Wat om te kyk vandeesmaand – hier is my redakteurskeuse vir Junie 2024.
Neem asseblief kennis dat datums en titels moontlik kan verander.
I Am: Celine Dion
Vanaf 25 Junie op Prime Video.
Dié rou en teuellose blik op een van die wêreld se grootste sangsterre het skaars ’n klompie minute nodig om ’n visceral reaksie by die kyker te ontlok. Hoendervel, ’n knop in die keel, trane wat wil-wil val. Vir ’n mens wat jy nie eens ken nie. Dis wonderlik, hierdie ontginning van ’n gedeelde menslikheid, en tydig, want ons silo’s se deure moet oop.
I Am: Celine Dion vertel oor dié ikoniese superster, die stem en performer (want ’n performer is sy tot diep in haar beendere) van liedjies soos “My heart will go on”, “It’s all coming back to me now”, en “That’s the way it is”, met die fokus wat veral val op haar meer onlangse stryd met ’n lewensveranderende siekte wat dreig om haar siel en wese te verpletter. Die dokumentêr is ’n amperse liefdesbrief aan haar aanhangers, pynlik eerlik en inspirerend in hoe dit nie net haar liefde vir musiek – amper aanbiddelik – maar ook die resilience van haar gees, haar Celine Dion-ess, wys.
Federer: Twelve Final Days
Vanaf 20 Junie op Prime Video beskikbaar.
Dié dokumentêr het begin as ’n tipe van home video vir die Federer-gesin – nie iets wat ooit vir die wêreld as gehoor bedoel was nie. Maar helaas, hier is dit nou en dankie tog daarvoor. Dis juis daai oorspronklike bedoelings, dat dié video net veronderstel was om die finale 12 dae van die baanbrekende tennisspeler Roger Federer se professionele loopbaan vir hom en sy gesin vas te vang, wat dit so roerend intiem maak. Die kamera vang hom vas op kwesbare en openhartige oomblikke soos hy die spel, sy aanhangers, en sy lewe vir sowat twee dekades, groet. Die dokkie sluit onderhoude in met mededingers en vriende, waaronder Rafael Nadal, Novak Djokivic, en Andy Murray, wat dan ook die verhouding tussen dié spelers onder die loep bring.
Onthul
Kyk dié episode van Onthul op Sondag, 23 Junie om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144), asook op DStv Stream en Catch Up.
Is die nuwe Nasionale Gesondheidsversekering-wetsontwerp die verwesenliking van ’n langverwagte droom vir gelyke mediese sorg vir almal? Of ’n nagmerrie wat die SuidAfrikaanse gesondheidswese onherroeplik sal verander… En in chaos dompel?
Hierdie is relevante en tydige kykstof vir alle Suid-Afrikaners.
House of the Dragon S2
Vanaf 17 Junie op Showmax en M-Net (DStv-kanaal 101 en DStv Stream). Dié reeks word dieselfde tyd as in die VSA uitgesaai, maar as jy dit nie 03:00 wil kyk nie, kan jy ook 21:00 op M-Net inskakel of op Showmax stroom.
Die eerste seisoen van House of the Dragon is as beste dramareeks by die 2023 Golden Globe-toekennings aangewys, met talle ander benoemings ook op sy kerfstok.
House of the Dragon, gegrond op die skrywer George R.R. Martin se Fire & Blood, speel sowat 200 jaar voor die gebeure van die epiese Game of Thrones af. Dis terselfdertyd geweldig anders én soortgelyk aan sy voorganger; ook epies, maar op ’n ander manier. (Lees ook ons resensie.)
Die begin van die tweede seisoen is ook die begin van die volskaalse oorlog tussen Rhaenyra Targaryen (Emma D’Darcy) en Alicent Hightower (Olivia Cooke) vir die kroon en troon ná die grusame dood van Rhaenyra se seun Lucerys in die vorige seisoen se finale.
Presumed Innocent
Die eerste twee episodes is vanaf 12 Junie op Apple TV+ beskikbaar. Nuwe episodes word daarna weekliks beskikbaar gestel.
Dié reeks is gegrond op die gelyknamige topverkoperboek deur Scott Turow. Kykers word gelei deur die verhaal van ’n moord wat groot moleste in die staatsaanklaer se kantoor veroorsaak.
Jake Gyllenhaal vertolk hier Rusty Sabich, een van die hoofstaatsaanklaers in Chicago. As Rusty dan egter van ’n moord verdink word, kom die gevolge en duur prys van politiek en mag aan die lig soos hy poog om sy onskuld te bewys, en meer belangrik, sy gesin en huwelik te red.
Die storie word oor die verloop van agt spanningsvolle episodes vertel en kom uit die stal van die veteraan-storieskepper David E. Kelley (Boston Legal, Big Little Lies, The Lincoln Lawyer) tesame met uitvoerende vervaardiger J.J. Abrams (Lost, Fringe, Westworld).
Ook in die rolverdeling van dié riller tel onder andere Ruth Negga, Bill Camp, Elizabeth Marvel en Peter Sarsgaard.
En nog ’n paar voorstelle:
- Savage Beauty S2, vanaf 28 Junie op Netflix beskikbaar. Dié plaaslike reeks tel op net waar die eerste seisoen geëindig het – en ja, almal soek dus steeds bloed.
- Bridgerton S3 Deel 2, vanaf 13 Junie op Netflix beskikbaar. And not a moment too soon! Ek kan nie wag om te sien wat gebeur met ‘Polin’ na Penelope (Nicola Coughlan) en Colin (Luke Newton) se vurige carriage-toneel nie…
- Een keer om die son, binnekort op kykNET (DStv-kanaal 144), asook op DStv Stream en Catch Up. In Een keer om die son speel die lief en leed van een familie oor die loop van ’n kalenderjaar af. Elk van die twaalf episodes beeld ’n maand in hulle lewe uit. Met terugflitse word daar gewys hoe hulle daar gekom het. Op die oog af lyk hulle gelukkig, maar min dinge is ooit mos soos dit voorkom nie, nè. Een keer om die son is Ivan Botha en Donnalee Roberts se eerste TV-reeks. Lees meer hier.
- Bread & Roses, vanaf 21 Junie op Apple TV+ beskikbaar. Dié dokumentêre fliek volg drie vroue se lewens soos hulle vir hul regte en gesag veg in post-2021 se Afghanistan. Dit werp lig op die aardskuddende impak wat die val van Kaboel aan die Taliban op vroue hier gehad het. Nie maklik om te kyk nie, maar broodnodig.
- Land of Women, vanaf 26 Junie op Apple TV+ beskikbaar. Land of Women is dramedy met Eva Longoria in die hoofrol as ’n vrou, gewoond aan haar weelderige lewe in New York, wat haar tienerdogter en ma moet saamsleep en vlug as haar man se skelmstreke hul veiligheid in gedrang bring.
- Hit Man, vanaf 7 Junie op Netflix beskibaar. Dis wraggies Glen Powell se jaar, hoor. Hier vertolk hy die rol van ’n kamma-sluipmoordenaar in die briljante filmmaker Richard Linklater se noir komedie wat deur ’n ware verhaal geïnspireer is.
- Black Barbie, vanaf 19 Junie op Netflix. Die ware storie van hoe die eerste Swart Barbie deur drie baanbrekende vroue geskep is.
- My Lady Jane, vanaf 27 Junie op Prime Video. ’n Herverbeelding van die lot van Lady Jane Grey. In dié weergawe word dié jong vrou nie, soos in die geskiedenisboeke, onthoof ná net nege dae as koningin nie. Nee, wat, hierdie take is ’n heerlike, sexy avontuurrit van wat eerder moes gebeur het.
- The Boys S4, vanaf 13 Junie op Prime Video. Wat gebeur as superhelde hul magte misbruik en hulself eerder vir kwaad as goed beywer? Dis die vertrekpunt van The Boys. In die vierde seisoen is alles en nog meer op die spel soos ’n groep vigilantes, óftewel The Boys, poog om die korrupte superhelde stop te sit. Dink Dawid en Goliat maar met baie (BAIE) meer geweld.