In hierdie episode van kykNET se Kokkedoor: Son & see moes die spanne eers aan ’n koekieraai-kompetisie deelgeneem het. Met ’n ekstra kinkel . . . Die spanlid wat moes proe, was geblinddoek – en die spanlid wat moes toekyk, was gemuilband. Dit was duidelik dat die ‘siende’ spanlede veral magteloos gevoel het wanneer die ‘blinde’ spanlede verkeerd geraai het!
Maar die groter toets was toe die spanne hul hand en talent aan gebak moes waag. Dit was pa Andrew Anderson en sy dogter, Leoné Smit, wat as bakkampioene vir die koekie-proe en -bakuitdaging uit die stryd getree het.

Ronélle de Klerk (39) en haar geliefde tannie, Marianne du Plessis (64), kon egter nie die bakkuns bemeester nie. Só het hulle toe die eerste span in hierdie seisoen geword wat hul voorskote moes ophang – ’n hartbrekende uitslag vir die twee wat mekaar so goed en met soveel liefde aangevul het.
Marianne, ’n afgetrede verpleegster van Kuilsrivier, het pront erken haar suster (Ronélle se ma) het vooraf geweet hulle twee kan heerlike kos maak, maar die bak-talent het hulle verbygegaan…
“Ek is besig om brandhout vir my oudag bymekaar te maak, want dis nie meer lank nie – dan gaan ek in my assies van memories kan rondkrap,” het Marianne vertel oor hoekom sy aan Kokkedoor: Son & see wou deelneem.
Ons het met Marianne oor haar Kokkedoor-ervaring gesels.

Hoe het dit vir jou gevoel toe jy die eerste keer die Kokkedoor-stoor binnegestap het?
“Sjoe, is daar woorde vir ’n Kokkedoor-stoor? Jy leef jou droom . . . En terselfdertyd ook soveel ander mense s’n. Die voorreg was so groot vir ons 16 mense! Daardie mooi stel het my asem skoon weggeslaan.”
Terwyl dit begin lyk het of die generasiegapings bietjie krapperigheid of onsekerheid by van die spanne ontlok het, het jy en Ronélle gelyk of julle tog mekaar beter verstaan het. Wat was vir jou die hoogtepunt van julle twee saam in die Kokkedoor-kombuis?
“Die kameraspan het ook die heeltyd vir ons gesê ons lyk so rustig… Maar onder die kookwater het die twee eendjies lelik water getrap! Maar ek dink dis juis een van ons twee se sterkpunte – om rustig voor te kom in moeilike tye.”
Jy en Ronélle het heerlik gelag toe julle gepraat het oor jou suster wat gaan wakkerlê as sy weet julle moet koekies bak. Wat is eintlik jou sterkpunt in die kombuis?
“Ja, met die kleinkoekie-spook moes ons dalk minder waaghalsig gewees het en gebly het by dit wat ons ken. Ek dink nog steeds ons konsep was goed, maar die metodes wou nie so lekker uitwerk nie.
“My sterkpunt met kook? Ek hou van slow cooking, broodbak en om kos op die oop vuur te maak. Die inlê van produkte is ook een van my sterkpunte.”
Jy het vir Ronélle as kind met haar sandemmertjie leer ken. Wat van haar as grootmens het jou die meeste beïndruk?
“Sy is ’n ystervrou. En ek praat nie van haar heupvervanging toe sy 29 was nie. Sy is ’n briljante beroepsvrou, ’n wonderlike mamma vir Joost en ook ’n wonderlike vrou vir Jan. Ronélle laat mense glimlag. Sy gaan dit nog ver bring.”
Hoe was dit vir julle om vir Herman en Yolani te leer ken?

“Ek wens ons kon meer tyd saam met hulle gehad het. Maar hulle is ’n wonderlike voorbeeld vir dit wat met Suid-Afrikaanse kosse bereik kan word. Hulle blaas nuwe lewe in tradisionele geregte, maar hul onthou van waar hulle kom, maak vir hulle uniek”.
Jy’t gesê as julle by die huis kom, gaan julle niks kos maak nie. Wat was die eerste dis wat op jou gewag het? Of moes jy maar weer inspring?
“Dit was so koud op die dag toe ons by die huis aangekom het. En die hele familie het Struisbaai toe gekom. Ek het dadelik ’n lekker pot boontjiesop gekook en brood gebak. Verder het die hele familie almal so lekker saam Kalahari-steaks gebraai, daar is gekook en gelag – sommer lekker lelik gelag – soos net ons kan!”
Julle twee sou Drakensberg toe met julle ATKV-prys. Het dit toe gebeur?
“Ons het besef dat ons twee se programme nie gaan uitwerk vir die Drakenberge nie. So, ek en my gesin het heerlik by Hartenbos ATKV gaan kuier. Dit was regtig ’n voorreg!”
Kokkedoor: Son & see saai Donderdae om 20:00 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144) uit. Episodes is ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar. Kyk ook Kokkedoor Vuur & vlam op Showmax.