Menu terloops
In Recaps [12 Des 2025]

‘Kokkedoor: Son & see’: Vakansiepot… of flop? Als wat jy oor episode 4 moet weet


Pannekoeke en eenskottelgeregte was op vandeesweek se spyskaart vir die oorblywende ses spanne in ‘Kokkedoor: Son & see’. 

Deur Ilza Roggeband
‘Kokkedoor: Son & see’: Vakansiepot… of flop? Als wat jy oor episode 4 moet weet

Dinge begin nou warm raak in die Kokkedoor: Son & see-kombuis. Vir die eerste uitdaging moes die spanne meeding om te kyk wie die meeste pannekoeke in ’n kwartier kon opdis. Die deeg was klaar gemaak, dit was net ’n kwessie van bak. En buiten ’n geskenkbewys, was daar ook tien minute ekstra tyd vir die Goue Middeweg-uitdaging op die spel. Dié prys is uiteindelik gedeel deur twee spanne wat ewe veel pannekoeke gebak het: Andrew en Leoné, en Hanna en Dirk. 

Die Goue Middeweg-uitdaging was een pot-, een pan- of een skottel-vakansiegereg en ryspoeding. Elkeen van die spanne moes ’n sak uit die Sixty60-motorfietsjoggie se houer gaan haal het – en dit sou bepaal of die vakansiegereg hoender of maalvleis sou wees. Die sak het ook ’n resep bevat wat as basis gebruik moes word: Pastoriehoender vir die hoender en frikadelle in tamatiesous vir die maalvleis. 

Yvette en Fran, Andrew en Leoné en Caroline en Anél het maalvleis gekry en Frans en Una-Belle, Hanna en Dirk en Shireen en RJ het hoender gekry. Die spanne het 60 minute tyd gekry om die twee geregte, wat genoeg vir vier mense moes wees, te maak. 

Hier is wat die spanne gemaak het: 

Yvette en Fran het hulle sogenaamde boere-biryani gemaak. Daar is geblikte lensies, chakalaka, klein aartappels en versapte tamaties bygevoeg. Vir hulle ryspoeding, het Fran donker sjokolade gebruik om die rys te geur. Yolani het gevoel hulle het dalk te veel kortpaaie geneem deur blikkieskos te gebruik en die aartappels het sout gekort, maar Herman het gesê dit is nie ’n slegte gereg nie. Die rys in die ryspoeding was nog te rou en die geur te ver weg van ’n ryspoeding.
Andrew en Leoné het kerriefrikadelle met ’n kerrieblatjangsous gemaak, maar die frikadelle was ongelukkig te droog. Die broodkrummels bo-op en die suur smaak van die smous was egter plus punte. Die ryspoeding met framboossous was ’n wenner en Herman het gesê dit is hoe ’n ryspoeding moet smaak.
Hanna en Dirk se hoender- en rys eenskottelgereg is met groente-rosies versier wat met onder meer beet en wortels gemaak is, en Herman het dit Aberdeen paella genoem. Hulle het eers hulle rys vir die ryspoeding in botter gebraai  en dit met rooibostee gegeur. Daar was ’n lagie rooibosjellie op die poeding wat Herman beïndruk het. 
Caroline en Anél het maalvleis en rys lasagne gemaak. Herman het gesê dis ’n lekker pot kos, maar Yolani het meer tamatiegeur in die maalvleis gesoek. Die ryspoeding met makadamianeute, klapper en pynappel, was nie juis opwindend nie en omdat die poeding koud is, het die bruinsuiker bo-op nie gesmelt nie. 
Frans en Una-Belle het Ouma Gerrie se rooi hoender onder filodeeg gebak, maar die hoender was nie gaar toe Herman en Yolani dit geproe het nie. Die ryspoeding, wat ’n meringue bo-laag gehad het, is met gekaramaliseerde koejawels en ment- en basieliekruid-suiker versier. Die rys was egter rou en van die elemente, soos die meringue, is nie korrek uitgevoer nie. 
Shireen en RJ se Pastoriehoender is met rooi pepers en paprika opgekikker, maar die hoender was droog en die rys het nie genoeg smaak gehad nie. Herman het van die brosgebraaide uie bo-op die dis gehou. Die ryspoeding is met kaneel en roosmaryn gegeur en versier met aarbeikonfyt, pistasieneute en suurlemoen. “Ons is tevrede,” het Herman gesê, “maar is tevrede genoeg?” 

Die top-2 spanne was Andrew en Leoné en Hanna en Dirk, met die ma-en-seun-span wat uiteindelik met die louere weggestap het. 

Die onderste twee spanne was Frans en Una-Belle en Yvette en Fran, met Frans en Una-Belle wat ongelukkig hul voorskote moes ophang. Lees ook ons onderhoud met Frans en Una-Belle waarin hulle van dié leerskool vertel. 

Vyf wenke uit die Kokkedoor-kombuis in dié episode

  1. Maak seker jou pan is warm wanneer jy pannekoek bak. As die pan nie warm genoeg is nie, gaan die pannekoek flop. – Herman Lensing, medebeoordelaar en aanbieder 
  2. Ryspoeding word gewoonlik met ’n kort ryskorrel wat baie stysel bevat gemaak, maar Spekko se voorafgekookte (parboiled) rys, is ideaal wanneer jy dit vinniger wil maak. – Herman 
  3. Om ryspoeding romerig te maak, gebruik bestanddele soos botter, room en miskien sjokolade gebruik, maar die balans is baie belangrik. – Herman 
  4. Wanneer jy ’n eenskottelgereg maak, moet jy onthou die rys, vleis en groente het verskillende kooktemperature. – Yolani Abrahams, medebeoordelaar en aanbieder 
  5. Wanneer jy hoender en rys onder ’n deeg wil sit soos Frans en Una-Belle het, moet jy eers jou hoender en rys gaar maak voor jy die deeg opsit. – Herman 

Kokkedoor: Son & see saai Donderdae om 20:00 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144) uit. Episodes is ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar. Kyk ook Kokkedoor Vuur & vlam op Showmax. 

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Wat om te kyk in 2026: Die 10 TV-reekse waarna ons die meeste uitsien

Van dáái yshokkiespelers tot ‘Bridgerton’ se Aspoestertjie-verhaal, die terugkeer van die geliefde vampierslagter Buffy en nog ’n 'Game of Thrones' spin-off – hier is ’n keur van die TV-reekse wat vanjaar op kykers wag.

Meer

Wat om te kyk: Sit dié reekse op jou moet-kyk-lysie vir Januarie 2026

Die volgende romantiese rondomtaliedans in 'Bridgerton', die terugkeer van die trefferreeks 'Een keer om die son', en die Afrikaanse weergawe van 'The Office' tel onder my top-keuses vir vandeesmaand.

Meer

Dís waar jy die 2026 Golden Globe-benoemdes plaaslik kan kyk

Van die heerlike derde seisoen van ‘The White Lotus’ en Seth Rogen se briljante ‘The Studio’ tot die ingrypende dramareeks ‘Adolescence’ en die fabelagtige fanfare in ‘Wicked: For Good’ – hier is al die reekse en films wat benoemings vir 2026 se Golden Globes ontvang het, én waar jy dit plaaslik kan kyk.

Meer
10

Wat om te kyk: 10 Kersfeesflieks vir die feestyd

Van een van die mees romantiese flieks van alle tye tot een baie, baie spesiale Kersbriefie – hier is ons keuse van Kersfeesflieks om oor dié feestyd te kyk. 

Meer
Sien alle opsies