Menu terloops
In Recaps & Resensies [16 Aug 2022]

‘This Is Going To Hurt’ – die geloofwaardige mediese dramareeks wat ons nodig het


‘This is Going to Hurt’ is by tye soos ’n emmer koue water oor jou kop – tog, so hard en grusaam as wat dit kan wees, is dit ook eerlik, rou, en (genadiglik) snaaks.

Deur Watkykjy

Kyk nou

‘This Is Going To Hurt’ – die geloofwaardige mediese dramareeks wat ons nodig het

In Amerika het die genre van die mediese drama sy ontstaan in die 1950s met die aanvang van City Hospital gehad. Dié reeks se kortstondige bestaan van 1951 tot 1953 is gevolg deur ’n handvol titels wat stapelvoedsel tydens spitstydkyk geword het. Maar Mzansi het eers in 1976 begin TV uitsaai ná aggresiewe politieke teenstand (kyk gerus Oppi Kassie). M*A*S*H was dus die eerste mediese drama waarmee Suid-Afrikaners sou kennis maak. Dié alombekende reeks sou dan ook die trend van mediese dramas met makabere humor vestig. Reekse soos St. Elsewhere, Doogie Howser, M.D., House M.D, Grey’s Anatomy, Scrubs, Code Black en Chicago Med bou tot vandag toe nog op hierdie wenresep voort.      

Tog voel van dié reekse se formules al flouer soos die jare aangaan… Veral as die voortbestaan van die reeks afgedwonge begin voel (kriek-kriek Grey’s…).

So wat dan van ’n mediese reeks met ’n bietjie meer geloofwaardigheid? Ietsie nader aan die werklikheid? Enter: This is Going to Hurt.

Die bekroonde akteur Ben Whishaw (wat onder andere die rol van Q in die laaste drie Bondflieks speel en ook die stem van Paddington is) vertolk die rol van ’n regte-lewe-dokter, Adam Kay in This is Going To Hurt. Die reeks is gegrond op Kay se gelyknamige topverkoper-memoir wat uit sy dagboekinskrywings saamgestel is en vertel oor die nimmereindige dae, slapelose nagte en verlore naweke in die geharwar van sy werk as ’n ginekoloog. 

Kontrasterende realiteite

Kay glo dat die enigste eerlike manier om die lewe in ’n hospitaal uit te beeld deur die komedie-drama genre is. Dis immers ál die groot mediese dramas se wenresep. Volgens hom sou ’n sitkom nooit regtig die dringendheid en werklikheid van ’n tragedie kan aanspreek nie. Enersyds sou jy nie van ’n drama verwag om al die vreemde en lagwekkende voorvalle wat dokters op ’n daaglikse basis moet hanteer, oortuigend te kan weergee nie. Die beste van beide wêrelde verleen dus tot balans:

“You can have a hilarious moment in an antenatal clinic that you know you’ll be recounting in pubs for years, and two minutes later you’re telling a patient that you can’t find their baby’s heartbeat. It’s a job of contrasts and constant gear-shifts.”

Dis juis hierdie kontrasterende realiteite wat Kay uitgebeeld het. Hy het ook selfs die dagboeke vir die draaiboek aangepas en dien ook as vervaardiger. Volgens hom is sy dagboeke juis gepubliseer omdat hy wou hê dat mense ’n beter begrip moet hê vir die ware aard van ’n dokter se werk. Die tipe goed wat die man op straat nie noodwendig van bewus is nie. Soos die konstante teenwoordigheid van (verskeie) liggaamlike vloeistowwe (eeew!). En die uitdagings om vriendskappe en verhoudings te onderhou en te koester as jy jouself sielsdood werk teen net onder 100 ure per week. As jy dit dalkies oorweeg om medies te gaan swot, sal hierdie reeks soos ’n emmer koue water oor die kop wees… Tog sou die eerlike aard daarvan ook as aansporing kan dien. 

Wrede waarheid

This is Going To Hurt is glad nie soos die ander mediese dramas wat op ’n rits vervaardig word nie. Daar is niks glansryk aan die reeks nie. Net soos daar in die regte lewe ook nie dikwels iets glansryk aan ’n dokter se werk agter die skerms is nie.

Die reeks is wreed, dit is walglik, dit is hard, dis grusaam. Dit draai meer oor die werk – oor dokter-wees – as enigiets anders, maar dit is genadiglik ook snaaks.

Met mediese dramas word daar dikwels baie fokus geplaas op die karakters wat toevallig in ’n hospitaal werk en drama vir hulself en die mense rondom hulle skep. In die regte lewe huil dokters en verpleegsters stilletjies in kleedkamers en besemkaste en niemand praat daaroor nie. Hierdie reeks plaas ’n kollig op die feilbaarhied van die mens. Dokters kan ook siek word en dokters se koppe kan net soos ons s’n, ook soms uithaak. Die beroep kan net so ondankaar wees as wat dit bevredigend en stimulered is en dit is juis hier waarin die geloofwaardigheid van This is Going To Hurt lê. 

Die akteurs het basiese mediese opleiding van regte professionele mediese personeel ontvang, terwyl regte hospitaalwerkers ook as ekstras gespeel het. Aan die mediese kant van dinge was daar nie shortcuts nie. Die akteurs het werklik geleer hoe om byvoorbeeld ’n keisersnee te doen en hoe om met daardie vreesaanjaende tange te werk. 

Jou voorsrkif: neem een episode saans saam met etes, vir sewe dae lank. Dit is beskikbaar op Showmax en kos minder as twee pakkies anti-inflammatoriese pille.

Kyk ook hierdie mediese drama’s op Showmax:

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Wat om te kyk: Moenie dié stories in September misloop nie

Van die nuwe seisoen van een van die beste TV-reekse dié dekade, 'Slow Horses', tot ’n nuwe Afrikaanse drama met Simone Nortmann, en 'Tweespalt', ’n rugbyreeks wat die wedywering tussen die Springbokke en die All Blacks onder die loep bring.

Meer
6

‘Suidooster’ in September: Skokke, geheime en verraad vier hooggety

Liefde, lojaliteit en die vraag of bloed werklik dikker as water is, word vandeesmaand in 'Suidooster' telkens op die proef gestel. Hier is ses groot storielyne wat jy in September moet dophou.

Meer

Jou ‘Skemergrond’-gids vir September 2026

Lily en Ruan is gebroke en Christine se verlede haal haar in. Dít en nog meer wag op ‘Skemergrond’-kykers vandeesmaand.

Meer

Jou ‘Suidooster’-kykgids vir September 2026

Nazeem is ’n doring in Bridgette se vlees en Frankie en Riaan het ’n moeilike gesprek. Dít en nog meer is waarna ‘Suidooster’-kykers in September kan uitsien.

Meer
Sien alle opsies