Wat sou die wêreld wees sonder die egos van bloeddorstige magjagters? Ons sal sekerlik nooit weet nie – ’n jammerte – maar gedurig deur die loop van die eerste vier episodes van House of the Dragon se tweede seisoen, word dié oeragtige gesmag na heerskappy bevraagteken. Dis nie ’n onbekende tema in George R.R. Martin se wêreld van drake, strategiese bondgenootskappe, tydelike lojaliteite, verspilde bloed, bloedskande en slinkse slange (dalk eerder rotte hierdie seisoen) nie. Trouens, reeds in die eerste seisoen se loodsepisode herinner Ser Otto Highwater (Rhys Ifans) vir koning Viserys I (Paddy Considine) dat, “The gods have yet to make the man who lacks the patience for absolute power.” (Lees ook ons resensie van seisoen een.)
’n Prins en ’n ma se rou
’n Mens sou kon sê dat die nuwe seisoen begin met twee verskillende kampe Targaryens wat aanspraak maak op die kroon. Aan die een kant is daar die regmatige erfgenaam, Rhaenyra (Emma D’Arcy), en aan die ander is daar haar bespotte bedorwe halfbroer, Aegon (Tom Glynn-Carney). Die nuwe seisoen begin egter, sou ek sê, in die laaste asemteug van Rhaenyra se seun, Lucerys (Elliot Grihault), in die slotepisode van seisoen een.
Dis dié prins se dood, in die kloue en kieste van Aemond (Ewan Mitchell) se draak, Vhagar, wat dan die hartklop van die tweede seisoen word. (Of minstens in die vier episodes wat aan resensente vooraf beskikbaar gestel is.) Of die verwysings wat volg direk of indirek is – ons is terdeë bewus van wat Lucerys se dood ontsluit. Die onteensaglikste hiervan is Rhaenyra se tasbare rou. Koningin ja, maar ook net ’n ma. ’n Ma wat naarstigtelik na enige verskroeide oorblyfsels van haar kind soek.
D’Arcy speel met intense gevoel, gereeld in stilligheid, sekuur. As sy buite haar onmiddellike speelruimte beweeg, word haar ongelooflike begrip vir ’n toneel se emosionele frekwensie duidelik. Sy speel op so ’n manier dat ’n mens nie ’n beter vertolking sou kan indink nie. Dis presies reg. In die kol. En dít lê dan ook die grondslag vir die kyker om ten gunste van haar veldtog te wees.
Kil kontras
Waar Rhaenyra se menslikheid en haar onbetwisbare liefde en sorg vir haar kinders voorop gestel word, is die kilheid van haar teenstanders dan in skerp kontras. Selfs haar man/oom, Daemon Targaryen (Matt Smith) is onverwags bedees. Sy skouspelagtige wreedheid wriemel onder sy vel – maar net vir nou. Net. Vir. Nou.
Mitchell se een-oog prins Aemond, ook bekend as die “kinslayer”, herinner aan die meer gruwelike sy van ’n jonger Daemon, die Daemon van die eerste seisoen. Daar is ’n sinistere onheilspellendheid wat in sy een oog flikker; sy mondhoeke gekrul in ’n geëtste grinnik; sy lyf lui en oorgemaklik as hy na sy broer, Aegon, se halfgebakte plannetjies luister – en dan ondeund ondermyn. Aegon, op sy beurt, is ’n lastigheid wat nie kan dommer nie.
Dan is daar natuurlik hul ma, Alicent Hightower, Rhaenyra se eertydse beste vriendin en later koning Viserys se tweede vrou tot sy dood. Olivia Cooke is meesleurend in die skoene van ’n vrou wie se hardkoppigheid almal duur te staan kom. Beide Cooke en D’Arcy se innerlike wroegings is diep in hul wese vasgeboei, van beide kan jy nie jou oë hou nie. Saam skep hulle dan ’n toneel in episode drie wat afspeel as ’n oorlog in die kleine, ’n bloedlose, angsjaende oorlog van woorde wat onherroeplike, verreikende gevolge het.
Meer, meer en meer
Ten spyte van verskeie aangrypende, grusame en afstootlike gebeure wat in die eerste vier episodes afspeel, bly dit more-ish in die sin dat jy as kyker stééds meer wil hê. Nie omdat dit tekort skiet nie – inteendeel. Omdat ons reeds meer gekry het as wat ons stoutste verwagtinge kon optower. Ek moes omtrent my lewe wegteken om HBO daarvan te verseker dat hierdie resensie spoiler-free sal wees, maar die grootste verrassing vir my was eerder dat dié seisoen sover ’n aansienlike verbetering op die eerste seisoen is.
Die gejaagdheid van die eerste seisoen – waarin etlike jare sommer tussen episodes oorgeslaan is en die vertellers soveel agtergrond in elke minuut ingeprop het dat ’n mens skaars die karakters se name of persoonlikhede van mekaar kon onderskei – is getem tot ’n doelgerigte pas. Met agtergrond geskep en die storie op dreef, is die tweede seisoen se narratiewe fokus onder meer op die baie spesifieke dryfkragte agter die verskillende karakters se magstryd gerig – vir ’n kroon of troon, al dan nie.
Veerpenne of swaarde
Hoewel beide kante voorstanders van “kraaie en veerpenne” het – Rhaenyra vanuit Dragonstone en Alicent vanuit King’s Landing beywer hulle vir geduld en omsigtigheid om só ’n volskaalse oorlog te vermy – is hulle omring deur mans wat wil slagvelde toe. Daai bloeddorstige magjagters mos…
Waarskuwings van Rhaenys Targaryen (’n briljante Eve Best), Rhaenyra se tante en raadgewer, dat “There is no war so hateful to the gods as a war between kin. And no war so bloody as a war between dragons,” val op dowe ore.
Teen episode vier is die reeks oortuigend in gedaante as ’n omvangryke, grootse, en indrukwekkende tragedie; ’n storie wat oor middelmatigheid bokspring na die kategorie waar dit hoort: epiese televisie.
Kyk House of the Dragon vanaf 17 Junie op Showmax en M-Net (DStv-kanaal 101 en DStv Stream). Dié reeks word dieselfde tyd as in die VSA uitgesaai, maar as jy dit nie 03:00 wil kyk nie, kan jy ook 21:00 op M-Net inskakel of op Showmax stroom.