’n Patroon begin ontwikkel in hierdie seisoen van Real Housewives van die Wynlande: dis een of ander mal-makende brei- of hekelpatroon met menigte knit one, slip one-episodes. Hierdie episode is meer druiwesap as wyn. Of soos ’n predikant wat in die sitkamer kom sit en net mooi niks van regte waarde sê nie. Anita se opsomming van die TikTok-gedoente is dan ook die deurlopende tema van dié episode: “Dis boring, ek is bored!”
Hoe lank moet ons nog cheers op die vervelige mini-opsommings en geteem van die vorige episode se climax? Enige huisvrou wat hul sous werd is, sal wil voortbou op ’n lekker stukkie laken-karate, maar nee. Hier sit ons weer en raak dronk geluister na hoe elkeen die vorige episode se catfights interpret… En dan wat elkeen dink gedoen moet word om die spanning tussen Mariska en Karen te verlig.
Verlos ons eerder van die alewige gekla en gekners van tande van ou koeie uit die sloot grawe! My idee? Sit elkeen in ’n time out-hoekie soos stout kleuters. Laat hulle net toe om weer saam te speel as hulle hulself kan gedra. Of kry daai Britse vrou wat al vir jare ’n nanny is om die twee stout dogtertjies uit te sorteer in haar realiteitsreeks (Supernanny) – en kry klaar daarmee. (Nota aan die producers: as julle daai idee gebruik, sal ek ’n tantieme of twee benodig!)
Pofadders en ’n kas vol poeiers
Die Engelse of die Amerikaners praat altyd van “keep your friends close, but your enemies closer” – maar wat sê hulle van ’n frenemy?
Michelle ontbloot haarself as ’n pofadder wat nie kan wag om haarself op te tof nie. Dít ten spyte van die feit dat sy ’n kas vol poeiers, rome en inspuitings het om te gebruik! In ’n poging tot oorlewing spoeg dié gedokterde dokter haar gif baie nonchalant na Survivor South Africa 8 se wenner (en deesdae social media influencer) Nicole Wilmans, as die prettige blonde poppie (met die spierwitse tande!) haar kom help met ’n idee vir ’n TikTok vir die dames. Michelle beskryf elke dame (skiesie, ek bedoel “vriendin”) met genoeg bitsige bybedoelings om The Golden Girls na ’n kindertuinkonsert te laat lyk. Sjoe, but tell us how you really feel, Michelle! Wonder nogal hoe elkeen van haar nuwe “vriendinne” gaan voel oor wat sy te sê het ná dié episode…
Michelle, wat ’n self-erkende TikTok-verslaafde (of is dit nou ’n los tokkelos?) is, behoort te weet dat TikTok-gebruikers nou nie juis op en af gaan spring van excitement (soos sy!) oor die vooruitsig om ’n klomp uneducated boomers, millennials en xenials se effort te sien nie. En effort is dit, want niemand speel eintlik saam nie (we are looking at you Anita and Karen!). Die lacklustre belangstelling is so prominent soos ’n Halloween-mombakkie by ’n kerkbasaar. Die feit dat dit amper ’n hele middag en aand neem om iets aanmekaar te sit wat ’n gemiddelde Gen Z-gebruiker in 15 minute kan doen, is verregaande!

Waar’s die drama?
Skoenmakers, hou julle liefs by jul lees! (Of is dit nou kurkmakers, hou julle by jul prop?) Dié dames is uitgeknip vir catfights and champers, red carpets and redder faces. Duidelik nie vir transition-dansies en tomfoolery nie. Alhoewel dit lyk asof Michelle se problematic picnic by Blaauwklippen tog ’n bietjie pret kon wees, is hierdie oog van die storm (van verlede week) ’n uiterste beproewing vir die plebs by die huis. Waar’s die drama? Moet ons regtig sit en kyk hoe FORMIDABELE vrouens misluk met ’n takie wat een van hul kinders (of katte-kinders) in ’n japtrap sou kon regkry? Moes die beloofde prag en praal nou plek maak vir delinquent behavior om te verseker dat Michelle ’n hupstoot op haar sosiale media kan kry?
Misbruik Michelle die vrouens om haar eie fame na te jaag? Dis baie duidelik dat die dokter graag permanente huisbesoeke wil doen via ’n TV-program van haar eie. Sy het dit mos nou al ’n paar keer genoem. We get it: jy wil famous wees! Een van die dae pryk haar gesiggie op die voorblad van die Huisgenoot, soos wat elkeen van die dames seker hul fifteen minutes of fame sal kry op die volk se bybel, maar om jou nuutgevonde maats te laat lyk soos ’n klomp suurknolle is dalk nou nie die manier om dit reg te kry nie.
Suurknolle en STI-toetse
Gepraat van suurknolle: is Karen besig om haar varkies op kamera te verloor? Die hoofmeisie-mentaliteit het hierdie week plek gemaak vir ’n supernatural sniksessie, met die aankoms van die diere-psychic Theresa. Dié probeer vir Karen uitwys wie van Grace of Arabella (haar pantoffel-grootte bestrikte lawaaimaker-handsakbewoners) die verkleurmannetjie-moordenaar is. In die sessie kry Karen weer tyd om oor die vorige vark in haar verhaal te teem. Die hartseer lê weer vlak in haar oë as sy verduidelik hoe sy haarself in die aande aan die slaap huil.
Geen wonder een van die hondjies het verkleurmannetjie-bloed gesoek nie. Dis darem maar baie hartseer as jy die hele tyd sad is oor ’n sogenaamde verneuker wat nou uit jou lewe is… Come nou, girl! Ja, dis nie lekker om te skei nie, maar is dit nie beter om jou eie wonderlike lewe te leef in harmonie as om die hele tyd te moet sit en worry of jy ’n draai by ‘n kliniek moet gaan maak vir ’n STI-toets nie?
Lag ’n slag

Karen kan beslis leer by vriendin Amy: lag eerder oor alles, maak nie saak of dit jou eintlik bedonnerd maak nie. Want kyk, Amy het ’n aansteeklike laggie. As iemand wat al haar merk gemaak het in die media-landskap en beauty queen world is dit baie inspiring om te sien hoe Amy plofbare situasies hanteer – met ’n perfek ge-oefende smile en ’n lag wat so diep uit haar maag kom dat jy vergeet dit is eintlik so bietjie van ’n snork-lag!
Sy moet maar die vredemaker-pakkie van haar uittrek en ophang. Dit lyk nie asof Karen en Mariska gou om dieselfde bosveldvuur gaan sit nie… Alhoewel haar efforts valiant is, is die lewe net te kort om brûe te probeer bou waar daai brug nie behoue gaan bly nie. Lady Di het daai les toentertyd reeds publicly geleer, en eerder aanbeweeg met haar lewe as om haar asem, tyd en energiete mors op die uitreik van olive branches.
Gelukkig lyk dit asof ons weer die popcorn kan regkry vir volgende week. En hopelik is die beloofde fireworks van die promo nie weer ’n platter van fizzled out crackers wat bedien word nie.
Die Real Housewives van die Wynlande word weekliks op Donderdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en DStv Online uitgesaai. Mev. S. Kinder se recaps word direk ná elke nuwe episode omstreeks 21:00 gepubliseer.