Menu terloops
Editor's Pick of the Month
In Redakteurskeuse [5 Aug 2024]

Redakteurskeuse vir Augustus 2024: ’n ‘Eksie Perfeksie’-romkom, beste seisoen nog van ‘Fargo’, en meer


Wat om te kyk: Die tweede seisoen van die epiese TV-vertelling van ‘Lord of the Rings’, heerlike humor in ‘JACKPOT!’, die Afrikaanse romkom, ‘Eksie Perfeksie’ en die ongelooflike historiese drama, ‘The Tattooist of Auschwitz’, tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Deur Rozanne Els
Redakteurskeuse vir Augustus 2024: ’n ‘Eksie Perfeksie’-romkom,  beste seisoen nog van ‘Fargo’, en meer

Wat om te kyk vandeesmaand – hier is my redakteurskeuse vir Augustus 2024.

Neem asseblief kennis dat datums en titels moontlik kan verander.

The Tattooist of Auschwitz

The Tattooist of Auschwitz saai op Woensdae, vanaf 28 Augustus, om 21:00 op M-Net (DStv-kanaal 101 en DStv Stream) uit. Die reeks is ook op Showmax beskikbaar met nuwe episodes op Donderdae vanaf 29 Augustus. 

Dié roerende reeks is gegrond op die topverkoper boek deur Heather Morris en geïnspireer deur die ware verhaal van die Holocaust-oorlewendes, Lali en Gita Sokolov. 

Redakteurskeuse WAT OM TE KYK
Jonah Hauer-King as Lali, Anna Próchniak as Gita in The Tattooist of Auschwitz. Foto: Skermgreep

Die sesdelige historiese dramareeks vertel oor Lali (Jonah Hauer-King van World on Fire) wat met sy aankoms in Auschwitz-Birkenau in 1942 verplig word om ID-nommers op sy mede-gevangenes se arms te tatoe. Op ’n dag ontmoet hy dan vir Gita (Anna Próchniak) as hy ook haar nommer met ink moet verewig. Ten spyte van die haglike onmenslikheid van hul omstandighede raak die twee verlief en albei is vasbeslote om die ander te help oorleef. 60 jaar later ontmoet Lali (Harvey Keitel), wat onlangs ’n wewenaar geword het, vir die skrywer Heather Morris (Melanie Lynskey, Yellowjackets) en besluit om hul storie met haar te deel.

Eksie Perfeksie

Vanaf 9 Augustus 2024 op Showmax beskikbaar om te stroom. 

In die Showmax Original raunchcom, Eksie Perfeksie, vertolk Pietie Beyers (Pronk Primêr, Die Onderonsie, Getroud met Rugby) die rol van André, wat by sy nuwe meisie intrek sonder dat hulle mekaar rêrig ken. Dan vind hy uit dat sy steeds vriende met al haar eks-kêrels is… André is geïntimideer deur hul teenwoordigheid, maar besluit om nietemin dié lot te bevriend… Net om te ontdek dat al Dalene se verhoudings dieselfde patroon volg. Ook met Emma van Heyn, Bobby van Jaarsveld, Cindy Swanepoel en Maude Sandham in die rolverdeling.

JACKPOT!

Vanaf 15 Augustus 2024 op Prime Video.

Die Bridesmaids-regisseur en skepper van die destydse kultusreeks Freaks and Geeks, Paul Feig, se nuutste rolprent is ’n aksiekomedie met ’n heerlike (onwaarskynlike) duo – John Cena en Awkwafina – in die hoofrolle. Die storie speel in die nabye toekoms af waar die groot lotery effens anders as hier by ons verloop… Sien, die wenner kan ’n prys van miljarde dollars opeis, maar moet eers tot sononder oorleef. As Katie (Awkwafina) dan die wenkaartjie kry, snoer sy kragte saam met ene Noel Cassidy (Cena), ’n lotto-lyfwag of sorts, wat haar die dag moet help oorleef as hy ook in die prysgeld wil deel

Lord of the Rings: Rings of Power S2

Vanaf 29 Augustus op Prime Video. 

In die tweede seisoen van The Lord of the Rings: The Rings of Power, word ons met Sauron se terugkeer gekonfronteer. Maar, al het Galadriel hom uitgedryf, is daar steeds geen keer aan sy boosheid nie. Hy is steeds vasbeslote om die Rings of Power te skep – dit sal hom immers die mag gee om almal in Middle-earth tot sy wil te bind. 

Dié seisoen bou voort op die epiese omvang van die vertelling en speel af duisende jare voor die gebeure in J.R.R. Tolkien se The Hobbit, asook The Lord of the Rings-boeke. 

Die eerste seisoen is deur meer as 100 miljoen mense wêreldwyd gekyk – meer as 32 miljard minute van die reeks.

Fargo S5

Fargo, redakteurskeuse, wat om te kyk
Jon Hamm as Roy Tillman in Fargo se vyfde seisoen. Foto: Michelle Faye/FX

Binge vanaf 13 Augustus op Showmax. 

Die vorige vier seisoene van Fargo het altesame ses Emmy-toekennings gewen, met die fliek wat die reeks geïnspireer het, wat twee Oscars gewen het. 

Dié aflewering van die misdaad-anthology word egter wyd as die beste nog beskou – daarvan getuig nie net sy 15 Emmy-benoemings nie, waaronder vir beste regisseur vir die skepper Noah Hawley, maar ook die 93%-punt op die resensiewebwerf Rotten Tomatoes. 

Die vyfde seisoen se storie speel in 2019 af, met die huisvrou Dorothy ‘Dot’ Lyon wat haarself in die moeilikheid met die gereg bevind as haar verlede by haar kom spook. 

Juno Temple (Ted Lasso) speel Dot, met Jon Hamm (Mad Men) as die sheriff wat al vir jare op haar spoor is. Albei is vir Emmys vir hul vertolkings benoem. Só ook New Girl se Lamorne Morris as beste byspeler.

Worst Ex Ever

Vanaf 14 Augustus op Netflix.

Van moordkomplotte tot verraad wat jou laat sidder – dié ware misdaaddokumentêr ontleed die donkerste donker van die liefde. Die vierdelige reeks volg op die dokkiereeks Worst Roommate Ever, ook op Netflix, en is op ’n soortgelyke wyse saamgestel. ’n Resep wat skokkende stories oor geweld, moord, bedrog, en verraad in die giftigste verhoudings wat jy jou kan indink, vertel.

En nog ’n paar voorstelle: 

  • Outside Lane, vanaf 15 Augustus op M-Net (DStv-kanaal 101 en DStv Stream). Dié vierdelige dokumentêr gee ’n agter die skerms-blik op Suid-Afrika se mededingende swemwêreld
  • Bad Monkey, vanaf 14 Augustus op Apple TV. Bad Monkey vertel die storie van Andrew Yancy (Vince Vaughn), wat sy werk as polisieman in Miami verloor en as ’n gesondheidinspekteur moet begin werk. Dan hoor hy van ’n ondersoek wat hom dalk weer sy ou werk kan terugbesorg… As hy dit oplos.
  • Emily in Paris S4, deel 1, vanaf 15 Augustus op Netflix. Dinge is Morsig met ’n hoofletter in Emily (Lily Collins) se lewe. Nie net het sy Alfie se hart gebreek nie, maar dinge by die werk loop ook skeef. Dié seisoen is in tweede dele verdeel.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Silwerskermfees 2024: Waar en wanneer om vanjaar se kortfilms die week op TV te kyk

Vanjaar se Silwerskermfees het weereens voortgebou op meer as ’n dekade se ontwikkelingsprojekte in die plaaslike filmbedryf – en die eerste sarsie stories word hierdie Saterdagaand, 7 September 2024, op kykNET uitgesaai.

Meer

‘Wyfie’: Jou kykgids vir September 2024

Amanda kom voor moeilike besluite te staan en Kyla is in ’n desperate situasie verstrengel. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer
12

12 klassieke chick flicks en reekse om te kyk

Gryp die popcorn en rosé en kyk ’n paar van die mees ikoniese chick flicks en reekse wat ons oor die jare vermaak en geïnspireer het. Of jy nou lus is vir ’n lekker romcom, ’n hoërskooldrama, of ’n feel good-reeks, hierdie lys van 12 throwback-juwele is beskikbaar op jou gunsteling-stromingsplatforms.

Meer

Redakteurskeuse vir Augustus 2024: ’n ‘Eksie Perfeksie’-romkom, beste seisoen nog van ‘Fargo’, en meer

Wat om te kyk: Die tweede seisoen van die epiese TV-vertelling van 'Lord of the Rings', heerlike humor in 'JACKPOT!', die Afrikaanse romkom, 'Eksie Perfeksie' en die ongelooflike historiese drama, 'The Tattooist of Auschwitz', tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer
Sien alle opsies