Menu terloops
In TV [4 Des 2025]

‘Kokkedoor: Son & see’: ‘Kook met jou hart, wen met jou kop’


“Wanneer dinge in die kombuis warm geraak het, het my pa my net met daai blik van hom aangekyk, en dan wéét ek: ‘Hou kop, moenie stres nie’,” vertel Stefvan oor sy ‘Kokkedoor: Son & see’-ervaring saam met sy pa, Anton, nadat dié span in vandeesweek se episode hul voorskote moes ophang.

Deur Annelene Oberholzer
‘Kokkedoor: Son & see’: ‘Kook met jou hart, wen met jou kop’

Met die aanvang van die derde episode van Kokkedoor: Son & see was dit tyd vir ’n regte, egte somervakansiebedryf: braaityd! Soos aanbieder en kosfoendi Herman Lensing dit beskryf het: “Niks ruik meer na ’n somervakansie as ’n braaivleisvuur in ’n karavaanpark nie.”

En medeaanbieder Yolani Abrahams het baie duidelik uitgespel watter bykosse die perfekte pasmaats vir daardie somervakansie-gevoel is nie! Soos haar ma Maggie se pampoentert. En Herman se ma Susan se paptert . . .

Die wenners van hierdie aanloop-uitdaging was Fran Momberg en haar dogter, Yvette Malan. Hulle het albei ’n Forage and Feast-geskenkpak tot boordens gelaai met lieflike luukse eetgoed gewen, asook ’n Hisense-lugbraaier vir elkeen. Hul byvoeging om Maggie se pampoentert op te kikker met onder andere appelliefies het Herman en Yolani opgewonde gelaat. Soveel so dat dié twee sommer ’n tweede keer geproe het!

Spesiale kuiergas

Maar toe breek die braaityd aan – en die gas in die Kokkedoor-kombuis was niemand anders nie as Edwin Theron. Die jong knapie van Worcester was net 13 jaar oud toe hy in 2017 as die wenner van Kokkedoortjie in 2017 aangewys is.

Die Goue Middeweg-opdrag aan die spanne was om ’n gesellige steak-ete op die vuur voor te berei, ’n ontspanne gereg met kampeer-flair en genoeg vir vier. Plus ’n belaaide bykos. Ietsie groenerig, slaaierig en souserig, het Herman versoek.

Frans en Una-Belle, en Leoné en Andrew het die top-geregte vir die dag voorgesit, maar net een wenner – en dit was Leoné en Andrew.

Kokkedoor
Leoné en Andrew was die wenners van dié week se Goue Middeweg-uitdaging. Foto: Skermgreep

Die onderste twee spanne was Anton en Stefvan wie se dis met te veel knoffel hulle gepootjie het en Yvette en Fran wat op hulle beurt té veilig gespeel het. Hul bord het meer soos ’n voorgereg as ’n gelaaide dis gevoel.

Dit was egter Anton en Stefvan wat hul voorskote moes ophang. Dié span was ’n inspirasie vir baie mense en hul verhouding as pa en seun is regtig mooi. 

Kokkedoor
Hoe voel Anton en Stefvan ná afloop van hul tyd in die Kokkedoor-kombuis? Foto: Gys Loubser

Anton vertel: 

Daar is natuurlik baie druk om vinnig besluite te neem tydens die uitdagings. Hoe het jy dit hanteer – of was dit by tye bietjie oorweldigend?

“Tyd bly jou grootste vyand tydens die uitdagings. Partykeer het jy iets beplan, maar dan vang die tyd jou. Dan moet jy maar kortpaaie neem en hoop vir die beste. Ek het nog altyd goed gedoen onder druk, maar die Kokkedoor-ervaring was definitief ’n ander storie en dit raak oorweldigend wanneer dinge begin verkeerd loop.”

Jy’t gespog oor jou “WP-kleure vir braai”. Vertel ’n bietjie meer?

“Ons braai vreeslik baie by ons huis en my buurvrou se altyd, ‘Laat Anton braai, want hy het WP-kleure vir braai’. Maar tyd kan selfs ’n goeie braaier onkant betrap en dit was wat ek tydens Kokkedoor: Son & see ervaar het.”

Vanwaar die liefde vir Worcestershire-sous?

“Dit kom van my oorlede pa af. Hy was ook baie lief vir kook en het Worcestershire-sous mildelik in baie van sy disse gebruik.”

Kokkedoor
“My beste herinnering is beslis toe ons die eerste uitdaging in die eerste episode gewen het. Dit was ongelooflik om dit saam met my seun te kon regkry,” vertel Anton. Foto: Skermgreep

Jy het die tyd toe jy met Guillain-Barré-sindroom gediagnoseer is as jou grootste uitdaging in die lewe beskryf. Nou, 17 jaar later, wat is jou boodskap aan mense wat in ’n soortgelyke bootjie verkeer?

“Jy sal my nie glo nie, maar na 17 jaar is ek weer op behandeling vir ’n opvlamming van die senuwees in my rug. Dit is weer ’n groot uitdaging en ek was die afgelpe tyd al twee keer gehospitaliseer. So, GBS bly maar ’n gevreesde siekte. Enigeen wat dit opdoen moet positief bly, glo en vertrou – en die neuroloog se raad volg.” 

Wat is jou beste herinnering aan jou tyd op Kokkedoor: Son & see se stel?

“My beste herinnering is beslis toe ons die eerste uitdaging in die eerste episode gewen het. Dit was ongelooflik om dit saam met my seun te kon regkry. [Vir die eerste uitdaging het die twee Stemmets ’n dis voorberei wat hulle die ‘Stemmets se seekombers noem – filodeeg met ’n bietjie kabeljou en ’n witsous, vars pietersielie en nog ’n paar ander lekker vars geure bygevoeg.]

Watter wenke kan jy uit die Kokkedoor-kombuis deel?

“Om beslis nie ’n meringue aan te pak as jy dit nog nooit voorheen gedoen het nie.”

Is daar enige blywende vriendskappe op Struisbaai gesmee?

“Die maats wat ons op Kokkedoor: Son & see gemaak het, is ongelooflik. Ons het ons eie private groep, en ons gesels daagliks daarop. Friends for life.”

Stefvan vertel:

Jul paptert het nie aan Herman en Yolani se ‘Instagrammable’-vereiste voldoen nie, maar Herman het dit as ‘Susan-mooi’, (Susan was sy ma), beskryf. Hoe het dit jou laat voel?

“Dit was werklik ’n baie spesiale oomblik. Ja, die paptert was dalk nie die “Instagrammable” dis van die dag nie, maar toe Herman sê dis “Susan-mooi”, het dit my diep geraak. Dis sulke opregte, eerlike komplimente wat vir my meer werd is as enige fancy plating. Dit het gevoel asof hy die hart agter die gereg raakgesien het, en vir my is dít wat kos mooi maak.”  

Kokkedoor
Stefvan meen hy en sy pa, Anton, het ” ’n onverstaanbare taal wat net ons twee praat, maar dit werk elke keer.”

Jy en jou pa het ’n ongelooflike band gesmee toe hy in 2008 met Guillain-Barré-sindroom gediagnoseer is. Hy vertel hoe jy hom rondgedra het en basies die huishouding oorgeneem het. Watter impak het dit op jou lewe gehad?

“Daardie tyd het my gevorm op maniere wat ek eers jare later ten volle besef het. Wanneer jou pa so siek word dat hy nie kan loop nie en jy moet inspring en die huisdinge hanteer, dan word jy vinnig groot. Dit het my geleer om verantwoordelikheid te dra, om te baklei vir die mense wat vir jou belangrik is, en om nie maklik op te gee nie.

“Maar die grootste ding? Dit het my en my pa só sterk gebind. Dis ’n band wat jy nie kan fyn uitlê nie, jy voel dit net. En ek dink mense sien daai band op die stel ook.”

Van die spanne het ’n paar kodewoorde geuiter wanneer dinge ’n bietjie warm onder die boordjie geraak het in die kombuis. Het jy en jou pa ook só iets gehad – of het julle die situasie op ’n ander manier ontlont?

“Ons twee is maar ou skool, geen fancy kodewoorde nie. Wanneer dinge in die  kombuis warm geraak het, het my pa my net met daai blik van hom aangekyk, en dan wéét ek: ‘Hou kop, moenie stres nie.’

“Ons manier om spanning te breek, is altyd humor. Pa sal ’n grappie drop, ek sal iets terug sê, en dan’s die stoom af. Dis soos ’n onverstaanbare taal wat net ons twee praat, maar dit werk elke keer.”

Kokkedoor
Kokkedoor het vir my gewys hoe ver jy kan gaan as jy uit jou comfort zone klim,” meen Stefvan. Foto: Skermgreep

Watter impak het Kokkedoor: Son & see op jou as mens, en as kok, gemaak? Wat is die lewensles wat jy wegneem?

Kokkedoor het vir my gewys hoe ver jy kan gaan as jy uit jou comfort zone klim. Jy dink jy ken jou manier van kook… totdat jy skielik in ’n tent staan met kameras, ’n klok wat die tyd aftel en twee beoordelaars wat presies weet waarna hulle soek.

“Ek het as mens geleer om kalm te bly onder druk, om mense met respek te hanteer en om trots te wees op waar ek vandaan kom. As kok het ek besef ek hóéf nie weg te hardloop van my tradisionele styl nie, ek moet dit net oplig. Die Weskus het meer in hom as wat mense dink.

“Die grootste les? Jy kook met jou hart, en jy wen met jou kop.”

Is daar enige wenke vir die kombuis wat jy by Herman, Yolani of van jou mede-deelnemers geleer het?

“Herman het my geleer om meer aandag te gee aan detail, die klein finishing touches wat ’n bord van “lekker” na “wow” vat. Yolani het my laat besef hoe belangrik balans op ’n bord is: iets vars, iets crunchy, iets romerig… daai harmonie.

“En van die ander deelnemers het ek een groot ding gevat: deel jou kennis, want in die kombuis wen niemand alleen nie. Daar was sulke mooi oomblikke van saamwerk, raad gee, mekaar ophelp, dis hoe kos eintlik hoort te wees.


Kokkedoor: Son & see saai Donderdae om 20:00 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144) uit. Episodes is ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar. Kyk ook Kokkedoor Vuur & vlam op Showmax.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Wat om te kyk in 2026: Die 10 TV-reekse waarna ons die meeste uitsien

Van dáái yshokkiespelers tot ‘Bridgerton’ se Aspoestertjie-verhaal, die terugkeer van die geliefde vampierslagter Buffy en nog ’n 'Game of Thrones' spin-off – hier is ’n keur van die TV-reekse wat vanjaar op kykers wag.

Meer

Wat om te kyk: Sit dié reekse op jou moet-kyk-lysie vir Januarie 2026

Die volgende romantiese rondomtaliedans in 'Bridgerton', die terugkeer van die trefferreeks 'Een keer om die son', en die Afrikaanse weergawe van 'The Office' tel onder my top-keuses vir vandeesmaand.

Meer

Dís waar jy die 2026 Golden Globe-benoemdes plaaslik kan kyk

Van die heerlike derde seisoen van ‘The White Lotus’ en Seth Rogen se briljante ‘The Studio’ tot die ingrypende dramareeks ‘Adolescence’ en die fabelagtige fanfare in ‘Wicked: For Good’ – hier is al die reekse en films wat benoemings vir 2026 se Golden Globes ontvang het, én waar jy dit plaaslik kan kyk.

Meer
10

Wat om te kyk: 10 Kersfeesflieks vir die feestyd

Van een van die mees romantiese flieks van alle tye tot een baie, baie spesiale Kersbriefie – hier is ons keuse van Kersfeesflieks om oor dié feestyd te kyk. 

Meer
Sien alle opsies