Menu terloops
In Recaps & Resensies [25 Apr 2024]

‘Plaasjapie S2’: Skok, trane, konfrontasie – 19 goed wat jy moet weet ná episode 2


Episode twee van ‘Plaasjapie’ se nuwe seisoen het gesien hoe die konflik tussen twee deelnemers tot uiterstes gedryf is met een se alterego wat ook ’n draai kom maak het.

Deur Annelene Oberholzer
‘Plaasjapie S2’: Skok, trane, konfrontasie – 19 goed wat jy moet weet ná episode 2

Donovan Massyn moes in die eerste aflewering van die tweede seisoen van kykNET se werklikheidsreeks Plaasjapie tydens die Koöperasie-kuier hoor dat hy nie sy sout werd is nie. Was dit slim spel deur die res van die span of gaan hulle hierdie besluit later nog berou?

Intussen word daar op Oranjezicht geskoffel om ’n pad te maak. En op Groenkloof is dit melktyd.

Plaasjapie seisoen 2, kykNET
Episode twee van Plaasjapie se nuwe seisoen was propvol emosie en een deelnemer se alterego het ook ’n draai kom maak. Foto: Verskaf
1

’n Skok

Liezle kan nie glo dat Danielle se naam het ook tydens die eerste Koöperasie-kuier opgeduik het nie. Dié twee was reeds haaks vanaf die eerste episode toe dinge skeefgeloop het tydens ’n koeimelksessie.

“Ek het so hard probeer gister om ’n plannetjie te beraam en ek was bitter kwaad vir myself. Hoekom het jy dit nie verder gefight nie? En ek het nie. Ek kon haar gister uitgestem het!”

Liezle was vroeg spyt dat sy nie vir Danielle uitgestem het toe sy die kans gehad het nie… Foto: Verskaf
2

Meer as net deeg word geknie

Terwyl Monique op Groenkloof besig is om deeg te knie, werskaf sy ook aan Blue se lojaliteit en vertel hom dat sy en Milandie goed oor die weg kom. Sy verseker hom dat sy ook goed oor die weg met hom en Etienne kom.

“Ons vier got each other’s backs,” vou sy hom binne-in ’n bondgenootskap in. Maar gaan hy daarvoor val en soos die deeg op die regte tyd rys?  

3

Wie staan werklik by wie?

Jannie sê hy wil hê die swakste skakel moet tydens die uitdagings uitgewis word. En tussen hom, Etienne en Riaan voel hy hierdie groep van drie is die grootste, sterkste en belangrikste groep van almal.

“Die swakste een moet uitgevote word, nie die een wat jou die meeste irriteer nie . . . Want boerdery is nie vir sissies nie,” verklaar hy.

4

‘Jy lieg vir my’

Milandie vertrou nie die situasie nie. Sy voel dat Jannie, Etienne en Riaan iets beplan en kry dit reg om Etienne eenkant te kry. 

“Ek dink hulle wou dalk vir my iets gesê het, maar hulle het toe nie daarby uitgekom nie,” probeer hy haar gerus stel.

“Alles binne-in my sê, ‘Jou bl*ksem, jy lieg vir my!’ ” is Milandie se reaksie.

5

Hier kom moeilikheid

Dis inspeksietyd en Groenkloof se span het liederlik aangejaag. Ewan se gas vir die dag is Vlok Hanekom, ’n wingerdboukundige by Steenberg. Kykers sal hom onthou van Boer soek ’n vrou se tweede seisoen. Met die aankomslag sien hulle dat die hoenders nie water het nie. Dalk is dit hier ’n geval van water is so skaars soos hoendertande?

6

Nuwe leierskap

Dis ook Vlok wat die lot van die nuwe leier in sy hande hou – daai gewraakte boksie met die lootjies. 

Op Groenkloof is dit Riaan wat die leierslootjie getrek het en sy hart het sommer baie vinniger begin klop. Op Oranjezicht is Pieter die een wat die leierslootjie trek.

Saam met die lootjie, ontvang die twee nuwe bestuurders ook die “Mag van die mes” – waar die mes tydens stemtyd by die Koöperasie-kuier ingespan kan word om ’n sakkie sout oop te sny en aan iemand anders te skenk.

7

Die uitdaging met ’n kinkel

Daar gaan draad gespan word by die wingerd dat dit bars. En Vlok is ’n taai leermeester. Tog is hy aangenaam verras met beide spanne se entoesiasme oor die proses.

Ewan lig die spanne in dat dit wel ’n uitdaging is, maar meer as dit: dit is ’n belonings-uitdaging. Hy beduie so half in die lug om die tyd aan te dui wanneer die spanwerk afgehandel moet wees. Vlok gaan op sy beurt met ’n kritiese oog kyk hoe goed en netjies dit gedoen is.

Danielle erken sy is glad nie vaardig met tuinwerk nie, haar hele huis is “concrete” en Liezle is gou om te sê Danielle kon eintlik maar ’n bietjie harder saamgespit het. Is iemand besig om vir iemand anders ’n spreekwoordelike graf te grawe?

Intussen probeer Milandie om die gespande draad met ’n tang reguit te “stryk”. Sy wil nie dat hulle ’n moontlike beloning misloop omdat hul drade krom is nie.

8

‘Span’-werk

Vlok is beïndruk met Oranjezicht se span en hul spanwerk. Gelyk, netjies. Wat meer kan ’n boer dan nou vra? 

Maar Groenklof se se loofdrade is hier en daar vir hom ’n klein bietjie pap. En nou wonder Milandie of haar strykwerk hulle gaan kelder want met die kinkels in die draad, was die loofdrade stywer . . .

En wie is die wenspan? Ewan en Vlok kies koers ná hulle almal ’n rustige aand toegewens het en die twee bly tjoepstil oor die resultate.

9

Vars eiers en ’n briefie

Die oggend by Oranjezicht word met ’n mandjie eiers en ’n briefie begroet. Dis plaasbestuurder Pieter se voorreg om die briefie te lees. En hy begin sommer net daar met ’n interessante danspassie toe hy die inhoud met die res van die span deel: Hulle is die wenners!

Almal kies vir Pieter om ’n beloning vir die span by die Koöperasie te gaan kies.

Oranjezicht het die draadspan-kompetisie gewen. Foto: Verskaf
10

‘Nie die paal gehaal nie’

Inderdaad is Groenkloof se span teleurgesteld toe hulle hierdie boodskap ontvang. Maar, lees Riaan verder, daar is ’n kans om later deur die loop van die dag die bordjies te verhang tydens die uitskopuitdaging.

Die verloorspan van dié uitdaging moet Koöperasie toe gaan om iemand uit te stem.

11

Keuses, keuses, keuses

Ewan verwelkom Pieter by die Koöperasie. Wat gaan Pieter kies? Daar is insekweerder, ses speserye, ’n toeknyprooster, kampstoele, ’n ekstra sak hout vir elke dag en slaapsakke vir almal. 

En dan die waarskuwing: Enigiets wat Pieter kies, word aan direk hom gekoppel. As hy uitgestem word, verloor die hele span dit wat hy gekies het.

Hy kies die ekstra hout. Slim plan, want as dit verbrand is, kan dit nie weggevat word nie.

12

Arena toe

Groenkloof word voor almal oor die kole gehaal omdat hulle hoenders nie water gehad het nie. 

“Dis onaanvaarbaar en dit kan nie weer gebeur nie,” betig Ewan hulle ferm. Maar dan is dit uitdagingstyd. Wenners kry die aand af, verloorders gaan ’n spanlid verloor.

Plaasjapie seisoen 2, kykNET
Die kompetisie was taai… En nat. Foto: Verskaf

Die spanne moet emmers, natuurlik met gate in die bodem, vol water maak en na ’n stellasie dra waarop daar ’n watertenk gemonteer is. Wanneer die span dink hul tenk is vol genoeg, sal een spanlid die tenk se kraan oopdraai om die water met halfpype – wat deur die ander spanlede in plek gehou word – na ’n trog af te voer. Wie se trog eerste vol is, is dan die wenners.

Groenkloof begin eerste om hul halfpype bymekaar te kry. Die krane is oop en die water vloei. En dis Groenkloof wat kort voor lank hul vlaggie oorwinnend laat opwip.

Groenkloof se krane het eerste gevloei. Foto: Verskaf
13

Konfrontasie voor die Koöperasie-kuier

Danielle sê vir Stanley sy weet sy gaan uitgestem word.

“Ek gaan jou belowe ek gaan nie vir jou stem nie,” kom dit van steunpilaar Stanley.

“Ek voel ek kan vir Stanley vertrou . . . Hy het my dadelik geroep toe hy klaar gepraat het met Liezle. So, ek het dit waardeer,” sê sy.

Maar sy is vasberade. “Ek gaan nie uitgaan sonder ’n fight nie. So, as ek vanaand my pekelpennie moet gebruik . . . Dan bly ek die t**f van die span,” voeg sy by en sê sy weet sy’s haar “flippen sout werd”.

Kort voor lank konfronteer sy Liezle oor wat dié vroeër die dag oor haar kwytgeraak het. 

“Weet jy, né, Danielle? Ek gaan doen wat ek moet doen en elke persoon is geregtig om hul eie besluit te maak. So, as jy ’n probleem met my het – dan roep jy my, dan gesels ons. Dis onnodig dat ons nou al hierdie mense betrek met iets wat met hulle niks te doen het nie,” is Liezle se reaksie.

Die twee kom ooreen dat Liezle haar kos kan klaar eet en daarna sal hulle eenkant toe stap en gesels.

“Ek gáán jou afstem vanaand want ek dink jy’s lui. Jy staan met jou geel harkie in jou hand die hele dag en doen niks. Die res van ons werk bitter hard. 

“Diva . . . diva, diva Danielle ‘julle, julle . . .’ en toe ek ’n foutjie gemaak het met die koei, dit was nie eens my fout nie. Toe wat sê jy vir my? Jy sê vir my ‘jy het nou net soos ’n regte graad 7-persoon geklink’. 

“My woorde is nie so skerp soos jou woorde nie. Maar my hart is baie beter as jou hart,” en met daai woorde herrys Liezle se alter ego, Annabelle, in volle glorie. 

So, you do you, I do me. Ek gaan jou afstem want ek voel dis die regte ding om te doen. My prioriteite is by die plaas en die diere, nie om shine te vang nie. You’ve got that? Tannie Liezle, tánnie Liezle.”

Maar Danielle weier om haar “tannie” te noem omdat sy nie ouer mense so aanspreek nie. Met die wegstap, draai Liezle om en steek haar hand uit na Danielle met die woorde: “Aangename kennis. Annabelle. Nice knowing you”.  

’n Ontstemde Danielle bly agter by die koeistal . . .

Liezle – of is dit nog steeds Annabelle? – se volgende gesprek is met Stanley en sy sê hy het haar hart gebreek deur vir Danielle van die oggend se gesprek vertel het. En Stanley erken hy dink daar’s nou ’n groot kruisie, oftewel teiken, op sy rug getrek vanweë sy vriendskap met Danielle.

14

Wie’s baas van die Oranjezicht-plaas?

“Ek gaan nie laat ’n 55-jarige tannie vir my wys wie’s baas nie. Ek is wie ek is, en ek sal vir haar wys ek het meer ervaring as sy,” kom dit vasberade van ’n betraande Danielle. “Ek gaan nie uitgaan sonder ’n bakleiery nie.”

Sy vra die res van die groep om verskoning vir haar vroeëre optrede. 

“En ek is baie jammer dat ek nie vir Tannie ‘Tannie Liezle’ genoem het nie. Ek is baie jammer oor dit want dit gaan nie oor dit [dat] ek nie respek het vir Tannie nie, daaroor dat ek nie respek vir Tannie het nie en ek wil nie hê Tannie moet dink ek het ’n lelike hart of ek is lui nie,” en onderneem om haar beste vorentoe te wys. Daarmee loop sy oor na Liezle en gee haar ’n drukkie.

“Die lelike Annabelle wat uitgekom het, is baie, baie werk en dit is ’n persoon wat ek nie van hou nie. So, ek vergewe gou, hê? En ek is emosioneel gedrein dat ek kan huidiglik nie eers praat nie,” kom dit van ’n aangedane Liezle.

15

Die ‘mag van die mes’

Eenkant langs die sinkdam is dit Pieter en Michelle wat ’n alleen-gesprek voer. Pieter verseker haar dat hy die “mag van die mes” gaan inspan om haar ekstra sout te gee.

“Vir dit wil ek net hê – as ons weer in sulke situasies kom [soos vroeër met Danielle en Liezle] . . . net met my eerlik wees as jy vir iemand gaan stem,” is sy vereiste. Sy stem in.

16

Emosionele Koöperasie-kuier

Plaasjapie seisoen 2, kykNET
“Ek dink definitief my optrede het my benadeel vandag en ek het vir Tannie Liezle groot om verskoning gevra. Ek is baie spyt daaroor,” het Danielle van haar laat hoor. Foto: Verskaf

Ewan wil weet of dit ’n span- of individuele stem gaan wees. Danielle steek hand op.

“Ek dink definitief my optrede het my benadeel vandag en ek het vir Tannie Liezle groot om verskoning gevra. Ek is baie spyt daaroor. Rêrig, ek is. Maar . . . Toe’t sy vir my gesê dis nie net sy wat so voel nie, en ek moes uitvind dis hoe die meerderheid voel. Dit het my geaffekteer,” sê sy.

Michelle reageer dat dit niks persoonlik is nie, maar Danielle het met die terugkeer na hul huisie aanvanklik gedink die wêreld is teen haar en dit was nie die waarheid nie. 

“Hier was té veel emosie vandag gewees op die plaas,” sê Michelle.

“Wat so seer maak vir my is die keuse van die uitstemmery lê duidelik tussen my en Danielle,” kom dit van Liezle en sy sê sy word nou gepenaliseer vir iets wat sy nie gedoen het nie.

Plaasjapie seisoen 2, kykNET
Liezle het gevoel sy is gepenaliseer weens die wrywing tussen haar en Danielle. Foto: Verskaf
17

Pekelpennies en koppies sout

Gaan iemand hul pekelpennie speel? Ewan lig die span in dat dit tydens dié kuier R25 000 werd is. En by wie gaan daar ’n koppie sout afgetap word? Gaan iemand ’n koppie sout van hul eie fles aftap en by iemand anders s’n voeg?

Michelle is eerste aan die beurt en sy gaan aftap. Nog ’n paar duime wat afwys, dui op sout-aftap aan. En dan span Pieter die mes in om sout by te voeg. Gaan hy sy woord gestand doen?

18

Sout word in die wonde gevryf

“Liezle, daar is vir jou gestem. Danielle, daar is vir jou gestem,” kom dit van Ewan. “Daar is vanaand afgetap en die mag van die mes is gebruik. En . . . daar is munt geslaan.”

Ná ’n baie dramatiese pouse, onthul Ewan die naam van die persoon wat nie hul sout werd is nie, se naam. Dis Liezle wat haar sout-silo moet leegmaak en haar goedjies moet pak.

Ten spyte daarvan dat almal in die groep, behalwe natuurlik Danielle self, vir Danielle gestem het om haar tasse te pak. Sy het geweet wat kom en speel toe haar pekelpennie. Die finale pryspot het nou na R975 000 gedaal.

19

Wat sê Liezle?

Plaasjapie seisoen 2, kykNET
En daar gaa’t sy… Foto: Verskaf

“Jôh, hulle het ’n great game gespeel. En ek onderskat die mensdom so erg. Jôh!” sê sy kopskuddend. 

“Maar ek is oukei. Ek wou die miljoen rand gewen het om my toekoms te verseker, vir my man . . . vir my en my man, want ons het niks. En ek het so hard probeer. 

“Ek het nie gedink ek gaan so emosioneel wees nie. Ek het gedog ek gaan ’n bietjie sterker wees,” sê sy so tussen die trane deur. “Mense trap oor my. But it is what it is en ek sou niks anderster gedoen het nie.”

Volgende keer op Plaasjapie

Gaan Danielle nog ’n haas uit die hoed ruk in die volgende episode van Plaasjapie? Watter onderduimse planne smee Riaan, Etienne en Jannie? En humeure vlam op tydens ’n uitdaging.


Plaasjapie S2 saai Donderdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en DStv Stream uit. Episodes is ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar. Ons recaps word direk ná elke nuwe episode omstreeks 21:00 gepubliseer.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

8

Gesinsvermaak: Kyk dié 8 reekse en flieks saam-saam

Van ‘Barbie’ tot ‘Fuller House’ – daar is heelparty TV-reekse en flieks wat jy oor die lange skoolvakansie as gesin saam kan kyk. 

Meer

‘Wyfie’: Jou kykgids vir Desember 2024

Amanda probeer realiteit ontwyk, terwyl Kyla se lewe ontrafel. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer

Redakteurskeuse vir Desember 2024

Wat om te kyk: Die tweede seisoen van Netflix se rekordbreker-reeks, 'Squid Game'; die Afrikaanse reeks 'Spooksoeker'; en die skrywer Gabriel García Márquez se magnum opus, 'One Hundred Years of Solitude', wat in ’n uitsonderlike TV-reeks omskep is, tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer

‘Suidooster’: Kyk uit vir dié sewe kinkels in Desember

Kapenaars weet dat die Kaapse Dokter behoorlik moeilik in Desember kan word, maar vanjaar word ’n orkaan van donker wolke vol drama vir Ruiterbosch oor die vakansieseisoen in ‘Suidooster’ voorspel. 

Meer
Sien alle opsies