Menu terloops
In Onderhoude [3 Jun 2024]

Dis ’n ‘lekker tyd vir Afrikaanse-televisie’ vertel kykNET-grootbaas Waldimar Pelser


Dit help nie jy eksperimenteer met inhoud op televisie en skrik jou lojale kykers af nie, het Waldimar Pelser, die grootbaas van kykNET, vir Riëtte van der Wat gesê.

Deur Riëtte van der Wat

Kyk nou 'Juffrou X'

Dis ’n ‘lekker tyd vir Afrikaanse-televisie’ vertel kykNET-grootbaas Waldimar Pelser

TV-skeppers en die grootkoppe by stromingskanale maak nie inhoud vir hulle vriende nie. Hulle maak dit vir die lojale kykers wat dag ná dag hul tyd en aandag vir ʼn spesifieke kanaal gee, sê Waldimar Pelser, die direkteur van M-Net se Premium-kanale, wat M-Net, sowel as die kykNET-kanale insluit. 

In ’n onderhoud met Hannes van Wyk op Kwêla twee jaar gelede, het Waldimar reeds gesê hy het aanvanklik geglo dis die kykers wat by kykNET kuier. Hy het egter vinnig besef dis andersom: “Dis óns wat by die kykers kuier en ons moet dus ʼn goeie gas wees.”

‘Eksperiment X?’

In die lig van my gesprek oor Juffrou X met die vervaardiger Berdene Burger van Meerfout Films en die regisseur en skrywer Tertius Kapp, wou ek by Waldimar weet of daar ʼn klemverskuiwing is in terme van die tipe inhoud wat kykers op kykNET kan verwag. ʼn Reeks soos Juffrou X is immers nie wat ʼn mens as “gemaklike vermaak” sou beskou nie en verteenwoordig ʼn moontlike klemverskuiwing van Afrikaanse inhoud.

Waldimar sê egter die beleid oor die tipe inhoud wat kykNET vervaardig, is onveranderd. Familievermaak bly die kern van die kanaal se hartklop. Meer gewaagde temas word steeds aangebied op maniere wat bedoel is vir die mense wat kykNET baie lojaal kyk.

Met reekse soos Juffrou X, waar die premis meer kompleks is, is die uitdaging om iets nuuts te doen in terme van die milieu en storiewêreld, terwyl dit steeds vir die kyker herkenbaar bly en iets bied waarmee hulle kan vereenselwig.

Waldimar Pelser
Plan B, Juffrou X, kyknet
Gesinsvermaak bly kykNET se kern, vertel dié kanaal se grootbaas, Waldimar Pelser. Dit sluit reekse soos Plan B, met Arnold Vosloo en Dorette Potgieter. Foto: Verskaf

“Daar is dus geen beleidsverandering nie, maar wel versigtige eksperimentering,” sê Waldimar. “Veral met teksgedrewe inhoud is daar ʼn baie versigtige benadering. In sepies en ander programme word meer gewaagde temas steeds aangebied op ʼn verstaanbare manier, wat vir die kykers van die programme bedoel is. Dit moet nooit lyk of iets gemaak is vir ‘potensiële’ kykers of toekomstige kykers nie.”

Verteerbare ‘ratverwisseling’

Dit beteken egter nie kykNET daag nie sy kykers uit nie en volgens Waldimar ís eksperimentering moontlik, mits die eindresultaat die kykers nie wegstoot nie.

“Die strategie is om komplekse temas bietjie-bietjie aan te bied. Daarmee is veral die sepies baie goed.”

“Met reekse soos Juffrou X, waar die premis meer kompleks is, is die uitdaging om iets nuuts te doen in terme van die milieu en storiewêreld, terwyl dit steeds vir die kyker herkenbaar bly en iets bied waarmee hulle kan vereenselwig.

“In die geval van Juffrou X verteenwoordig die skool die mikrokosmos van die meerderheid skole in Suid-Afrika, wat met sosiale en maatskaplike en probleme sukkel. So al was kykers dalk nie self in sulke skole nie, is dit tog vir hulle bekend.”

Hy sê daardie tipe herkenbaarheid is belangrik, sodat kykers nie heeltemal van balans af gegooi word nie.

“Karakters moet waarheid-getrou en realisties genoeg wees en hulle interne motivering moet duidelik wees, sodat kykers steeds kan verstaan waarom hulle iets doen. Jy verstaan byvoorbeeld hoekom die onderwyser, Inge (vertolk deur Trix Vivier), agter die gangsters aangaan en hoekom sy beskermend teenoor haar sterleerling is.

“In terme van iets soos Juffrou X, waar die storiewêreld dalk ʼn ratverwisseling verteenwoordig van die gewone Afrikaanse aanbod, moet daar steeds driedimensionele karakters wees waarvoor kykers sal omgee.”

Juffrou X
Trix Vivier vertolk die hoofrol van Inge in Juffrou X op kykNET. Foto: Verskaf

Ontvlugting ’n kerndoel

In dieselfde asem voeg hy by dat selfs ʼn uitdagende reeks soos Juffrou X, steeds ontvlugting moet bied.

“Selfs ʼn fliek soos Oppenheimer moet vermaak. En al neig jy in die rigting van ʼn groot brandpunt in die land, moet jy mense steeds wegvat uit hulle omstandighede.”

“As jy met vernuf en respek vir jou kykers eksperimenteer, is hulle daar vir dit. Die oomblik wat jy TV begin maak vir jou buddies, sien kykers dit so duidelik soos daglig. Die ding is dat baie mense wat in die media werk, nie leef soos die mense wat die inhoud gebruik nie. En die oomblik wat ons onbewus raak van daai verskil, is dit ʼn slippery slope. As inhoudskepper, moet jy weet hoe jou eie geleefde ervaring van dié van jou kyker verskil.”

Kennis van, en respek vir, kykers is volgens Waldimar die vertrekpunt vir enige nuwe inhoud.

“As jy daai twee goed in gedagte hou, kan jy nie reuse-foute maak nie. Jy moet jou kykers wys jy weet wie hulle is. Hulle het hul eie uitdagings en probleme en ons is baie dankbaar dat hulle aand ná aand hul tyd vir óns gee, meer as vir enige ander kanaal. Ons aanvaar dit nie as vanselfsprekend nie.”

Die rol van inhoudskeppers

Waldimar meen goeie televisie-vervaardigers is ʼn belangrike skakel in die proses.

“Vervaardigers moet ons kykers nog beter as ons verstaan. Ons steun sterk op vervaardigers om beide in terme van die produk en die mark wat hulle bedien, aan die voorpunt te bly.”

Volgens Waldimar moet vervaardigers die luukse hê om idees teen ʼn stadige pas te ontwikkel, terwyl hulle ook die vermoë moet hê om projekte teen ʼn frenetiese pas te voltooi.

“Goeie produksies verg nie net ʼn mooi skoot nie. Dit verg die vermoë om ʼn storie tot voltooiing te bring. Dit verg verhoudingsbestuur met die kanaal en met borge en die vermoë om met groot bedrae geld te werk. Suksesvolle vervaardigers, moet verskeie balle terselfdertyd in die lug kan hou.”

Hoewel Suid-Afrikaanse vervaardigers nie miljoene dollars tot hul beskikking het soos hul internasionale eweknieë nie, en daar meestal ʼn harde plafon is vir wat hulle kan bestee, kry hulle fantastiese goed reg.

“Ons het nie geld om rond te gooi nie en dus moet ons as span intensiewe gesprekke hê oor die potensiële sukses van ʼn projek. Dis nie ʼn presiese wetenskap nie, maar dit behels ʼn begrip van die mark,” verduidelik hy.

“Wat ons weet, is dat die vervaardigers wat programme lewer wat so goed lyk soos dit doen, deur 12 000 brandende hoepels spring om dit reg te kry. Hulle het meestal nie die luukse om ʼn toneel meer as een of twee keer te skiet nie en het selde die luukse om tonele te oefen. Hulle móét ʼn sekere aantal tonele per dag skiet en die fout-marge is dus baie klein. Dat projekte (dan wel) só suksesvol is, kom neer op vervaardigers wat weet wat hulle doen.”

Hoewel dit nodig is om vir nuwelinge ʼn kans te gee, is die kanaal se verhoudings die gesondste met vervaardigers wat ʼn langtermynvisie in die televisiebedryf het.

Wat ons weet, is dat die vervaardigers wat programme lewer wat so goed lyk soos dit doen, deur 12 000 brandende hoepels spring om dit reg te kry. Hulle het meestal nie die luukse om ʼn toneel meer as een of twee keer te skiet nie en het selde die luukse om tonele te oefen. Hulle móét ʼn sekere aantal tonele per dag skiet en die fout-marge is dus baie klein. Dat projekte (dan wel) só suksesvol is, kom neer op vervaardigers wat weet wat hulle doen.

Waldimar Pelser

“Dís mense wat elke projek met sorg hanteer en keer op keer terugkom. Ons is baie dankbaar vir die handjievol vervaardigers wat al baie lank van kykNET se suksesvolste programme maak.”

Dis ʼn “lekker tyd vir Afrikaanse-televisie” sê Waldimar. Kykers gee om en gee kykNET die “voordeel van die twyfel” om sewe dae per week ou én nuwe programme te kyk. 

“Hul lojaliteit beteken programme soos Kwêla is in sy 24ste seisoen en dat daar ʼn 16de seisoen van Boer soek ʼn vrou sal wees.

“En tog gee hulle ook nuwe programme en karakters ʼn kans.”

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

‘Wyfie’: Jou kykgids vir Oktober 2024

Dinge raak ernstig tussen Maggie en Shay en Kyla moet moeilike keuses maak. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer

Silwerskermfees 2024: Waar en wanneer om vanjaar se kortfilms die week op TV te kyk

Vanjaar se Silwerskermfees het weereens voortgebou op meer as ’n dekade se ontwikkelingsprojekte in die plaaslike filmbedryf – en die eerste sarsie stories word hierdie Saterdagaand, 7 September 2024, op kykNET uitgesaai.

Meer

‘Wyfie’: Jou kykgids vir September 2024

Amanda kom voor moeilike besluite te staan en Kyla is in ’n desperate situasie verstrengel. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer
12

12 klassieke chick flicks en reekse om te kyk

Gryp die popcorn en rosé en kyk ’n paar van die mees ikoniese chick flicks en reekse wat ons oor die jare vermaak en geïnspireer het. Of jy nou lus is vir ’n lekker romcom, ’n hoërskooldrama, of ’n feel good-reeks, hierdie lys van 12 throwback-juwele is beskikbaar op jou gunsteling-stromingsplatforms.

Meer
Sien alle opsies