Menu terloops
In TV [3 Des 2025]

‘Kokkedoor: Son & see’: Die verlede ontmoet die hede met die eerste ‘Kokkedoortjie’-wenner op die stel 


Die gasbeoordelaar vir vandeesweek se episode van ‘Kokkedoor: Son & see’ weet maar al te goed hoe warm dit werklik in die Kokkedoor-stoor kán word, al was hy destyds net ’n skrale 13-jarige oue knapie met ’n groot liefde vir die kombuis. Jip, Edwin Theron van ‘Kokkedoortjie’ kom kuier! 

Deur Annelene Oberholzer
‘Kokkedoor: Son & see’: Die verlede ontmoet die hede met die eerste ‘Kokkedoortjie’-wenner op die stel 

Edwin Theron (21) was lank reeds vóór Kokkedoortjie meer tuis in die kombuis besig om te eksperimenteer en te kook as ander tieners van sy generasie. Daar was wel tye wat hy onseker oor sy pad vorentoe was, maar vandag is hy bly hy het volhard. En hy is ook diep dankbaar vir die ongelooflike mentors waarmee sy pad sedert sy tyd op Kokkedoortjie in 2017 gekruis het.

Kokkedoor
Edwin Theron destyds op die stel van Kokkedoortjie. Foto’s: Verskaf

Sy driegang-spyskaart wat hy destyds vir die Kokkedoortjie-beoordelaars Mari-Louis Guy en Nic van Wyk moes voorberei, was sy eie interpretasie van Avokado Ritz (voorgereg), hoender cordon bleu (hoofgereg) en sjokoladepoeding met kersies (nagereg). En dit het hom die kroon van Suid-Afrika se eerste Kokkedoortjie besorg.

“As ek nou terugdink, vermoed ek dat ek nou meer onthou as wat ek daai tyd ervaar het. Ek onthou die glimlagte, die hartseer, die huil – van myself en die ander Kokkedoortjies. Die goed, die sleg, die mense wat agter die skerms vir ons duim vasgehou het. Ook vir ons aangemoedig het om aan te gaan. 

“Ek besef nou eers hoeveel my ma, Marietjie, dáár was vir my.”

Agt jaar later het hy nog sporadies kontak met Christi Myburgh (naaswenner) en hy is bly om te sien hoe goed Christi deesdae vir homself doen. Terloops, Christi is ’n fyngebak-sjef wat vanjaar as die top-presteerder deur die Craft Guild of Chefs (Brittanje) aangewys is en ook ’n Royal Academy of Culinary Arts-fyngebak-finalis.

kokkedoor edwin theron
Edwin is die toonbeeld van die ewige student. Hy het die onblusbare lus om te leer, nog te leer en dan . . . wel, nog meer te leer.

Generasiegaping 

Om van deelnemer tot gas-beoordelaar op Kokkedoor: Son & see te gaan, was vir Edwin ’n interessante ervaring, juis omdat hy nou soveel meer kos-kennis opgedoen het. Hy kon fokus op die interaksie tussen die verskillende spanlede terwyl hulle onder groot druk hul beste disse (en voetjie) moes voorsit.

Die samewerking tussen die familielede se jonger en ouer garde het hom beslis beïndruk, vertel hy. “Ja, soms was daar wrywing tussen oud en jonk, maar aan die einde deel hulle dieselfde emosies. Dan word die wrywing opsy geskuif en daai dis wat hulle saam berei het, word voorgesit. Dit was die spanne se kreatiwiteit, eerder as die disse self, wat my werklik beïndruk het.”

Die ewige student

Edwin is die toonbeeld van die ewige student. Hy het die onblusbare lus om te leer, nog te leer en dan . . . wel, nog meer te leer.

“Ek glo, net soos wat ander sjefs dit mag ervaar, is die toekoms ’n bietjie van ’n mystery . . . Daar’s idees oor wat aangaan in hierdie absolute mal chaotiese, liefdevolle en passievolle bedryf wat heeltyd deur evolusie gaan. 

“Vir my sou ek graag oor vyf jaar onder merkwaardige mentors by wonderlike restaurante, hopelik een met ’n Michelin-ster, wil wees. En natuurlik om steeds te bly leer, my tegnieke te verfyn en my eie identiteit in my kos te kry.

“Ek is gek oor die idee van selfuitdrukking en evolusie, selfverbetering soos wat tyd aangaan. So ja, oor vyf jaar sal ek graag by ’n restaurant wil wees waar ek kreatief kan wees, waar ek nou al gegroei het tot op ’n plek waar ek dalk ’n leier vir ander jong sjefs kan wees.”

kokkedoor edwin theron
Edwin Theron saam met die beoordelaars Yolani Abrahams en Herman Lensing.

Het hy enige voorkeure van waarin hy dalk sou wil spesialiseer? Hy erken dat daar nie ’n oorhoofse gedeelte is wat hom baie sterk aantrek nie, maar dit sal beslis iets “aan die vleiskant” wees. 

“Ek hou ook van die kreatiwiteit, die losbreek daarvan, as jy fine dining doen mits jy die vryheid gegun word om te floreer. Vir my is die kans om te groei die belangrikste in ’n kombuis. Daarmee saam die motivering (onder mekaar), die lang ure en die saamtrek om daai disse te bedien . . . disse wat mense net wow! En hulle wil laat terugkom vir daai nostalgie van ma se kos wat hulle onthou.

Dis juis waarom die ikoniese koskenner en kookboekskrywer Errieda du Toit een van sy koshelde en -mentors is. Behalwe dat hy haar nog altyd as sy “kos-ma” beskou het, is sy een van die mense wat vergete generasies se disse lewendig hou.

Kragtoer…

Wat doen Edwin wanneer hy nie in die kombuis is nie? Laggend erken Edwin hy het ook kragoptel begin beoefen. Vir hom verg dit net soveel dissipline soos kosmaak. Dit gaan oor tegniek, roetine en konsekwentheid – alles eienskappe waarvan hy hou. Natuurlik speel die resultate daarvan ook vir hom ’n groot rol. So gedrewe as wat Edwin nou reeds is, kan daar net een antwoord op sy toekoms wees: sukses.


Kokkedoor: Son & see saai Donderdae om 20:00 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144) uit. Episodes is ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar. Kyk ook Kokkedoor Vuur & vlam op Showmax.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Jou ‘Skemergrond’-kykgids vir Augustus 2026

Christine kry ’n nare verassing en Ruan en Amber stel ’n gevaarlike lokval... Dít en nog meer wag op ‘Skemergrond’-kykers vandeesmaand.

Meer

Jou ‘Binnelanders’-kykgids vir Augustus 2026

Die waarheid oor ’n dokter lei tot ’n dramatiese wending en Joe is desperaat om vrae oor sy identiteit te beantwoord. Dít en nog meer is wat op ‘Binnelanders’-kykers vandeesmaand wag.

Meer

Jou ‘Diepe Waters’-kykgids vir Augustus 2026

Jacques en Theresa se groot dag breek aan, terwyl Karla en Arno nie tot ’n vergelyk kan kom nie. Hier is waarna 'Diepe Waters'-kykers in Augustus kan uitsien.

Meer

Jou ‘Suidooster’-kykgids vir Augustus 2026

Mike maak (weer) droog, Kaashifa vind iets skokkend uit en die Samsodiens sien rooi... Dít en nog meer is waarna ‘Suidooster’-kykers in Augustus kan uitsien.

Meer
Sien alle opsies