Wat om te kyk op TV en aanlyn te stroom hierdie week – hier is ons top-keuses.
Neem asseblief kennis dat datums en titels moontlik kan verander.
The Lincoln Lawyer S2, Deel 1
Vanaf Donderdag, 6 Julie 2023, op Netflix.
Ná sy groot sukses in die vorige seisoen is Mickey (Manuel Garcia-Rulfo) se regspraktyk – met hom wat meerderheid van sy werk van vanuit die agterste sitplek van sy Lincoln doen, eerder as sy kantoor – in hoë aanvraag. In die tweede seisoen kruis Mickey se paaie met dié van ’n vrou… wat dan sommer gou ’n kliënt word as sy van moord beskuldig word.
Dié reeks, een van Netflix se gewildste, is gegrond op die topverkoperboeke deur Michael Connelly. Die tweede seisoen is dan juis op die vierde boek van Connelly se The Lincoln Lawyer-reeks, The Fifth Witness, gegrond. Wat dalk ook bygedra het tot die reeks se sukses is dat die bekroonde veteraan TV-skepper, David E Kelley, ook hier as skepper dien. Kelley is bekend vir sy regsdramas, waaronder Boston Legal, The Practice, en Ally McBeal.
Ook onder die rolverdeling tel Neve Campbell, Becki Newton, Jazz Raycole en Angus Sampson.
Am I Being Unreasonable?
Vanaf Donderdag, 6 Julie 2023, op BritBox beskikbaar om te stroom.
The Telegraph gee dié komedieriller vyf sterre en skryf: “Am I Being Unreasonable? is miskien die mees eiesoortige reeks wat jy die hele jaar gaan sien, so gordel jouself vas en geniet die wilde rit.”
Die reeks draai veral om temas van obsessiewe vriendskap en paranoia, en wys – met vlymskerp humor – hoe vinnig ’n lewe kan verander – of selfs ontrafel.
Am I Being Unreasonable? is geskep en geskryf deur die real-life besties Selin Hizli en Daisy May Cooper. Cooper vertolk die rol van Nic, ’n voorstedelike ma wat in ’n groef vasgevang is en dan ’n sielsgenoot in Jen (Hizli) vind… maar Jen laat ook Nic se donkerste geheime na die oppervlak dobber…
Elders: Frankryk
Vanaf Maandag, 3 Julie 2023, om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144, ook aanlyn). Ook op Catch Up.
Elders is een van die lekkerste reisreekse op televisie – hoewel dít seker nie ’n genoegsame, omvattende beskrywing is nie. Met Elders is die bestemming slegs die beginpunt – wie en wat die skrywer en storieverteller Erns Grundling daar vind, is die vleis waaraan kykers smul.
In die sesde seisoen, Elders: Frankryk, gee Erns dan ’n voorskou op vanjaar se groot Rugbywêreldbekertoernooi se gasheerland. Die span gesels ook met Suid-Afrikaners wat in Frankryk woon – insluitend ’n klompie rugbyspelers.
Laataand by Rian
Vanaf Dinsdag, 4 Julie 2023, om 21:00 op kykNET (DStv-kanaal 144, ook aanlyn). Ook op Catch Up.
Van Wie Word ’n Miljoenêr tot Sex in Afrikaans – die gewilde TV-aanbieder Rian van Heerden het g’n brieke nie. Hy is hierdie week terug op kykNET met ’n nuwe geselsprogram – Laataand met Rian. Hierin gesels hy om ’n bord kos in sy eetplek, Delizioso, in Pretoria met nuusmakers en interessante mense wat hy op sy pad raakgeloop het.
Daar is twee gaste in elke episode en die tweede gas is altyd ’n verrassing vir die eerste gas. Die eerste gas is iemand wat in die nuus is, met die tweede gas wat iemand buitengewoon is met die doel om die gesprekke in ’n ligte trant te hou. Die eerste episode se gaste is Gayton McKenzie, leier van die Patriotic Alliance, en Boet Schoeman, ’n bekende mampoerstoker.
Fatal Seduction
Vanaf Vrydag, 7 Julie, op Netflix beskikbaar om te stroom.
Fatal Seduction is Netflix se nuutste plaaslike reeks.
Die verhaal ontvou as Nandi, vertolk deur Kgomotso Christopher (Isidingo, Scandal en Legacy), op ’n naweekwegbreek sonder haar man, Leonard (Thapelo Mokoena van onder meer Showmax se Pulse, Dominee Tienie en Trackers), gaan. Dis dan wat sy die begeerlike Jacob, vertolk deur die nuweling Prince Grootboom (Jiva!), ontmoet. Nandi kan Jacob nie weerstaan nie, maar vir Jacob is dié sekskapades a means to an end. Jacob is immers op ’n wraaktog…. Hy soek die waarheid oor wat agter sy familie se swaar lot lê en Nandi en Leonard blyk antwoorde te hê.
WHAM!
Vanaf Woensdag, 5 Julie 2023, op Netflix beskikbaar om te stroom.
In dié dokumentêre prent word die merkwaardige verhaal van George Michael en Andrew Ridgeley, se opkoms as die musiekduo Wham!, vertel. Deur argiefonderhoude en beeldmateriaal, herleef ons die grootste hoogtepunte van dié popikone wat in die 80s die musiekwêreld op sy kop gedraai het.
Hul storie as Wham! begin in 1982 toe dié twee beste vriende onderneem het om die musiekbedryf te laat les opsê. In dié dokkie vertel die duo, vir die eerste maal en in hul eie woorde, oor hoe hulle die vier jaar voor hul laaste optrede in Junie 1986, trefferlyste reg oor die wêreld met tydlose en klassieke popliedjies oorheers het. Dit was treffer ná treffer: “Club Tropicana”, “Wake Me Up Before You Go Go”, “Freedom”, “I’m Your Man”, en natuurlik, “Last Christmas”.
Buiten materiaal uit beide George en Andrew se persoonlike argiewe, is daar ook seldsame en openhartige onderhoude wat dan als tesame hul ongelooflike reis van skoolvriende tot supersterre uitlê..
Nog hoogtepunte op TV hierdie week:
Vanaf Maandag, 3 Julie 2023:
- Schumacher & Schumacher, Showmax
- Charlie’s Angels: Full Throttle, Showmax
- Hannes Aan Huis S7, Showmax
- Pursuit of a Killer, Showmax
Vanaf Dinsdag, 4 Julie 2023:
- The Suspect S1 om 22:00 op M-Net (DStv-kanaal 101, ook aanlyn)
- Tom Segura: Sledgehammer, Netflix
- The King Who Never Was, Netflix
Vanaf Woensdag, 5 Julie 2023:
- Back to 15 S2, Netflix
- My Happy Marriage, Netflix
- Record of Ragnarok: S2 Episodes 11-15, Netflix
Vanaf Donderdag, 6 Julie 2023:
- Deep Fake Love, Netflix
- Gold Brick, Netflix
- A Week in Paradise, Showmax
- Sniper, Showmax
- Spasie S2, Showmax
- Unhuman, Showmax
Vanaf Vrydag, 7 Julie 2023:
- The Horror of Dolores Roach, Prime Video
- Hack My Home, Netflix
- The Out-Laws, Netflix
- Seasons, Netflix
Nog aanbevelings
Kry Netflix met DStv
DStv-intekenare kan met die nuwe Explora Ultra toegang tot Netflix kry. Kry dit nou →