Die spanne moes vandeesweek hul hand aan gebak waag. Dít het uiteindelik tot ’n hartseer uitslag vir Ronélle de Klerk (39) en haar geliefde tannie, Marianne du Plessis (64) gelei. Ja, dié span moes hul voorskote ophang en die Kokkedoor: Son & see-kombuis vaarwel roep.
Ronélle – argitek, fotograaf, kunstenaar – het vertel dat sy besluit het om aan Kokkedoor deel te neem juis omdat dit nog altyd een van Marianne se grootste drome was.
“Tannie Marianne het onlangs afgetree en sy was baie lus om groot te droom. Sy het twee kinders, Christoff en Isanel (Nellie). Nellie is geestelik en liggaamlik gestremd. As ’n mamma met gestremde dogter was daar baie drome wat gegroet moes word. Drome oor jou dogter se matriekafskeid, haar studies, haar werk, eendag se trou en uit die huis gaan om haar eie lewe te leef. Met Nellie moes my tannie en oom hierdie drome van hul dogter groet.”
Ronélle vertel vir ons meer oor haar ervaring op die reeks:

Die rede hoekom jy saam met Marianne ingeskryf het vir Kokkedoor: Son & see is werklik roerend. Was dit presies, of aansienlik meer, as wat jy van julle ervaring saam verwag het?
“Ek het saam met tannie Marianne ingeskryf omdat ek haar droom ernstig opneem. Sy moes al soveel drome groet in haar lewe met Nellie se gestremdheid, dat ek nie wou hê sy moet ook hierdie droom van Kokkedoor los nie. Ek het gehoop op ’n kombinasie van alles wat ek liefhet… Familie, kos en Struisbaai, die plek van my kinderjare by die see.
“Wat ons gekry het, was in baie opsigte baie meer as wat ek verwag het. Mooier en harder op dieselfde tyd. Mooier, omdat ek tannie Marianne op ’n nuwe manier leer ken het, én omdat ons Kokkehane en Kokkehenne binne dae soos familie begin voel het.
“Ons het selfs ’n WhatsApp-groep begin waar ons nog steeds resepte, grappies, trane en reünieplanne deel. Die band tussen deelnemers was vir my ’n bonatuurlike verrassing.

“Maar dit was ook aansienlik moeiliker. Die druk, die generasiegapings, my eie uitputting en die feit dat ek siek begin word het, het dit moeilik gemaak. Vir maande ná die tyd het ek gedroom ek is terug in die stoor en die klok tel af. Tog, as ek vandag terugkyk, sien ek hoeveel dit my geleer het oor familie, oor myself en oor hoe kos mense bymekaar bring, selfs wanneer dit seer is.
“Ons droom al informeel in ons groep oor ’n moontlike Kokkedoor: Son en see-resepteboek met al 16 deelnemers se stories, families en ‘vakansietreffer-resepte’. Dit is iets waaraan ons nog kou en oor droom, om die warmte en menslikheid van die reeks in boekvorm te deel.”
Hoe het dit gevoel toe jy jou man, Jan, en seuntjie, Joost (4), moes agterlaat vir die tyd op Kokkedoor?
“Dit was een van die swaarste dele van die hele ervaring. Om jou vierjarige seuntjie en jou man by die huis te los terwyl jy iets so intens aanpak, voel amper téén jou moederhart.
“Die tien dae voor ons vertrek was rof. Daar was ’n mediese noodgeval met Jan, en ons het hospitaal toe gejaag. Dieselfde dag het ons gehoor dat projekte en betalings by ’n groot kliënt opgeskort word. Ek het Kokkedoor toe gegaan met ’n kop vol stres en ’n hart wat oorvol was.
“Toe ek vir Joost en Jan groet, het dit gevoel asof ek ’n stuk van my hart agterlaat. Dit was vir my belangrik dat Joost omring is deur al sy mense. Die wonderlike uitkoms was hoe Jan in daardie tyd begin blom het. Hy het leiding geneem, al die drade bymekaar gehou en saam met ons ouers gesorg dat Joost se wêreld veilig en vol liefde bly.
“Wanneer ek ná ’n dag in die stoor ’n klein video van my kind ontvang het, het die verlange my soms oorval. Maar dit het my ook gedra. Ek het hulle vreeslik gemis. Tog het ek ook gesien hoe sterk my man, my seun en ons families saam is.”
Sal jy weer vir ’n soortgelyke werklikheidsreeks inskryf?
“In hierdie stadium, as ek eerlik dink aan die hele intensiteit en tempo van ’n werklikheidsreeks, sê my lyf nog bietjie, ‘Eers asemhaal’. Maar my hart los tog ’n klein venstertjie oop vir ‘miskien eendag’. Kokkedoor het vir my gevoel soos army vir mense wat van kook hou.
“Jy word fisiek, emosioneel en kreatief tot op jou grense gedruk. Daar was nagte ná die verfilming dat ek wakker geskrik het en gevoel het ek is weer in die spens, alles moet gelyktydig gebeur en ek kan nie onthou wat in die oond is nie.
“Vir weke ná die uitskakeling kon ek nie eers normaal verby ’n tuisgebakte koekie in ’n winkel stap nie. My hart het gejaag en my maag het gedraai.
Hoe was jou ervaring voor die kamera?
“My senuwees is nie so erg oor die kamera self nie. Ek het eintlik baie van die kamerawerk gehou en was verras hoe natuurlik dit vir my gevoel het om voor die kamera stories te deel. Daar is beslis ’n deel van my wat dit graag verder sou wou ontwikkel.
“Op die oomblik is dit meer my kapasiteit en lewensseisoen wat my terughou as vrees vir die kamera. Ek het werk en gesin wat my volle aandag vra. Ek is versigtig om nie te veel op my bord te laai nie.
“Ek kan my voorstel dat ek weer iets op televisie sal doen, maar dan in ’n tyd waar my tenk voller is en ek dit rustiger kan aanpak. Vir nou is ek dankbaar vir die ervaring, die mense en alles wat dit my oor myself geleer het.”
Wat het jy in hierdie tyd van Marianne geleer wat jou verbaas het?
“Ek ken tannie Marianne al van my kleintyd af op Struisbaai. Kokkedoor het my egter vir haar op ’n nuwe manier laat sien. Dit het my opnuut getref hoe bereid sy is om iets heel nuuts aan te durf op hierdie punt in haar lewe.
“Sy is in haar wese warm en vol humor. Sy bring maklik lig in ’n kamer, al is die dag lank en gespanne. Ek het gesien hoe sy, selfs as sy moeg is, nog tyd het vir ’n grappie, ’n storie of ’n bemoedigende woord vir iemand anders. Dit het my herinner hoekom mense so graag by haar kuier.
“Ons is baie verskillende mense uit verskillende generasies, so dit was natuurlik dat ons nie altyd dieselfde manier van doen gehad het nie. Sy is iemand wat nogal vinnig oor spanning sis en aanbeweeg, terwyl ek soms langer vat om dinge te verwerk. In plaas daarvan om dit as ’n probleem te sien, het dit my laat besef hoe verskillend ons bedraad is en hoe belangrik geduld en respek in so ’n span is.
“Wat my die meeste geraak het, is haar uithouvermoë en lojaliteit. Sy dra al jare lank groot verantwoordelikheid vir Nellie en vir die familie. Tog het sy die moed gehad om hierdie ervaring saam met my aan te pak. Ek het haar opnuut bewonder vir hoe sy gee, hoe sy deurdruk en hoe sy, te midde van alles, steeds bereid is om saam te leer en saam te probeer.”
Hoe het dit vir jou gevoel toe julle koekies deur Herman, Yolani en Andriette (Geourgiou, eienaar en skepper van Mondvol-koekies) beoordeel is?

“As ek heel eerlik is, koekiedag was net eenvoudig nie ons dag in die kombuis nie. Ons cookie dough het geflop en, figuurlik gesproke, ons koekie het gekrummel.
“My ma is ’n ongelooflike koekiebakker. Sy het 3 kilogram koekies gebak en vir my met die koerier gepos, al die pad van die Kalahari tot in Ballito, sodat ek kon oefen om dit te versier. Dit wys hoe ernstig ons dit opgeneem het.
“Maar my lewe was voor Kokkedoor so ’n gejaag, dat ek nooit soveel kon oefen soos wat ek graag sou wou nie. Koekies was van die begin af op ons lys van goed wat nie juis ons sterkste punt is nie. Maar dit was wel naby aan die hart. Daardie spesifieke dag het ook swaar begin. My tannie het die oggend nuus ontvang dat een van hul huisvriende oorlede is, so haar hart was swaar. Ek was self reeds besig om siek te raak en het nie heeltemal op my beste gevoel nie. Die kombinasie van emosie, moegheid en hoë druk het beteken dat dinge net nie mooi bymekaar wou kom nie.
“Toe ons dan voor Herman, Yolani en Andriette staan, het dit gevoel soos om jou ma se koekblik op nasionale televisie oop te maak. My hart het in my keel geklop.
“Toe die kritiek kom en ons so vroeg moes groet, was dit seer. Dit het vir my gevoel asof daar nog soveel in my was wat ek nie kon uitleef nie. Idees wat ek nie kon beproef en verder ontwikkel nie, kreatiewe draaie wat nog net in my kop bestaan het.
“Maar dan dink ek aan die ander mense daar. Iemand moes eerste uitval. En toe dit ons is, was daar terselfdertyd ook hierdie vreemde vrede, omdat ek so lief geraak het vir die ander deelnemers. Dit het gevoel asof ons ’n span is, ’n kleurvolle nuwe familie. Ek het dit hulle gegun om nog ’n kans te kry, nog ’n dag in die stoor.
“Met tyd en baie gesprekke met die Kokkehane en Kokkehenne het ek leer sagter kyk na daardie dag. Ja, ons koekie het gekrummel en die dough het geflop… Maar een bord koekies op een moeilike dag definieer nie my waardigheid, my ma se koekie-erfenis, of my verhouding met kos nie. Dit bly deel van my leerproses, ’n oomblik met ’n traan en ook ’n klein glimlag.”
Marianne het gesê die familie moet kosmaak wanneer julle by die huis is. Het dit toe gebeur, en wat was op die spyskaart?
“Die spesiaalste ‘spyskaart’ was uiteindelik in Struisbaai, in my oorlede ouma se huisie wat my oupa gebou het, om ’n tafel vol familie wat ons jare laas so saam gesien het. Jan het vir my ma ’n familiebyeenkoms gereël. Skielik het die tema Son en see nie net soos ’n televisie-slagspreuk gevoel nie, maar soos ons werklike lewe.
“Daar was eenvoudige borde kos, lag, trane en stories. Ons het staanrib, snoek en roosterkoeke op die kole gemaak, heerlike ertjiesop en oudtydse sagopoeding, of soos ek dit ken, padda-ogies. Daardie oomblik, saam met my mense, was vir my meer werd as enige trofee.”
Kokkedoor: Son & see saai Donderdae om 20:00 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144) uit. Episodes is ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar. Kyk ook Kokkedoor Vuur & vlam op Showmax.