leah se asem weg.
“Ek stap vir die eerste keer in die kerk in wat geverf is en dit is eintlik ’n bietjie oorweldigend. Daar’s ’n klomp emosies wat deur ’n mens gaan en ’n klomp dinge deur jou kop.
“Dit is spierwit, nie wat noodwendig jou verblind nie, maar wat amper jou oë weer oopmaak en opnuut laat kyk na hierdie kerk,” sê sy.
Alles, insluitend die bankies, is oorgeverf en daar is ook detail met goud ingebring. Vir Leah is dit alles verskriklik mooi.
Hennie vertel hulle het die gemeente genooi om te kom help skoonmaak.
“En daar kom die oudste tannie wat ek gesien het, [sy] was 91 jaar oud, wat kom skoonmaak het, sy’t gekom met haar mop,” vertel Hennie vir Leah.
“Ons kerk binne-in, is pragtig. En dit gee eintlik vir jou ’n knop in jou keel,” sê Amanda.
Ook eerwaarde Sandra kon nie haar oë glo nie.
“Toe ek inkom ná die kerk geverf was . . . Wow! Wow! . . . het ek daai rustigheid weer kom kry, so ’n vredesgevoel. Ons kerk lyk pragtig.”
“Dié dorp gaan mooi wees. Hy gaan die juweel van die Overberg wees. Almal moet kom kyk as ons 1 Augustus tot 4 Augustus kan feesvier hiersô,” kom die uitnodiging van Hennie.
“Ek weet dat die projek hier op Elim ’n baie duur uitstappie vir hulle is. Om ’n dak op te sit en om enige opknappingswerk te doen, dit kos ’n klomp geld, kom ons wees nou eerlik.
“Maar hier het hulle regtig elke sent gerek en gestrek en weet jy, dit was so pragtig om te weet dat mense bereid was om hul dienste te verskaf vir ’n bietjie minder as normaalweg,” vertel Leah.
“Die mense het werklik die werk uit hul harte gedoen.”
Die werk aan die kerk het R230 000 beloop en vir die saal se dak was daar R22 000 te min. Maar Arnold Europa het gesê hulle kan ná die fees of soos wat hulle geld het, die tekort betaal. Ook die kontrakteur wat aan die kerk gewerk het, het heelwat meer gedoen as waarvoor hy gekwoteer het.
Dankseggingsdiens
Hennie het vir Leah vertel daar gaan ’n dankseggingsdiens plaasvind. Sy erken dat sy nie gedink het baie mense gaan opdaag nie, dit is immers ’n werksdag.
“Hier stroom ’n klomp mense in. As ’n mens deur die dorp ry, weet jy eintlik nie waar al die mense vandaan kom nie!” kom dit van ’n verbaasde Leah.
“Jou geloof moet sterk wees en jy moet bid. Maar ook, noudat jy gekry het, moet ons wees soos ons die dankdiens gehou het. Ons kan nie net wil aanvaar nie. En dan wil ons bid, ‘Here, gee vir ons’ en as Hy klaar gegee het, dan bedank ons nie vir Hom nie?” kom dit van Ronald.
“Daar’s ’n gevoel van hoop in die dorp en dit is een van die grootste goed wat Lottoland help ’n dorp wil bring in ’n dorp. En dis hoop. En jy voel dit hier in Elim,” sê Leah.
Leah het nog eers ’n werk wat sy op Elim moet afhandel: die plant van ’n geelhoutboom – en sy hanteer die graaf met dieselfde gemak asof dit ’n mikrofoon is!
Groettyd
Terwyl Leah en Hennie in een van Elim se mooi strate afstap, wil sy by hom weet hoe hy voel oor die projek.
“Gelukkig, gelukkig, gelukkig en tevrede,” kom die antwoord. Hy sê dis vir hom ’n droom wat waar geword het.
Leah wil hê meer mense moet Elim kom ervaar soos wat sy en die Lottoland help ’n dorp-span dit ervaar het.
“Jy gaan ’n nuwe mens wegstap. Jou hart gaan gevul wees en jy gaan gemotiveerd wees,” is haar afskeidswoorde.
Hennie het self ’n paar wyse woorde om mee te groet, en dit kom uit hul 2024-dagboekie: “Doen alles in liefde met mekaar.”
Hy sê as dit saamgelees word met ’n ander leuse: “Dra mekaar se laste” moet daar gedink word as dit die land se leuse kan word, dat daar in liefde en vrede met mekaar gewerk kan word, dat mense mekaar kan help en kan opbou. En as dit kan gebeur, sien hy ’n wonderlike toekoms vir Suid-Afrika.
Lottoland help ’n dorp saai Woensdae-aande om 21:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) en DStv Stream uit. Ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar. Ons recaps word direk ná elke nuwe episode omstreeks 22:00 gepubliseer.