Dit is nie net hul voete wat hulle moet vind nie. Trouens, die vier hoofkarakters in The Sex Lives of College Girls ontmoet mekaar op ’n warrelwind-dag van out with the old and in with the new. Maar nie als nuut is goed nie en nie als oud is nie meer waardevol nie. Reeds op hul eerste dag as universiteitsstudente begin die groeipyne van jong volwassenheid dan.
The Sex Lives of College Girls is ’n clickbaity titel. Tog ook verteenwoordigend as ’n mens die realistiese breër konteks van seks ook inreken. Die body issues, die senuweeagtighed (al dan nie), die ontmoeting van nuwe mense en die “what ifs” wat daarmee saamgaan. Verhoudings. Gender. Identiteit. Self-love. Seksuele oriëntasie. Die voor, die na, die gedurende.
Waar daar sekstonele is, is die uitbeelding rou en realisties. Dis definitief nié die hoogs gestileerde sekstonele van iets soos Euphoria nie – dankie tog. Daarmee saam word ’n tirtseltjie awkwardness geskep en maak dit soveel meer relatable.
Die reeks gee vier eerstejaarstudente se ervarings op universiteit met vermaaklike deernis weer. Of dit nou akademiese en finansiële druk is, eerste liefde, seks-positiwiteit, seksuele teistering, die soeke na self… Áls so eg en relevant en tematies ernstig. In iemand anders se hande sou dié reeks clichè kon wees, selfs ’n bietjie cringe. Reeksskeppers Mindy Kaling en Justin Noble se karakters en hul stories is egter allesbehalwe. Geen wonder dit het ’n punt van 97% op die resensiewebwerf Rotten Tomatoes nie. Dis ook reeds vir ’n tweede seisoen hernu.
Van Kelly Kapoor tot The Sex Lives of College Girls
Kaling is ook die skepper van onder meer The Mindy Project en Netflix se gewilde Never Have I Ever, terwyl Noble aan die bekroonde Brooklyn Nine-Nine gewerk het.
Kaling het bekendheid op die Amerikaanse weergawe van The Office as Kelly Kapoor (en ook as een van die skrywers) verwerf. Al was haar rol relatief klein, het sy met bytende one-liners ’n gunsteling onder kykers geword. In The Mindy Project het Kaling dáái snerpende sê-goed met ’n gelyktydige uitdaging én omhelsing van stereotipes en argitipes begin vermeng, terwyl sy ook die hoofrol vertolk het.
The Sex Lives of College Girls volg meer in die karakter-gedrewe spore van Never Have I Ever. Die eerlike, rou, self-depricating humor van The Mindy Project is, genadiglik, egter steeds deel van die storie se bloudruk. Maar dis nie net die pittige (en o, dis uiters pittig) teks wat jou laat skater nie. Dis die inweef van die harde, wrede, belaglike, soms absurd, soms ongelooflike alledaagse realiteit van menswees wat die grappe verhef. Dís standaard-praktyk in ’n Kaling-skepping, en so ook dan met The Sex Lives of College Girls.
Die karakters
The Sex Lives of College Girls volg vier jong vroue wat by die fiktiewe New England University as nuwe kamermaats ontmoet.
Daar is bleeksiel Kimberley (Pauline Chalamet) wat danksy ’n beurs en ’n deeltydse werk op kampus die duur universiteit kan bywoon. Ook maar net-net. (En ja, sy het nie toevallig dieselfde van as dreamboat Timonthy Chalamet nie – dis haar broer.)
Whitney (Alyah Chanelle Scott) is ’n kranige sokkerspeler en kom uiters together en selfversekerd voor… Sy het ook ’n affair met haar afrigter, en die hemele help haar as iemand daarvan uitvind. Haar ma is ’n politikus en skandale waai mos nie vinnig oor vir vroue in Washington nie.
Leighton (Reneé Rapp) is ’n ryk blondie wat bitchy is bloot omdat sy haar eie seer probeer wegsteek.
Bela (Amrit Kaur) voltooi die viertal. Sy is die ene geesdrif en daar is elemente van haar wat dalk effe biografies van Kaling se eie ervaring is. Terwyl Bela se ouers dink sy swot neurobiologie, wil sy eintlik ’n komediant wees en maak werk daarvan om deel van ’n baie eksklusiewe groep op kampus te word. Dis ’n groep wat bewaak word deur ou tradisies en oortuigings, waaronder die oeroue “women aren’t funny”-trope. Verfrissend, nè.
Ensemble-kragtoer
Oor die loop van die eerste seisoen spreek die reeks temas aan wat in iemand anders se hande stroperig of te swaar kon raak. Maar Kaling en Noble se reeks takel al dié met ’n ligte hand. Dis te danke aan slim, on-point skryfwerk, ja, maar ook die ongelooflike chemistry tussen die vier hoofspelers. Elkeen se talent is noemenswaardig. Afsonderlik is hulle briljant, ja, maar saam skep hulle ’n kragtoer. Waar die teks, of die storielyn, hul soms in die steek laat, is daar ’n natuurlike ritme in die vier se speelwerk.
As jy wonder of jy moet kyk, vat hierdie toneel as aanmoediging – Bela se ouers laai haar by die universiteit af en sy maak reg om hulle te groet: “Four months ago I was an Indian loser with cystic acne, sweaty armpits and glasses. But, with a Lasik procedure, Accutane prescription and botox injection, I’m normal”.
Kyk nou op Showmax.