Menu terloops
In Sepies [5 Mei 2024]

Sepievoorskou: Tjoekie toe met Tim in ‘Suidooster’? En Nicolette op dun ys in ‘Binnelanders’


Die tronkvoëls is volop in Ruiterbosch en daar’s moeilikheid vir Nicolette in Binneland-kliniek. Hier is ’n voorskou van wat jy hierdie week (6 tot 10 Mei 2024) op ‘Arendsvlei’, ‘Suidooster’ en ‘Binnelanders’ kan verwag.

Deur Tarren-Lee Habelgaarn
Sepievoorskou: Tjoekie toe met Tim in ‘Suidooster’? En Nicolette op dun ys in ‘Binnelanders’

Ek wens ek was in die vertrek om Gys (Justin Strydom) in Diepe Waters se gesigsuitdrukking te sien, toe hy uitvind dat hy nie die hoofafrigter vir die Olimpiese Spele gaan wees nie. Karma is ’n b%3tch, maar Gys sal nooit leer nie, want sy ego is so groot soos die Swart Marlyne se swembad. 

Gys kan gerus by Tshepo (Johnny Potsanyane) leer. Hy wil nou vir ’n verlore neef sy nier skenk en al sy drome sommer saam met die nier weggooi. Dit is baie ’n mooi gebaar, maar wat van al die suikerwater wat hy en Henry (Stiaan Bruwer) moes drink toe hulle tussen kos en swemlesse moes kies? 

Intussen het Danni (Vashti Prins) in Suidooster sommer so met ’n antiklimaks uit Ruiterbosch verdwyn en laat só op een slag drie manne met gebroke harte agter. Dit wil gedoen wees! #hurricaneDanni 

Gelukkig vind ’n mens darem elke nou en dan ’n silwerrandjie in Sepieland. Ná haar aanvanklike teleurstelling, het Bianca (Riana Alfreds) toe uiteindelik haar sprokieseinde gekry met Thys (Sherman Pharo) wat voor almal by die matriekafskeid vir haar die ja-woord gevra het. Ongelukkig het Lee-Roy (Roberto Kyle) nie dieselfde reaksie gehad toe Devon (Braeden Buys) vir hom iets vra nie… 

Arendsvlei  

Ná verlede week se ongemaklike dans, hang Lee-Roy en Devon se toekoms aan ’n draadjie. Sal hulle hul pad na mekaar toe kan vind? Iets sê vir my Lee-Roy gaan nou meer as ooit iemand nodig hê. Hy ontvang ’n pakkie van Amsterdam wat die mat onder sy voete gaan uitruk. 

Die oorlog tussen die Galants en die winkeleienaars is nog lank nie verby nie, maar Desmond (Alistair Izobell) en Audrey (Taryn Hess) is nie op dieselfde bladsy nie. Desmond jag die geld, terwyl Audrey net wraak en nuwe puppets soek.

Hein (Merlin Balie) kon nie vinnig genoeg besluit nie en toe besluit Birdy (Hermien de Vos) vir hul albei. Maar dit was nie wat Hein verwag het nie. So wat nou? 

Arendsvlei is elke Maandag tot Donderdag op kykNET & kie (DStv-kanaal 145, ook op DStv Stream) om 19:30 te sien. Dit is ook op Catch Up beskikbaar.

Suidooster  

Die tronkvoëls is volop in Ruiterbosch. Ná verlede week se naelbytende showdown by die October-mansion is Tim (Marco Spaumer) ná jare se gekonkel in hegtenis geneem. Maar gaan hy tronk toe of gaan hy met sy slim mond homself uit hierdie nagmerrie praat? Ek wil nie nou Zoë (Lauren Joseph) wees nie. As ek moes uitvind dat my man my ontvoering beplan het, oor my pa en geld gelieg het, en vir my teen my antie laat draai het, het ek net daar gebid dat die aarde my asseblief moet insluk. Want hoe kyk jy weer vir mense in die oë? Ouch!  

’n Nuwe gesig kom maak ’n draai in Ruiterbosch en lyk my Bianca (Simone Biscombe) vang nou feels. En dit lyk dan nou asof haar tipe ’n tannie Kate-seun is, want is sy broer dan nie haar kind se pa nie? 

Kyk Suidooster weeksdae om 18:00 op DStv-kanaal 144 (ook aanlyn op DStv Stream) of ná uitsending op Catch Up.

Binnelanders

Iemand stuur tog net hulp, want Annetjie (Lorraine Burger) se hospitaal Mills and Boon-blog gaan dan nou ook in die arme vrou se gesig ontplof! 

Tracy (Melinda Viljoen) is terug, maar dit is alles behalwe ’n gelukkige einde. My hart bloei vir Tertius, maar ons sal maar moet sien hoe dinge verloop. 

Nicolette (Kate Roothman) bevind haarself in ’n gevaarlike situasie en nou werk sy nog met arme Vicky (Roxanne Bornman) ook. Nicolette beter vinnig ’n plan maak, want sy is reeds op dun ys met Steve (Clint Brink).

Binnelanders saai op weeksdae om 19:30 op kykNET (DStv-kanaal 144, ook op DStv Stream) uit. Episodes is ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

20

Wat om te kyk: 20+ gewilde boeke wat in TV-reekse omskep is

Van 'Recipes for Love & Murder' en 'Reënboogrant', tot 'Spooksoeker' en 'Dinge van ’n kind' – soveel boeiende boeke wat omskep is in soveel skitterende TV-reekse. Hier is ons keur van dié reekse wat jou gaan bekoor, inspireer en ontroer.

Meer

Wat om te kyk in 2025: Die 10 TV-reekse waarna ons die meeste uitsien

‘White Lotus’, ‘The Last of Us’, ‘The Handmaid’s Tale’ en nog keer met opvolgseisoene na die kassie terug, terwyl nuwe skeppings soos ‘Suits L.A.’, ‘The Pitt’ en ‘Zero Day’ – met Robert de Niro wat vir die eerste keer in sy loopbaan van nagenoeg ses dekades in ’n TV-reeks speel – ook wag. Daar is inderdaad baie, baie lekker televisie om na uit te sien in 2025.

Meer

Plaaslike stories kraai koning met kyksyfers op Showmax

Uit die tien reekse wat die meeste in 2024 op Showmax gestroom is, was nege plaaslike produksies met slegs HBO se epiese fantasiereeks, 'House of the Dragon', wat met Suid-Afrikaanse storievertellers kon meeding. 

Meer

Golden Globes 2025: Waar om vanjaar se wenners te stroom

Van die meesterlike en epiese historiese drama ‘Shõgun’ tot die vlymskerp komedie ‘Hacks’ – hier is waar jy die reekse en films wat vanjaar beeldjies by die Golden Globes ingepalm het, kan kyk.

Meer
Sien alle opsies