Was dit nou vir jou ’n jolige affêre toe die jongste familielid in die 10de seisoen van die Kokkedoor-stal op 20 November vir die eerste keer op kykNET verskyn het! Want Kokkedoor: Son & see kom met ’n kinkel: Generasies word in spanverband op die proef gestel, want buiten hul familie-verwantskap moet die spanlede ook minstens 20 jaar in ouderdom verskil.
Die reeks word aangebied deur die bekroonde sjef, TV-persoonlikheid en kookboekskrywer Herman Lensing. Sy spanmaat is die kos-entrepreneur en patisserie-sjef Yolani Abrahams, wat ook al diep spore in Suid-Afrika se koslandskap getrap het. Sy lyk nie verniet ekstra bekend nie – Yolani was in 2017 die wenner van die SARIE Voorbladgesigkompetisie.

Die uiteindelike wenners van Kokkedoor: Son & see sal R500 000 ontvang, geborg deur World Sports Betting. Die tweede span gaan wegstap met R180 000, geborg deur Spekko.
Die eerste uitdaging
Die 16 deelnemers moes behoorlik bontstaan, want dinge het vinnig verander met die uitdagings wat aan elkeen van die agt spanne gestel is. Almal het geweet daar kan net een wenner in die eerste aflewering wees, maar tot die eindelose verligting van die res van die deelnemers het almal ná afloop van hierdie episode tog hul voorskote behou. ’n Seëning sommer vir die kyker ook dat niemand huis toe gestuur is nie.
Die uitdaging om te bepaal wie die eerste wenspan sou wees, was om ’n geïntegreerde gereg voor te berei wat die deelnemers se familiestories vertel. Jy kon behoorlik sien hoe die ratte in die koppe draai, en dit was ’n groot storie om te besluit watter geregte die régte storie sou vertel en daarna die voorbereiding te beplan.
Om dit nog aantrekliker te maak, het daar op beide lede van die wenspan ’n lieflike ruim swart Hisense-yskas gewag – elke foodie se droom.
Wie het hierdie tegnologies gevorderde yskas huis toe geneem? Die wenners was Stefvan Stemmet (37) van De Tijger (Parow), waar hy betrokke is by bemarking en besigheidsregistrasies, en sy pa, Anton Stemmet (64), ’n oud-onderwyser en afgetrede kommersiële visserman van Yzerfontein. (Soos die toeval dit wou hê, het Anton agt maande vantevore vir hom ’n splinternuwe yskas gekoop – ’n Hisense, natuurlik.)

Vir die eerste uitdaging het die twee Stemmets ’n dis voorberei wat hulle die “Stemmets se seekombers” noem – filodeeg met ’n bietjie kabeljou en ’n witsous, vars pietersielie en nog ’n paar ander lekker vars geure daarby. Lipafleklekker!

Stefvan en Anton vertel meer:
Stefvan
Die padkos-pasteitoets het jou onverhoeds betrap, veral die peppersteak-pasteitjie waar daar wortel bygevoeg was. Bak jy soms jou eie pasteie? En watter een geniet jy die meeste?
“So amper het my gunstelingpastei my nou kom uitvang. Elke pastei wat ek bak, dra ek op aan my ouma Mossie. Elke jaar met Kersfees het sy vroeg opgestaan, lank voor sonsopkoms, om haar botterdeeg te maak. Elke kleinkind, niggie en nefie het dan sy of haar eie hoenderpastei gekry, met die voorletter van hul naam bo-op. Ouma se hoenderpastei is en bly my gunsteling, en ons probeer nog steeds om haar resep perfek na te maak.”
Jy sê jou pa kan enige ding wat uit die see kom, gaarmaak. Wat is jou vroegste of mooiste herinnering aan hom doenig met kosmaak?
“Ek weet nie of pap as kos tel nie, maar een van my vroegste herinneringe is my pa wat vroeg Saterdagoggend vir ons mieliemeel maak op die stoof, met botter en suiker. As kind het hy dit sommer ‘muscle pap’ genoem, en glo my, tot vandag maak hy nog vir homself daardie ‘muscle pap’.
“Ons het ook jare lank gereeld in Paradise Park in Hermanus gekamp. Die potte het van vroegoggend tot laataand geprut. Ek onthou my pa, my oupa en hulle vriende in hulle blou PT-broekies, heeldag voor die vuur. Daar was moerkoffie op die kole, vars kreefsterte vir middagete, en braaivleis met die geur van mielies wat in die pot kook. Die hele kamp het na daardie geure geruik. Alles onder die sagte gloed van kerslig – dis ware nostalgie.”
Met jou pa se ervaring het jy waarskynlik baie rondom kos geleer. Maar het jy hom darem ook ietsie geleer wat hy nou inspan?
“Vir seker! Ons is nou op ’n plek waar, wanneer ons saam kook, ons oor mekaar se skouers loer om te sien waarmee die ander een besig is. Ek leer by hom daardie ou, tradisionele manier van kook. Niks word gemeet nie – dis alles op gevoel. Maar ek dink die meer moderne en verfynde goed wat ek doen, wek ook nou sy belangstelling. Dis lekker om te sien hoe ons style begin saamsmelt.”
Spandeer jy tyd om resepte na te vors, of maak jy staat op jou intuïsie?
“Vir sukses moet jy navorsing doen, dis seker. Ek het altyd ’n kop vol idees, en ek doen gereeld navorsing oor hoe geure saamwerk of mekaar balanseer. My verloofde spot altyd en sê by ons huis word nie eers ’n toasted cheese normaal gemaak nie, daar moet altyd ’n bietjie flair by wees.”
Benewens kosmaak, het julle ander aktiwiteite wat julle graag saam doen?
“Met my ouers wat in Yzerfontein bly, probeer ek en my broer gereeld kyk waar ons ’n staanplek kan kry om saam met my pa see toe te gaan – of dit nou vir visvang of kreeftrek is. Dis vir ons albei besonder kosbaar dat ons dié tyd saam met hom kan spandeer. Dis iets wat ons gereeld doen, en elke keer is dit ’n herinnering wat bybly.”
Hoe het dit vir jou gevoel toe Yolani genoem het dat sy nie net balans op julle bord nie, maar ook balans in julle span kon sien?
“Ek dink ek kan eerlik sê, beide ek en my pa was emosioneel. Ons stap al ’n lang pad saam, en daardie oomblik was regtig die kersie op die koek – iets wat ons vir altyd sal onthou. Dit was nie net oor die kos nie, maar oor wat dit as pa en seun vir ons beteken het.”
Wat beteken hierdie wen van die eerste uitdaging vir jou?
“Om daardie eerste wen saam met my pa te kon deel was onwerklik. Dit het vir my gevoel soos ’n bevestiging van ons spanwerk en van hoe ver ons al gekom het. Ons sien regtig uit om te sien hoe ons as pa-en-seun-span verder kan groei en ontwikkel deur die kompetisie.”

Anton
(Anton is ’n man wat die see ken en al van 12-jarige ouderdom lyn natmaak.)
Jy’s baie knap met jou viswerk. Maar hoe kies jy die regte mes, benewens dat dit ’n skerp een moet wees?
“Die keuse van ’n mes gaan oor veel meer as net hoe skerp dit is. Die handgreep, punt en lengte van die lem speel ’n groot rol. ’n Mes moet gemaklik in jou hand lê. Dit moet as ’t ware soos ’n verlenging van jou arm voel. Wanneer jy met vis werk, is presisie belangrik, en die regte balans tussen lem en hef maak die verskil.”
Stefvan het tergend gesê dit het jou 25 jaar geneem voordat jy hom in die kombuis toegelaat het. Was dit werklik so, en indien wel, hoekom?
“Nee, dit is effens oordrewe. Dit het dalk lank geneem voordat ons regtig saam in dieselfde kombuis kon kook, maar darem nie 25 jaar nie. Dis meer dat ons albei ons eie styl en ritme het. Ek het my manier van dinge doen, en Stefvan het sy eie flair. Vandag werk dit mooi saam, maar dit het beslis tyd gevat om daardie balans te kry.”
Hoe was die ervaring vir jou om saam met jou seun te kon deelneem?
“Dit was ’n absolute voorreg om saam met hom aan Kokkedoor: Son & see te kon deelneem – regtig een vir die bucket list. Nie net was dit oor die kos nie, maar oor die ervaring, die gesels, die saamlag en om daardie tyd saam te kon hê. Dis iets wat ek vir altyd sal onthou.”
Wat was die uitdagendste gereg wat jy nog ooit aangepak het?
“Kersete! Dis die een maaltyd waar daar altyd te veel aan die gang is. Verskillende vleise, bykosse, souse en natuurlik elkeen se verwagting van hoe ’n Kersete behóórt te smaak. Dis ’n logistieke uitdaging, maar as alles reg uitwerk, is dit die moeite werd.”
Watter tegniek rondom kosmaak wil jy nog baasraak?
“Pasta bly vir my, as deel van die ouer garde, ’n uitdaging. Ek wil graag my eie pasta perfek kan maak en sny – dis ’n kuns op sy eie. En as bak ook as ’n tegniek tel, is dit beslis iets waarin ek nog wil verbeter. Daar’s altyd iets nuuts om te leer in die kombuis.”
Kon jy dit glo toe jy en Stefvan as wenners van die eerste uitdaging aangewys is? Wat beteken dit vir jou?
“Ek gee vir Stefvan 10 uit 10 vir hoe hy een van my ou geregte ’n nuwe baadjie aangetrek het. Om daardie eerste uitdaging saam te wen was ongelooflik vir ons albei. Ek was trots – nie net op die gereg nie, maar op die spanwerk. Ek kon bars van trots toe ek die finale bord sien.”
Kokkedoor: Son & see bestaan uit agt episodes en begin op Donderdag 20 November om 20:00 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144). Die reeks sal ook op Catch Up beskikbaar wees. Kyk ook Kokkedoor Vuur & vlam op Showmax.