Menu terloops
In Onderhoude [5 Mar 2025]

Mienke Ehlers binnekort in ‘Suidooster’


Die aktrise Mienke Ehlers, wat eersdaags as deel van ‘Suidooster’ se permanente rolverdeling in dié sepie te sien is, vertel dat haar avontuurlustige karakter vuur onder die inwoners van Ruiterbosch kom maak.

Stroom 'Suidooster'

Mienke Ehlers binnekort in ‘Suidooster’

Suidooster verwelkom binnekort vir Mienke Ehlers (28) as ’n lid van dié kykNET-sepie se permanente rolverdeling. 

Mienke is veral bekend vir haar spel as Mia in die Showmax-reeks Wyfie. Sy is as die beste nuweling in ’n telenovela of sepie by die Silwerskermfees bekroon en ook by die Saftas as beste nuweling vir haar rol in Wyfie benoem.

Dié boorling van die Paarl het ook voorheen in reekse soos Fraksie (2022), Magda Louw (2023), Dinge van ’n kind (2023) en die fliek Ek gee op (2023) gespeel. Sy is vanaf Dinsdag, 11 Maart 2025, as Frankie van Wyk in Suidooster te sien. 

Ons het met Mienke oor haar nuwe sepierol gesels. 

Mienke Ehlers, Suidooster
“Frankie is a breath of fresh air!” vertel die aktrise Mienke Ehlers oor haar karakter in Suidooster. Foto: Gys Loubser

Vertel vir ons meer oor jou karakter, Frankie. Hoe sal jy haar beskryf en wat kom maak sy in Ruiterbosch?

“Frankie is a breath of fresh air! Sy is impulsief, onvoorspelbaar en die persoon namens wie jy om verskoning moet vra aan ’n tafel vol uitgelese mense. 

“Sy dink nie twee keer voordat sy praat nie en sy is beslis nie op haar mond geval nie. Tog skuil daar ’n sagte siel vol geheime onder daardie harde dop. Frankie kom maak vuur onder die inwoners van Ruiterbosch. 

“Sy is nie gepla oor die “who’s who” nie, sy duik aan die diep kant in nog voordat sy weet of daar water in die swembad is. Sy het net een doel voor oë en dis om uit te vind waar haar volgende avontuur op haar wag.”  

Kon jy raakpunte tussen jou en Frankie vind?

“Ek dink Frankie is een van die borrelendste karakters wat ek al vertolk het. Hoewel ek self ook die lewe baie lief het, is ek beslis meer konserwatief oor waar ek wortel skiet en wie ek naby my toelaat. 

“Sy is wel braaf en baie onafhanklik en ek vind daarby aanklank. Maar die girl maak my ook elke nou en dan bang oor wat volgende uit haar mond gaan kom. Ek geniet haar vreeslik!”

SUIDOOSTER, MIENKE EHLERS
“Die girl maak my ook elke nou en dan bang oor wat volgende uit haar mond gaan kom,” skerts Mienke Ehlers oor haar karakter, Frankie, in Suidooster. Foto: Verskaf
Frankie, Suidooster, Mienke Ehlers
Wat kom maak Mienke Ehlers se Frankie in Ruiterbosch? Foto: Verskaf

Jy het destyds in Suidooster se kunsdepartement gewerk en nou is jy voor die skerms. Hoe voel dit vir jou? 

“Tydens Covid was ek op soek na werk in die filmbedryf. Ek het sommer direk vir een van die vervaardigers ’n e-pos gestuur en hulle het my die geleentheid gegee om agter die skerms as rekwisiete-assistent te kom werk. 

“Dis die mooiste volsirkel-storie. Daardie tyd het ek gehoop en so mooi vir die Here gevra om my die kans te gee om vóór die kamera te kan speel. En op die regte tyd, vir die lekkerste karakter, het Hy my teruggebring Ruiterbosch toe.”

Hoe verskil die sepiegenre vir jou van jou tyd by Wyfie waar julle ook vyf dae ’n week moes skiet? 

“Soos dag en nag. Sepies is nie vir sissies nie. Ek leer elke dag só baie. Ek dink nie mens kan die twee vergelyk nie. Beide mediums is enig in hul soort. 

“Ek dink wel sepies vereis ontsettend baie disipline. Daar is nie soveel ruimte vir vryheid en rondspeel nie, maar ek geniet die genre omdat ek die geleentheid kry om staat te maak op tegniek.”

Jy is nou deel van Suidooster se permanente rolverdeling. Hoekom dink jy vind kykers soos aanklank by Suidooster?

“Drama! Mense is mal oor drama, veral as dit nie hul eie is nie. Suidooster verteenwoordig ook baie van die verskillende kulture van ons land en daarom vind baie mense aanklank by die program. 

“Die akteurs benader spel met hul eerlike vertolking. Ons vloerbestuurder, Jess Kleinhans, sê gereeld, ‘Vind die kortste pad na die waarheid’. Dít maak dat die kykers werklik aanklank vind met dit waardeur die karakters gaan. Hulle kan in ons glo en in ’n mate deel wees van die ervaring.” 

Verlede jaar is jy as die beste nuweling in die sepie- en telenovela-genre by die Silwerskermfees (vir Wyfie) aangewys. Wat het dié toekenning vir jou beteken?

“Ek is diep geraak deur die erkenning as beste nuweling. ’n Mens werk nooit vir erkenning nie maar dié een was ’n groot bederf omdat ek só lank gewag het vir die geleentheid om ’n sterk rol te vertolk. 

“Ek is dankbaar vir wat die toekenning vir my loopbaan beteken en ontsettend geëerd om deel te kan was van ons land se storievertellers.”

Mienke Ehlers
Mienke Ehlers as Mia in Wyfie. Foto: Verskaf

Hoe bly jy gemotiveerd?

“ ‘Klein Mienke’ hou my kop sterk as lang dae te veel raak. Ek doen dit vir die twee blonde boksterte wat groot gedroom het. My gesin (pa Johan, ma Lana, en sussie Landi) is die sterkste fondasie en anker waarop ek kan steun. 

“Ek draf elke dag om my kop skoon en vars te hou en geniet so nou en dan ’n glasie wyn saam met vriende om seker te maak ek neem nie die lewe te ernstig op nie.”


Suidooster word weeksdae om 18:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, en om 18:30 op kykNET & Kie, DStv-kanaal 145, uitgesaai. Dit is ook beskikbaar op DStv Stream en Showmax.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Jou ‘Reënboogrant’-kykgids vir Maart 2025

Japie slaan sy kloue in Sunette in, maar dan kry sy nuus oor haar gesondheid wat haar hele wêreld omdolwe. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse telenovela, ‘Reënboogrant’, kan verwag.

Meer

Redakteurskeuse vir Maart 2025

Wat om te kyk: Die meesleurende Jaco Bouwer-drama, 'Niggies', Pretoria se Afrikaanse spin op 'The Mommy Club', Showmax se Afrikaanse tennisdrama, 'Breekpunt', en Seth Rogen se nuwe komediereeks – dié stories tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer

Oscars 2025: Wie het gewen én waar jy wenners kan kyk

Zoë Saldaña met ’n verstommende vertolking in die veelbesproke ‘Emilia Pérez’, Adrien Brody met sy indringende spel in ‘The Brutalist’, en Kieran Culkin in ’n loopbaanbeste rol waarvoor hy amper-amper nee gesê het – hier is vanjaar se Oscarwenners én waar jy dié bekroonde rolprente kan stroom. 

Meer

Jou telenovela-gids vir Maart 2025: Die einde breek aan in ‘My naam is Farah’

Tahir probeer steeds om vir Farah te beskerm soos dié verhaal ten einde loop. Hier is ons handige kykgids vir meer oor wat in die laaste sarsie episodes van ‘My naam is Farah’ op kykers wag.

Meer
Sien alle opsies