Menu terloops
In Gons [9 Okt 2025]

‘Spinners’ kry gat in rat vir tweede seisoen


‘Spinners’ se tweede seisoen, weer met regie deur die bekroonde ‘Niggies’-regisseur Jaco Bouwer, sal volgende jaar op Showmax beskikbaar wees.

‘Spinners’ kry gat in rat vir tweede seisoen

Daar is nog ’n rukkie se wag voordat die tweede seisoen van die bekroonde Showmax-reeks Spinners, met Cantona James (Trompoppie, Arendsvlei) en Chelsea Thomas (Wyfie, Arendsvlei) in die hoofrolle, op ons kassies is, maar met die verfilming pas klaar, is die eerste foto’s van dié hoogs verwagte nuwe seisoen vrygestel.

Spinners draai hoofsaaklik om Ethan, ’n jong motorbestuurder wat vir ’n plaaslike bende as drywer werk. Dít doen hy bloot omdat hy noodgedwonge na sy baie jonger boetie moet omsien nadat sy pa se dood daartoe lei dat sy ma weer in tikverslawing verval.

In die eerste seisoen smag Ethan egter om uit dié wrede lewe te ontsnap. As hy van spinning, ’n waaghalsige motorsport, leer, besef hy dat ’n tollende motor dalk sy enigste kans uit ’n bendebestaan is. (Lees ook ons resensie van die eerste seisoen.)

Wat gebeur in S2?

Twee jaar nadat Ethan en sy vriende van die gewelddadige greep van bendelewe ontsnap het, het hulle nou sterre in die grootstad se spinning-wêreld geword. Roem, liefde en geluk lyk uiteindelik binne bereik – totdat ’n brutale lokval deur Ethan se ou bende hul nuwe bestaan inmekaar laat tuimel. Ethan wend hom in desperaatheid tot die Maseko-familie vir beskerming, maar hul bystand kom teen ’n hoë prys. Sal Ethan, nou vasgevang tussen twee mededingende misdaadfamilies, die stuur kan neem om sy eie koers in te slaan?

Buiten Cantona en Chelsea, hervat Safta-wenner Brendon Daniels (van White Lies, waarin hy saam met Natalie Dormer verskyn het) en die kykergunsteling Dillon Windvogel (Blood & Water) ook hul rolle.

Nuwe gesigte in dié seisoen se rolverdeling sluit in Safta-wenner Clementine Mosimane (How to Ruin Christmas) as die matriarg van die Maseko-misdaadfamilie; Mondli Makhoba (Shaka iLembe) as haar lyfwag; en die opkomende ster Luyanda Zwane (Shaka iLembe) en Aphiwe Mkefe (Kites) as haar kinders.

Spinners S2, Showmax, Canal+
Clementine Mosimane as die matriarg van die Maseko-misdaadfamilie in Spinners S2. Foto’s: Verskaf
Spinners S2, Showmax, Canal+
Mondli Makhoba.
Spinners S2, Showmax, Canal+
Luyanda Zwane.

Kyk ook uit vir ’n verskyning deur die top-vroue spinner Kayla Oliphant, wat onlangs in National Geographic se David Blaine: Do Not Attempt verskyn het en ook Chelsea se waaghals-dubbelganger in die reeks is.

Lof vir span agter die skerms

Dié seisoen is weer ’n ko-produksie tussen Showmax en CANAL+. Jaco Bouwer (Gaia, wenner van die SXSW Zeiss-kinematografieprys; kykNET-treffer Niggies) hanteer weer die regie, met Safta-wenners Matthew Jankes en Sean Steinberg wat as hoofskrywers terugkeer. 

Die eerste seisoen van Spinners het wêreldwyd lof ontvang. Dit is vir die Canneseries gekies en het vir beste buitelandse televisiereeks by die Shanghai-televisiefees gewen. Hiér het dit selfs Succession geklop. Die reeks het ook drie toekennings by Dakar Series gewen, insluitend vir beste reeks, en het ook drie Safta-benoemings ontvang. 

In haar resensie van die eerste seisoen vir Terloops het Rozanne Els geskryf: “Daar is geweldig baie detail wat in elke episode se vertelling met die kyker gedeel word. Om meer oor die storielyn uit te brei, sou beteken om daardie filmiese vrygewigheid te bederf. (Jaco) Bouwer se onberispelike aanleg as kunsregisseur kry hier nuwe gestalte.”

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Jou ‘Skemergrond’-kykgids vir Augustus 2026

Christine kry ’n nare verassing en Ruan en Amber stel ’n gevaarlike lokval... Dít en nog meer wag op ‘Skemergrond’-kykers vandeesmaand.

Meer

Jou ‘Binnelanders’-kykgids vir Augustus 2026

Die waarheid oor ’n dokter lei tot ’n dramatiese wending en Joe is desperaat om vrae oor sy identiteit te beantwoord. Dít en nog meer is wat op ‘Binnelanders’-kykers vandeesmaand wag.

Meer

Jou ‘Diepe Waters’-kykgids vir Augustus 2026

Jacques en Theresa se groot dag breek aan, terwyl Karla en Arno nie tot ’n vergelyk kan kom nie. Hier is waarna 'Diepe Waters'-kykers in Augustus kan uitsien.

Meer

Jou ‘Suidooster’-kykgids vir Augustus 2026

Mike maak (weer) droog, Kaashifa vind iets skokkend uit en die Samsodiens sien rooi... Dít en nog meer is waarna ‘Suidooster’-kykers in Augustus kan uitsien.

Meer
Sien alle opsies