Menu terloops
In Recaps & Resensies [27 Jun 2022]

‘Westworld’ vind – uiteindelik – weer sy robot-voete in vierde seisoen


Ná twee seisoene wat nie by sy indrukwekkende debuut kon kers vashou nie, is ‘Westworld’ se vierde seisoen ’n terugkeer na wat dit destyds so briljant gemaak het.

Deur André-Pierre du Plessis

Kyk nou

‘Westworld’ vind – uiteindelik – weer sy robot-voete in vierde seisoen
Kyk lokprent

Westworld keer terug met mening en hoop dat ’n vierde reeks ou aanhangers sal terugbring.

Veronderstel vlieë versprei ’n nuwe tipe virus wat vryheid aantas. Noudat ons gesien het hoe ’n enkele siekte die hele wêreld in slegs enkele maande kan omverwerp, is Westworld gereed om ons aan ’n nuwe tipe pandemie voor te stel.

Die oorspronklike HBO-reeks (plaaslik op Showmax beskikbaar) was veronderstel om ’n lojale aanhangersbasis vir die Amerikaanse betaalkanaal te skep. Die eerste seisoen was geweldig suksesvol. Daar is groot verwagtinge geskep dat dit die volgende Game of Thrones (ook op Showmax) sou wees. Só kon HBO ’n goeie rede vir kykers gee oor hoekom hulle ekstra vir eksklusiewe inhoud moet betaal.

Maar anders as Thrones (wat vir agt reekse met stories oor seks en drake die hele wêreld ingesuig het), het Westworld al teen sy tweede reeks begin wankel. In reeks drie het die storie heeltemal platgeval.

Hengse hoë verwagtinge

Westworld-aanhangers is die tipe kykers wat geweldig lojaal is. Hulle is soos daai Star Wars-freaks wat vir ure buite die bioskoop sal wag om die jongste fliek te kyk. In Jedi-kostuums. In die middel van winter. Hulle is trots dat hulle die reeks se moerse ingewikkelde storielyn verstaan. Boonop hoop en bid sommige fans dat ons toekoms juis soos dié in Westworld sal ontvou. (Redakteursnota: Dan is daar dié van ons wat die angswekkendheid daarvan in oënskou neem en hoop dat tegnologie tog net stadiger sal vorder om só ’n wêreld vir nog ’n wyle uit te stel.)

Westworld veronderstel dat robotte in die toekoms alles vir ons gaan doen. Klink heel nice, nè? Nes Elon Musk wat besig is om androids te bou wat eendag ons inkopies vir ons gaan doen, word Westworld se wêreld beleef deur dieselfde tipe robotte wat diensknegte tot die mensdom is. Maar dan word hulle – die robotte nou – skielik wakker. Die robotte ontwikkel as’t ware ’n menslike bewustheid. Een vir een begin hulle besef dat mense hulle manipuleer en gebruik vir die afskuwelikste dinge. Kan ons hulle regtig verag dat hulle dan saamspan as ’n robotweermag om wraak te neem en ons mense almal uit te moor?

Westworld S4
Welkom terug, geliewe Teddy! James Marsden herrys uit die robot-hiernamaals in Westworld se vierde seisoen. Sy karakter is reeds in die tweede seisoen van kant gemaak. Foto: HBO

Dis ’n komplekse futuristiese reeks met kleurvolle karakters met geweldige potensiaal om vir minstens ’n dekade voort te leef. Maar iewers tydens die derde seisoen, wat in 2020 bekendgestel is, het aanhangers belangstelling verloor. Westworld het geval in dáái TV-slaggat. Die een waar die skrywers en showrunners probeer om beide té slim te wees. Die geweld het nie meer sin gemaak nie. Die robotte se motiewe was verwarrend. Die dialoog was vervelig. Dit het geboer in die verderflikheid van meervlakkige betekenis in sy storielyne én sy dialoog. In kort: Dit het haas onkykbare kykstof geword.

Ou gunstelinge is terug

In ’n poging om ou aanhangers terug te wen én nuwes te lok, het HBO vir die aanvang van die vierde seisoen ’n hengse bemarkingsveldtog in Amerika geloods met robotte wat op straathoeke gestaan en gratis koffie uitgedeel het. In Westworld se skrywerskamer is daar besluit om nié weer die wiel te reinvent nie. Hulle het geleer wat kom van té slim wil wees. Maar hoe gemaak om dan kykers terug en opnuut te lok na die oorspronklike – en werklik tydige – premis? Jy hoef net na sepies te kyk om te sien wat werk: Laat jou geliefste karakters uit die dood herrys!

Met die dat bykans die hele rolverdeling in die derde reeks uitgemoor is, is toe besluit om die gewildstes terug te bring. Anders as met sepies, is dit makliker om in dié verhaal reg te kry. Dit hoef immers nie noodwendig sin te maak hoe of dat dit gebeur nie, want,  onthou, al die karakters is eintlik robotte, so hulle gaan nie eintlik ooit dood nie.

Deel van hierdie poging van ’n tipe reboot van Westworld se eerste (en gewildste) seisoen, is dat die oorspronklike narratief herhaal word. Nie net sal jy oorspronklike karakters herken nie maar so ook hul dialoog. Dit word waarskynlik gedoen nie net om jou meer tuis te laat voel in ’n toenemend ontoeganklike kykervaring nie, maar ook omdat HBO goed weet die mensdom het ’n behoefte, dalk selfs ’n verslawing, aan nostalgie. Ons wil hê Delores (Evan Rachel Wood) moet weer wakker word – al is hierdie robot nou al ’n miljoen keer opgeblaas en doodgesteek en kan tegnies nie weer reboot word nie.

Dolores in Westworld se tweede seisoen.
Evan Rachel Wood as Dolores in Westworld se tweede seisoen. Foto: HBO

Soms te sentimenteel

Delores was Westworld se oorspronklike heldin. In die vierde reeks wil jy glo dat sy weer hierdie rol sal inneem, maar dié keer is daar veel sterker rolle wat die kollig steel. Maeve (Thandiwe Newton) is veronderstel om nou die hoofkarakter te wees maar selfs haar storie word kort-kort onderbreek deur sentimentele oomblikke wat afbreek doen aan ’n andersins geweldige sterk rolverdeling.

Daar is byvoorbeeld een toneel in die nuwe seisoen waar sy haar menslike kant ontdek (buitengewoon omdat sy ook eintlik ’n robot is). Haar monoloog is iets wat veronderstel is om ’n eenvoudige idee weer te gee maar dit lees soos iets soetsappig: “Ek wil hê jy moet meer doen as net veg. Ek wil hê jy moet veg vir iets.”

Thandiwe Newton in Westworld se tweede seisoen.
Thandiwe Newton as Maeve in Westworld se tweede seisoen. Foto: HBO

Komplekse tydlyne

Sonder om enige spoilers weg te gee, is die enigste raad wat dié rubriek kan bied die volgende: Wees bewus dat nie alles wat jy sien in die nuwe Westworld-reeks op dieselfde tydlyn gebeur nie. Dis ’n meganisme wat ook in die eerste seisoen gebruik is om verwarring te skep.

As jy die res van die storie kan uitwerk sonder om kort-kort ander aanhangers se menings op die internet te gaan lees, dan is jy goed op koers om ’n ware Westworld-aanhanger te wees. In daardie geval geniet jy waarskynlik nog elke episode wat HBO geskep het en sal jy die nuwe reeks geniet ondanks die wankelrige storielyn.

Kyk Westworld op Showmax. Nuwe episodes word weekliks beskikbaar gestel.

Nog HBO-reekse om te kyk:

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

8

Gesinsvermaak: Kyk dié 8 reekse en flieks saam-saam

Van ‘Barbie’ tot ‘Fuller House’ – daar is heelparty TV-reekse en flieks wat jy oor die lange skoolvakansie as gesin saam kan kyk. 

Meer

‘Wyfie’: Jou kykgids vir Desember 2024

Amanda probeer realiteit ontwyk, terwyl Kyla se lewe ontrafel. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer

Redakteurskeuse vir Desember 2024

Wat om te kyk: Die tweede seisoen van Netflix se rekordbreker-reeks, 'Squid Game'; die Afrikaanse reeks 'Spooksoeker'; en die skrywer Gabriel García Márquez se magnum opus, 'One Hundred Years of Solitude', wat in ’n uitsonderlike TV-reeks omskep is, tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer

‘Suidooster’: Kyk uit vir dié sewe kinkels in Desember

Kapenaars weet dat die Kaapse Dokter behoorlik moeilik in Desember kan word, maar vanjaar word ’n orkaan van donker wolke vol drama vir Ruiterbosch oor die vakansieseisoen in ‘Suidooster’ voorspel. 

Meer
Sien alle opsies