Menu terloops
In TV [19 Nov 2025]

Kyk nou: Lokprent vir ‘Op my eish’ voorspel ’n soen-seisoen vir dié rugbyspeler


Verrassings, egte interaksies en onvergeetlike oomblikke wag op kykers in die nuwe seisoen van ‘Op my eish!’ wat eersdaags weer op die kassie is. En die lokprent voorspel omtrent ’n wipwarit!

Kyk solank S2 en S3 van Op my Eish!

Kyk nou: Lokprent vir ‘Op my eish’ voorspel ’n soen-seisoen vir dié rugbyspeler
Kyk lokprent

Op my eish! keer op Donderdag 15 Januarie 2026 om 20:00 terug na kykNET met ’n nuwe seisoen vol romanse. Hierdie keer is dit die voormalige rugbyspeler Ruan Smith wat sy hart op die spel plaas in die hoop om iemand te ontmoet met wie hy ’n toekoms kan bou.

Als wat jy moet weet oor die vierde seisoen van Op my eish!: 

16 dames stoei vir Ruan se liefde

Ná honderde inskrywings om vir Ruan se hart mee te ding, het hy 16 vroue gekies om hom in persoon te ontmoet. Uiteindelik kan hy net 12 dames saam met hom op die reis neem, en dit sorg vir nog meer spanning, emosie en onverwagte oomblikke.

Die wildcards se aankoms…

In vorige seisoene het die twee wildcards altyd in dieselfde episode hul opwagting gemaak. Hierdie keer verskyn hulle egter uit die bloute… Presies wanneer Ruan dit die minste verwag. Dit laat nie net spanning onder die dames opvlam nie, maar lei ook tot ’n paar moeilike besluite wat die verloop van dié seisoen beïnvloed.

Die vonke spat

Dié seisoen, of dalk liewer “sy-soen”, sorg ook vir ’n klomp soene. En die eerste een word sommer al in episode twee geplant. Dié vroeë vonke voorspel ’n onstuimige liefdesreis met emosies wat vinnig opvlam en bande wat onverwags vorm.

RUAN SMITH OP MY EISH
O, jinne, maar kyk hoe kyk hulle vir mekaar! Die dames baklei hard vir Ruan se hart. Foto’s: Skermgrepe/Verskaf

Aktiwiteite en drama

Dié seisoen is propvol opwindende aktiwiteite en uitdagings. In elke episode is daar twee aktiwiteite wat die vroue én Ruan op hulle tone hou. Van die hoogtepunte sluit in ziplining, Spot the Difference tussen Ruan en JP (sy tweelingbroer), ’n touch rugby-sessie, ’n bosveldsafari as ’n romantiese afspraak, e-fietsry en selfs ’n soektog deur ’n doolhof waar die vroue vir Ruan moes opspoor.

Daar was ook ’n lekker partytjie in die swembad, emoji-speletjies, pret met ’n Sip ’N Slide – waar drankies nie mag mors nie – en Whisper or Dare, waar die dames geheime in Ruan se oor fluister of ’n waagmoedige opdrag uitvoer.

Verder het die vroue ook die kans gekry om met die lewensafrigter Liezl Thom te gesels vir raad oor hoe om die senutergende, emosionele kant van die avontuur te hanteer.

Die manne sê:

Op my eish, Ruan en JP smith
Ruan se tweelingbroer en wingman, JP, sê: “Ek ken my broer – as sy hart regtig oop is, gaan hierdie seisoen iets besonders wees.”

Vir Ruan was dit ’n emosionele reis vol verrassings en waardevolle lesse: “Ek’s ongelooflik opgewonde oor hierdie nuwe seisoen. Om weer die kans te kry om liefde met ’n oop hart te soek, is iets wat ek nie ligtelik opneem nie. Tydens hierdie proses het ek baie van myself geleer en ek’s reg om te wys wie ek is. Hopelik vind ek iemand wat saam met my die pad wil stap.”

Sy tweelingbroer en wingman, JP, voeg by: “As Ruan se wingman is ek so gereed vir die chaos, die lag en die oomblikke wat jy net eenvoudig nie kan opmaak nie. Ek ken my broer – as sy hart regtig oop is, gaan hierdie seisoen iets besonders wees. Ek’s hier om hom te ondersteun, hom uit te daag en seker te maak hy sien die regte dinge in die regte vroue. Dis ’n nuwe avontuur vir ons albei, en ek kan nie wag dat almal dit saam met ons beleef nie.”


Op my eish! begin op 15 Januarie 2026 om 20:00 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144). Episodes sal ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar wees. Kyk ook S2 en S3 van Op my Eish! op Showmax.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

kykNET se nuwe mini-dramareeks is ’n verhaal van verlies, vergifnis en hoop

Twee mans se paaie kruis in ’n ondersteuningsgroep ná die verlies van geliefdes. kykNET se 'Elke donker wolk' verken hoe ’n onverwagse vriendskap ruimte skep vir vergifnis, genesing en hoop.

Meer

Rubriek: Gaan griffel in Ouma se resepteboek! ‘Kokkedoor: Klassiek’ is terug! 

Ná ’n voorskou van die eerste episode laat 'Kokkedoor: Klassiek' vir Marteni Burger verlang na haar ouma se resepte én sien sy uit na nog skeppies nostalgie - met ’n knippie kombuisdrama en verrassende kinkels daarby.

Meer

Van die veld tot die kelder – kuier dié November saam met VIA

Van wildplase en wynkelders tot huise met karakter: VIA se November-aanbod beloof vars ontdekkings. Kuier saam met Shari Kennedy, Leandie du Randt, Frank Rautenbach en JP Quickelberge, en leer ken die mense, stories en plekke wat Suid-Afrika so besonders maak.

Meer

Chanél Muller oor ‘Sy, die meeue en die Heilige Gees’

"Enige persoon se geloofsreis is ’n baie persoonlike reis, en dit gebeur alles baie innerlik", sê Chanel Muller, die skrywer, regisseur en vervaardiger van die kykNET-reeks 'Sy, die meeue en die Heilige Gees'.

Meer
Sien alle opsies