Menu terloops
In Gons [30 Nov 2023]

Kyk nou: Lokprent vir ‘Die Byl’ se vyfde seisoen terg en tart


Nuwe sleutelkarakters en senutergende raaisels wag op kykers in die vyfde seisoen van ‘Die Byl’.

Kyk nou: Lokprent vir ‘Die Byl’ se vyfde seisoen terg en tart
Kyk lokprent

Vier karakters wat ons deur die jare leer ken het; ’n karakter wat terug is in ’n poging om vrede met haar verlede te maak; twee nuwe spanlede wat hulle by die eenheid aansluit. En dan ook reeksmoordenaars wat Byl en sy span tot die uiterste toets met een wat hulle telkens ontglip en al meer met makabere dade tart… Dít is wat op kykers wag in die vyfde seisoen van die immergewilde reeks Die Byl, wat vanaf Dinsdag, 16 Januarie 2024, om 20:00 weer op kykNET (DStv-kanaal 144) te sien sal wees.

Byl (Waldemar Schultz) geniet uiteindelik outonomie oor die eenheid, maar die nuwe lede in die span – en veral die sielkundige wat aangestel is om die span se psigiese welstand te monitor – maak dit nie aldag maklik nie.

Nuwe karakters

Amalia Uys, Die Byl
Amalia Uys is een van die nuwe karakters in Die Byl. Foto: Verskaf

Byl se steunpilare – Juan (Marvin-Lee Beukes), Nicki (Milan Murray) en Lena (Lika Berning) – is steeds daar, maar die sluipskutter Jo Verwey (Amalia Uys) konsulteer nou as wapendeskundige en help Byl en sy span waar sy kan.

Kaptein William Miller is die nuwe profiler wat in Lena se plek aangestel word. Stil en aantreklik, maar ongeërg oor sy voorkoms. Hy is uiters bekwaam en kan die sjarme aandraai wanneer dit nodig is, maar hy dra swaar aan ’n deel van sy verlede.

William kom uit ’n ryk familie en sy pa, ’n psigiater, het gehoop hy gaan in sy voetspore volg. Hy het egter forensiese profiling gekies en verder in Ierland studeer. Daar het hy met ’n Ierse vrou getrou, maar ná sy haar stryd teen depressie verloor het, het William na Suid-Afrika teruggekeer. Hy nader Byl wat dadelik sy potensiaal sien en hom in Lena se plek aanstel.

Tyrone Keogh, wat die rol van William speel, het op ’n jong ouderdom reeds in die vermaakbedryf begin werk en was in verskeie advertensies te sien voordat hy ’n regisseur van musiekvideo’s en advertensies geword het. Sy pa is die akteur Danny Keogh en sy ma, Debbie, is ’n filmvervaardiger. Hy is bekend vir rolle in The Wild, Dominion, Black Sails en The Girl from St. Agnes.

Dr. Anton Fourie (Marcel van Heerden) is die nuwe patoloog wat by die span aansluit. Anton is ’n gesogte spesialis in sy veld. Hy en Dr. Fritz het mekaar goed geken, maar was jare lank in kompetisie om te wys wie die beste is. Anton, wat voorheen getroud was en pa van twee is, is ’n gesoute skaakspeler en waardige opponent vir Byl.

Die Byl
Marcel van Heerden as die nuwe patoloog, dr. Anton Fourie, in Die Byl se vyfde seisoen. Foto: Verskaf

Ander spelers wat gereeld hul verskyning maak, is Ira Blanckenberg as die sielkundige dr. Mia Labuschagne, Jacques Bessenger as die joernalis Alex Kruger, en Anrich Herbst as kaptein Buks Botha.

Sterk span agter die skerms

Aan die produksiekant word hierdie seisoen van Die Byl deur ’n sterk span gedryf met ’n groep talentvolle vroue wat die leisels gehou het. Die reeks is deur Elmarie Botha, Berdene Burger, Lorraine Burger, Igna Botha en Tina Kruger geskryf met Elmarie as storiebeplanner en vervaardiger. Berdene is die oorhoofse reeksregisseur, maar Nina Swart en Liezl Spies was ook vir van die episodes in die regisseurstoel.

“Herman Binge en Leon Kruger het ’n enorme aandeel in die sukses van Die Byl gehad,” sê Elmarie.

“Hul afsterwe, beide in 2021, het ’n reuse-leemte gelaat. Dit het die kreatiewe en tegniese spanne motiveer om absoluut alles wat hulle het in die nuwe seisoen te sit. Mens wil glo dat hulle trots sou wees op wat ons verrig het.”


Die Byl begin op Dinsdag 16 Januarie 2024 om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Chanél Muller oor ‘Sy, die meeue en die Heilige Gees’

"Enige persoon se geloofsreis is ’n baie persoonlike reis, en dit gebeur alles baie innerlik", sê Chanel Muller, die skrywer, regisseur en vervaardiger van die kykNET-reeks 'Sy, die meeue en die Heilige Gees'.

Meer

Lag, liefde en soveel meer: Ons kykNET-kyklys vir Oktober

Oktober op kykNET bring plaasromanse, slim speletjies en stories vir boekliefhebbers. 'Boer soek ’n vrou' se liefdeskeuses sorg vir afwagting, 'Haas se gat' speel met woorde en feite, terwyl 'Boekmerk' by skrywers en leeskringe kuier vir gesprekke oor Afrikaanse boeke.

Meer

’n Skokwending en gevaarlike versoekings vier hoogty in ‘Suidooster’ dié Oktober

Ou vetes vlam op, nuwe liefde vertroebel oordeel en ’n skokwending ruk een gesin se wêreld in Ruiterbosch. Dié Oktober loop spanning hoog in Suidooster. Hier is vyf storielyne wat jy nie wil misloop nie.

Meer

Neels van Jaarsveld, jong talent en lekker kos op VIA in Oktober

VIA sorg in Oktober vir lekker kykstof met Neels van Jaarsveld se troeteldierstories, kombuiskuiers saam met Aneeka Papier en kookinspirasie van Herman Lensing. Jong kunstenaars wys hul staal in Gekies vir die kollig!, terwyl Die beste in die Noorde wegbreekidees bied. Huisgenoot: Ware lewensdramas keer ook terug vir sy twintigste seisoen.

Meer
Sien alle opsies