Oor die verloop van 13 episodes volg Ander dam se eende vir die gewilde Afrikaanse sangers Bobby van Jaarsveld en Brendan Peyper op ’n road trip deur Amerika in ’n motorwoonwa – of soos die Amerikaners hom noem: ’n RV. Hul reis strek oor meer as 5 500 km: van die groot stadsgedruis van New York tot die country-ritmes van Nashville, die blues-siel van Memphis, en die ongerepte stilte van die Grand Canyon. Elke bestemming bring nuwe mense, nuwe klanke en nuwe ontdekkings wat albei sangers diep raak, lui ’n mediaverklaring.

Musiek gee tempo aan
Uiteindelik is musiek die hartklop van die reeks. Kykers sien hoe die twee sangers in kroeë, by buiteverhoë en selfs op straathoeke optree. Hulle ontmoet plaaslike musikante, hoor stories vol nostalgie en ontdek hoe die Amerikaanse musiekgeskiedenis hul eie kreatiwiteit voed.


Die reeks delf ook dieper soos beide Bobby en Brendan voor uitdagings te staan kom wat hulle buite hul gemaksones dwing. Daar’s onbekende paaie, kultuurbotsings, skerp draaie in klein dorpies, en adrenalienoomblikke soos Bobby se 260m SkyJump in Las Vegas.
Tussen die chaos en die kalmte word daar gesels, gesing, baklei, gedink, gelag… En soms net stilweg in die natuur gesit. Dit word ’n reis wat nie net hul musiek nie, maar ook hul menswees verdiep.
Ander dam se eende word deur Capitec geborg. Die reeks begin Maandag 12 Januarie om 21:00 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144). Episodes sal ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar wees.










