Menu terloops
In Sepies [15 Des 2025]

‘Suidooster’ se grootste kinkels in 2025


Die afgelope jaar het daar heelwat dramas afgespeel in Ruiterbosch, die denkbeeldige woonbuurt waar kykNET se treffersepie, ‘Suidooster’, hom afspeel. Dié sewe storielyne het die grootste kinkels en draaie vanjaar opgelewer.

Deur Redaksie

Kyk 'Suidooster' op DStv Stream

‘Suidooster’ se grootste kinkels in 2025

Die afgelope jaar het daar heelwat dramas afgespeel in Ruiterbosch, die denkbeeldige woonbuurt waar kykNET se treffersepie, Suidooster, hom afspeel. 

Net so kenmerkend en onvoorspelbaar as die Kaapse Dokter wat soms verwoesting kan saai, het feitlik elke inwoner van Suidooster se Ruiterbosch deurgeloop. Soms was dit hartverskeurend, soms propvol ongelooflike vreugde. Een ding is seker, die afgelope jaar se storielyne het geen kyker onaangeroerd gelaat nie.

1

Damian se dood

Die verdagte omstandighede rondom Damian (Caleb Felix) se dood het tot talle vrae gelei en al die vingers het onbeskroomd in die rigting van Wade (Dean Smith) gewys. 

Die twee het wel baie vasgesit in die openbaar, veral nadat Damian ogies begin maak het vir Zoë (Lauren Joseph). Wade en Zoë het immers al baie sakke sout saam opgeëet en Damian se flikflooiery het Wade behoorlik verkeerd opgevryf.

Wade het boonop self geglo hy dat hy vir Damian se dood verantwoordelik was want Damian het sy kop gestamp nadat Wade hom in die swembad gestamp het. Maar tog was hy by sy bewussyn voordat hy later dood in sy kamer aangetref is. 

Op die ou einde het dit geblyk dat dit nie Wade se skuld was nie, maar dat Damian ook dwelms gebruik het – en dít het tot sy dood gelei.  

2

Frankie arriveer in Ruiterbosch

Sepievoorskou, Suidooster, Justin, Frankie
Kort nadat Frankie (Mienke Ehlers) in Ruiterbosch aangeland het, het sy Justin (Eden Classens) se oog gevang. Foto’s: Skermgrepe

Frankie (Mienke Ehlers) het in Ruiterbosch opgedaag en begin werk by Oos Wes. Kort voor lank het dié borrelende meisie Justin (Eden Classens) se oog gevang en voor jy “mes” kon sê, was die twee in ’n verhouding betrokke.

Maar ook sy kon nie die impak van die swiepende Suidooster vermy nie. Toe haar ouers, Mike (Anrich Herbst) en Amanda (Lindie Strydom) kom kuier, was dit duidelik dat hul huwelik betreklik wankelrig was. Om die kroon te span het Mike ’n affair met Ilse (Ilse-Lee van Niekerk) gehad wat hul huweliksbootjie finaal op die rotse laat beland het.   

3

Kaashifa se nageboortelike psigose 

Suidooster, Kaashifa, Jawaahier Petersen
Kaashifa (Jawaahier Petersen) het ná haar en Rhafiek (Irshaad Ally) se eersteling se geboorte aan nageboortelike psigose gelei.

Kaashifa (Jawaahier Petersen) en Rhafiek (Irshaad Ally) het ook vanjaar hul eersteling Dullah, verwelkom. Kaashifa het egter aan nageboortelike psigose gelei en dinge is tot ’n spits gedryf toe sy probeer het om haar seuntjie met ’n kussing te versmoor. Dit het tot haar egskeiding van Rhafiek gelei. Maar die liefde oorwin alles. Die twee het versoen en is weer getroud.

4

Nazeem betrek Carlo by sy dwelmhandel

Nazeem (Irvine van der Merwe) katrol vir Carlo (Jadon Booysen) in om “gummies” aan skoolkinders te verkoop. “Gummies” is taai lekkers wat onder andere cannabis bevat en dit kan groot risiko vir gebruikers inhou.

Nazeem, Irvine van der Merwe
Irvine van der Merwe as Nazeem in Suidooster.

Tussendeur het Carlo se gedrag raak al hoe meer rebels geraak en dit was veral Lee-Ann (Portia Joel) en Wade wat met hul hande in hul hare gesit daaroor. Nadat Carlo uiteindelik vasgetrek is, is hy na ’n verbeteringskool gestuur.

5

Bridgette moes ’n leweroorplanting kry 

Suidooster
Bridgette (Denise Newman) se gesondheid het so erg verswak en haar lewer was besig om in te gee. Tot almal se verbasing het Nazeem (Irvine van der Merwe) haar lewe gered deur ’n gedeelte van sy eie lewer te skenk.

Bridgette (Denise Newman) se gesondheid het so erg verswak en haar lewer was besig om in te gee. Tot almal se skok en verbasing was dit op die ou einde Nazeem, haar halfbroer en by tye aartsvyand, wat haar lewe gered het deur ’n gedeelte van sy eie lewer te skenk. Maar Nazeem het dit nie bloot net uit altruïsme gedoen nie. Die aartsopportunis wou dit doen in ruil vir JPD-aandele. Bridgette is nie iemand wat maklik bes gee nie en sy en Zoë het saam planne beraam om hom ’n rat voor die oë te draai en die aandele uit sy kloue te hou.

Nazeem se slu plannetjie om met omkoopgeld aan ’n verpleegster sy hoë bloeddruk te verbloem vir die operasie, het hom liederlik gepootjie. Hy was reeds op die operasietafel toe hy ’n beroerte-aanval gekry het en hy moes geruime tyd in ’n rolstoel deurbring. Bridgette het na vore getree om na hom te kyk en so het hulle die strydbyl begrawe. Maar gaan dit begrawe bly? 

6

Bianca trou

Suidooster, Bianca en Siya troue
Uiteindelik het trouklokkies vir Bianca (Simone Biscomb) gelui en sy het met Siya (Gantane Kusch) getrou.

Bianca (Simone Biscombe) hou seker die rekord vir die meeste liefdesteleurstellings ooit in ’n plaaslike sepie. Sedert Suidooster 10 jaar gelede vir die eerste keer uitgesaai is, moes sy deur 10 liefdesteleurstellings wroeg.  Tog het haar soeke na liefde eindelik ’n sprokieseinde gehad en sy het die liefde van haar lewe in Siya (Gantane Kusch) gevind. Die twee is tydens ’n pragtige seremonie in die huwelik bevestig – maar natuurlik sou dit nie sonder voorval afgeloop het nie. Siya se aangenome seun, Brendan (Caleb Arnolds), was allesbehalwe geesdriftig oor die nuwe vrou in hul lewe en het allerhande plannetjies beraam om Bianca se lewe te ontwrig. 

7

Wade begin sy eie besigheid

Wade het ’n kuierplek, Brassery, begin en hy word daarin ondersteun deur Zoë wat haar geld daarin belê het. Maar ook hier het tragedie nie agter in die ry gaan staan nie. Dit het nie lank geduur voordat probleme kop begin uitsteek het nie en daar was verskeie uitdagings wat hy moes trotseer.

’n Bose bendebaas, Selwyn (Tevin Eagleson) het boonop opgeduik om “sekuriteit” vir Brassery te verskaf – en dit was die begin van die einde vir Wade se droom. Uitbuiting, geweld en algehele wanorde het geheers. Hy het besluit om die polisie te betrek. Min kon hy voorsien wat die prys is wat hy moes betaal. Selwyn het die Brassery saboteur en die arme Zoë is ontvoer. Wade het geen ander keuse gehad as om die deure van sy kuierplek te sluit nie. 


Suidooster word weeksdae om 18:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en 18:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) uitgesaai. Suidooster is ook beskikbaar op Catch Up, DStv Stream en Showmax. 

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Wat om te kyk in 2026: Die 10 TV-reekse waarna ons die meeste uitsien

Van dáái yshokkiespelers tot ‘Bridgerton’ se Aspoestertjie-verhaal, die terugkeer van die geliefde vampierslagter Buffy en nog ’n 'Game of Thrones' spin-off – hier is ’n keur van die TV-reekse wat vanjaar op kykers wag.

Meer

Wat om te kyk: Sit dié reekse op jou moet-kyk-lysie vir Januarie 2026

Die volgende romantiese rondomtaliedans in 'Bridgerton', die terugkeer van die trefferreeks 'Een keer om die son', en die Afrikaanse weergawe van 'The Office' tel onder my top-keuses vir vandeesmaand.

Meer

Dís waar jy die 2026 Golden Globe-benoemdes plaaslik kan kyk

Van die heerlike derde seisoen van ‘The White Lotus’ en Seth Rogen se briljante ‘The Studio’ tot die ingrypende dramareeks ‘Adolescence’ en die fabelagtige fanfare in ‘Wicked: For Good’ – hier is al die reekse en films wat benoemings vir 2026 se Golden Globes ontvang het, én waar jy dit plaaslik kan kyk.

Meer
10

Wat om te kyk: 10 Kersfeesflieks vir die feestyd

Van een van die mees romantiese flieks van alle tye tot een baie, baie spesiale Kersbriefie – hier is ons keuse van Kersfeesflieks om oor dié feestyd te kyk. 

Meer
Sien alle opsies