Reandi Grey is geen vreemdeling as dit kom by stories oor die liefde nie. Dié aktrise, wat getoor het as Anja in die telenovela Diepe Waters, was nog onlangs op die kassie as die aanbieder van die maatsoekreeks Boer soek ’n vrou se 17de seisoen en eersdaags is sy ook in ’n romantiese minireeks, Ek, Hy en Jy, teenoor die sanger-akteur Bobby van Jaarsveld.
Hier is wat jy van die minireeks Ek, Hy en Jy moet weet:
Soefie en Katrien
Ek, Hy en Jy vertel oor die verloop van drie episodes die storie van ene Soefie, soos deur Reandi vertolk. Soefie het nog altyd haar jonger suster, Katrien, se behoeftes bo haar eie gestel sedert hul ouers se dood 16 jaar gelede. Soefie se onbaatsugtigheid is so dat sy haarself en haar drome in die proses prysgegee het.
Droomgeleentheid… maar vir wie?
Om Soefie se lewe nog meer te kompliseer, het haar vlieënier-kêrel Nicolaas ’n droomgeleentheid om vir ’n internasionale lugredery te gaan werk en wil hy hê sy moet saam met hom Hong Kong toe trek.
Ou liefde vergaan nie…
Soefie besluit teen ’n skuif Hong Kong toe – en word dan gekonfronteer deur ’n liefde uit haar verlede… Nicolaas se broer, Jakes.

Wie’s wie
Reandi Grey (Diepe Waters, Boer soek ’n vrou) is Soefie, en André Lötter (Binnelanders, Getroud met rugby) is Nicolaas. Bobby van Jaarsveld (Liefling, Spoorloos: Die eiland) is te sien as Jakes, en Blyde Smit (Troukoors, Spoorloos: Losprys) is Katrien. Neil Sharim (Bakgat, Superhelde) is Danie, Katrien se geliefde wat sy op ’n kampnaweek ontmoet het en wat vir verskeie komiese oomblikke sorg.

Johan Scholtz (Getroud met rugby, Reënboogrant) en Brümilda van Rensburg (Egoli, Lui maar op, Belinda) is die twee broers se ouers, Brink en Elise. Brink probeer alles in sy vermoë om vir Jakes ’n vrou te kry. Elise sal weer enigiets doen om te keer dat een van haar seuns se harte gebreek word. Die jong akteur Dawian van der Westhuizen (Hen, Tjommies) is Thomas, Jakes se seun uit ’n vorige verhouding.

Wanneer perde horings kry
Die reeks speel, onder meer, af op die pragtige perdeplaas waar Brink en Elise saam met Jakes en klein Thomas woon.
Agter die skerms

Die minireeks is deur Lizé Vosloo (Diepe Waters, Alles Malan, Nul is nie niks nie) geskryf, en sy is ook die regisseur van die reeks. Sunel Haasbroek, wat vir die kinematografie van Appels en tee verantwoordelik was, is agter die kamera, en die produksieontwerp is deur Liza du Plessis. Charlene van Rooyen was aan hoof van die kostuums en grimering. Die vervaardigers is Lizé Vosloo, Soné Combrink en André Velts van Sonvelt Media.
Wanneer en hoe laat?
Ek, Hy en Jy begin 30 Desember om 20:00 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144). Episodes sal ná uitsending op Catch Up beskikbaar wees. Die reeks bestaan uit drie episodes wat elk ’n uur lank is.