Menu terloops
In Recaps [24 Sep 2026]

‘Boer soek ’n Vrou’ S18: Eerste boere maak hul finale keuses


Twee pasmaats se kuiertyd op die plaas het tot ’n einde gekom toe die eerste groep boere in van ‘Boer soek ’n vrou’ hul finale keuses moes maak. 

Deur Annelene Oberholzer
‘Boer soek ’n Vrou’ S18: Eerste boere maak hul finale keuses

In die 11de episode van die gewilde kykNET-maatsoekreeks Boer soek ’n vrou, het Arno vir Rosanne gekies en van Joanè afskeid geneem, terwyl JD besluit het om Leonè beter te leer ken en Lara huis toe te stuur.

Ná die die ontmoetings met familie en vriende was dit tyd dat die boere hul eie harte volg. Vir die pasmaats het die besef dat iemand binnekort haar tasse sou moes pak, verdere druk op hul oorblywende tyd op die plase geplaas. 

Maar voordat die afskeid aangebreek het, het aanbieder Reandi Grey die pasmaats op uitstappies geneem om die omliggende gemeenskappe beter te leer ken. Die boere het intussen kans gekry om te ervaar hoe die plaas sonder hul gaste voel.

 “Sy was van die begin af die een”

Vir Joanè en Rosanne het die dag by die Cape Parrot Project in die omgewing van Magoebaskloof begin. Met verkykers het hulle die skaars papegaaie besigtig voordat hulle sampioene in die woud gaan oes het. Daar moes hulle ook leer om tussen eetbare en giftige sampioene te onderskei.

Boer soek 'n vrou
Reandi saam met Joanè en Rosanne. Foto’s: Skermgrepe/Verskaf

Die avontuur het egter nie die onsekerheid oor hul toekoms saam met Arno uit die weg geruim nie. Nie een het geweet hoeveel tyd sy nog op die plaas sou hê nie.

Terug by Arno is hulle met ’n breë glimlag ontvang. Hy het erken dat hy albei gemis het, en die gevoel was wederkerig. Hulle het ook ’n handgemaakte sampioenmessie en -borsel vir hom saamgebring.

In hul alleengesprekke het Rosanne gesê sy het vrede in haar hart. Joanè was op haar beurt vol lof vir Tzaneen en die passievolle, vriendelike mense wat hulle gedurende die dag ontmoet het.

Arno het aan Reandi verduidelik dat die vroue se afwesigheid hom insig gegee het in hoe dinge kon wees wanneer net een agterbly. Hy het uitgesien na daardie volgende fase en seker geklink oor sy besluit.

Dit was Joanè wat uiteindelik moes groet. Hoewel haar eie pad saam met Arno daar geëindig het, het sy op pad van die plaas af gesê Rosanne het ’n mooi hart en dat sy hulle die geluk gun.

Boer soek 'n vrou
“Sy was van die begin af die een,” het Arno oor Rosanne gesê.

Arno se verduideliking het min twyfel gelaat: “Sy was van die begin af die een.” Hy wou bloot meer sekerheid kry. Met Rosanne langs hom op die grasperk het hy vertel dat dinge makliker gebeur wanneer sy teenwoordig is. Haar brief het hom reeds aan die begin hoendervleis gegee.

JD se hart en kop stem saam

Vir Lara en Leonè het hul laaste uitstappie saam voor JD se besluit by Larry’s Wolf Sanctuary naby Reitz begin. Hulle het wolwe gevoer en ook op die trekker geklim om gras te sny.

Daarna het hulle by Job van Eden van Blacksmith Metal Art in Bethlehem gaan hand bysit. Die opdrag was om iets vir JD te maak: Lara het ’n kolekrappertjie gemaak en Leonè ’n kolegrafie.

JD was bly om hulle terug te sien en beïndruk met hul handewerk. Namate die oomblik van sy keuse nader gekom het, het die spanning egter toegeneem. Lara was ook gespanne, terwyl Leonè rustiger voorgekom het.

Toe JD vir Leonè vra of sy haarself saam met hom op die plaas kon sien, het sy sonder huiwering bevestigend geantwoord. Hulle was dit eens dat hulle dinge tyd wou gee om te ontwikkel.

Teenoor Reandi het JD erken dat dit moeilik was om iemand huis toe te stuur nadat hulle so geheg geraak het. Tog was hy verlig dat daar duidelikheid kom: sy hart én sy kop het dieselfde antwoord gegee.

Lara moes haar tasse pak. Sy het teenoor Reandi erken dat sy teleurgesteld was, maar gesê sy sou oukei wees. Leonè het agtergebly en speels aangekondig dat haar en JD se vriendskap nou verby is – in pas met sy verklaring dat hy ’n vrou kom soek het.

Boer soek 'n vrou
Leonè het agtergebly op JD se plaas en speels aangekondig dat haar en JD se vriendskap nou verby is.

Onsekerheid op Willie se plaas

Boer soek 'n vrou
Wie gaan Willie kies?

Intussen het Willie se pasmaats, Lezelle en Madelé, Love Lions Alive Sanctuary naby Swinburne besoek. Madelé, wat haarself as ’n “cat lady” beskryf het, was in haar element. Met Lucky se hulp het hulle gehelp om ’n leeu na ’n nuwe hok te skuif.

Daarna het hulle by Oak Leather in Clarens ’n houtstoeltjie met ’n gevlegte leersitplek gemaak.

Willie het hul handewerk bewonder toe hulle terugkeer, maar die spanning oor sy volgende stap het bly hang. 

Arno en JD het hul keuses gemaak, maar kykers gaan tot volgende week moet wag om te sien hoe dinge op Willie, Francois en Jack se plase uitdraai. 


Boer soek ’n vrou word Donderdae om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, uitgesaai.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Wat om te kyk: Moenie dié stories in September misloop nie

Van die nuwe seisoen van een van die beste TV-reekse dié dekade, 'Slow Horses', tot ’n nuwe Afrikaanse drama met Simone Nortmann, en 'Tweespalt', ’n rugbyreeks wat die wedywering tussen die Springbokke en die All Blacks onder die loep bring.

Meer
6

‘Suidooster’ in September: Skokke, geheime en verraad vier hooggety

Liefde, lojaliteit en die vraag of bloed werklik dikker as water is, word vandeesmaand in 'Suidooster' telkens op die proef gestel. Hier is ses groot storielyne wat jy in September moet dophou.

Meer

Jou ‘Skemergrond’-gids vir September 2026

Lily en Ruan is gebroke en Christine se verlede haal haar in. Dít en nog meer wag op ‘Skemergrond’-kykers vandeesmaand.

Meer

Jou ‘Suidooster’-kykgids vir September 2026

Nazeem is ’n doring in Bridgette se vlees en Frankie en Riaan het ’n moeilike gesprek. Dít en nog meer is waarna ‘Suidooster’-kykers in September kan uitsien.

Meer
Sien alle opsies