Menu terloops
In TV [11 Des 2025]

‘Kokkedoor: Son & see’: ‘Eet, kook en leef… familie bo alles!’


Eers het hul pannekoeke geflop en toe kom hulle die flaters van alle flaters in die kombuis oor – hul hoender was nog rou… Maar hulle het elke oomblik op die stel van ‘Kokkedoor: Son & see’ terdeë geniet, sê die pa-en-dogter-span Frans en Una-Belle van Wyk: “Dankie aan julle wat ons lewe so vol gemaak het.”

Deur Annelene Oberholzer
‘Kokkedoor: Son & see’: ‘Eet, kook en leef… familie bo alles!’

Frans van Wyk (51), funksiebeplanner en die bestuurder van ’n koffie- en blommewinkel in die Paarl en sy dogter, Una-Belle (19), was die twee slagoffers wat dié week in Kokkedoor: Son & see hul voorskote moes ophang. Rou hoender vir die pastorie-dis en ongaar rys vir hul pragtige ryspoeding het hulle opmars na die finaal gekniehalter.

Kokkedoor
“Ons het ’n baie gemaklike verhouding met mekaar. Ons praat oor alles, even die girly goed. En dit is nie moeilik om te identifiseer waar my kind wat nodig het nie. Sy is in elk geval ’n drukkie-en-soentjie-kind, so om liefde terug te gee is maklik,” vertel Frans oor sy dogter en Kokkedoor-spanmaat, Una-Belle. Foto’s: Verskaf

Frans vertel: 

Daai pannekoeke wat nie wou saamspeel nie? Was dit ’n eerste vir jou en het dit jou ontstig?

“Kyk, ek kán pannekoek bak. As ons daardie dag ons eie resep kon gebruik, sou die uitkoms heel anders gelyk het. Omdat ek nie die resep se ‘binnegoed’ geken het nie, veral die hoeveelhede en die ratio eier tot melk/water, was dit moeilik. Dit het my lekker ontstig. Ek dink families se plaatkoekie- en pannekoekresepte is soos heilige grond en jy hou vas daaraan want dit wérk. As ek daardie resep net so effe kon tweak met ’n ekstra eier en bietjie meel sou ek ook meer kon bak.”

Dit lyk asof jy en Una-Belle ’n besondere pa-en-dogter-verhouding het. Vertel ’n bietjie meer daaroor.

“Ons het ’n baie gemaklike verhouding met mekaar. Ons praat oor alles, even die girly goed. En dit is nie moeilik om te identifiseer waar my kind wat nodig het nie. Sy is in elk geval ’n drukkie-en-soentjie-kind, so om liefde terug te gee is maklik. 

“Sy kan natuurlik vir my ook warm onder die boordjie laat met haar geite en giere maar dan besef ek elke ouer smeer maar ook ’n paar uitdagende karaktereienskappe af aan hul kinders. Ons verhouding was van kleins af een van kameraderie. 

“Ek help waar kan ek help en meng ook soms in waar ek nie moet nie. Al wil sy skeef neuk as sy nie seker oor iets is nie, sal sy altyd raad vra. Ek is dankbaar dat ek Kokkedoor: Son & see saam met haar kon doen, juis omdat sy nie kompeterend is met iets waarvoor sy lief is nie. Tog, as ’n jong dame sal sy haar opinie lewer. Ek is dankbaar dat my kinders opinies het en nie net ‘ja’ en ‘nee’ sal sê nie.” 

“Ek is seker ’n raakvatter. As pa moet jy weet hoe om jou kinders so te lei dat hulle by die maak van keuses uitkom. Sonder daardie karaktereienskap is die lewe moeilik want jy kan nie besluite neem nie.

“ ’n Creative spanner is ek beslis. Uit die aard van my werk moet ek mooi en logistiek saam kan laat dans en speel – en die een mag nie ’n persent meer as die ander wees nie want dan loop goed skeef. Ek geniet nog altyd al die komponente van my werk. Ek is versot op ’n mooi tafel en ’n funksie wat goed beplan is, waar daar sinergie is tussen die wow!-oomblikke – van die mooi gedekte tafel tot die bord kos wat by die geleentheid pas. Daarmee saam ook die musiek, die stage en die waiter. 

“Waar ek as funksiekoördineerder en regisseur verantwoordelik is vir die inhoud van die geleentheid, hanteer ek dit nougeset en aandagtig. Soms soveel so dat dit voel of ek reeds die funksie gehou het. Ek doen dit met passie en kreatiewe energie vir die perfekte ambiance.  

“Glo my, of ek in Franseman [Frans en Ronel, sy vrou, se restaurant] se kombuis staan en ’n neongeel celebration-koek bak, ’n nuwe slaai praktiseer vir die somer of Duitse Kersfees-stollen en koekies bak . . . dis alles sodat mense kan deel in my manier van Kersfees.” 

Kokkedoor
“Ek het elke oomblik ongelooflik geniet en dit was vir my hartseer toe ons huis toe gaan oor iets wat ek nie met my eie oë raakgesien het nie. Die hoekoms en waaroms bly dan knaag en jy rewind jou gedagtes soveel keer dat dit lateraan blur,” sê Frans.

Hoe het jy jou tyd op Kokkedoor: Son & see ervaar? Het die senuwees gelol of het jy maklik ingeskakel?

“Ek het elke oomblik ongelooflik geniet en dit was vir my hartseer toe ons huis toe gaan oor iets wat ek nie met my eie oë raakgesien het nie. Die hoekoms en waaroms bly dan knaag en jy rewind jou gedagtes soveel keer dat dit lateraan blur.

“Ek het ook besef Una-belle kan lekker kos maak maar die druk het haar beetgekry. Sit nou ’n kamera voor jou neus, dan raak dit net soveel erger. Die senuwees was daar en ek dink dit is maar net normaal. Maar ons gaan wys wie ons is deur ons Kokkedoor: Son & see-disse op “Koskandelare” op Facebook en Instagram te deel. Daar gaan ons ook wys hoe ons as familie kos maak en dit geniet.” 

Wat is die lewenslesse wat jy van jou deelname aan Kokkedoor: Son & See wegvat?

“Moenie die boek judge oor sy cover nie. Toe ons daar in Struisbaai aangekom het, het ek 14 ander mense ontmoet wat ek van geen kant geken het nie. Ek het op pad soontoe nog met Una-belle gespot en gesê ek dink dit gaan moeilik wees om mense met hulle geite en giere te lees en om nie konfronterend te wees nie.

“Dit was presies die teenoorgestelde. Ek het lanklaas in my lewe mense ontmoet wat so real was. Karen Zoid en Francois van Coke se liedjie ‘Toe vind ek jou’ som dit perfek op. Hierdie groep van 16 mense het in die mooiste vriendskap betrokke geraak en die WhatsApp-groepie gons nog elke dag met vrae en raad en sommer net sad en bly wees. Dankie aan julle wat ons lewe so vol gemaak het.”

Vertel vir ons ’n bietjie meer van Ouma Gerrie.

“Ek dink die Ouma Gerries is die wereld is min. Dis daardie oumas wat nog gebak en brou het van opstaan tot laat in die nag as die suurdeegbroodjie moet rys. Die oumas van vandag hoef nie in te sit wat oumas 40 jaar terug ingesit het ten opsigte van beplanning nie. 

“Vandag help Ouma Woolworths en Ouma Checkers uit op dae van spanning wanneer die maak van lekker kos moeilik is. Dan haal jy klaar-voorbereide kos van die rak af en pak dit net op ’n mooi bord. 

“Die lewe het vinnig verander en so het Ouma Kentucky, Ouma Steers en Ouma Roccomamas eintlik die ware komponent van “hartskos” laat verdwyn. Die gesegde wat na die pandemie die lig gesien het, is in die kol: Niks is meer dieselfde nie. Dis hoe dit vir my voel. Maar Ouma Errieda [du Toit] het weer die goue draad in ons familieresepte kom styf span en as ek my resepte van Ouma Gerrie, Ouma Tiekie en my Ma Ina of Ouma Ina maak, maak ek seker om die erns van die geskrewe te verstaan en die resep slegs te vernuwe sodat dit die toekoms verder kan ingaan.

“Ons oumas was kosmakers, tuisteskeppers en huishoudsters. Hulle was oumas met groot boesems waar jy troos gevind het, waar jy drukkies gaan haal het en waar jy koekblikke oop- en toegemaak het vir ietsie lekker om aan te peusel. Hierdie oumas was voorslagsjefs, amper soos Ouma Julia Child. Oumas is die rede waarom familie se verlange na hulle kos vandag weer so belangrik is. Eet, kook en leef . . . familie bo alles!” 

Wat hou die toekoms vir jou in?

“Met die Here se genade sal ek graag op my voete wil bly en dan ook die vertroue dat Franseman in Maart in Durbanville kan oopmaak. Die dag ná Kokkedoor: Son & see het ek begin pen aan ’n boek oor familievakansies en kos langs die see.

“Ek het besef ons Namibiërs hou so ’n bietjie anders vakansie as die mense hier aan die suidpunt van Afrika. Ek wil my koskennis verbreed en my familie en kos deel met stories en resepte van vakansies aan die Namibiese kuslyn en dit iets so besonders maak dat almal kan voel asof hulle die see by Swakopmund, Hentiesbaai en Langstrand beleef, selfs al is hulle duisende kilometers ver weg.” 

Kokkedoor

Una-Belle vertel:

Jy is ’n matriekleerling aan Hoër Meisieskool Paarl – hoe het jy skoolwerk en Kokkedoor: Son & see tussen alles deur bemeester?

“Dit was een van die moeilikste dele van die hele ervaring. Ná Kokkedoor: Son & see moes ek regtig uit daai bubble klim. Dit het gevoel asof jy in ’n ander wêreld was, een vol adrenalien, kameras en kreatiwiteit. Om dan weer in die gewone ritme van skoolwerk terug te val, was baie uitdagend. Ek het deur die vakansie ekstra klasse bygewoon om op datum te kom, en ek moes vier van my Junie-eksamen se vraestelle uitstel. Ek het dit toe die week voor skool heropen het, geskryf.

“Maar ek kan opreg sê: ek sou dit nie kon doen sonder juf. Jackie Scheepers en mev. Mariana van Zyl nie. Hulle het my regtig so ondersteun, aangemoedig en my laat voel ek kan hierdie avontuur aanpak sonder om my matriekjaar op te offer. Ek isongelooflik dankbaar en lief vir hulle!”

Jou pa sê jy’s die saggeaarde een in die familie? Stem jy saam? En is dit hoekom julle twee as ’n span ingeskryf het?

“Ja, ek dink dit is waar, ek is maar die sagter een in die familie. Maar dis juis hoekom Pappa en ek so ’n spesiale span is. Hy het altyd die spontane energie en durf om nuwe dinge aan te pak, terwyl ek meer rustig is en oor alles besin. Ek dink ons balanseer mekaar perfek: hy daag my uit, ek help om dinge te organiseer en kalmeer die chaos.

“My pa is soos ’n teddiebeer. Met elke dag se trane, frustrasie en stres van die kompetisie was hy daar om my vas te hou, te troos en my moed in te praat. Hy het my laat voel dat ek dit kan doen, selfs op die dae toe ek self nie daarin geglo het nie.

“Toe ons besluit het om saam vir Kokkedoor: Son & see in te skryf, het dit vir my gevoel soos die natuurlikste ding ooit. Ek het geweet ek kry nie net ’n spanmaat nie, maar iemand wat my verstaan, my ondersteun en saam met my deur al die op- en afdraandes sal gaan. 

“Ons spanwerk gaan nie net oor kook nie, dit gaan oor vertroue, liefde en die band wat ons al jare lank deel. Daardie band het my deur elke uitdaging gehelp, selfs op die moeilikste dae van die kompetisie. En selfs al moes ons wegstap oor ’n simpel fout weet ek dat ek steeds my pa het vir wie ek ongelooflik lief is.”

Wat was die reaksie van jou skoolmaats op jou TV-buiging?

“Dit was vir my nogal moeilik want ek het vir niemand van Kokkedoor vertel nie. Almal het gedink ek gaan Namibië toe! Toe ek dit uiteindelik vir ’n vriendin by my matriekafskeid daarvan vertel, was haar reaksie groot en sy kon dit nie glo nie. Dit het my sommer laat lag en was vir my baie spesiaal. 

“Toe die nuus van Kokkedoor: Son & see op 23 Oktober bekendgemaak is, het die eksamens al begin en almal was gestres. Toe almal uitgevind het, was hul reaksies ongelooflik. Almal was geskok maar hulle was ook regtig bly dat ek die geleentheid gekry het en hulle het my ondersteun. Dit het vir my gevoel asof hulle saam met my hierdie avontuur vier. Ek is ongelooflik dankbaar vir hulle liefde en ondersteuning.”

Die tyd saam met jou pa tydens Kokkedoor: See & son – het jy iets van hom ontdek wat jou heeltemal verbaas het? En ook, iets omtrent jouself?

Kokkedoor het my op soveel vlakke geleer en dinge laat raaksien. Ek het ontdek hoe Pappa onder druk werk, hoe hy sy emosies wys, hoe hy uitdagings aanvaar, selfs al voel dinge soms oorweldigend, en hoe hy steeds probeer om my te ondersteun ondanks ons verskille. Ek het gesien hoe ongelooflik lief hy werklik is vir mense, vir kosmaak, en hoe wys hy is. Sy liefdestaal is om vir mense te sorg deur kos te maak. Dít is ook hoe hy met mense kommunikeer. Elke gereg en elke oomblik in die kombuis vertel ’n storie van sy hart.

Kokkedoor
“Van myself het ek geleer om my eie stem te vind. Ek het geleer om te praat wanneer dit nodig is, maar ook om stil te wees in die oomblikke wat dit regtig nodig is. Ek het geleer dat ek hou van praat en nuwe mense ontmoet,” deel Una-Belle.

“Ek het hom ook op ’n manier gesien wat ek nog nooit voorheen gesien het nie. My pa is ook net ’n mens en, soos ek genoem het, ’n teddiebeer. Ek het hom nog nooit so emosioneel gesien soos op Kokkedoor nie. Dit het my laat besef hoe verkeerd mense dikwels dink oor mans en emosies. Almal het die persepsie dat mans nie mag huil nie en dat hulle swak is as hulle huil. Maar om hom so emosioneel te sien, het vir my net gewys hoe flippin sterk hy is. My respek en liefde vir hom het net dieper gegroei.

“Van myself het ek geleer om my eie stem te vind. Ek het geleer om te praat wanneer dit nodig is, maar ook om stil te wees in die oomblikke wat dit regtig nodig is. Ek het geleer dat ek hou van praat en nuwe mense ontmoet. Ek het besef dat my pa tog meer weet as wat ek soms dink, en dat ek op hom kan vertrou. Ek weet nog nie alles wat ek uit Kokkedoor geleer het nie of hoe ek presies gegroei het, maar ek weet dat Liewe Jesus ’n groter plan vir my het. Kokkedoor was een van die sleutels tot daardie lewensplan.”

Jy was die jongste deelnemer op die stel. Het dit enigsins ’n impak op jou gehad? Of het jy maklik met almal in die groep oor die weg gekom?

“Aan die begin was ek bietjie bang om die jongste te wees, want die res van die mense het almal baie meer ervaring as ek gehad. Ek het self gewonder of ek regtig gaan kan byhou en of ek genoeg selfvertroue het. Maar die groep was ongelooflik ondersteunend en vriendelik. Hulle het my dadelik ingeneem en laat voel ek behoort daar. Ons almal het so vinnig deel van ’n familie gevorm. 

“Ek het besef dat ouderdom eintlik nie ’n groot rol speel nie. Dit gaan oor respek, luister na mekaar en saamwerk. Ek kon maklik met almal oor die weg kom, en ek het sommer baie van hulle geleer, nie net oor kosmaak nie, maar ook oor hoe om onder druk te werk en kalm te bly in uitdagende oomblikke.

“Ek het ook besef dat elkeen se lewensverhaal soveel betekenis dra, en dat ons uiteindelik almal net mens is. Die gesprekke op pad badkamer toe, stel toe, of selfs net as ons rondgestaan of gesit het, was vir my ongelooflik spesiaal. 

“Hulle het my gerus laat voel oor my eie lewe en my pad vorentoe. Daardie oomblikke het vir my baie beteken. Ek het geleer om my eie stem te vind en besef dat my perspektief ook waarde het. Ek sal altyd dankbaar wees vir die ongelooflike groep mense wat ons ontmoet het en my mini Kokkedoor-familie!”

Is jy die enigste kind in die huis wat belangstel in kosmaak en gebak? Of help die ander twee graag – veral as jy bak?

“Ek is definitief die enigste van die drie wat regtig tuis in die kombuis is. My boetie, Gert, en my sussie, Ane-Beth, eksperimenteer soms saam met my. Ane-Beth vra ook af en toe vir raad of bak saam. Hulle help egter nie regtig graag nie, maar hulle hou eerder daarvan om hul opinies te lewer, veral Ane-Beth!

“Toe ons jonger was, het ek, Ane-Beth, Gert en my twee niggies altyd MasterChef gespeel. Dit was vir ons altyd ’n groot avontuur, ons het probeer, eksperimenteer en sommer net pret gehad. Daardie herinneringe maak die kombuis vir my steeds ’n spesiale plek. Dis ’n plek van leer, lag, en om klein oomblikke saam met die familie te geniet.”

Wat beplan jy vir volgende jaar?

“Ná skool sien ek uit daarna om ’n nuwe hoofstuk te begin, een vol groei, ontdekkings en nuwe ervarings. Ek wil my tyd gebruik om meer van myself te leer, nuwe mense te ontmoet en dinge te doen wat my inspireer.

“Ek het groot drome vir die toekoms, maar ek glo ook daarin om dinge stap vir stap te doen. Ek wil eers fokus op wat vir my betekenisvol is en dit is om te studeer in iets waarvoor ek regtig lief is. Ek gaan ’n brugjaar vat en met my matriekpunte aansoek doen om ’n kliniese sielkundige te word wat in kinderterapie spesialiseer. Ook om kreatief te bly en om my eie pad te bou, selfs al lyk dit nie altyd soos almal s’n nie.

“Vir my gaan hierdie volgende fase van my lewe oor balans: om hard te werk, maar ook om die lewe te geniet. Om te groei, maar steeds getrou aan myself te bly. Ek sien dit as ’n kans om nuwe idees te probeer, nuwe plekke te sien, en my eie storie te skryf.”

Kokkedoor
Yolani Abrahams en Herman Lensing – medeboordelaars van Kokkedoor: Son & see.

Wat het dit vir jou beteken toe Herman (self emosioneel) vir jou gesê het hy weet hoe dit voel om jonk te wees met ’n droom in jou hart? En dat hy kan sien kosmaak is in jou bloed?

“Daardie dag was die emosies ongelooflik hoog. Ek was moeg, gespanne, oorweldig en terselfdertyd so vol dankbaarheid. Toe Herman in daardie sagter oomblik vir my sê dat hy weet hoe dit voel om jonk te wees met ’n groot droom in jou hart… Dit het my regtig diep getref. Sy woorde het vir my baie beteken en my laat besef dat ek regtig op die pad is wat vir my bedoel is. Dit was vir my ’n kosbare oomblik wat ek vir altyd saam met my gaan dra.”


Kokkedoor: Son & see saai Donderdae om 20:00 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144) uit. Episodes is ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar. Kyk ook Kokkedoor Vuur & vlam op Showmax.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Wat om te kyk in 2026: Die 10 TV-reekse waarna ons die meeste uitsien

Van dáái yshokkiespelers tot ‘Bridgerton’ se Aspoestertjie-verhaal, die terugkeer van die geliefde vampierslagter Buffy en nog ’n 'Game of Thrones' spin-off – hier is ’n keur van die TV-reekse wat vanjaar op kykers wag.

Meer

Wat om te kyk: Sit dié reekse op jou moet-kyk-lysie vir Januarie 2026

Die volgende romantiese rondomtaliedans in 'Bridgerton', die terugkeer van die trefferreeks 'Een keer om die son', en die Afrikaanse weergawe van 'The Office' tel onder my top-keuses vir vandeesmaand.

Meer

Dís waar jy die 2026 Golden Globe-benoemdes plaaslik kan kyk

Van die heerlike derde seisoen van ‘The White Lotus’ en Seth Rogen se briljante ‘The Studio’ tot die ingrypende dramareeks ‘Adolescence’ en die fabelagtige fanfare in ‘Wicked: For Good’ – hier is al die reekse en films wat benoemings vir 2026 se Golden Globes ontvang het, én waar jy dit plaaslik kan kyk.

Meer
10

Wat om te kyk: 10 Kersfeesflieks vir die feestyd

Van een van die mees romantiese flieks van alle tye tot een baie, baie spesiale Kersbriefie – hier is ons keuse van Kersfeesflieks om oor dié feestyd te kyk. 

Meer
Sien alle opsies