Menu terloops
In Sepies [4 Des 2025]

Mila Guy in ‘Suidooster’: Is haar karakter Aiden se groot liefde?


“Dit was lekker om weer ’n bietjie te kon droom, te kon speel en te kon wees,” vertel die aktrise Mila Guy wat onlangs haar terugkeer tot sepieland in ‘Suidooster’ op kykNET gemaak het. 

Mila Guy in ‘Suidooster’: Is haar karakter Aiden se groot liefde?

Mila Guy is al ’n hele ruk lank weg uit die gange van Binneland-kliniek in Binnelanders, maar het pas haar terugkeer tot sepies in Suidooster gemaak. Dié aktrise speel Liné Ferreira, ’n enkelma van ’n 12-jarige dogter, Jenna (Judi Hattingh). Sy het sommer gou die oog van Aiden (Theodore Jantjies) gevang. En ja, daar is ’n nuwe romanse op Ruiterbosch, die fiktiewe Kaapse woonbuurt waar Suidooster afspeel, se horison. 

Suidooster
Daar’s romanse aan die broei tussen Liné (Mila Guy) en Aidan (Theodore Jantjies). Foto’s: Verskaf

Soos dit egter ’n liefdestorielyn in ’n sepie betaam, wag daar ’n kinkel of 12. 

Mila het vir Terloops meer oor haar Suidooster-ervaring vertel:

Hoe sal jy jou karakter Liné beskryf?

“Sy is baie saggeaard. Sy’s ’n sterk mamma, ’n mamma-beer op ’n mooi manier. Dit is sy en haar dogtertjie teen die wêreld. Liné is rêrig ’n sterk vrou, dog saggies. Sy wys net nie maklik haar kwesbare kant nie. Sy’s net ’n mooi, lieflike mens.”

Hoe was dit vir jou om weer jou sepieskoene aan te trek?

“Dit was vir my ongelooflik lekker! Ek is mal oor sepie [as vermaakplatform]. Dis so lekker. Jy gaan elke dag werk toe, jy doen waarvoor jy lief is, jy het ’n passie daarvoor. En jy vertel ’n lekker storie. Ek dink by Suidooster was dit net nog lekkerder, want die mense daar is ongelooflik. By die werk aangekom, het ek sommer dadelik soos familie gevoel. Almal is vriendelik, en dis mooi. 

Suidooster, mila guy
Mila Guy beskryf haar draai as Liné in Suidooster as “’n baie geseënde ding wat hierdie jaar met my gebeur het.”

“Dat ek weer my sepieskoene kon aantrek en weer ’n bietjie saam met hierdie lekker mense kon speel, was ’n baie geseënde ding wat hierdie jaar met my gebeur het. Hulle laat my so goed voel op die stel. Ek het regtig gevoel ek is deel van die span. Hulle laat jou veilig voel en ek het lekker saam met hulle gelag. Dit voel of ek hulle al jare ken. 

“Judi Hattingh (Jenna) wat my dogter speel. . . Dit was net so lekker om saam met haar te speel. En ook saam met Theodore Jantjies (Aiden). Ag, dis die lekkerste span!” 

Wat het jy geniet daarvan om by Suidooster te skiet?

“Dis lekker om met so ’n talentvolle meisie soos Judi te werk. Sy is so jonk, maar tog so inspirerend. Ek dink wanneer mens saam met jongmense werk, besef jy net weer jou liefde vir dit wat jy doen, en ook hoekom jy dit doen. Dis nie net ’n werk nie, dis rêrig ’n mens se droom wat jy lewe.

“Dit was lekker om weer ’n bietjie te kon droom, te kon speel en te kon wees.”


Suidooster word weeksdae om 18:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en 18:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) uitgesaai. Suidooster is ook beskikbaar op Catch Up, DStv Stream en Showmax. 

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Wat om te kyk: Moenie dié stories in September misloop nie

Van die nuwe seisoen van een van die beste TV-reekse dié dekade, 'Slow Horses', tot ’n nuwe Afrikaanse drama met Simone Nortmann, en 'Tweespalt', ’n rugbyreeks wat die wedywering tussen die Springbokke en die All Blacks onder die loep bring.

Meer
6

‘Suidooster’ in September: Skokke, geheime en verraad vier hooggety

Liefde, lojaliteit en die vraag of bloed werklik dikker as water is, word vandeesmaand in 'Suidooster' telkens op die proef gestel. Hier is ses groot storielyne wat jy in September moet dophou.

Meer

Jou ‘Skemergrond’-gids vir September 2026

Lily en Ruan is gebroke en Christine se verlede haal haar in. Dít en nog meer wag op ‘Skemergrond’-kykers vandeesmaand.

Meer

Jou ‘Suidooster’-kykgids vir September 2026

Nazeem is ’n doring in Bridgette se vlees en Frankie en Riaan het ’n moeilike gesprek. Dít en nog meer is waarna ‘Suidooster’-kykers in September kan uitsien.

Meer
Sien alle opsies