Hier is ons voorstelle vir wat om te kyk vandeesmaand.
Neem asseblief kennis dat datums en titels moontlik kan verander.
F1 The Movie
Vanaf 12 Desember op Apple TV+.
Nadat dit vroeër vanjaar etlike loketrekords gebreek en miljoen mense op ’n duiselingwekkende adrenalien-avontuur geneem het, is Brad Pitt se trefferfliek, F1, vanaf middel-vandeesmaand op Apple TV+ beskikbaar om te stroom.
Dié fliek, waarin ons ook ware renjaers soos Lewis Hamilton, Max Verstappen, Lando Norris en Carlos Sainz sien, draai om ’n fiktiewe jaer wat deur ’n ou vriend genader word om sy sukkelende span te red. Sonny Hayes, vertolk deur Brad Pitt, is ’n nomadiese jaer wat van baan na baan en van kompetisie na kompetisie reis wanneer ons hom ontmoet. Sy Formule 1-drome is al sedert ’n reuse-ongeluk jare gelede, wat byna sy lewe gekos het, in die truspieël. Maar sy voormalige spanmaat, Ruben Cervantes (Javier Bardem) glo wel dat daar nog ’n stink spoed in hom steek. In ’n desperate poging om nie die span te verloor waarvoor hy so hard gewerk het nie, oortuig Ruben vir Sonny uiteindelik om vir hom te jaag. Die ander jaer in die span? ’n Hotshot rookie wat nog baie, baie nat agter die ore is…
Dis onwaarskynlik dat die fliek dieselfde intense, hoendervelwekkende impak op ’n TV- of rekenaarskerm gaan hê as wat dit in rolprentteaters gehad het. Top Gun: Maverick se Joseph Kosinski het immers ook van dié fliek ’n sintuiglike spektakel gemaak. Een wat jou oralom oorweldig – veral met die insette van Hamilton wat ’n reuse-aandeel tot die realistiese aanslag van die jaag- en ongelukstonele in sy rol as medevervaardiger gespeel het. Mens is wel bewus van die “Hollywood”-effek – soms drup hierdie verhaal met net ’n bietjie te veel oogrol-oomblikke – maar vasbyt, want vir die visuele fees wat dié span oplewer, is dit die moeite werd om nie te puntenerig daaroor te wees nie.
Soos The Hollywood Reporter in hul resensie skryf: “Groot, raserig, voor die hand liggend én geweldige vermaak.”
Fallout S2
Vanaf 17 Desember op Prime Video.
“Fallout se TV-verwerking voel soos ’n getroue uitbreiding van die videospeletjiereeks; ’n post-apokaliptiese avontuur vir nuwe én ou aanhangers van dié reeks.” Só lui die kriciti-konsensus op die resensiewebwerf Rotten Tomatoes, waar die eerste seisoen van die reeks met ’n punt van 93% spog. Fallout was een van die grootste reekse van 2024, en het dit boonop reggekry om een van die min suksesverhale te word wat die verwerking van gewilde treffer-videospeletjies na ’n TV- of filmweergawe betref… Dis nou natuurlik buiten die prysenswaardige en indrukwekkende HBO-verwerking van The Last of Us, wat ook sy tweede seisoen vroeër vanjaar vrygestel het.
In Fallout is dit sowat 200 jaar ná die apokalips wanneer die skuilkamer-inwoners gedwing word om terug te keer na die verwoeste landskap wat deur hul voorouers agtergelaat is. Maar niks is soos wat hulle verwag het nie. Dié nuwe wêreld is eerder kompleks en vreeslik eienaardig, maar ook gereeld hoogs geweldadig. Tematies ontvou Fallout as ’n verhaal van die haves en have-nots – in ’n wêreld waarin daar byna niks oor is om oor te baklei nie.

Die nuwe seisoen tel die storiedrade op in die nasleep van die eerste seisoen se finale episode. Die keer word ons op reis geneem deur die Mojave-woestyn na die post-apokaliptiese stad New Vegas. Ella Purnell (Yellowjackets, Sweetpea), Aaron Moten (Emancipation, Father Stu), Walton Goggins (The White Lotus, The Righteous Gemstones), Kyle MacLachlan (Twin Peaks), Moisés Arias (The King of Staten Island) en Frances Turner (The Boys) verskyn in die hoofrolle.
All The Empty Rooms
Vanaf 1 Desember op Netflix beskikbaar.
Dié kort dokumentêre prent gryp jou aan die strot en hou jou hart en wese vir 33 minute gevangene. Die storie volg die verslaggewer Steve Hartman en die fotograaf Lou Bopp soos hulle Amerika deurkruis om die slaapkamers van kinders wat in skoolskietery-voorvalle dood is, af te neem. Só word ’n tydstip, ’n goue oomblik en herinnering van dié siele se lewens verewig. Pers haarrekkies om ’n deur se handvatsel, plakkers met reminders op ’n spieël, ditjies en datjies wat onder die bed gegooi is, oefenklere… lives interrupted. Dit laat jou koud. ’n Noodsaaklike moet-kyk.
The Abandons
Vanaf 4 Desember op Netflix.
Die Wilde Weste raak wilder met dié periode-drama. The Abandons speel af in 1854, en draai om die matriarge van twee uiteenlopende families. Daar’s die welgestelde Van Nesses, gelei deur Gillian Anderson se Constance; en dan is daar die Abandons, ’n familie van weeskinders en verstotelinge wat fel beskerm word deur Lena Headey se Fiona Nolan. Terwyl Constance poog om haar familie se mynfortuin selfs meer uit te brei, is Fiona nie een om te gaan lê nie – inteendeel. Sy weier volstrek dat haar familie deur die Van Nesses van hul grond verdryf word.

Die res van die rolverdeling sluit onder andere in Game of Thrones en Rebel Moon se Michiel Huisman, Sons of Anarchy se Ryan Hurst en Jurassic World se Nick Robinson.
Jay Kelly
Vanaf 5 Desember op Netflix beskikbaar.
Die Oscar-benoemde filmmaker Noah Baumbach (Marriage Story, White Noise) staan aan die hoof van Jay Kelly as regisseur, terwyl hy die teks saam met die skrywer-aktrise Emily Mortimer geskryf het. Die storie draai om ene Jay Kelly (George Clooney), ’n beroemde akteur wat ’n reis van selfontdekking meemaak. Adam Sandler vertolk Kelly se toegewyde bestuurder, met die res van die ensemble wat die bekroonde akteurs Laura Dern, Billy Crudup en Greta Gerwig insluit.

Ek, Hy en Jy
Drie episodes, weekliks vanaf Dinsdag 30 Desember om 20:00 op kykNET en DStv Stream (kanaal 144). Ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar.
Ek, Hy en Jy vertel oor die verloop van drie episodes die storie van ene Soefie, soos deur Boer soek ’n vrou en Diepe Waters se Reandi Grey vertolk. Soefie het nog altyd haar jonger suster, Katrien, se behoeftes bo haar eie gestel sedert hul ouers se dood 16 jaar gelede. Soefie se onbaatsugtigheid is so dat sy haarself en haar drome in die proses prysgegee het. Om Soefie se lewe nog meer te kompliseer, het haar vlieënier-kêrel Nicolaas (André Lötter) ’n droomgeleentheid om vir ’n internasionale lugredery te gaan werk en wil hy hê sy moet saam met hom Hong Kong toe trek. Soefie besluit teen ’n skuif Hong Kong toe – en word dan gekonfronteer deur ’n liefde uit haar verlede… Nicolaas se broer, Jakes (Bobby van Jaarsveld).
Die Kwiksilwers
Sondag, 14 Desember 2025 om 20:00 op M-Net en DStv Stream (kanaal 101). Ook op Showmax vanaf Maandag 15 Desember.
Die Kwiksilwers bring ’n handvol doyennes van die Afrikaanse film- en TV-bedryf byeen. Lida Botha speel Elsabé Marais, ’n weduwee in haar tagtigs, wat drie vriendinne (June van Merch, Susanne Beyers en Theresa Sedras) oorreed om op ’n skreeusnaakse road trip deur die Karoo te gaan om ’n meteorietstorting in Sutherland te beleef.
