Menu terloops
In Realiteit & Speletjie [25 Des 2025]

‘Kokkedoor: Son & see’: ‘Om saam met my ma te kook, is een van die grootste voorregte in my lewe’


Daar is altyd ’n span wat moet groet en dit raak al moeiliker soos die tyd aanstap en die ‘Kokkedoor’-kameraderie al sterker word. Dié week was dit Shireen Kadalie en haar seun, RJ, wat moes groet. Dié ma-en-seun-span vertel meer oor hul ervaring op ‘Kokkedoor: Son & see’.

Deur Annelene Oberholzer
‘Kokkedoor: Son & see’: ‘Om saam met my ma te kook, is een van die grootste voorregte in my lewe’

Die Goue Middeweg-uitdaging was ’n strandpiekniek vir Welwillendheidsdag, oftewel Tweede Kersdag en deelnemers moes ’n souttert en ’n sewelaag-slaai ’n moderne kinkel gee. Maar dit was nie al nie. Die spanne moes elk ’n Plascon-kleurkaart trek vir inspirasie . . .

Shireen en RJ – wat rooi as hul kleur getrek het – se disse het ongelukkig nie die beoordelaars beïndruk nie en dit was hul beurt om daardie gesogte voorskote op te hang en huiswaarts te keer. 

Kokkedoor Son & see
“Ons is kreatiewe kokke en ons dink altyd buite die boks,” is hoe Shireen haar en RJ se kookstyl beskryf. Foto’s: Skermgrepe

Shireen vertel:

Julle het die ander deelnemers behoorlik geskok toe julle bo-op die TV-braaiertjie begin braai het. Was dit uit nood of het jy dit al vantevore gedoen?

“Ons is kreatiewe kokke en ons dink altyd buite die boks. Net omdat ons ’n TV-braaiertjie gekry het om mee te werk, het dit nie beteken ons moes dit op die gewone manier inspan nie. Baie kombuistoebehore is per ongeluk uitgevind – en dis juis dít wat ons inspireer. Ons kook met die finale dis in gedagte en pas dinge aan soos wat ons aangaan, selfs al beteken dit om toerusting anders te gebruik of op ’n onverwagte manier met bestanddele te eksperimenteer.

“Ons het hierdie nog nie vantevore probeer nie, en dit was in ieder geval nie uit nood nie. Dis bloot net wie ons is. Ons konformeer nie en ons hou bloot daarvan om dinge anders te doen.” 

Julle twee het deurentyd gekorswil – maar raak julle ooit kwaad vir mekaar? En hoe hanteer julle dit?

“Ek en RJ is werklik beste vriende. Ons deel ’n lieflike band en voed van mekaar op ’n magical manier. Die band tussen ons twee is wat jy gewoonlik tussen ’n ma en dogter sou sien en ek is werklik so geseënd om dit met my seun te kan ervaar. Ek is sy vertroueling, sy mentor en sy ma. Hy noem my Lovey of Shireen – maar wanneer hy my “Ma” noem, weet ek hy is in die moeilikheid. Dis eintlik komies, want dit gebeur so selde.

“Ja, ons het ook maar ons oomblikke, maar dis normaal in enige hegte verhouding. Ek is gewoonlik die een wat eerste raas en hy is die een wat my altyd kalmeer met sy, ‘Lovey, hoekom raas jy so? Just calm your farm.’ Dan haal ons altwee diep asem, fokus op die oomblik en bespreek kwessies op ’n rasionele manier. Ons hou die emosie uit die gesprek want dit is immers bloot net ’n gevoel, dit sal verdwyn.”

Jy’t jouself ongelukkig gesny net voor die Goue Middeweg-uitdaging. En jy’t jou man, Reuben, gemis. Het hierdie emosioneel dalk ’n impak op jou fokus gehad? En vertel meer van Reuben.

“Ek het myself baie sleg raak gesny tydens die Goue Middeweg-uitdaging en ek sukkel tot vandag toe met daai vinger! Dit het ons beslis van ons ewewig beroof en ’n invloed op ons ingesteldheid gehad. Omdat RJ en ek so na aan mekaar is, het hy my pyn gevoel en hy was baie meer bekommerd oor my gesondheid as oor die kook wat voorgelê het. Maar ja, ons het die stang vasgebyt en die taak afgehandel wat op ons gewag het. 

Shireen erken haar besering in die kombuis het vir hulle onkant gevang.

“In daardie oomblik het ek werklik my man, Reuben, nodig gehad. Hy kom altyd tot my redding en hy is altyd so kalm en ongestoord. Hy kalmeer my. Ek het hom wel van die begin van die kompetisie af al gemis, maar op daardie oomblik het ek hom desperaat nodig gehad. 

“Daar is mos die gesegde: Eerder ’n ou man se liefie as ’n jong man se slaaf. En Reuben is ‘n hele paar jaar ouer as ek. Hy is van nature ‘n sagte mens, maar hy kan ook baie beslis wees wanneer nodig. Reuben is baie wêreldwys en ook boekslim. Hy’s my wandelende ensiklopedie.

“Reuben is so vrygewig met sy liefde en dit laat almal naby hom veilig en gewaardeerd voel. Ons kinders en ses kleinkinders is absoluut gek oor hom, en ek verstaan hoekom. Hy deel sy liefde so vryelik en met soveel erns.” 

Wat sal jy sê is RJ se beste eienskappe en hoekom?   

“RJ is ’n besonder-goed afgeronde jong man. Hy is sag en kalm in sy benadering en baie vrygewig met sy liefde. Hy is bedagsaam en hou altyd ander se gevoelens in gedagte. Hy werk hard, is ambisieus en jaag dit wat hy wil hê, na.

“RJ gee baie diep om vir diegene wat minderbevoorreg is. Hy herinner my gereeld daaraan dat selfs die kleinste gebaar van deernis iemand se hele wêreld kan verander. Vroeër vanjaar het ons uitgegaan vir ete. RJ was ons chauffeur en ons het die restaurant binnegegaan terwyl hy die voertuig parkeer het. Dit het langer geneem as wat ons verwag het en ons het besluit om te gaan kyk wat aangaan.

“Toe ons by die deur uitloop, het ons RJ gesien wat besig was om met ’n hawelose jong man te gesels. Hy het vir ons vertel die man het hom om kos genader, waarop hy hom na ’n nabygeleë winkel geneem het. Die hawelose jong man is toegang geweier. RJ het met die veiligheidsbeampte gesels en verduidelik dat die man nie ’n rondloper is nie en dat hy wat RJ is, gaan betaal vir dit wat die man in die winkel wou koop.

Kokkedoor Son & see
“RJ gee baie diep om vir diegene wat minderbevoorreg is. Hy herinner my gereeld daaraan dat selfs die kleinste gebaar van deernis iemand se hele wêreld kan verander,” sê Shireen oor haar seun en spanmaat.

“Toe hulle mekaar na afloop daarvan groet, het RJ die man se hand geskud en vir hom gesê hy sal hom in sy gebede onthou. Die man het begin wegstap, maar toe draai hy om en roep vir RJ op sy naam. ‘Ek sal ook vir jou bid, my broer,’ het hy gesê.

“Dit het ons harte diep geraak want in daardie oomblik, soos soveel ander, het ons bloot net ’n hawelose mens gesien. Maar RJ het hom herken as iemand wat ook deur God geskape is.”

Sien ons dalk souttertjies in jou toekoms?

“Beslis! Nie net souttertjies nie, maar ook soet en trending tertjies in oorvloed. My tertjies sal eenvoudig ‘terterig’ wees en absoluut ‘Instagrammable’. Ek is geseënd om ewe goed met kosmaak as met gebak is. Terte en koeke is werklik een van my passies. 

“My kleinkinders wou by my weet wat ek doen om te ontspan. My antwoord? ‘Ek kook.’ En vir pret? ‘Ek bak.’ ”

Wat lê nou voor vir Shireen en RJ en die kospotte?

“Ons gaan vir ’n maand na Viëtnam gaan vir ’n kulinêre vakansie. Ons is bitter opgewonde om nuwe geure en verskillende gaarmaakmetodes en kulture van naderby te leer ken. Ons beplan om ons ervaring te deel en mense daarmee te vermaak.

“Ons is nie heeltemal seker wat die toekoms vir ons inhou nie. Dalk is daar iewers ’n handelsmerk wat ons passie vir etiese en volhoubare kos deel en sou belangstel om met ons saam te werk op ons reis vorentoe. 

“Andersins, die lewe gaan aan en ons sal aanhou met ons liefde vir kos en kook. Soos hulle sê: ‘L’at dit val waa dit wil, nettie op my takkies nie.’ ” 

Kokkedoor Son & see
“Dit voel so natuurlik om saam met my ma te kook. Sy is werklikwaar my beste maat. Ons is baie soortgelyk, wat natuurlik daartoe lei dat ons soms teen mekaar bots in die kombuis,” deel RJ oor sy ma.

Reuven-Jon (RJ) vertel: 

Jy’t gesê julle maak nooit kos op Tweede Kersdag nie. Wat is jou gunsteling-oorskietkos vir daardie dag?

“Ons kook nie tuis op Tweede Kersdag nie. Dis my ma se verjaardag en ek en my pa neem haar gewoonlik uit na ’n ordentlike, soort van fancy restaurant omdat sy dit verdien. Tuis is die enigste oorskiet wat saak maak die Kersfees-skottelgoed. My absolute gunsteling is my ma se garnaal-kerrie wat om een of ander rede altyd beter smaak op die tweede dag.” 

Hoe maklik of moeilik is dit om saam met jou ma rondom die kospotte te wees? En hoe hanteer jy konflik as dit opduik?

“Dit voel so natuurlik om saam met my ma te kook. Sy is werklikwaar my beste maat. Ons is baie soortgelyk, wat natuurlik daartoe lei dat ons soms teen mekaar bots in die kombuis.

Ek is Gen Z, nuuskierig, eksperimenteel en ek probeer altyd geure nog verder ontwikkel. My ma is vreesloos, instinktief en ongelooflik kreatief. As daar spanning opduik, praat ons. Vinnig. Ons stroop dit van emosie, begin weer en beweeg aan. Die sterk band tussen ons maak dit maklik.” 

Het jy al ooit vantevore van ’n sewelaag-slaai gehoor? Wat het deur jou gedagtes gegaan toe jy hoor wat die Goue Middeweg-uitdaging was.

“Tot en met Kokkedoor: Son & see het ek nog nooit van so ’n slaai gehoor nie. En toe die uitdaging bekend gemaak is, was my eerste gedagte dat hierdie baie vinnig baie verkeerd kan gaan. Om iets onbekend onder druk te kook, laat geen ruimte vir foute nie. Tog het ons steeds mekaar vertrou, kalm gebly en op balans gefokus. Ek dink daardie vertroue tussen ons het in die finale dis na vore gekom.”

Kokkedoor Son & see
Wat het RJ geleer op Kokkedoor: Son & see? “Ek het geleer om nie dinge te oorkompliseer nie. En dat spanwerk baie meer saak maak as ego.”

Daai Plascon-kleurkaart . . . julle het vir rooi gehoop en dit gekry. Hoekom rooi?

“Rooi het vir ons vryheid gegee. Dit het ons toegelaat om met soet, pikante en sterk geure te speel – sonder enige beperking. Rooi werk vir alles, van proteïene en groente tot hitte en soetigheid. Vanuit ’n kreatiewe oogpunt het dit veel meer deure geopen as enige van die ander kleure.”   

In ’n stadium het jy gesê die kompetisie is taai. Hoe hanteer jy druk en het jy raad vir ander wat met druk sukkel?

“Die druk is so werklik, veral in ’n kompetisie soos hierdie. Wanneer dit begin opbou, fokus ek op my asemhaling en fokus ook my aandag aan die taak wat voorlê. Dit het baie gehelp dat ek saam met my ma gekook het. 

“Sy het my voete op die grond gehou en my daaraan herinner dat ek in staat is om die uitdaging te takel. Die oomblik wanneer ek gefokus is, word alles baie duideliker.”

Hoeveel het episode 5 se wen, jul eerste wen, vir jou beteken?

“Dit het werklik baie beteken. Dit was ons eerste wen en dit het die werk, dissipline en konsekwentheid wat ons daagliks gebring het, bekragtig. Die verligting was enorm. Dit het ook die band tussen ons net nog meer versterk want ons het dit sáám verdien.”

Kokkedoor Son & see
Dié wen tydens episode 5 het vir RJ en Shireen baie beteken.

Hoe sal jy jou ma beskryf?

“My ma is vrygewig, haar voete is op die grond en sy is diep talentvol sonder dat sy enige erkenning daarvoor nodig het. Sy is my anker. Sy gee my vertroue, ondersteun my ambisies en dra altyd my beste belange op die hart. Om saam met my ma te kan kook is een van die grootste voorregte in my lewe.”

Lewenslesse geleer tydens Kokkedoor: Son & see?

“Ek het geleer om nie dinge te oorkompliseer nie. En dat spanwerk baie meer saak maak as ego. Duidelike kommunikasie en vertroue kan alles verander. Kompetisie hoef nie mense te verdeel nie want dit kan sterk konneksies bou. Om te wen, is wonderlik. Maar om te groei en ervarings te deel maak aan die einde van die dag vir my meer saak.”


Kokkedoor: Son & see saai Donderdae om 20:00 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144) uit. Episodes is ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar. Kyk ook Kokkedoor Vuur & vlam op Showmax. 

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Wat om te kyk in 2026: Die 10 TV-reekse waarna ons die meeste uitsien

Van dáái yshokkiespelers tot ‘Bridgerton’ se Aspoestertjie-verhaal, die terugkeer van die geliefde vampierslagter Buffy en nog ’n 'Game of Thrones' spin-off – hier is ’n keur van die TV-reekse wat vanjaar op kykers wag.

Meer

Wat om te kyk: Sit dié reekse op jou moet-kyk-lysie vir Januarie 2026

Die volgende romantiese rondomtaliedans in 'Bridgerton', die terugkeer van die trefferreeks 'Een keer om die son', en die Afrikaanse weergawe van 'The Office' tel onder my top-keuses vir vandeesmaand.

Meer

Dís waar jy die 2026 Golden Globe-benoemdes plaaslik kan kyk

Van die heerlike derde seisoen van ‘The White Lotus’ en Seth Rogen se briljante ‘The Studio’ tot die ingrypende dramareeks ‘Adolescence’ en die fabelagtige fanfare in ‘Wicked: For Good’ – hier is al die reekse en films wat benoemings vir 2026 se Golden Globes ontvang het, én waar jy dit plaaslik kan kyk.

Meer
10

Wat om te kyk: 10 Kersfeesflieks vir die feestyd

Van een van die mees romantiese flieks van alle tye tot een baie, baie spesiale Kersbriefie – hier is ons keuse van Kersfeesflieks om oor dié feestyd te kyk. 

Meer
Sien alle opsies