Vir dié week se Goue Middeweg-opdrag in Kokkedoor: Son & see moes die spanne ’n ete vir vier gemaak het wat bestaan uit steak wat oor die vuur gebraai is plus ’n sogenaamde loaded bykos wat ’n stysel as basis het. ’n Loaded-gereg is een waar daar ’n basis is van byvoorbeeld aartappels, maar dit dan toegepak word deur ander kosse. Vir hierdie uitdaging moes daar saam met die vleis en stysel, ook groente of slaai asook ’n sous op die bord gewees het.
Dít als onder die wakende oë van nie net die twee beoordelaars, Herman Lensing en Yolani Abrahams nie, maar ook die week se gasbeoordelaar, Edwin Theron. Edwin het in 2017 as 12-jarige Kokkedoortjie gewen het. Edwin is deesdae ’n student aan Institute of Cullinary Arts in Stellenbosch waar hy opleiding as chef kry.

Die spanne het 75 minute kooktyd en toegang tot die volle spens, asook Checkers se Steakhouse Classic-reeks gehad.
Daar het sommer vinnig ’n paar dinge aan die lig gekom. Frans en Una-Belle se woorde aan mekaar wanneer die een dalk te veel op die ander se tone trap is “smartie town”, Andrew het begin besef hoe sterk die kompetisie is en Shireen en Reuven-Jon het geweet hulle moet hulle tyd in die kombuis beter bestuur. Anton het vertel hoe hy op 48-jarige ouderdom met Guillain-Barrè-sindroom gediagnoseer is en niks vir homself kon doen nie. Met Stefvan en sy gesin se versorging asook intense fisio- en arbeidterapie en tyd op die vissersboot, was hy vinnig weer sy ou self.
Hier is wat die spanne vir hul hoofuitdaging gemaak het:







Die top-spanne…
In die sonkamer het die spanne gewag om te hoor wie hierdie kampkos met flair-uitdaging die beste reggekry het. Die top-2 spanne was Frans en Una-Belle wat gekomplimenteer is met hulle kombinasie van elemente en geure, en Andrew en Leoné wie se sous veral die aandag getrek het. Die uiteindelik wenspan was Andrew en Leoné.
En aan die ander kant…
Die twee spanne aan die onderkant was Anton en Stefvan wie se bord kos net te veel knoffel bevat het, en Yvette en Fran wie se bord kos meer soos ’n voorgereg was en nie genoeg gelaai was nie.
Die span wat volgende die Kokkedoor-kombuis verlaat het, was Anton en Stefvan. Lees ook ons onderhoud met dié pa-en-seun-duo nadat hulle hul voorskote opgehang het.
Vyf wenke uit die Kokkedoor-kombuis in dié episode
- Wanneer jy steak braai, moet die vuur warm wees sodat die vet kan uitbraai en bros wees. – Edwin
- Vee jou steak droog en laat dit rus voor jy dit braai. Steak by kamertemperatuur braai beter as steak wat uit die yskas kom. – Herman
- Wanneer jy ’n witsous maak, moet jy die meel uitkook voor jy die kaas byvoeg anders gaan jy ’n rou, melerige tekstuur in jou mond kry. – Herman
- Wees versigting wanneer jy kersietamaties heel gaarmaak en in ’n dis gebruik. Dis ’n bondeltjie geur wat maklik ’n hele gereg kan oorneem. – Herman
- Wanneer jy knoffel in iets soos guacamole gebruik, maak dit eers gaar deur dit te bak. Dit sal die soet note van die knoffel uitbring. – Herman
Kokkedoor: Son & see saai Donderdae om 20:00 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144) uit. Episodes is ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar. Kyk ook Kokkedoor Vuur & vlam op Showmax.