Menu terloops
In Onderhoude [8 Okt 2025]

‘Finding Optel’: ‘Ons plaaslike stories het ’n plek in die wêreld,’ meen aktrise Zenobia Kloppers


Die lieflike en vermaaklike plaaslike fliek ‘Finding Optel’ het binnekort sy internasionale première by die gesogte BFI Londen-rolprentfees, waarna dit ook op Showmax beskikbaar sal wees. Een van die fliek se sterre, Zenobia Kloppers, vertel meer. 

‘Finding Optel’: ‘Ons plaaslike stories het ’n plek in die wêreld,’ meen aktrise Zenobia Kloppers
Kyk lokprent

In die broer-en-suster-duo Mikayla en Jesse Brown se eerste vollengte speelfilm rolprent Finding Optel, soek die 16-jarige amateur-speurder Claire Abrahams na ’n hond wat in die buurt weggeraak het. Dit lei onverwags tot die oopkrap van ou wonde wanneer sy ook op leidrade afkom oor haar ouer broer se verdwyning. 

Die film, wat sy plaaslike première in Augustus by die Silwerskermfees gehad het en ’n staande applous ontvang het, is deur Mikayla en Jesse geregisseer, met Mikayla wat ook die draaiboek geskryf het en die hoofrol van Claire vertolk. Blended Films, onder meer bekend vir die pragfilm Hier.Na., is die vervaardigers. 

Die rolverdeling is een om van te droom. Mikayla, as opkomende ster, word ondersteun deur onder andere Oscar Petersen (Vloeksteen, Kantlyn), Zenobia Kloppers (The Wheel of Time, Spinners, Fiela se Kind) as Auntie Doreen, Rodney Goliath en Sherman Pharo (albei van Arendsvlei), Maurice Carpede en Euodia Samson (albei van Summertide), Elton Landrew (Spinners, Carissa), en Omar Adams (Barakat).

Zenobia vertel meer oor haar karakter, internasionale blootstelling, haar gunsteling toneel en meer. 

Hoe pas Auntie Doreen in die storie in?

“Sy is die tannie in die gemeenskap wat almal oppas en sorg dat hulle oukei is. Sy is ’n leier in die gemeenskap, en spesifiek vir Claire, die hoofkarakter, is sy ’n moederfiguur. Sy’s ’n ma, tannie, ouma – alles in een.”

Om eers deel te wees van The Wheel of Time en nou te sien hoe Finding Optel op so ’n internasionale verhoog erken word, is ’n herinnering dat ons stories hier in Suid-Afrika nie klein is nie – dit het ’n plek in die wêreld.

Zenobia Kloppers

Hoe sou jy Finding Optel beskryf?

“Dit is ’n pragtige fliek met pragtige mense. Daar is soveel lekker oomblikke. Dis lig, maar dit bring ook ernstige onderwerpe onder die loep – soos wat ’n mens in die beste komedies sien.

“Dit is boonop ’n eg Kaapse film wat sogenaamde die sogenaamde ‘Cape coloured’-kultuur uitbeeld, maar nie deur die lens van bendegeweld nie. Dis bloot die verhaal van ’n tienermeisie wat na ’n verlore hond soek. Deur na die hond te soek, vind sy antwoorde vir haarself en vrede met dinge wat gebeur het. Dit is wonderlik om te wys daar is meer aan ons mense as net bendegeweld.”

Wat het jou laat besluit om deel van dié film te wees?

“Quanita Adams, een van die uitvoerende vervaardigers (as deel van Blended Films), is ’n vriendin van my. Ons ken mekaar al vandat ons saam drama studeer het. Quanita is ongelooflik, en ek wou nog altyd saam met haar werk. Toe sy bel, sou ek vir enigiets ja gesê het – selfs al was die karakter ’n boom! Toe ek egter oor Doreen lees, was ek baie bly, want sy is so veelsydig. Sy’s ’n bekkige tannie as sy saam met haar vriendinne is, maar ernstig saam met Claire en Claire se pa, John (Oscar Petersen). Sy pas netjies in waar sy nodig is.

“Interessant genoeg het Doreen my aan my ouma herinner. Jy put altyd uit wat jy ken. My inspirasie was grootliks my ma se ma. Sy was ’n baie netjiese, ordentlike mens, maar sy het ook almal om haar versorg. Ek onthou ’n foto van haar by haar huis: sy dra ’n groen T-hemp, leun oor die vibracrete-muur en gesels met die mense langsaan. Sy het al die bure geken.”

Internasionale blootstelling beteken ons stemme, ons geskiedenisse en ons verbeeldingswêrelde word gesien en gehoor.

Zenobia Kloppers

Jy het al ikoniese rolle vertolk – Fiela in Fiela se Kind, Rebecca Thuli in Suidooster, Samantha in Spinners, en onlangs Amico Nagoyin, een van die Aes Sedai in die epiese, BAFTA-benoemde Wheel of Time. Wat maak Doreen anders?

“Ek word dikwels gevra om mense uit die Noord-Kaap te speel, so dit was lekker om net ’n Kaapse vrou te speel. En boonop in Engels! Ek kry selde die geleentheid om karakters te speel wat Engels praat.”

Wat was jou gunsteling toneel om te verfilm? Sê tog asseblief dit was die samoosa-gevegstoneel?!

“Eintlik was dit die toneel waar Auntie Doreen en haar twee vriendinne vir ’n sonsopkoms-stappie gaan. Dit was ysig daardie oggend en ons moes vroeg opstaan. Dit was heerlik, want ons het vinnig geloop terwyl die kameraman agteruit geloop het en hoop hy val nie. Maurice (Carpede), een van die ander akteurs, spring toe uit, gesels met ons en hy loop ook agteruit, bang hy val op sy agterent. Dit was baie snaaks. En natuurlik, Euodia Samson is in daardie toneel, en sy is altyd skreeusnaaks.”

Mikayla het onlangs in die lokprent vir die BFI London-rolprentfees saam met Oscar-wenners soos Emma Stone, George Clooney en Julia Roberts verskyn. Sy is duidelik ’n ster in wording. Hoe was dit om saam met haar te werk?

Finding Optel, Zenobia Kloppers, Mikayla Joy Brown
Zenobia Kloppers en Mikayla Joy Brown in Finding Optel.

“Wat ’n lieflike aktrise. Jy sou nie dink dit is haar eerste groot rol nie. Sy’s so natuurlik, en sy speel daardie ouderdom met soveel onskuld en vreugde dat dit ’n plesier is om te sien. ’n Groot talent!”

Hierdie jaar was jy al te sien in The Wheel of Time en nou ook Finding Optel by een van die wêreld se mees gesogte filmfeeste – wat beteken hierdie internasionale blootstelling vir jou?

“Dit laat ’n mens ontsettend nederig voel. As akteur gee jy soveel van jouself sonder om te weet hoe ver iets gaan reis of wie se harte dit gaan aanraak. Om eers deel te wees van The Wheel of Time en nou te sien hoe Finding Optel op so ’n internasionale verhoog erken word, is ’n herinnering dat ons stories hier in Suid-Afrika nie klein is nie – dit het ’n plek in die wêreld.

“Vir my is dit ook persoonlik. Elke geleentheid, of dit nou ’n internasionale fantasie-reeks is of ’n film wat in ons eie grond gewortel is, dra die verantwoordelikheid van verteenwoordiging. Internasionale blootstelling beteken ons stemme, ons geskiedenisse en ons verbeeldingswêrelde word gesien en gehoor.”


Finding Optel is vanaf 24 Oktober 2025 op Showmax beskikbaar.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Wat om te kyk: Moenie dié 6 stories in Julie misloop

Van ’n nuwe oes boere wat ’n liefdesmaat soek tot die senutergende aksie van die Wêreldsokkertoernooi-eindstryd – hier is ons keur van TV-hoogtepunte vir vandeesmaand.

Meer

Van ‘My f*k Marelize’ tot ‘Die Toring’ – Nichola Viviers is reg vir die kollig

’n Vars gesig met ’n onmiskenbare teenwoordigheid in die nuwe kykNET-telenovela 'Die Toring' is Nichola Viviers in die rol van Cazz Fouché.

Meer

Misi weer op ’n reddingsmissie in ‘In die sop: Gastehuisrevolusie’

KykNET se ‘In die sop’-werklikheidsreeks kry ’n vars laag verf met die fokus wat van restaurante na gastehuise skuif, maar ’n bekende gesig, die dekorkenner Misi Overturf, is weer deel van die reddingspan.

Meer

Gerrie slyp sy tande vir Dracula se wêreld in nuwe ‘Leef jou Reis’

Die nuwe seisoen van Gerrie Pretorius se 'Leef jou Reis' beloof om kykers te bekoor met bestemmings wat beide eksoties en nostalgies is.

Meer
Sien alle opsies