Wat om te kyk vandeesmaand – hier is my redakteurskeuse vir Julie 2023.
Neem asseblief kennis dat datums en titels moontlik kan verander.
Desert Rose S1
Binge die volle reeks vanaf 24 Julie 2023 op Showmax.
Desert Rose is ’n senutergende dramareeks wat om die Greyling-familie draai.
Dié reeks is deur die Reyka-skepper, Rohan Dickson, met onder andere die bekroonde Tinarie van Wyk-Loots, Amalia Uys, Ben Voss, Neil Sandilands en Kai Luke Brümmer in die rolverdeling.
Die Greyling-broers en -susters sukkel om klaar te kom in ’n stowwerige Noord-Kaap nadat hul pa, Freddie (Sandilands), diep in die skuld by die genadelose Eugene van As (Voss) beland en besluit om spore te maak. Van As sweer wraak en so begin die Greylings se stryd om oorlewing in erns.
Riëtte van der Wat het só in haar resensie oor dié plaaslike juweel geskryf:
“Die regisseur Cindy Lee skep ʼn ragfyn spanningslyn wat reeds in die openingstonele begin tril met die afwagting van onheil. Dit is in die intense sweet wat op die lywe van die karakters uitslaan; in die benouende donkerte van ʼn woonwa en in ʼn bottel suur melk as die voorloper van slegte nuus.”
Sweet Magnolias S3
Stroom vanaf 20 Julie op Netflix.
Sweet Magnolias is ’n romantiese dramareeks en gegrond op die gelyknamige boeke deur Sherryl Woods. Die storie volg drie vroue in South Carolina, beste vriende sedert hul kinderdae, soos hulle sin van die lewe probeer maak.
In die derde seisoen, kom die Magnolias teen nuwe uitdagings te staan as hartseer en familiedramas hul verhoudings op die proef stel.
Die reeks val in dieselfde sweet spot van kykvermaak as die uiters gewilde Virgin River – dis definitief nie die einde van die wêreld as jy een of twee episodes (of seisoene) misloop nie, maar dit het ook genoeg gravitas om dié spookasem na iets te laat proe… Sonder te veel inspanning van die kyker se kant af.
The Horror of Dolores Roach
Beskikbaar vanaf 7 Julie 2023 op Prime Video.
The Horror of Dolores Roach is gegrond op die gelyknamige treffer-podcast met die vertelling wat verloop soos ’n hedendaagse Sweeney Todd-geïnspireerde verhaal van liefde, verraad, dwelms, kannibalisme (!) en oorlewingsdrang. Kyk maar net die lokprent – net dit was genoeg om my behoorlik in te trek…
Die storie begin met Dolores Roach (Justina Machado) wat ná 16 jaar uit die tronk vrygelaat word en dan terugkeer na Washington Heights in Manhattan, New York. As sy dan weer paaie met ’n ou stoner-pel van haar kruis, Luis (Alejandro Hernandez van New Amsterdam), begin sy as ’n masseuse in die kelder onder sy klein hole-in-the-wall-eetplek werk. Maar dan gebeur iets wat haar dalk weer terug tronk toe kan stuur. “Magic Hands” Dolores word tot skokkende uiterstes gedryf om te oorleef.
Die storie het sy ontstaan as ’n eenvrou-toneelstuk, Empanada Loca, uit die pen van Aaron Mark gehad, wat ook die podcast geskep het. Mark is ook deel van die TV-verwerking se vervaardigingspan.
Yellowstone S1-5A
Binge vanaf 6 Julie 2023 op Showmax.
Yellowstone se dramatiese storielyne (dit word nie verniet as ’n hedendaagse Dallas beskryf nie…) hou amper nie eens kers vas by die drama wat agter die skerms afspeel nie – hoofsaaklik tussen die reeksskepper, Taylor Sheridan, en die star of the show, die bekroonde akteur Kevin Costner. (So stram is dinge, dat Costner dalk selfs nie vir die volgende seisoen gaan terugkeer nie…)
Costner het vanjaar die Golden Globe-toekenning vir beste akteur vir sy spel as die genadelose patriarg John Dutton in dié reeks gewen. As Dutton, ken hy geen perke as dit by sy plaas in Montana en sy nalatenskap kom nie – hy sal dit van enigiets en alles beskerm, hetsy teen sy vyande, die inheemse gemeenskappe wat glo dat hulle op die grond geregtig is, of ambisieuse eiendomsontwikkelaars.
Ook in die rolverdeling tel Luke Grimes, Kelly Reilly, Wes Bentley en Cole Hauser.
Die reeks het reeds verskeie spin-offs, waaronder die twee prequel-reekse, 1883 en 1923, wat op vorige generasies van die Dutton-familie en die Yellowstone Dutton Ranch, óftewel die Yellowstone van die titel, fokus.
Die neo-Western-agtige drama het ’n punt van 84% op die resensiewebwerf Rotten Tomatoes met Buzzfeed wat skryf dat dit “Amerika se belangrikste drama op die oomblik” is.
Somebody Somewhere S2
Stroom die tweede seisoen vanaf 10 Julie 2023 op Showmax. Die eerste seisoen is ook op Showmax beskikbaar.
Die komediant en sangeres Bridget Everett se spel as Sam in die eerste seisoen van Somebody Somewhere het só beïndruk dat sy onder meer vir ’n Independent Spirit-toekenning benoem is. The Wrap skryf: “Bridget Everett is ’n krag – en ’n stem – om mee rekening te hou.”
Die reeks, wat Everett (Unbelievable, Inside Amy Schumer) saam met die bekende storieskeppers, die Duplass-broers, vervaardig, is reeds vir ’n derde seisoen hernu.
Terwyl die eerste seisoen gesien het hoe Sam worstel met die verlies van haar suster – terwyl sy midde ’n midlife crisis of note verkeer het – het sy ook ’n klein gemeenskap van haar eie geskep met die terugkeer na haar tuisdorp. Sam het haar redding in sang en in hierdie groepie buitestaanders – wat soos sy nie in die “tradisionele” rolle in die samelewing inpas nie – gevind. In die tweede seisoen, het Sam en Joel (Jeff Hiller) saam ingetrek en Sam hou vol om haar (sang)stem te probeer vind.
Somebody Somewhere se tweede seisoen is deur Rolling Stone bestempel as “TV se soetste stukkie lewe” met The Daily Beast wat meen dit loop oor van “vertolkings wat jou hart sal breek én dit weer sal genees”.
Albei seisoene van die komedie-drama het ’n punt van 100% op die resensiewebwerf Rotten Tomatoes.
Nog aanbevelings
Kry Netflix met DStv
DStv-intekenare kan met die nuwe Explora Ultra toegang tot Netflix kry. Kry dit nou →