Menu terloops
In Recaps & Resensies [11 Mei 2023]

‘Real Housewives van die Wynlande’: Die Groot Vyf en die Grootwildjagter


Ná die baie saai en vervelige aflewering van die ‘Real Housewives van die Wynlande’ verlede week is die vierde episode soos ’n vars tropiese storm wat die wildtuin tref… Én alles verpletter! Michelle beskryf dit as “ ’n stoomtrein van catfights en bitchyness” – nader aan die heilige waarheid kan ’n mens nie kry nie!

Deur Mev. S. Kinder
‘Real Housewives van die Wynlande’: Die Groot Vyf en die Grootwildjagter

Dié episode van die Real Housewives van die Wynlande begin met die Groot Vyf wat rustig by ’n watergat saamdrom om ontbyt te drink. (Skiesie, I mean ‘eet). Dié Groot Vyf bestaan uit:

Die Olifant (Karen)

Olifante is die grootste en swaarste diere op land, en is hoogs sosiaal. Hulle beweeg in kuddes wat deur ’n matriarg beheer word. Die matriarg bestuur die kudde met haar kulturele kennis, oefen beheer uit oor die individue in die kudde, en kies die rigting waarin hulle beweeg – en is ook die pasaangeër. Sy sê die res aan oor hoe, waar, wanneer en hoekom hulle beweeg. Die kudde is nooit ver van die matriarg nie – ook nie as hulle wei nie.

Karen pas perfek in dié rol, want sy dink sy is die matriarg van die dames, en wil graag die leiding neem (soos sy self ook elke week aankondig in die inleiding van die episode). Olifante is ook versatile vegetarians. Soos wat ’n mens kan aflei, is Karen welbekend met die verskillende vorme van druiwe: van ’n vaste vruggie-stof, tot die meer bekende (en meer genotvolle) vloeibare vorms. Olifante het ook baie goeie geheues, en hul tamaai ore (wat tot so groot soos ’n dubbelbed kan wees) mis niks nie – nes Karen s’n. Maar Karen is dalk nou nie die wildtuin-tipe olifant waarvan grootwild-jagters droom nie. Sy is dalk meer soos die komiese val-van-’n-bal-af’-sirkusvariant.

Die Leeu (Michelle)

Leeus word gesien as charismaties, kragtig en beeldskoon. Hulle is gewoonlik die mees gesogte van die Groot Vyf op ’n Afrika-safari. Michelle pas perfek in hierdie rol – en nie net omdat sy haar “hoerpakkie” aangetrek het en vir die dames vertel het van al haar boyfriends op skool nie. Leeus beweeg in prides, maar Michelle se trots sit nie net in haar kroos, man of beroep nie. Dit sit ook in haar afskuwelik bedazzled Crocs (waaroor Amy, en die res van die land, wou naar raak!) en haar welbedoelde divorce party presents!

Indien Karen nie na dese ’n kompleks ontwikkel oor haar voorkoms, of haar liggaamsreuke nie, sal sy seker eersdaags by ’n meer local watergat ge-spot kan word met haar “My ex-husband had an awesome wife”-hemp wat sy soos ’n freshly bought Louis Vuitton om haar kan drapeer. Michelle kondig ook met trots aan dat sy nie “breinspasie het om oor ander te praat nie”, wat in total contrast is met die uitlatings wat sy gemaak het in die vorige episode – duidelik het sy nié die geheue van ’n olifant nie!

Die Luiperd (Anita)

Luiperds is iets wat almal wil sien, en nie net omdat hulle charismaties, mooi, sexy en dramaties is nie. Ook omdat hulle die mees ontwykendste van die Groot Vyf is. Hulle is baie territorial, en defend hul jagveld met alles wat in hulle is.

Anita is ’n luiperd, want sy maak beslis maalvleis van haar prooi – en die ysigwekkende berekening van haar woorde is iets wat die ander dames ook al opgeval het. Alhoewel dit nie altyd so klink nie, is daar ’n beheersdheid wat uitgeoefen word oor elke woord wat van haar lippe rol, en sy beskerm haar territory – veral wanneer sy bedreig voel. Luiperds is ook bekend vir die manier waarop hulle amper oorbeskermend met hul kroos is, wat baie duidelik is op die manier waarop Anita met en oor haar kattekinders praat. Sy glo vas dat hulle haar “cat language” en vinger-instruksies verstaan, alhoewel nie al die dames oortuig is van hierdie superpower van haar nie.

Luiperds is ook die mees suksesvolle jagters, en as ’n mens kan brag met laaie vol juwele en ’n huis so groot soos ’n rugbyveld moet ’n mens toegee dat Anita dan nou ook voldoen aan daardie kriteria.

Die Renoster (Amy)

Renosters is seker die mees eksotiese van die Groot Vyf, en Amy embody die definisie van die woord. Hierdie eksotiese dier word gewoonlik gejag vir hul horings, en arme Amy word al vir jare deur die media gejag. ’n Renoster spits ook die hele tyd hul ore om hulself teen gevaar te beskerm, en as ’n mens die episodes fyn dophou, kan ’n mens sien hoe Amy fyn luister na alles wat rondom haar gesê word. Sy is ook glad nie bang om te charge as sy moet nie, maar nes ’n renoster is sy nie die een wat gewoonlik kies om eerste aan te val nie. Sy los haar aanvalle vir haar off-screen interviews en dit is duidelik dat haar tong en intellek haar gesogte renosterhoring is.

Die Buffel (Candice)

Real Housewives van die Wynlande
As die buffel in die Real Housewives van die Wynlande se Groot Vyf, moet Candice liefs nie onderskat word nie. Foto: Verskaf

Buffels is mean, moody en magnificent en word ook beskryf as die gevaarlikste van die Groot Vyf. Buffels is seker moody omdat hulle grootliks onderskat word, en in die vierde episode bewys Candice ook dat sy nie verder onderskat moet word (soos menigte wildtuinbesoekers wel doen) nie. Wanneer sy ’n vraag vra by die breakfast-watergat, is dit waar die biesies begin bewe – en die slagtande soos blits te voorskyn kom van die res van die dames. ’n Buffel verskyn seker ook op die ou R100-noot, omdat ’n bekende Amerikaanse skrywer (Robert Ruark) buffels beskryf het as iets wat jou dophou omdat jy dit geld skuld. Candice hou ’n mens fyn dop, maar nie omdat jy haar haar geld skuld nie – eerder omdat sy jou reeds vir kleingeld gelees het.

Bloedrivier Lite

Die eerste stormpie van die episode bars los wanneer Candice haar onskuldige, dog buffelagtige, vragie vra: “Wat irriteer jou van die res?” SJOE! Wie sou kon raai dat die dames hierdie as ’n open hunting season-uitnodiging op die res sou aanvaar? In breë trekke, kan die eerste slagting só opgesom word: Anita voel uitgesluit omdat almal die hele tyd oor hul kroos kraai; Karen “hoor” almal skinder oor haar; Amy voel Karen praat die hele tyd bo-oor almal (veral haar!); Michelle moet aanhoor dat die res dink sy het ipekonders – en dat sy ’n hypochondriac is; en Anita se smile word ge-classify as vals.

Candice erken ruiterlik dat dit haar irriteer dat almal die hele tyd oor mekaar praat en nie noodwendig na mekaar luister nie. Dít word later baie prakties ge-illustrate. Dit is darem nie net alles bloedvergieting nie, want daar is ook teer oomblikke wat gedeel word: Amy vertel hoe haar lewe verander het nadat sy ’n beauty queen geword het; Anita verduidelik hoekom sy die term child-free en nie child-less gebruik; en Karen pak haar divorce-doos van Michelle uit. Die dames sluit hul eerste ‘Bloedrivier Lite’-slagting af met ’n ooreenkoms om voortaan baie meer eerlik met mekaar te wees, which is probably the biggest mistake they could ever make!

En toe kom die Grootwildjagter (Mariska)…

Die dames verruil dan hul prettige onbytpakkies en simmerende watergat vir ’n watergat van ’n ander temperatuur. Maar terwyl hulle afkoel by die swembad, daag die arme springbokkie Mariska op met ’n botteltjie ‘Sorry Sê’-champagne vir haar laatkommery. En dit is net hier waar ons agterkom dat Mariska alles behalwe ’n springbokkie is! Die eerste tekens dat sy eintlik die Grootwildjagter van die safari is, raak baie duidelik wanneer sy haar keuse – met mening en salvos sarkasme – defend om haar dogtertjie Ocean se eerste konsert by te woon, in plaas daarvan om gat te skuur saam met die res. Mariska didn’t come to play – she came to slay!

Mariska is gereed vir die Mean Girls-verwelkoming, maar die Groot Vyf het nie rekening gehou met hoe die Grootwildjagter reeds haarself gepantser het vir die animal attacks nie. Vergete is die voorafgaande gesprekke oor boob-envy en borderline boredom botox-‘blahblahs’, want Mariska is centre stage – en elkeen het iets te sê oor die feit dat sy niks vir niemand genoem het oor haar planne om laat te wees vir die uitspan nie. Elke woord rol van die “klein pink ontploffinkie” soos water van ’n eend se rug. Gewapen met haar sensational shades, kwes elkeen van haar koelbloedige one-liners reeds ’n ieder en ’n elk. Ná sy deeglik om verskoning gevra het, is die dames dit eens dat hulle bietjie van die surige scenery moet verander, en daar word besluit om op die beloofde game drive te gaan.

Laat die jag begin…

Ná ’n ietwat ongemaklike sonsondergang-rit waar regte wilde diere gesien is – met ‘n deurlopende Mariska-woordewatervalklankbaan wat menigde se rit bederf het – word daar uiteindelik aangesit vir aandete. Karen is impressed met die feit dat hulle almal ’n bietjie opge-glam het vir die geleentheid, terwl die res minder impressed is met die goggatjies wat hul swierige ete bederf met hulle onwelkome bywoning in die buitelug.

Onder druppende sarkasme-bomme van Karen, laat Mariska haar mooi verstaan dat sy glad nie vir haar bang is nie. Die Grootwildjagter het Die Olifant diep gekwes met daardie sin, want Die Olifant is gereed haar deel te maak van die kringe in ’n bos.

Die eerste aanval van die aand word deur Die Olifant geloods, wanneer sy Die Luiperd takel oor sy haar ore uitgeleen het aan ’n voëltjie wat vir haar gefluit het dat Anita blykbaar vir almal wat ore het vertel het dat Karen dronk was by Amy se bubble-bash (van Episode 1). Praat nou van ou koeie uit die sloot grawe… (Ek, geagte leser, belowe dat ek dieselfde gedink het, en my opinie nie met my buurvrou gedeel het nie.)

Die weerlig begin slaan wanneer Karen ’n goedige rondte Truth or Dare wil speel, en die donker wolke begin saamdrom wanneer Candice vra of enigiemand al op hul partners (past and present tense) ge-cheat het. Die enigste een wat haar “hoerpakkie” (haar woorde, nie myne nie!) ten toon stel soos ’n trotste pou is Michelle – die res is almal of tjoepstil, of glad nie involved in die gesprek nie. Die ongemaklike windjie wat begin waai om die tafel laat ’n mens wonder of almal so bereidwillig is om hul harte en keuses te laat judge.

Die blitse begin dan vinniger en meer dramaties die nag verlig wanneer Mariska haar loaded gun uithaal, en haar visier op elkeen van die Groot Vyf rig deur te vra wat elkeen se first impression was van die res en hoe daardie impression nou lyk. Candice gee ’n voorbeeld-antwoord deur te vra-sê of Mariska byvoorbeeld wil weet of sy gedink het Anita is ’n bitch.

Karen pas perfek in die rol van die olifant as deel van die Real Housewives van die Wynlande se safari-Groot Vyf. Foto: Verskaf

Bliksem(strale)

Skielik breek die hel los, en dit is net harde reën, glimmende bliksemstrale, golfbal-grootte hael en orkaan-sterkte winde wat oor die tafel waai. Karen is not impressed met Mariska se vrae nie, en dis seker omdat sy Karen se thunder gesteel het. Karen sien Mariska as die vyand, en is gereed om haar te vermorsel of te verkleineer – whichever comes first. Voel Karen dalk bedreig deur die mooie poppie, of het sy haar dalk net te vlak gekyk? Of het sy reeds van die eerste ontmoeting haar jagmes in vir Mariska? Karen se hoofmeisie-mentaliteit steek toe nou weer kop uit, en Karen probeer haar bes om die matriarg van die kudde te bly, terwyl die Grootwildjagter nonchalant aan haar drankie teug.

Onder druppende sarkasme-bomme van Karen, laat Mariska haar mooi verstaan dat sy glad nie vir haar bang is nie. Die Grootwildjagter het Die Olifant diep gekwes met daardie sin, want Die Olifant is gereed haar deel te maak van die kringe in ’n bos.

Anita is geskok in Candice se voorbeeld-antwoord, en wil nie verder saamspeel nie. Sy wil nie antwoorde gee of hoor wat die ander se antwoorde dalk mag wees nie. Soos Die luiperd wat sy is, besluit sy ook dan nou daar en dan dat sy nooit ’n funksie of onthaal by haar huis sal hou nie, aangesien sy nie kans sien om die kwetterkatte aan haar katte-kinders voor te stel nie.

Mind you, ek dink Anita het onnodige shots gevat rondom die tafel, want Karen se woede (oor wat ook al haar regtig pla) het uiting gesoek en toe sy dit nie op Anita kon fokus nie, was dit “die maklike prooi”, Mariska, se beurt. Anita is dalk ’n bitch, en ek is seker sy het al baie erger gehoor, maar ten minste is sy ’n gesofistikeerde enetjie – en een wat jy nie sommer sal wil ontmoet in ’n donker stegie nie. Hopelik kan Anita haar wonde later behoorlik lek, en sal sy wel vir die kykNETters haar rugbyveld-huis met ’n opregte smile ten toon stel voor die einde van die seisoen.

Als is toe nie maanskyn en safaris op Die Real Housewives van die Wynlande se vierde episode nie… Foto: Verskaf

Warrehel het nounet gebeur?

Amy probeer in regte beauty queen style weer die vrae hoor om seker te maak wat Mariska vra, en Michelle is die bliksem en donner in omdat almal soos kinders te kere gaan. Michelle se brul maak uiteindelik die tafel effe stil, en laat Amy lyk soos ’n klein bokkie wat in die hoofligte van ’n aankomende 4×4 sonder remme vasgevang is. Karen se leepogies lyk asof dit Rescue Remedy nodig het (afkomstig van een van die rooi- of witwynbottels wat sy eye op die tafel), terwl Candice se strak houding dit duidelik maak dat sy amper net so confused soos die plebs by die huis is oor die kakofonie wat sopas afgespeel het. Die enigste een wat min gespin oor die loaded gun-vrae is, is die ster van die episode wat soveel amok kom saai het met haar innocent teenwoordigheid: mooie, maar gevaarlike, Mariska!

Was hierdie wegbreeknaweek ’n sukses? Of is dit nou waar ’n mens die ware kleure begin sien van die dames? Dis seker maar ’n goeie ding die ses vrouens is op kamera gewees, anders was daar dalk ’n spesiale episode van Orange is the New Black wat beplan moes word vir die volgende episode. Dat een (of is dit nou twee?) vrae nou soveel moeilikheid kon veroorsaak! Kyk, smaak verskil, maar as die klomp Queen B’s (bitches, bulldozers en bullshitters)by my moes kom eet, sou ek seker maak dat elkeen se naels mooi stomp gevyl is – en daai Truth or Dare-speletjie glad nie naby skerp messe en cocktails gespeel word nie! Net nou verander die aand in ’n Murder Mystery-ete…


Die Real Housewives van die Wynlande word weekliks op Donderdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en DStv Online uitgesaai. Mev. S. Kinder se recaps word direk ná elke nuwe episode omstreeks 21:00 gepubliseer.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

‘Wyfie’: Jou kykgids vir Oktober 2024

Dinge raak ernstig tussen Maggie en Shay en Kyla moet moeilike keuses maak. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer

Redakteurskeuse vir Oktober 2024

Wat om te kyk: Die derde seisoen van die vlymskerp komediereeks, 'Hacks', kopdokters wat dinge sê nes dit is in 'Shrinking' S2, en agter die kospotte in 'Julia' S2 en die nuwe realiteitsreeks, 'The Pasta Queen', tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer

Silwerskermfees 2024: Waar en wanneer om vanjaar se kortfilms die week op TV te kyk

Vanjaar se Silwerskermfees het weereens voortgebou op meer as ’n dekade se ontwikkelingsprojekte in die plaaslike filmbedryf – en die eerste sarsie stories word hierdie Saterdagaand, 7 September 2024, op kykNET uitgesaai.

Meer

‘Wyfie’: Jou kykgids vir September 2024

Amanda kom voor moeilike besluite te staan en Kyla is in ’n desperate situasie verstrengel. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer
Sien alle opsies