Soos ons goed weet, “when you play the game of thrones, you live or you die”.
Cersei Lannister se woorde aan Ned Stark kom wel uit die toekomstige wêreld van Game of Thrones, maar die stryd vir mag is so eie aan die mens soos asemhaal – én so gewetenloos ook. Ongebonde aan tyd of omstandigheid. Omtrent halfpad deur die eerste episode van House of the Dragon draai Ser Otto Highwater (Rhys Ifans) na sy koning, Viserys I (Paddy Considine), om hom hieraan te herinner: “The gods have yet to make the man who lacks the patience for absolute power.”
Die ‘vloek’ van vrou-wees
’n Mens besef eers later hoe belangrik House of the Dragon se openingstoneel is, maar dit is hier, in die bouvalle van Harrenhal, waar Huis Targaryen se pad na selfvernietiging begin. Ironies, synde dié byeenkoms juis ’n oorlogslot moes verhoed.
Presies 182 jaar voor die geboorte van onse “Mother of Dragons”, Daenerys Targaryen, roep Koning Jaehaerys I al die here van Westeros byeen om sy opvolger aan te kondig en só ’n opvolgingstryd te verhoed. Want sien, met sy seun en sy broer albei dood, het die Old King, soos hulle hom noem, nie ’n direkte opvolger nie. Dis nou omdat almal sy kleindogter Rhaenys (Eve Best) se bestaan ignoreer. ’n Koningin op die troon? Siesa.
Die here stem uiteindelik vir haar neef, Viserys, om die kroon te kry – bloot omdat hy ’n man is. Die amperse gewalgde afkeer teenoor vroue (en nee, nie net teenoor vroue in posisies van mag nie) is meteens duidelik. Dit word al duideliker soos die episode en die res van die reeks momentum kry.
Rhaenys, wat later bekend word as “The Queen Who Never Was” moet die uitkoms aanvaar en as ons haar en die res van die Targaryens weer sien, is dit nege jaar later. Wéér, of dalk eerder steeds, is die kwessie van die koning se opvolger voorop. Die keer is dit Viserys wat nie ’n direkte opvolger het nie. Weer – dis nou as jy, soos met Rhaenys, ook die bestaan van sy dogter Rhaenyra (Milly Alcock, en later Emma D’Arcy) bloot ignoreer. Maar daar’s steeds hoop. Sy vrou is swanger en hy het ’n visioen gehad dat sy ’n seun dra.
Pynvolle ironie
Die pragtige Aemma Arryn (Sian Brooke) kan maar net haar kop vir Viserys skud as sy vir hom sê: “You do understand that nothing will cause the babe to grow a cock if it doesn’t already possess one?”
Nee, vrou. Hy verstaan nie. Tog, hy kry uiteindelik sy wens, al is dit net vir enkele minute. Sy besluit om Aemma se lewe vir dié van die baba te verruil, se prys is hoog. Die baba word, in een van die meer onstellende tonele in die premiere, uit Aemma se maag gesny. Die bloed loop tot daar niks meer is om uit haar te tap nie.
Die baba ís toe ’n seun.
Hy sterf nog voordat sy pa hom kan vashou.
Rhaenyra, wat op haar jonge ouderdom akuut bewus is van hoe teleurstellend haar vrou-wees is, wonder hardop of haar pa in daai paar minute tog uiteindelik geluk ervaar het. Maar nou, met beide sy vrou en sy seun dood, moet Viserys steeds ’n opvolger aankondig. Tegnies behoort dié verwronge eer aan sy broer, Prins Daemon. Dié het egter ’n wrede, bloeddorstige streek en Viserys se raadgewers is daarteen gekant. Daemon, briljant vertolk deur Matt Smith, is uiters ongewild onder die hooggeplaasstes, maar nie so ongewild soos Rhaenyra se vrou-wees nie. Otto, óftewel The Hand of the King, se voorstel dat Rhaenyra tog in aanmerking moet kom, is vir hulle veel meer veragtelik as die bloedspoor wat volg waar Daemon sy swaard swaai.
Die pynvolste ironie lê daarin dat Viserys wel teen die premiere se einde sy dogter as sy opvolger aankondig. Of dit nou is oor hy in haar glo of oor sy eintlik maar net ’n beter opsie as sy broer is, weet ons nie. Of dalk weet ons juis. Die duur prys van haar ma se lewe hang intussen soos ’n donker wolk bo hom. Dit kleef tot aan sy klere. Sy lamsakkigheid is eintlik irriterend.
’n Storie oor die behandeling van vroue… deur mans
Dat die reeks baie te sê het oor die behandeling van vroue – en meer spesifiek die gevolge daarvan – is gewis. Ons sal maar moet sien hoe die volle tien episodes uitspeel. Maar met twee mans wat die reeks geskep het en lei (George R.R. Martin en Ryan J. Condal), is die aanbieding as vanuit ’n vroue-perspektief ’n effe valse voorstelling. Dit bly steeds ’n manlike blik op vroue se ervaring – ongeag hoe nodig enige blik daarop is.
In die konteks van die storie én die skepping daarvan word vroue as eiendom hanteer, hetsy deur Martin en Condal as karakters met buigbare storielyne, of deur Viserys en kie. as pionne wat gebruik kan word om ryke op te bou of tot ’n val te bring.
Die groot verskil tussen GoT en House of the Dragon
Wat opvallend anders as Game of Thrones is, is die narratiewe fokus. Waar Game of Thrones ’n uitmergelende pas gehad het – deels vanweë ’n magdom karakters en storielyne wat ’n breër, minder karakter-intensiewe fokus vereis het – is House of the Dragon se fokus nouer.
Buiten vir ’n paar tydspronge tussen die episodes, speel die storie meestal in en om die Red Keep af.
In retrospek, kan ’n mens nou met ander oë na die gejaagdheid van Game of Thrones se vertelling kyk. Waar dit toe dikwels hinderend was, maak dit nou meer sin. Nie beter nie, maar meer verstaanbaar. Daar was net so baie om vertel te kry! Wat die storie betref, is House of the Dragon dus nie so ryklik geseënd soos Game of Thrones nie. Boonop is die karakters in die reeks, ook in teenstelling, te eenders aan mekaar. En nee, nie net omdat hul name ongoddellik moeilik is om te onthou en onnodig dieselfde gespel word en klink nie. Die sleutelkarakters deel dieselfde bestaansrede = Mag. Hulle is almal op een of ander manier verbind aan die kroon, die koning of die koninkryk.
Die narratiewe fokus van Game of Thrones was, anders gestel, nes die kaart-animasie van die title sequence – zoom in, zoom out, shift, zoom in, zoom out, shift. And repeat.
Die fokus is hier meer gekonsentreerd… En ek weet nog nie of dit ’n goeie ding is nie. Dis ’n anderse tappisserie wat hier geweef word. Ten spyte van die visuele fees en die musikale cresendos wat verlange en heimweë wek, is die grootsheid van Game of Thrones se verhaal nie deel daarvan nie.
Dis nie te sê House of the Dragon steek af nie. Nee, dis net… anders. Die grootsheid is anders. Daar’s steeds tergende geheime en verborge wense, duistere planne, binnegevegte, verraad, sweterige, lawaaierige orgies. Drake. Bloed. Dié is immers steeds George R.R. Martin se wêreld.
Kyk House of the Dragon se weeklikse episodes vanaf Maandag, 22 Augustus, om 03:00 (Express from the US-uitsending) met ’n herhaling om 21:30. Ook op DStv Online en Catch Up.
Kyk ook al agt seisoene van Game of Thrones op Showmax.