Menu terloops
In Recaps & Resensies [4 Aug 2022]

‘The Gilded Age’: As die stinkrykes baklei


‘The Gilded Age’ is ’n periode-dramareeks met ’n skitterende rolverdeling en ’n boeiende spanningslyn, skryf André-Pierre du Plessis.

Deur André-Pierre du Plessis

Kyk nou

‘The Gilded Age’: As die stinkrykes baklei
Kyk lokprent

’n Miljoenêr het my aan The Gilded Age, ’n HBO-reeks wat pas op Showmax begin het, bekendgestel. Hy sou elke naweek net een episode in sy grootse huis in die Hamptons kyk, terwyl hy weeksdae (in sy huis op Manhattan se sogenaamde “Billionaires’ Row”) getob het oor hoe hy eintlik in sy eie tipe “Gilded Age” leef.

Beide sy twee wonings in New York is tydens die Gilded Age gebou, ’n periode tussen 1870 en 1900 wat gekenmerk is deur die onmenslike ekonomies groei en gepaardgaande welstand wat ’n handjievol mense in Amerika geniet het. Name soos Vanderbilt, Carnegie en Rockefeller was die Musk, Bezos en Gates van dié tyd en het aan die hoof gestaan van Amerika se staal-, bank- en oliemiljarde.

New York se rykstes

Hoewel ryk mense in New York nog altyd soort van opgekyk het na hierdie welgestelde klas (wat vir die eerste keer in die geskiedenis Amerikaanse aristokrasie meer weelderig as enige Europese monargie laat lyk het), was daar nog selde ’n televisiereeks wat die skande en geldgierigheid van dié tydperk dramatiseer.

Daar is niemand beter om kykers aan ou geld en los vroue bekend te stel as Christine Baranski (van The Good Fight-faam, nou op Showmax) en Cynthia Nixon (Miranda in Sex and the City, beskikbaar op Showmax) nie. Hulle vertolk die hoofrolle in The Gilded Age en vervul die rol van twee storievertellers. Die eintlike storieverteller, die man wat die reeks geskep en geskryf het, is Julian Fellowes. Einste Fellowes wat elke episode van Downton Abbey self geskryf het. As jy dus ’n aanhanger van die Crawley-huishouding was, is dié reeks beslis jou koppie tee.

The Gilded Age op Showmax
Kristalglase, balrokke en baie, baie geld… The Gilded Age speel af in die gelyknamige tydperk van ongekende weelde en rykdom onder ’n klein groepie Amerikaners. Foto: Verskaf

Katgevegte in balrokke

Baranski en Nixon vertolk die rolle van twee fiktiewe susters (Agnes van Rhijn en Ada Brook) wat neerkyk op die lewens van (regte) ryk families soos die Vanderbilts en Astor-familie wat jy later in die reeks ontmoet. Anders as in Downton, woon hulle nie op die een of ander landgoed ver van alles af nie. Inteendeel, hulle woon reg in die middel van Manhattan. En boonop in ’n tyd toe die stad sy eerste weelderige geboue sien verrys het.

Soortgelyk aan Downton, speel diensknegte ’n belangrike rol. Dis hulle wat die kyker ’n blik op die lewe onder die grondvloer bied. Dis hiér waar die gepeupel werk en probeer om hul eie drome te verwesenlik. Dis egter ’n onbegonne taak in ’n wêreld waar die realiteit is dat hulle nooit werklik finansieël onafhanklik sal kan wees nie.

Die reeks begin met ’n reuse-huis, so groot en wyd soos ’n New Yorkse stadsblok, wat pas oorkant die straat van Agnes en Ada voltooi is. Dit behoort aan die treinspoormagnaat George Russell (vertolk deur Morgan Spector) en sy vrou Bertha (Carrie Coon). Dié paartjie word as “Nuwe Geld” beskou. Hulle probeer hul bes om in New York in te pas. Dis egter moeilik synde die sosiale kringe uitsluitlik vir “Ou Geld” bedoel is (waarvan Agnes en Ada deel is).

Nes die Ruperts en die Joostes

Daar is dus onmiddellik spanning wat geskep word tussen twee subkulture van welstand. Dít is dan ook die hoofbestandeel wat van The Gilded Age lekker televisie maak. Dit maak dus nie saak of jy New York se geskiedenis ken of nie, want ’n sterk rolverdeling – en die subteks van rykes wat onder mekaar baklei – is die kyk werd.

Maar as dit regtig nodig is om die storie verder te verduidelik sodat Suid-Afrikaanse kykers hulself in hierdie leefwêreld kan indink, sien dit só: Dis wat op Stellenbosch sou afspeel as iemand soos Markus Jooste oorkant die Ruperts intrek en probeer om na dieselfde partytjies genooi te word.

Dís hoekom jy móét kyk.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Wat om te kyk: Moenie dié stories in September misloop nie

Van die nuwe seisoen van een van die beste TV-reekse dié dekade, 'Slow Horses', tot ’n nuwe Afrikaanse drama met Simone Nortmann, en 'Tweespalt', ’n rugbyreeks wat die wedywering tussen die Springbokke en die All Blacks onder die loep bring.

Meer
6

‘Suidooster’ in September: Skokke, geheime en verraad vier hooggety

Liefde, lojaliteit en die vraag of bloed werklik dikker as water is, word vandeesmaand in 'Suidooster' telkens op die proef gestel. Hier is ses groot storielyne wat jy in September moet dophou.

Meer

Jou ‘Skemergrond’-gids vir September 2026

Lily en Ruan is gebroke en Christine se verlede haal haar in. Dít en nog meer wag op ‘Skemergrond’-kykers vandeesmaand.

Meer

Jou ‘Suidooster’-kykgids vir September 2026

Nazeem is ’n doring in Bridgette se vlees en Frankie en Riaan het ’n moeilike gesprek. Dít en nog meer is waarna ‘Suidooster’-kykers in September kan uitsien.

Meer
Sien alle opsies