Wat om hierdie week op TV te kyk en aanlyn te stroom – hier is ons top-keuses vir die week 8 tot 14 Mei 2023.
Neem asseblief kennis dat datums en titels moontlik kan verander.
Still: Michael J. Fox
Vanaf 12 Mei 2023 op Apple TV+.
Michael J. Fox, bekend vir sy rolle in onder meer die Back to the Future-flieks, Family Ties, en Spin City, vertel hier sy buitengewone verhaal in sy eie woorde.Dié dokumentêre prent maak gebruik van fantastiese argiefmateriaal, en vermeng dokkiestyl met scripted elemente. Dié vertelling – wat strek vanaf sy grootwordjare in Kanada, sy roem in die 1980s, sy Parkinsons-diagnose op die ouderdom van 29 en sy lewe nou – is vol nostalgiese hoogtepunte. Dis ’n intieme blik, en daar heers ’n kwesbare eerlikheid in die prent se toon danksy die oopheid waarmee Fox en sy gesin die film se skepping hanteer. Só leer ons dan meer oor sy persoonlike en professionele oorwinnings en mislukkings. Still is snaaks en optimisties (nes hy self), maar ook respekvol in hoe dit die somber realiteit dat Fox se siekte ongeneeslik is, uitbeeld.
City on Fire S1
Vanaf 12 Mei 2023 op Apple TV+.
In City on Fire word ’n student in New York in Central Park geskiet. As Samantha se lyk gevind word, is daar geen getuies en min fisieke bewysstukke wat beteken die saak gaan moeilik wees om op te los. Dan word kinkels wat die ondersoek verder belemmer, ontbloot: Dit blyk Samantha is die gemene deler wat ’n reeks brande in die stad, die downtown-musiektoneel, en ’n welgestelde uptown-gesin wat wemel van die geheime, met mekaar verbind. Met Jemima Kirke, Nico Tortorella en Chase Sui Wonders in die rolverdeling.
Projek Dina S3
Vanaf 9 Mei 2023 om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144 en DStv Online). Dié seisoen het Engelse onderskrifte en sal ook op DStv CatchUp beskikbaar wees. Die eerste twee seisoene is op Showmax beskikbaar om te stroom.
Die sanger en akteur Laudo Liebenberg maak sy buiging in dié Afrikaanse dramareeks se derde seisoen as ene Zander, die nuwe hoof van die Projek Dina-taakspan om vermiste persone op te spoor. Zander is ou vriende met Deon (Tim Theron) en neem sy plek in as taakspanleier as Deon oorsee met ’n saak moet bystaan. Zander is – nes Ronel (Chanelle de Jager) – haas obsessief oor sy werk. Maar waar sy emosioneel betrokke raak en empaties optree, is haar nuwe baas berekend, selfs kil, in sy gedrag.
Die eerste seisoen het oorhoofs om Ronel se soektog na haar tweelingsuster, Dina, gedraai. Die tweede seisoen het twee jaar later hervat en Ronel het uiteindelik vir Dina opgespoor.
Lux (Chumani Pan) en Charlie (Kay Smith) is ook weer op hul pos – en ook in ’n verhouding…
Cold Blood: The Murder Cases of Mike Bolhuis
Weeklikse episodes vanaf Donderdag, 11 Mei 2023, om 22:00 op M-Net (DStv-kanaal 101 en DStv Online). Ook op DStv Catch Up beskikbaar.
M-Net se nuwe driedelige dokumentêre reeks gee ’n aangrypende, agter-die-skerms-blik op Suid-Afrika se beroemdste privaatspeurder, Mike Bolhuis, se ondersoek na die wrede moord op ’n ma van drie. Die aanbieder en TV-skepper Rian van Heerden se vervaardigingsmaatskappy, Provoco (Sex in Afrikaans), lei hierdie vertelling.
Dele van Botes se liggaam is in 2021 in die Vaalrivier gevind, enkele dae nadat sy as vermis aangemeld is. Maar twee jaar ná Yolandi se dood is haar moordenaars steeds nie gevind nie. Die drie episodes van Cold Blood: The Violent Crime Cases of Mike Bolhuis volg Bolhuis se meedoënlose soeke na antwoorde in dié onopgeloste, hartverskeurende saak.
Ook nuut vandeesweek:
- Witness Number 3 S1
Weeklikse episodes vanaf Dinsdag, 9 Mei 2023, om 22:00 op M-Net (DStv-kanaal 101 en DStv Online) - Imibuzo S1
Weeklikse episodes vanaf Maandag, 8 Mei 2023, om 22:00 op Showmax. - Parallel Mothers
Dié bekroonde fliek is vanaf Donderdag, 11 Mei 2023, op Showmax beskikbaar. - Dinge van ’n Kind
Vanaf Donderdag, 11 Mei 2023, op Showmax beskikbaar. - Sanditon S3
Vanaf Donderdag, 11 Mei 2023, op BritBox. - Queer Eye S7
Vanaf Vrydag, 12 Mei 2023, op Netflix. - Power Book IV: Force S1
Vanaf Vrydag, 12 Mei 2023, op Showmax.
Nog aanbevelings
Kry Netflix met DStv
DStv-intekenare kan met die nuwe Explora Ultra toegang tot Netflix kry. Kry dit nou →