Dis moeilik om te praat oor verlies en seerkry. Soveel te meer as jy die ouer is van ʼn kind wat wreed vermoor is. Om teenoor bekendes oop te maak is een ding, maar dis iets heel anders om jou hart teenoor wildvreemdelinge te ontbloot. Soveel te meer as ʼn rolprentspan se kameras rol. Met Showmax se Stella Murders, die nuutste ware misdaad-dokumentêr op die regisseur David Enright se kapstok, het hy en sy span dit egter reggekry om familielede en ander betrokkenes te laat oopmaak oor die impak van die moorde op Sharnelle ‘Lallie’ Hough (17) en Marna Engelbrecht (16).
Die twee tienermeisies was boesemvriendinne en is saam vermoor in die skoolkoshuis op Stella, ʼn klein dorpie in die Noordwes. Sharnelle se eks-kêrel, Xander Bylsma, dien tans ʼn dubbele moordvonnis uit – hy is twee keer lewenslange tronkstraf opgelê.
Praat daaroor
Enright, ook die regisseur van die bekroonde misdaad-dokumentêr Devilsdorp, glo dit was belangrik om die verhaal van Stella Murders te vertel (lees ook ons resensie hier).
“As ’n nasie ervaar ʼn mens ʼn tipe trauma as jy van hierdie tipe voorvalle hoor. Die moorde op Stella was opspraakwekkend. Aan die een kant omdat daar ʼn persepsie van veiligheid op klein dorpies is, en in die tweede plek omdat twee tienermeisies vermoor is in ʼn skoolkoshuis, waar daar ʼn ekstra gevoel van veiligheid was. Dit laat mense in onsekerheid leef. Ons wil meer insig hê oor waarom so iets kon gebeur,” sê hy. “Die gemeenskap en die meisies se families, maar Suid-Afrikaners in die algemeen, wil geregtigheid sien. Al het die regsproses sy loop geneem, is daar nog vrae wat bly spook,” sê David met verwysing na Xander se aanvanklike bekentenis en later ontkenning dat hy betrokke was.
Om ʼn verhaal soos dié te vertel is dit belangrik om vas te stel of dit waarde sal dra – nie net vir die stromingsdiens, gehoor en betrokkenes nie, maar ook op ʼn meer universele vlak.
“Vir ons as land is dit nodig om belangrike gesprekke rondom kulture en samelewingsnorme wat kan lei tot geslagsgeweld te hê. Ons moet praat oor hoe trauma wat oorgedra word deur generasies heen, stopgesit kan word,” meen hy. “Gesprekke lei tot aksie en ek hoop Stella Murders kan daardie gesprek aanwakker, omdat dit ʼn poging is om die impak van tragiese gebeure te verstaan. Daar is lang- en korttermynoplossings vir geslagsgeweld, maar mense mόét daaroor begin praat.”
Een van die redes waarom Marna se ouers ingestem het om by die dokumentêr betrokke te wees, is die hoop dat dit iets goed uit hul kind se dood sou kon laat kom en dat dit moontlik ander sou kon help om rooi vlae betyds raak te sien, sê David.
ʼn Etiese filosofie
Dat Stella Murders hulde moes bring aan Sharnelle en Marna, was die heeltyd in David se agterkop. Die doel was nie om ʼn goedkoop tabloid-skindersessie op te dis nie. “Ek wend ʼn doelbewuste poging aan om nié stories op ʼn sensasionele manier te vertel nie. IdeaCandy, die produksiemaatskappy, bied baie ondersteuning om so ʼn projek eties aan te pak en Showmax het ons toegelaat om die storie met sensitiwiteit te vertel.”
Die belangrikste rolspelers, was egter die meisies se vriende en familie, asook die ander rolspelers, soos die ondersoekbeampte en privaatspeurder. Oop, eerlike gesprekke met almal wat by die projek betrokke sou wees, was van die begin af belangrik, vertel David. “Die gebeure het redelik onlangs plaasgevind en die emosies is nog rou – daar is steeds ʼn element van trauma betrokke. Dit is dus nie ʼn proses wat ek ligtelik opneem nie. Die mense wat met jou praat, moet in lyn wees met die storie wat jy wil vertel.
“Dit is my passie om stories te vertel met openlikheid en eerlikheid – daar is ʼn pragtige, kragtige waarheid as jy mense se stories mag oordra, veral as hulle dapper genoeg is om dit met jou te deel. Maar dit kom met ʼn groot verantwoordelikheid. As jy mense na ʼn kwesbare plek toe neem, moet jy dit met sensitiwiteit doen.”
Hy stel al van skooltyd af in sielkunde belang en het dit as loopbaan oorweeg voor sy “stokperdjie” in die rolprentbedryf gewen het. Tog, meen hy, help sy insig, deernis en fassinasie met die mensdom baie met sy werk as dokumentêre-fliekmaker. “Ek voel altyd jy moet so na as moontlik aan verskillende rolspelers se persepsie van die waarheid kom. En as dit by die slagoffers kom, wil ek praat met mense wat die rég het om uitlatings oor hulle te maak,” sê hy.
Verhoudings bou
Dit was uit die staanspoor duidelik dat die rolprentspan baie tyd op Stella sou moes deurbring – spesifiek om ʼn vertrouensverhouding met al die rolspelers te vorm. Dit was ʼn lang proses, maar ook bevredigend, omdat David meen hulle kon as rolprentmakers beleef hoe hulle ʼn rol speel om mense selfs net ʼn treetjie nader aan genesing te kon bring.
Om toegang tot die meisies se geliefdes te kry, was die eerste hekkie wat David-hulle moes oorkom. Hiermee het die joernaliste Susan Cilliers en Mariska Coetzer, wat die Stella-saak onderskeidelik vir Netwerk24 en Huisgenoot gedek het en baie interaksie met die families gehad het, baie gehelp. “Ons het gehoor daar sou in besonder een familielid wees wat nie met ons sou wou praat nie. Nadat ek en die assistent-vervaardiger Minette van der Walt ʼn dag saam met haar deurgebring het, was sy egter die een wat ons gehelp het om by die ander familielede uit te kom.”
Hulle het baie tyd saam met Marna en Sharnelle se ouers en Marna se suster, Riané, deurgebring. “Ek dink mense was bereid om teenoor ons oop te maak, omdat hulle van die begin af geweet het waarom ons met hierdie projek besig was. Mense kan eerlikheid van ver af sien. Ek glo ook dat om ʼn wond te laat genees, moet jy dit eers ʼn bietjie oopkrap.
“As fliekspan kon ons vir hierdie mense ʼn uitlaatklep gee; iemand wat luister. Daar is iets kragtigs aan gedeelde ervarings en elke keer as ons teruggaan het vir verdere onderhoude, was dit asof daar effense verbetering was. Soveel so dat jy soms na ʼn dag van verfilming ʼn WhatsApp-boodskap kry dat die ervaring soos berading gevoel het…”
Hy hoop die ervaring om deel te wees van die dokumentêr was vir Sharnelle en Marna se geliefdes betekenisvol. “Maar is daar ooit regtig berusting na so ʼn tragedie? Dit is die vraag…”
‘Geen kommentaar’
Onderhoude met die privaatspeurder Chris Saunders is ʼn belangrike onderdeel van die dokumentêr, maar David erken Chris was ook aanvanklik huiwerig om met hulle saam te werk. Later het hy egter ingestem en baie interessante insigte gebied. “Hy het ons toegang gegee tot al die bandopnames wat hy gemaak het toe hy Xander op sy pa se plaas gaan haal het en dit was ʼn baie groot voorreg.”
Op Stella was almal egter nie ewe gretig om met die fliekspan te doen te hê nie, soos een spesifieke toneel in die dokumentêr duidelik maak: “Ons was in situasies waar gewere dalk nie op ons gerig is nie, maar wel gebruik is om ons te intimideer,” sê David, wat begrip het vir die mense se seer.
“Dié tipe intimidasie was ʼn aanduiding van hoe die gemeenskap nog die trauma probeer verwerk. Die pad na berusting, as dit wel haalbaar is, is lank en ʼn mens het empatie met die gemeenskap. Dit het ons verder gedryf om die moontlike waarde van die projek verder uit te lig.”
David merk op dat die enigste sekerheid as ʼn mens ʼn dokumentêr soos dié maak is dat dinge enige oomblik kan verander. So was Xander se ouers byvoorbeeld in ʼn stadium bereid om deel te wees van die projek. “Hulle was baie vrygewig met die tyd wat hulle aan my afgestaan het, maar hulle het ongelukkig op die nippertjie besluit om te onttrek, weens verstaanbare vrese.”
Ook Hoërskool Stella het versuim om betrokke te raak. Dit is jammer, meen David, want sowel die Bylsma-egpaar as die skool was slagoffers van die gebeure en hy sou graag hul kant van die storie ook wou vertel. Dat dié partye egter ook baie swaarkry, is onmiskenbaar.
Waarom het hy dit gedoen?
Oor wat hy in die nadraai van die vervaardigingsproses van Xander Bylsma dink, wil hy nie te veel uitlaat nie, maar hy erken hy moes ʼn ogie oor sy vooroordele hou. “ ʼn Mens kan natuurlik nie iets soos die uitkoms van die hofsaak ignoreer nie, maar daar was steeds vrae wat krities verken moes word.
Dit is my passie om stories te vertel met openlikheid en eerlikheid – daar is ʼn pragtige, kragtige waarheid as jy mense se stories mag oordra, veral as hulle dapper genoeg is om dit met jou te deel. Maar dit kom met ʼn groot verantwoordelikheid. As jy mense na ʼn kwesbare plek toe neem, moet jy dit met sensitiwiteit doen.
David Enright
“Dit is ʼn persoon se aksies en nie sy intensies nie wat sy karakter bepaal. Ek het baie wys geword uit vertroulike gesprekke en het tot sekere insigte oor Bylsma gekom,” sê hy.
Daar is verskeie faktore wat ʼn rol kon speel in die tragiese sameloop van omstandighede. Dit sluit die rol van ouers en die gemeenskap, die kultuur van kleindorpie Suid-Afrika en die impak van trauma wat oor generasies heen oorgedra word in. “Daar is so gekompliseerde spektrum faktore betrokke, dat dit onregverdig sou wees teenoor al die families om ʼn definitiewe oordeel te fel oor die oorsake.”
Volgens David is daar steeds mense wat in Xander se onskuld bly glo. “As ʼn rolprentmaker moet ek ʼn balans probeer handhaaf en insigte probeer lewer op verkillende mense se ervarings. Dan kan die kyker self gevolgtrekkings maak.”
Die insette van die kliniese sielkundige Elmarie Claassens in die dokumentêr dra baie hiertoe by, maar David sê selfs sy kon nie op grond van blote waarnemings uit die media ʼn oordeel fel oor Xander se geestesgesondheid nie.
Moeilikste projek nog
Dit was ʼn emosioneel uitmergelende projek. Sy moeilikste nog, bieg hy. “Om eerlik te wees, ek werk nog daardeur. Jy moet jouself toelaat om jou emosies te voel,” sê hy.
Hoewel die rolprentspan hulle in die herlewing van die moorde en die ure en maande daarna verdiep het, meen David die belewing van ander mense se trauma was ʼn druppel in die emmer in vergelyking met wat die families deur is. “Die dapperheid en moed van die mense met wie ons gesels het, het dinge altyd weer in perspektief geplaas. Húlle trauma was soveel erger as ons sʼn, maar hulle was steeds bereid om hulle kwesbare verhale met ons te deel.”
Sonder die span wat saam met hom gewerk het, sou hy nie dié dokumentêr kon maak nie.
“As gevolg van die tragiese aard van die verhaal, het ons die span klein gehou en tog kon ons ʼn hoë produksiewaarde handhaaf en steeds kuns maak. Almal het aan die begin ʼn oop, eerlike gesprek gehad oor wat ons wou bereik en almal kon deel in die denkproses oor hoe ons dit reg moes aanpak. Hiervoor is ek baie dankbaar teenoor die uitvoerende vervaardiger Wim Steyn en die vervaardiger Elle Ooshuizen van IdeaCandy.”
Hy het baie waardering vir die produksiespan, Minette van der Walt en Leandra Enslin, wat saam met hom die reis Stella toe aangepak het: “Daar was baie lang, donker aande op grondpaaie waar almal saamgehuil het oor wat daardie dag alles gebeur het.”
Hy en die kinematograaf Charl Fraser het mettertyd ʼn gemaklike “short hand” op stel ontwikkel. “Charl het geweet hoe belangrik dit is om sensitiwiteit op stel te handhaaf. Daar kon nie mense wees wat rondhardloop en gesels nie.”
Hy het ook net lof vir die redigeerder, Christiaan Scheepers: “Hy is ongelooflike intuïtief wanneer dit kom by storie-vertel en ons twee het waardevolle gesprekke gehad terwyl ons die storie in die redigeringssuite vertel het.”
Edward George King was verantwoordelik vir die fliek se musiek. “Ek wou nog altyd saam met hom werk en die ervaring was ongelooflik.”
Edward het ook die musikale verwerking gedoen van die liedjie “Haal net asem” wat David ter ere van die meisies geskryf het. “Ek hoop die liedjie is ʼn geskenk vir die families en dat dit vir die kykers ʼn bietjie van ʼn katarsis sal bring,” sê hy.
Lig in die donker
Noudat Stella Murders op die lug is, neem hy vir eers ʼn blaaskans, sê David, wat buiten vir Devilsdorp betrokke was by reekse soos Survivor SA, Hoor my, sien my, soen my en Trap! Dis my huis.
“Daar is ʼn paar gesprekke oor nuwe projekte in die pyplyn, maar ek wil altyd eers seker maak die stories sal eties vertel word,” sê hy.
En hoe bly hy hoopvol te midde van soveel donker verhale van moord en verlies?
“Buiten vir my vrou en wonderlike ondersteuningsnetwerk, probeer ek klein goedjies raaksien en aanhou hoop. Ná Devilsdorp het ʼn vriendin toevallig opgemerk daar ís nog mooi in die wêreld. En sy was reg. Vir mý is die klein gelukkies die dryfveer wat my deur moeilike tye kry. Dit is ʼn denkwyse wat jy kan kweek.
“Ek is ook nog altyd ʼn baie nuuskierige mens en ek glo darem dit help in die proses om geluk en betekenis te vind.”