Menu terloops
In Redakteurskeuse [2 Des 2024]

Redakteurskeuse vir Desember 2024


Wat om te kyk: Die tweede seisoen van Netflix se rekordbreker-reeks, ‘Squid Game’; die Afrikaanse reeks ‘Spooksoeker’; en die skrywer Gabriel García Márquez se magnum opus, ‘One Hundred Years of Solitude’, wat in ’n uitsonderlike TV-reeks omskep is, tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Deur Rozanne Els
Redakteurskeuse vir Desember 2024

Wat om te kyk vandeesmaand – hier is my redakteurskeuse vir Desember 2024.

Neem asseblief kennis dat datums en titels moontlik kan verander.

Silwerskermfees 2024 kortfilms en -dokkies

Die Silwerskermfees het vanjaar weereens voortgebou op meer as ’n dekade se ontwikkelingsprojekte in die plaaslike filmbedryf met 14 kortfilms en vier dokumentêre kortes wat vir die fees geskep is. En dié kreatiewe oes is uiteindelik op Showmax beskikbaar om te stroom. 

Vanaf 6 Desember: 

Vanaf 11 Desember: 

Spooksoeker S1

Weeklikse episodes vanaf Donderdag, 5 Desember 2024, op Showmax. 

Spooksoeker is gegrond op die veelbekroonde skrywer François Bloemhof se topverkoperboeke vir jong volwassenes, en volg die storie van Warno Alberts (Rico Immelman), wat met sy vyftiende verjaardag skielik van spoke in sy dorpie bewus raak… En dan besef dat hy die een is wat van hulle moet ontslae raak. 

Zarelda de Bruin is te sien in haar eerste TV-rol as die girl-next-door Melissa, met Joshwin Dyson, wat met sy uithalerspel in Old Righteous Blues, beïndruk het, as Warno se beste vriend, Allies. Die res van die rolverdeling lees soos ’n droom: Roeline Daneel, Laudo Liebenberg, June van Merch, Morné Visser, Daneel van der Walt, David Isaacs, Deon Coetzee, Ira Blanckenberg, Ivan Zimmerman, Izel Bezuidenhout, Jane de Wet, Terence Bridgett, Marguerite van Eeden en Waldemar Schultz maak almal verskynings in die reeks – sommige as spoke…

Based on a True Story S2 

Vanaf 3 Desember 2024 op Showmax. 

Die tweede seisoen van Based on a True Story begin sowat drie maande ná Ava en Nathan Bartlett se babatjie gebore is. Ava (Kaley Cuoco, The Flight Attendant) probeer hard om nét op ma-wees en haar gesin te fokus, maar haar obsessie met ware misdaad eet aan haar… Dít terwyl geliewe Nathan (Chris Messina, The Mindy Project) private tennislesse gee. Maar dis nie lank nie of ’n nuwe rits moorde laat haar oë rek… Is reeksmoordenaar Matt (Tom Bateman) ook vir dié bloedspoor verantwoordelik? 

Kritici én gehore is vol lof vir die tweede seisoen met The Fiction Department wat dit as die “sweet centre of dark comedy” beskryf. 

Dis voluit (donker) pret.

One Hundred Years of Solitude

Redakteurskeuse, One Hundred Years of Solitude
Marco Antonio González as José Arcadio Buendía, Susana Morales as Úrsula Iguaran in Cien Años de Soledad, óftewel One Hundred Years of Solitude. Foto: Pablo Arellano/Netflix

Die reeks word in twee dele vrygestel, met Deel 1 wat vanaf 11 Desember 2024 op Netflix beskikbaar is.  

Dié reeks is gegrond op die gelyknamige 1967-boek en wenner van die 1982 Nobelprys vir Letterkunde deur die meesterlike skrywer Gabriel García Márquez. Dié boek word wyd beskou as ’n universele meesterstuk, is in meer as 40 tale beskikbaar, met meer as 50 miljoen eksemplare wat al verkoop is.

Die reeks volg dieselfde magiese realisme-trant van die boek en vertel oor José Arcadio Buendía en Úrsula Iguarán, ’n neef en nig, wat hul tuisdorp agterlaat en op ’n reis vertrek om ’n nuwe tuiste te vind. Hul avonture stuur uiteindelik af op die daarstelling van ’n utopiese stad wat hulle as Macondo doop. Dis in dié mitiese plek waar sewe generasies van die Buendía-lyn hul onvermydelike lot moet trotseer. 

Die reeks, bestaande uit 16 episodes, is in García Márquez se tuisland van Columbië, met die ondersteuning van sy familie, verfilm. 

No Good Deed

Redakteurskeuse No Good Deed, Netflix
Lisa Kudrow as Lydia en Ray Romano as Paul in die donker komedie No Good Deed. Foto: Foto: Saeed Adyani/Netflix

Vanaf 12 Desember 2024 op Netflix.  

As Lydia (Lisa Kudrow) en Paul (Ray Romano) besluit om hul pragtige Spaanse-styl villa in ’n gesogte Los Angeles-buurt te verkoop, ontstaan ’n frenetiese gejaag tussen drie uiteenlopende gesinne om dié huis te bekom. Al drie gesinne is vas oortuig dat dit hul droomhuis is – én die antwoord tot al hul probleme. Maar, soos Lydia en Paul kan getuig, selfs jou droomhuis kan ’n broeiplek vir nagmerries wees.  

No Good Deed is ’n donker komediereeks deur die storieskepper Liz Feldman (Dead to Me). Onder die rolverdeling tel ook Linda Cardellini, Abbi Jacobson, Denis Leary, Poppy Liu en Luke Wilson.

Squid Game S2

Vanaf 26 Desember 2024 op Netflix. 

Die eerste seisoen het die wêreld aan die brand gehad en drie jaar later is Player 456 terug en weer deel van dié oorlewingspeletjie. 

Die Emmy-bekroonde Hwang Dong-hyuk lei weer die reeks as regisseur, draaiboekskrywer, en vervaardiger. Lee Jung-jae, Lee Byung-hun, Wi Ha-jun, en Gong Yoo herleef hul rolle van die eerste seisoen. 

Nog voorstelle: 

30 Rock S1-7, vanaf 5 Desember op Showmax. Tina Fey as Liz Lemon is ’n geskenk aan die wêreld. En dat al sewe seisoene van dié komedie, wat draai om die agter-die-skerms-wêreld van ’n fiktiewe sketskomedie, op Showmax beskikbaar is, is ’n seëning van die TV-gode. Dié TV-goud het oor die verloop van sewe jaar tientalle toekennings gewen, waaronder 16 Emmy-toekennings (drie hiervan was vir beste komediereeks). Ook met Alec Baldwin, Tracy Morgan en Jane Krakowski. 

Somebody Somewhere S3, vanaf 20 Desember op Showmax. Die derde – en laaste – seisoen van dié HBO-komediereeks. Sam (Bridget Everett) moet die een verandering ná die ander trotseer. Al drie seisoene het ’n punt van 100% op die resensiewebwerf Rotten Tomatoes met Awards Watch wat meen die laaste seisoen vestig die reeks as een van die allerbestes van die afgelope dekade. 

The Sticky, vanaf 6 Desember op Prime Video. Dié reeks is gegrond op die ware verhaal van ’n taai middeljarige maple syrup-boer, Ruth Landry (die fenomenale Margo Martindale), wat haar na misdaad wend as dit blyk sy staan op die punt daarvan om als te verloor. 

The Sticky, redakteurskeuse
Guillaume Cyr en Chris Diamantopoulos in The Sticky. Foto: Verskaf

The Secret Lives of Animals, vanaf 18 Desember op Apple TV+. Dié besonderse tiendelige dokkiereeks is ’n visuele fees. Die beeldmateriaal sal jou na jou asem laat snak soos ons die briljante en kreatiewe maniere hoe diere uitdagings te bowe kom en die alledaags navigeer, waarneem. Die reeks, wat oor drie jaar gemaak is, lig 77 spesies in 24 lande uit. 

Redakteurskeuse
The Secret Lives of Animals se tien episodes bestaan werklik uit een aangrypende toneel ná die ander. Foto: VerskF

Fly me to the moon, vanaf 6 Desember op Apple TV+. Dié romantiese komedie, wat vroeër vanjaar in rolprentteaters gedraai het, speel af met die historiese Apollo 11-maanlanding in die agtergrond as ’n bemarkingsghoeroe (vertolk deur Scarlett Johansson) aangestel word om NASA se verpletterde openbare beeld te beredder en die landing se operasionele bestuurder (Channing Tatum) hande in die hare maak. 

Virgin River S6, vanaf 19 Desember op Netflix. Teen die agtergrond van Mel en Jack se troue wat op hande is, is daar heelwat kinkels, liefdesdriehoeke, geraamtes wat uit die kas uit spring, en troue-drama, in die sesde seisoen van dié gewilde reeks. 

Churchill at War, vanaf 4 Desember op Netflix. Vir die geskiedenisliefhebbers is dié meesleurende vierdelige dokkiereeks oor Winston Churchill se deurslaggewende rol in die Tweede Wêreldoorlog, net die ding. Die reeks maak gebruik van Churchill se eie woorde om sy oorlogstrategie en sy nalatenskap te ontleed. 

Rugged Rugby: Conquer or Die, vanaf 10 Desember op Netflix. ’n Hele ander rugbywêreld as dit waaraan ons gewoond is… In dié realiteitsreeks ding die sewe beste rugbyspanne in Korea teen mekaar mee met roerende stories oor die spelers wat deel van die vertelling uitmaak. 

My Brilliant Friend S4, vanaf 2 Desember op Showmax. Die vierde en laaste seisoen van dié heerlike reeks wat Elena Ferrante se topverkoper Neapolitan-boeke vir die TV-skerm vertaal het. BBC.com bestempel dit as “een van die beste reekse op televisie.”

White Lies S1, vanaf Maandag 23 Desember op Showmax. M-Net se trefferreeks met Natalie Dormer (Margaery Tyrell in Game of Thrones) in die hoofrol as Edie, ’n ondersoekende joernalis, begin met haar vervreemde broer se moord… En dan word sy tienerkinders van dié grudaad verdink.


Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

‘Kokkedoor Vuur & Vlam’: Vonke spat tydens semifinaal… en kelder toe dié twee braaiers

’n Fynproewersdis, ’n lang resep en kreatiewe verskille het daartoe gelei dat twee van kykers se gunsteling-deelnemers op 'Kokkedoor Vuur & Vlam' hul voorskote moes ophang.

Meer

‘Adolescence’ is noodsaaklike kykstof om samelewing aan skouers te skud

Die Britse reeks 'Adolescence', oor ’n dertienjarige seun wat ’n klasmaat doodsteek, behoort verpligte kykstof vir ouers en kinders en by skole te wees. Dit is ’n wekroep vir ’n samelewing wat besig is om kinders in die steek te laat.

Meer

The Handmaid’s Tale S1-6

Op Showmax

Blessed be! Seisoen vyf tel op nadat June wraak teen haar ontvoerder, teisteraar en verkragter, bevelvoerder Fred Waterford, geneem en hom met haar kaal hande uitmekaar geskeur het.
Meer

The Last of Us S1-2

Op Showmax

Die tweede seisoen van ‘The Last of Us’ begin vyf jaar ná Joel (Pedro Pascal) se onlosmaaklike leuen aan Ellie (Bella Ramsey).
Meer

Jy sal hou van:

21

21+ Afrikaanse flieks wat jy nou aanlyn kan kyk

Op soek na jou volgende gunsteling-fliek? Hier is van die gewildste Afrikaanse flieks op Showmax – van 'Hans steek die Rubicon oor' tot 'Eksie Perfeksie'.

Meer
26

‘G20’, ‘1923’, ‘One Piece’ en nog: 20+ TV-reekse en flieks wat in SA geskiet is

Van 'One Piece', een van Netflix se reekse met die meeste kykertalle in 2023, tot die nuwe fliek 'G20' met die Oscar-bekroonde Viola Davis – hier is ’n lys van internasionale produksies wat of gedeeltelik, of heeltemal in Suid-Afrika verfilm is.

Meer

Jou ‘Reënboogrant’-kykgids vir April 2025

Shani is opgewonde oor haar oudisie, maar Rachelle het slinkse planne vir haar... Dít terwyl Sunette met haar gesondheid sukkel. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse telenovela, ‘Reënboogrant’, kan verwag.

Meer

Redakteurskeuse vir April 2025: Koebaai aan June en Joe in ‘The Handmaid’s Tale’, ‘You’

Wat om te kyk: Dis koebaai-tyd met die finale seisoene van die fenomeen-reekse ‘The Handmaid’s Tale’ en ‘You’; Pedro Pascal is terug vir S2 van ‘The Last of Us’; en Afrikaans se wortels word ondersoek in ’n nuwe dokkiereeks – dié stories en meer tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer
Sien alle opsies