Menu terloops
In Silwerskermfees [1 Jul 2024]

‘Deuntjie’ is ’n maltrap-eerste vir die Silwerskermfees


Daar is geen keer aan Adri Britz se entoesiasme rondom die kreatiewe wêreld waarin sy haar bevind nie – daarvan getuig haar musikale komedie, ‘Deuntjie’, wat vanjaar by die Silwerskermfees bekend gestel word.

Deur Annelene Oberholzer
‘Deuntjie’ is ’n maltrap-eerste vir die Silwerskermfees
Kyk lokprent

Adri Britz, onder meer bekend vir haar werk as regisseur op Dina Dagbreek en Ink, se Deuntjie is die Silwerskermfees se heel eerste musikale komedie en vorm deel van die Shotgun-kortfilmkategorie. Dié kategorie is vir gevestigde filmmakers wat hul slag met ’n kortfilm wys.

Deuntjie
Deuntjie is die Silwerskermfees se eerste musikale komedie. Foto: Verskaf

Deuntjie bring daai klein stemmetjie wat ons almal in ons kop het, onder die loep. In die geval van Deuntjie (Anja Taljaard), ’n skaam, pligsgetroue meisie, heet daai stemmetjie Vera (Daneel van der Walt), ’n groot diva met twee flambojante backing vocals, Moses en Jacob. Hulle sing en smokkel met arme Deuntjie se kop. Alles begin handuit ruk as Deuntjie nie meer kan onderskei tussen realiteit en die stemme in haar kop nie.

Adri het meer oor haar kortfilm vertel.

Jy het ongelooflik baie ondervinding met soveel verskillende aspekte van die vermaaklikheidswêreld. Wat het jou genoop om vir die Shotgun-kortfilms in te skryf?

“Ek het besluit, “Hoekom nie?” en ek het toe ’n konsep vir Deuntjie ingestuur. Maar ek het al voorheen ’n storiefilm gemaak en die regie van Dina Dagbreek behartig en ek kon dus nie as ’n nuwe filmmaker vir daardie kategorie van die Silwerskermfees inskryf nie. Maar toe noem hulle die moontlikheid van die Shotgun-kortfilmkategorie.

“Ek is baie dankbaar dat dit gebeur het. Deuntjie is so uit die boks uit en ook iets heeltemal anders met die musiek daarby. Deuntjie is ook die heel eerste musikale komedie in die geskiedenis van die Silwerskermfees. Hiermee wou ek net iets anders doen, en ek hou daarvan om goed in teenstelling met mekaar te plaas. Soos met Deuntjie (Anja Taljaard) en Vera (Daneel van der Walt). ’n Mens verwag amper dat die stemmetjie in die skaam en teruggetrokke Deuntjie se kop klink soos ’n tannetjie wat brei, maar Vera is eerder ’n massiewe diva met baie selfvertroue. Ek wou wys hoe elkeen van ons daardie selfvertroue van Vera in ons het, maar die keuse lê by jou of jy dit glo of nie.

“Vandaar die worsteling met my eie stemmetjie, al het sy nie ’n naam nie. Ek moes ook met haar stoei oor hoe kykers Deuntjie gaan ervaar.”

Wat is die boodskap wat jy graag by die kyker wil tuisbring?

“Vir my gaan dit daaroor dat jy jou eie stem en eiewaarde deur komedie en musiek vind. Dit is ’n genre wat oor verskeie fasette beskik en baie films bied deesdae ruimte vir al daardie fasette.”

Die produksie het binne ’n kort tyd geskied. Wat was die grootste uitdagings wat jy te bowe moes kom om dit betyds te kon afhandel?

“Ek het vier dae gehad om Deuntjie te skiet. Begrotings bied altyd uitdagings. Maar ja, tyd was beslis die moelikste een. Daarmee saam ook die musikale element. Liedjies en die lirieke kan tot drie bladsye beslaan. In ’n toneel met twee mense kan dit binne twee uur afgehandel word. Met musiek is dit nie so maklik nie. Daar is repetisies en voorafopnames en dan bevind die akteurs hulle skielik voor die kameras vir ’n regstreekse vertoning. Wat gewoonlik twee minute sou neem, kan maklik oor vyf ure strek. Dan is daar die verhoogbeligting wat by die musiek moet inpas, blocking wat vir die verhoog én die kamera beplan moet word, elke beweging wat op die beat moet bly, en, o ja, moenie vergeet om te sing nie!”

Wat weet mense dalk nie van die twee hoofakteurs in Deuntjie nie?

“Wat min mense waarskynlik weet, is dat ek en Daneel destyds saam op skool was by Pro Arte Alphen Park en daar ons eie a capella-groep begin het, The Rustic Divas. Om haar te hoor sing, is ’n groot ding en ek wou vir mense wys hoe veelsydig sy as ’n akteur is … En daai stem!

Anja Taljaard en Daneel van der Walt in Deuntjie.
Anja Taljaard en Daneel van der Walt in Deuntjie. Foto: Verskaf

“Anja Taljaard het my van die begin af net weggeblaas met haar talent. Sy het oorspronklik ’n oudisie afgelê vir die rol van Claudia, maar toe ek haar sien en hoor, toe bied ek haar die rol van Deuntjie aan. Sy is verskriklik talentvol.”

Is daar van die karakters met wie jy identifiseer?

“Dit was noodsaaklik vir my om met die karakters te identifiseer – en ek doen dit met beide Deuntjie en Vera. Ek is ’n ekstroverte introvert. Wanneer ek sosiaal verkeer, is ek baie soos Vera, maar tuis is ek Deuntjie … Los my net ’n bietjie uit!”

Vanwaar jou liefde vir musikale films?

“Ek het musiekteater ná skool gaan swot en partykeer kom musicals net so onrealisties voor. Ek het net nie genoeg tyd en geld tot my beskikking gehad om mense op karre te laat dans nie, maar ek wil musicals weer cool maak met crazy musikale elemente, veral in Afrikaans. Daar moenie net mooi lirieke wees nie. Die musiek moet soos dialoog wees, natuurlik en toeganklik. Die lirieke en die karakters sal dit dryf.”


Koop kaartjies vir die 2024 Silwerskermfees op Quicket. Vanjaar se fees loop van 28 tot 31 Augustus 2024.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Redakteurskeuse vir Februarie 2025

Wat om te kyk: Die popkultuur-fenomeen ‘White Lotus’ keer terug vir ’n derde seisoen, ‘Suits’ se spin-off, ‘Suits L.A.’, maak sy debuut, en Kate Hudson is in haar element in die nuwe Mindy Kaling-komedie, ‘Running Point’ – hierdie stories tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer

Jou telenovela-gids vir Februarie 2025: Ontvoerings en opskuddings in ‘My naam is Farah’

Tahir neem sake in eie hande en Farah sal enigiets doen om haar ma te red. Dít en nog meer wag op ‘My naam is Farah’-kykers in Februarie. Hier is ons handige kykgids.

Meer

‘Suidooster’: Kyk uit vir dié 5 storielyn-kinkels in Februarie

Dié ‘Suidooster’ kom in Februarie nie saggies teen die hange van die berg af nie… Hier is vyf storielyne wat ‘Suidooster’-kykers in die maand van die liefde hul naels behoorlik gaan laat kou.

Meer

Jou kykgids vir ‘Kokkedoor Vuur & Vlam’ se tweede seisoen

In die tweede seisoen van die kykNET-kosreeks 'Kokkedoor Vuur & Vlam' is die bekroonde sjef Bertus Basson en braaighoeroe Kobus Botha weer op soek na die perfekte kombinasie van ’n onthoubraaier en kinkelbraaier. Hier is waarna kykers oor die loop van die tweede seisoen se 13 episodes kan uitsien.

Meer
Sien alle opsies