Die tiende episode van Die Real Housewives van die Wynlande begin as ’n infomercial vir Le Méridien op Mauritius, en eindig met daadwerklike knop-in-die-keel gesprekke… En natuurlik ’n klap of twee van die vlymskerp katjies se blink gepoetste naeltjies!
Die avontuur skop af met almal wat gereed maak vir die uitstappie oorsee. Amy en Michelle wil hulle reeds oorlaaide kaste met nog ’n paar bykomstighede vir die trippie vul, terwyl hulle ook vir ’n ‘intieme’ wax wil gaan. Mariska vertel dat sy dink dit is belangrik dat ’n vrou altyd netjies is, van kop tot tone, want “niemand wil iets sien koekeloer nie”. Nou wonder ek maar net: wie gaan nou eintlik vir wie koekeloer? Seer-sekerlik gaan niemand ’n kamer of (behoede ons!) ’n bed deel nie?
Dit is baie opvallend dat elkeen van die dames dit uitbasuin op hul off-screen interviews, dat hulle uitsien daarna om mekaar beter te leer ken. Mmm…. why? I mean, het hulle nie reeds nege episodes gehad om dit te doen nie? Het hulle nie reeds meer fights as spotlights ge-share in hierdie tydperk nie?
Ek verstaan dat ’n mens dalk nou nie van day one af die mees intieme gedeeltes van jou lewe en jou hart met mekaar deel nie, maar indien hulle nou nog nie gevra het of gehoor het wat hulle wou hoor nie – what have they been doing all this time in each other’s company? Waaroor het hulle gepraat indien dit nie persoonlik van aard geraak het nie? Ek kan myself nie indink om soveel tyd saam met mense te spandeer, en nie die gesprek ’n bietjie dieper as skin deep te laat gaan nie. Then again: is hulle dalk te bang gewees, tot op hede, om bietjie dieper in mekaar se siele te delf?
’n ‘Nuwe’ Karen?
Righto, die girls se SAL vlug van Suid-Afrika na Mauritius land, en die bende spring in ’n bussie om by die hotel uit te kom. Op pad soontoe is dit reeds duidelik dat daar effense spanning in die tropiese lug teenwoordig is, maar dat dit nie die tipe spanning is wat met ’n mes gesny kan word nie. O, nee, dit gaan absoluut gedissekteer moet word tot op die been. Dan volg daar weer, soos met die wildsplaas in Hoedspruit, ’n kort infomercial oor hoe Le Méridien lyk – en hoe gobsmacked die berese dames is…
Wat beslis verfrissend en verwelkom word, is die ‘nuwe’ Karen wat ons ontmoet. Sy vertoon sterker, en meer volwasse – en durf ek sê sagter? – op kamera, en natuurlik wonder van die spoilsports onder die dames hoekom sy so stil is. Kan ’n mens niemand tevrede hou nie? Indien Karen praat, is sy in die moeilikheid, maar nou lyk dit vir my sy is ook in die moeilikheid as sy daai kenmerkende lippe van haar ook toe hou! Dis nou natuurlik tot die volgende oggend wat sy en Michelle op die strand gaan stap!
Tydens dié stroll vra Michelle prontuit hoekom Karen so stil is, en of daar iets is waaroor sy wil praat. Karen verduidelik dat sy maar net moeg is, maar ek dink nader aan die waarheid, is dat sy dalk net nie genoeg slaap inkry nie omdat die gebeure by ENIGMA (van die vorige twee episodes) nog die hele tyd by haar spook. Dit blyk dat die gebeure by Gloria Arendz se huis haar wel pla, maar nie vir die redes waaraan die plebs by die huis sou dink nie! Karen dink sy is ’n onskuldige victim in die scenario, terwyl die res van die girls eintlik vir die verleentheid verantwoordelik is.
Wanneer Michelle haar om verskoning vra oor haar gedrag en aandeel in wat moontlik Karen se hauntings aangewakker het, vergewe Karen haar blitsig – maar voeg dan bitsig by dat nie een van die ander dames haar al verskoning of vergifnis gevra het nie. Karen verkeer nog onder die indruk dat die dames se teregwysiging op die terras net ’n bietjie criticism was, en sien dit glad nie as die ligte intervention wat ek as kyker ervaar het nie. Indien Karen wag vir ’n rits verskonings van die ander, gaan sy baie lank moet wag: vrede (of selfs net ’n woorde-stilstand) tussen Gretha Wiid en lede van die LGBTQIAA+ in Suid-Afrika is dalk ’n meer realistiese verwagting!
Telefoontjie
Dit is ook net hier waar ek weereens die kloutjie by die oor bring: die dames se interpersoonlike kommunikasie is net so stabiel, verstandig, en selfstandig soos die elektrisiteitsvoorsiening in Suid-Afrika. Kyk bietjie mooi as hierdie dollas met mekaar kommunikeer hoe vinnig ’n boodskap verdraai kan word – amper so vinnig (en dikwels verkeerd!) soos ’n klomp kleuters wat telefoontjie speel. Elke sin of woord word nie deur almal op dieselfde manier verstaan of geinterpreteer nie – en die miskommunikasie lei gewoonlik na ’n comedy of errors wat selfs vir Carol Burnett sal impress.
Die eerste Mauritius-ontbyt is ’n volslae IK-oorlog en common sense geteisterde slagveld. Michelle se moer word gekoer deur Mariska se “Bitch stole my look”-podcast kommentaar, nadat daar vrae ontstaan rondom Michelle se nuus dat sy ook nou ’n potgooi aan die gang het. Michelle se sarkastiese “Google is nie ’n handboek nie” en Mariska se “You do you, and I’ll do better” klink meer soos oorlogskrete, want dit is duidelik dat hierdie M&M’s nie meer in dieselfde lekkergoedpakkie gaan verskyn nie.
Anita maak, waarskynlik, ’n grappie oor hoe sy aan Survivor SA wil deelneem, en onmiddellik het almal iets skerp en versigtig onvlyend om te sê oor hierdie idee. Amy wil dadelik weet of sy soveel selfvertroue het – en of sy net stupid is. Dit blyk ook dat Mariska aspirations het om die een te wees wat ’n tribe vreemdelinge gaan outwit, outlast en outplay op ’n tropiese eiland – nes sy reeds doen op Mauritius!
Bitch op die beach
Dan skuif die girls beach to – om te bitch! Karen en Michelle maak hulself tuis op die strand met ’n drinkdingetjie in die hand, terwyl die ander gaan SUP (stand up paddle)! Hierdie avontuurtjie is vir almal ’n kans om te lag en ontspan – terwyl dit vir Anita ’n oor-dramatiese Baywatch-oomblik raak wanneer sy deur ’n stroom dieper gesleep word. Terwyl sy om haar lewe veg in die diepblou see, is dit vir die res ’n groot bron van vermaak wat hul maagspiere meer challenge as die borde waarop hulle moet staande bly. (Sidenote: hierdie tsunami in ’n teekoppie voel meer na ’n stukkie scripted reality drama as ’n regte Huisgenoot Lewensdrama-situasie!)
Terug op droë grond besluit die dames om hul aandete in te lei met ’n sundowner of drie. Terwyl die barman probeer om voor te bly met cocktail orders, begin die drama plek-plek in buie uit te sak. Karen vuur die eerste salvo af, wat Michelle noodsaak om haarself te bewapen met nog ’n drink – en die eerste truth bomb wanneer sy probeer om die onderliggende bitchiness aan te spreek op ’n volwasse manier, wat baie onvolwasse van haar tong rol. Het al haar verskillende pilletjies weer haar tong in knope getrek?
Hartseer ontboesemings
Die conversation begin dan meer ‘ken-mekaar’-agtig te word – en dit is waarna almal so uitgesien het! Michelle se onthulling oor haar boetie wat oorlede is op sy eerste verjaardag, is die katalisator vir die res van die ontboesemings van die aand. Hoewel ’n hartseer storie, is dit verfrissend om te sien hoe die dames vrylik hul hartseer en swaarkry met mekaar deel. Elke storie wat gedeel word gee ’n mens ’n werklike blik op elkeen van hulle se lewens en hoekom hulle is soos wat hulle is.
Kort ná Michelle se onthulling (of was dit nou tydens haar storie?) verstik Karen aan iets. Anita lees dit as aandagsoekery, en dit wil lyk asof die rustige skemerkelkies in ’n klassieke WWE ‘Ready to Rumble’ glans-sensasiebelaaide stoeiery en knoeiery tussen haar en Karen gaan ontaard. Ares, die Griekse god van oorlog, het gelukkig skemerkelkies van sy eie en is nie teenwoordig om die skermutseling te sëen nie, en die spanning word weggepraat met onthullings en waarhede wat uiteindelik die meer vulnerable side van amper elke vrou ten toon stel.
Elke huis het sy kruis
Dit is duidelik dat elke huis sy kruis het, en dat elke vrou ’n donker worsteling van haar eie oorkom het – of nog oorkom. Diep binne in my wens ek dat hierdie die eerste episode van die reeks was, want dan sou daar heelwat minder misverstande plaasgevind het. Of dit is dalk maar net my eie hoop? Want om iemand anders se swaar en seer te hoor en te deel is dalk ’n beter manier om ‘n sisterhood te begin, maak nou nie saak dat hulle op grond van hul bankbalanse en aansien aan mekaar voorgestel is nie. Skielik maak almal van hulle vir my meer sin – en word hulle meer real – en begin ek wonder of ek nie dalk party van hulle te hard en te vinnig gestereotipeer het nie.
Mariska slaan wel die spyker op die kop wanneer sy sê dat ’n mens se agtergrond jou nie die reg gee om te maak wat jy wil, of om ander te hanteer soos wat jy wil nie. Die klein pienk ontploffinkie maak soveel sense in die laaste paar episodes, dat ek wonder of sy nie eerder as die matriarg van die groepie aangestel moet word nie.
En daarmee is die eerste dag van die Mauritius-uitstappie daarmee heen. Maar terwyl die son sak op hierdie episode, blyk dit dat daar weer mini-oorloë en mikro-atoombomme voorspel word in die volgende hoofstuk van die Sisterhood of the Traveling Islands. Hierdie keer lyk dit asof Anita en Amy vir mekaar naels gaan wys!
Die Real Housewives van die Wynlande word weekliks op Donderdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en DStv Online uitgesaai. Mev. S. Kinder se recaps word direk ná elke nuwe episode omstreeks 21:00 gepubliseer.