Menu terloops
In Sepies [23 Jun 2024]

Sepievoorskou: ’n Spook in ‘Arendsvlei’? En ou skelms weer lastig in ‘Suidooster’


Die meesterbrein agter elke dodgy deal in ‘Suidooster’ is besig met sy nuutste skelmstreke, terwyl spoke vir mense in die Vlei uit die bed jaag en tweede kanse nie ’n waarborg in ‘Binnelanders’ is nie. Hier is waarna kykers hierdie week (24 tot 28 Junie) op ‘Suidooster’, ‘Binnelanders’ en ‘Arendsvlei’ kan uitsien.

Deur Tarren-Lee Habelgaarn
Sepievoorskou: ’n Spook in ‘Arendsvlei’? En ou skelms weer lastig in ‘Suidooster’

Ons is nou meer as halfpad deur die jaar, so daai middel van die jaar-moegheid begin my nou goed tref. Maar in sepieland is daar nie tyd vir rus nie. Dit voel eintlik asof ons skrywers nou behoorlik spoed optel en voet in die hoek druk, want drama, romanse en rampokkery word tans teen F1-spoed uitgedeel. 

Suidooster 

Dinge in die Daniels-huis het nou amptelik kookpunt bereik en almal se verhoudings val uitmekaar uit. As Lee-Ann (Portia Joel) haar sin kon kry, het sy seker in haar pajamas met roomys en flieks in haar kamer weggekruip om haar man se dood in vrede te rou. Maar nou moet sy met Wade (Dean Smith) se inmengery en Carlo (Jayden Booysen) se tiener-rebellie opgeskeep sit en orals rond bel om die kind op te spoor.

Sy en Wade is ewe hardkoppig. Hulle sou vinnig kon uitvind waarheen Carlo verdwyn het as hulle net koppe bymekaar sou sit. Dinge is dalk op die oomblik ondraaglik, maar Carlo is ’n slim kind en met hierdie move van hom, mag hy dalk net sy familie red. 

Maar soms maak dit nie saak hoeveel kanse iemand kry nie, want Nazeem (Irvine van der Merwe) wil net nie saam met die gemeenskap werk nie. ’n Mens sou dink dat hy ná die hele Tim-debakel rigting sou kry, maar nee. Met Texas (Donovan Pietersen) aan sy kant, gaan Nazeem die mense van Ruiterbosch nog kaal uittrek! En nee, dit het niks met hul vuil wasgoed te doen nie. Ongelukkig vir Texas hou Riaan (Daniel Coetzee) sy lyf Sherlock Holmes met sy eie Watson, aka Bianca (Simone Biscombe), en dít dwing Texas en Nazeem om seker te maak dat hulle twee tree voor Riaan bly.  

Elana (Esther von Waltsleben) se “gawe” smokkel met Gary (Craig Adriaanse) se kop en lei tot ’n groot flater tussen hom en Angie (Char Carrie). Dit voordat Elana nuus ontvang wat haar loopbaan met die blare heeltemal laat ontspoor. Gelukkig vir ouboet Aiden (Theodore Jantjies) word daar op ’n heel ander manier met sy kop gesmokkel. Dís nou danksy Ruiterbosch se nuutste inwoner… 

Kyk Suidooster weeksdae om 18:00 op DStv-kanaal 144 (ook aanlyn op DStv Stream) of ná uitsending op Catch Up.

Arendsvlei 

Daar is niks soos ’n spook-sighting om dinge interessant te hou nie en dit is veral lekker as dit ’n paar van Hein (Merlin Balie) se beste one-liners oplewer. Ek het behoorlik gekraai van die lekkerte vir hierdie week se Arendsvlei-teks! Wat is ’n series-finale dan nou sonder ’n Lazarus-oomblik? Maar as jy iemand gaan terugbring beter dit ’n goeie karakter wees… En hierdie is beslis ’n epiese herrysing! Vir ’n beter vaarwel episode kon kykers nie gevra het nie.

Kry maar die tissues gereed, want dit is ALLES wat kykers nog ooit wou hê. 

Binnelanders 

Wat is beter as een power couple? Twee power couples, ’n siek eks, ’n tweeling sussie wat almal ongemaklik maak omdat sy soos haar letterlike evil twin lyk en  ’n nuwe stokperdjie vir Naomi (Je-ani Swiegelaar)!  

Dinge is nooit vervelig in die gange van Binneland-kliniek nie, maar op die oomblik word daar uitsluitlik gevry en bespiegel.

Steve (Clint Brink) en Nicolette (Kate Roothman) se verhouding is nog nie eens ’n week oud nie, maar met Bronwyn (Kim Cloete) wat skoknuus oor haar gesondheid ontvang en haarself in haar eks se huis bevind, is dit beslis ’n mood killer vir ’n nuwe verhouding. Nicolette gaan maar moet sterk wees… Of weg van Steve se scrubs af bly. 

Uys (Gerald Steyn) het meer as een meisie wat tans sy scrubs met hom wil deel… Maar vir hierdie once upon a time ladies man is Karen (Luandri Reynders) die enigste meisie op sy brein.

Naomi raak opgewonde oor ’n nuwe stokperdjie, maar luister nie na Louis (Germandt Geldenhuys) se bekommernisse nie. En dan doen sy iets wat haar hart dalk finaal kan breek. 

Binnelanders saai op weeksdae om 19:30 op kykNET (DStv-kanaal 144, ook op DStv Stream) uit. Episodes is ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Jou ‘Binnelanders’-kykgids vir Augustus 2026

Die waarheid oor ’n dokter lei tot ’n dramatiese wending en Joe is desperaat om vrae oor sy identiteit te beantwoord. Dít en nog meer is wat op ‘Binnelanders’-kykers vandeesmaand wag.

Meer

Jou ‘Diepe Waters’-kykgids vir Augustus 2026

Jacques en Theresa se groot dag breek aan, terwyl Karla en Arno nie tot ’n vergelyk kan kom nie. Hier is waarna 'Diepe Waters'-kykers in Augustus kan uitsien.

Meer

Jou ‘Suidooster’-kykgids vir Augustus 2026

Mike maak (weer) droog, Kaashifa vind iets skokkend uit en die Samsodiens sien rooi... Dít en nog meer is waarna ‘Suidooster’-kykers in Augustus kan uitsien.

Meer

Wat om te kyk: Moenie dié 6 stories in Julie misloop

Van ’n nuwe oes boere wat ’n liefdesmaat soek tot die senutergende aksie van die Wêreldsokkertoernooi-eindstryd – hier is ons keur van TV-hoogtepunte vir vandeesmaand.

Meer
Sien alle opsies