Menu terloops
In Wat om te kyk [10 Jul 2025]

Nog ’n rugbyspeler vir ‘Op my eish!’ Ruan se tweelingbroer ook deel van losgemaal as ‘wingman’


In die nuwe seisoen van kykNET se gewilde realiteitsreeks ‘Op my eish!’, sal Ruan Smith se tweelingbroer JP hom as vertroueling en klankbord bystaan soos Ruan voor die kameras na liefde soek.

Kyk solank S2 en S3 van Op my Eish!

Nog ’n rugbyspeler vir ‘Op my eish!’ Ruan se tweelingbroer ook deel van losgemaal as ‘wingman’
Kyk lokprent

Wat is ’n wingman? Dis daardie een persoon wat jou ken op jou beste én slegste; die een wat jou gaan aanmoedig om jou hart te volg, maar jou ook reguit gaan sê as jy besig is om jou kop te verloor. Iemand wat eerlik is, lojaal is en daar is as dinge moeilik raak. Vir Ruan Smith is daardie iemand nie net ’n vriend nie – dit is sy identiese tweelingbroer, JP Smith.

“Dis ’n absolute eer. Dit is awesome,” sê JP. “Ons is ongelooflik close en ken mekaar goed. Dis vir my ’n nuwe uitdaging. So, dit gaan interessant wees. Ek en Ruan het al baie saam deurgemaak – moeilike én goeie tye. So, ek weet wat is die beste vir hom. Ek gaan eerlik wees soos altyd. Ek het sy beste belange op die hart,” sê hy. 

Die twee broers het nie net ’n hegte band nie, maar ook ’n indrukwekkende geskiedenis saam op die rugbyveld. JP het in sy loopbaan vir spanne soos die WP (2010), die Brumbies (2014–2015), Canberra Vikings, Stormers (2016), Reds (2018–2020), LA Giltinis (2021) en die Lions (2021–2024) uitgedraf. Hy en Ruan het, onder meer, saam vir die Brumbies, Reds en Lions gespeel. Deesdae bestuur hulle saam ’n rugbykliniek, Eight7, waar hulle jong talent help ontwikkel.

Hy weet waarna Ruan soek

JP weet presies waarna Ruan op hierdie stadium in sy lewe soek: stabiliteit, opregtheid en iemand wat gemaklik is in eenvoud.

“Ruan soek iemand wat rustig is – nie iemand wat heeltyd op pad of bedrywig moet wees nie. In ons loopbane was ons baie besig en het min tyd vir onsself gehad. So, iemand wat tyd by die huis waardeer, is vir hom belangrik. Nie ’n high-maintenance persoonlikheid nie – net iemand wat gemaklik is in normale, rustige tye.”

Maar dit gaan nie net oor gemak nie. JP glo Ruan het ’n maat nodig wat selfstandig en familie-geörienteerd is. “Hy wil nie iemand hê wat verwag hy moet álles doen nie. ’n Verhouding gaan oor saam bou – nie net in een rigting gee nie. Ja, dis belangrik dat ’n man sy rol speel, maar dit moet wedersyds wees.”

Dís hoe jy weet Ruan is verlief…

Op die vraag hoe hy weet wanneer Ruan regtig verlief is, antwoord JP sonder om te huiwer: “As hy opofferings maak in sy daaglikse lewe vir iemand, dan weet jy dis ernstig. Hy gee nie maklik daardie deel van homself prys nie. So, as hy begin aanpas vir iemand, beteken dit baie.”

“Ruan is eintlik ’n baie sagte ou,” sê JP. “Hy sit sy guard op, veral in nuwe verhoudings, maar as jy hom leer ken, is hy ’n ongelooflike lojale omgeemens. Ek hoop mense sien daardie kant van hom in die reeks – nie net die sterk rugbyspeler nie, maar die groot teddiebeer wat hy rêrig is.”

En as jy bekommerd is jy gaan die twee op die skerm verwar?

“Ons is baie dieselfde, maar ons persoonlikhede is ook effens verskillend. Jy sal dit begin raaksien. En as daar enige verwarring is – ek is die slimmer een,” sê JP met ’n lag.

Hy glo Op my eish! bied ’n unieke geleentheid vir sy broer: “In vandag se lewe is ’n mens so besig dat dit al moeiliker raak om liefde op ’n natuurlike manier te vind. Hierdie reeks gee hom die kans om homself oop te maak, om weer te probeer. En as ek ’n klein deel van daardie reis kan wees – dan is ek daar.”


Inskrywings vir die nuwe seisoen van Op my eish! is tans oop. Vroue wat gereed is vir ’n kans op liefde, kan inskryf by kyknet.tv.

Kyk S2 en S3 van Op my Eish! op Showmax.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

13

Wat om te kyk dié Vrouemaand: 13 reekse en rolprente waarin vroue die storie dryf

Wat om te kyk: Vir Vrouemaand het ons ’n kyklys saamgestel van reekse en rolprente waarin kragtige aktrises aan onvergeetlike vroue-karakters lewe gee.

Meer

Wat om te kyk: Moenie dié stories in Augustus misloop nie

Van 'Gesels' en Michael Fassbender se 'The Agency' tot 'Ted Lasso' en 'Reacher' se vierde seisoene – hier is ons keur van TV-hoogtepunte vir vandeesmaand.

Meer
12

Wat om te kyk: 12 Afrikaanse reekse om nou te stroom

Van die rillerreeks ‘Donkerbos’ en 'Ontwaak' tot die bekroonde 'Koek' en 'Wyfie' – hier is ons keur van die beste Afrikaanse stories om nou op DStv Stream te kyk.

Meer

Jou ‘Skemergrond’-kykgids vir Augustus 2026

Christine kry ’n nare verassing en Ruan en Amber stel ’n gevaarlike lokval... Dít en nog meer wag op ‘Skemergrond’-kykers vandeesmaand.

Meer
Sien alle opsies