Liewe Os,
Hierdie week het verskriklik gevlieg, en met al die dinge wat hierdie kant van die aardbol pap op die tafel sit, was daar nou nog ’n vakansiedag ook om die ritme van ’n mens se bestaan te breek. Ek is skielik nie seker hoe julle vakansiedae daar onder werk nie, maar hierdie enetjie het nogal vir my gewerk. Vrouedag gee nie net elke vrou ’n dag om gevier te word nie, maar inspireer my telkens om nie net op my alie te sit en niks te doen nie. Hier is regtig pioniers en baanbrekers onder die skoner geslag – en dis nou maar wors!
Gepraat van wors… Dít is die uitdaging gewees hierdie week op Kokkedoor Vuur & Vlam. Die deelnemers is na Oom Jurie de Kock se familieplaas, De Oude Bakoven, net buite Napier, geneem om hulle nie net bekend te stel aan die gasbeoordelaar van die week nie – maar om ook tips by die Worsmeester van Suid-Afrika te kry oor hoe om jou eie boerewors te maak. Ek weet nie of jy weet nie, maar blykbaar is boerewors soos Franse champagne: as dit ‘boerewors’ op ’n pakkie sê, is daar reëls en regulasies waaraan daardie wors moet voldoen. Dit het ook ’n spesifieke smaakprofiel (volgens Bertus) om daardie titel te kan kry.
Die uitdaging
Vir hierdie week se uitdaging moet die deelnemers enige styl boerewors maak (en braai!) – en hulle moet pap en sous op ’n nuwe manier aanbied wat hul wors komplimenteer. Ek is so bly dit is nie my uitdaging nie, want hoe de hel vernuwe ’n mens ’n stapelvoedsel soos pap en sous? Dit laat my ook reeds wonder wanneer die beoordelaars ’n braaibroodjie-uitdaging op die spyskaart gaan aanbring… Hoe dit ook al sy, ek neem notas – want as ’n mens kreatief moet raak met die eenvoudige dingetjies op ’n bord waaraan niemand ooit aandag skenk nie, wil ek nie weet waarna toe hierdie kompetisie gaan beweeg nie. Een ding is seker: elke uitdaging is beslis ’n uitdaging in elke letter van die woord!
Ek hou van die deelnemers, net so by the way. Hulle is nogal vinnig met die sê-goed, want ná die uitdaging aangekondig is, het ek besef dat hierdie week se episode vol koddige kwinkslae en stoute sinne gaan wees. Die deelnemers se ondeunde tonge trek los, met rede, om hierdie uitdaging se fokus te verskuif. Alhoewel die uitdaging maklik klink, is dit nogal eintlik moeilik – want om ’n perfekte boerewors en ’n vernuwende vorm van pap en sous op ’n bord te bedien, sit nie in almal se broek nie.
Wanneer die spanne wegspring met hul beplanning, begin daar ’n paar krake wys – en die kwik in die kombuis skiet verby kookpunt vinniger as wat ’n mens kan sê “Merke! Gereed? Braai!” Dit wil ook voorkom of almal sukkel wanneer dit kom by die maal en stop van die vleis in die derm in…
Lara & Ashley
Lara en Ashley begin reeds die uitdaging op die agtervoet, want nie een van hulle het al wors gemaak nie. Ashley erken later dat hy ’n perfeksionis is en dat hy nog nie lekker wors gemaak het nie. Lara is nie seker hoekom hierdie uitdaging moeilik is nie, want sy dink worsmaak gaan oor lekker maalvleis opdis. Pop, het jy nie opgelet in die klas nie? Sien jy nie wat om jou aan die gang is nie? Of dink jy almal se senuwees is net besig om hulself gaar te braai vir niks nie?
Laratjie sukkel vreeslik met die maal-en-stop-proses. Dít vreet hul tyd vinniger as ’n klein familie by ’n hot dog-braai. Oom Joubert is darem trots op haar perfek gestopte wors, maar Lara dink die wors lyk maar ’n bietjie bleek en wonder of daar genoeg speserye in hul resep ingewerk is. Ashley sien dat Gert en Anel ook ’n wafel-idee het met hulle pap, maar is seker dat sy en Lara s’n beter gaan uitkom. Lara besef te laat dat sy na Borries se raad moes geluister het, want wanneer hulle wors van die vuur af kom, is dit bietjie hard…
Gert & Anel
Anel verklap vroeg reeds aan Joubert dat sy en Gert “Gout se Baas se Boerewors” maak. Die spannetjie laat val ruimskoots van hul maalvleis op die toonbank wanneer hulle saam-saam wil maal en stop. Anel is nogal behendig met die worsstoppery, maar beide sy en Gert vergeet van hul mielies op die kole in die proses – en Gertjie moet weer van vooraf die mielies voorberei vir die vuur.
Nicole & Ander Lara
Hulle besluit om Nicole se geheime wapen te gebruik: ’n resep van Wikus, ’n nefie van Namibië. Die twee voel mekaar weer van vooraf uit nadat hulle verlede week in die Onderste Drie beland het. Nicole het duidelik haar les geleer wanneer ’n mens met ’n wenresep werk: geen veranderings is nodig nie, want dit is reeds ’n wenresep. Kobus gee vir die spannetjie ’n wenk wat vinnig deur die kombuis versprei: blaas die dermpie oop, in plaas daarvan om dit met die hand te probeer oopmaak soos ’n vullissak voor jy dit in die vullisblik plaas. Ter elfder ure moet die span ook een van hulle elemente verander wanneer hulle sien dat dit wat hulle met die pap gedoen het nie so lekker gaan uitwerk nie.
Mooi Kevin & Dominee Jan
Die dominee moet dalk herinner word dat hy nie Wie Word ’n Miljoenêr? speel nie, want hy dring daarop aan om ’n lifeline te gebruik: ’n boerewors-resep van ’n Tannie Burgie (in sy gemeente) wat hy sy prysgeld op wil waag. Kevin vertel dat hulle ’n soetrissiesous saam met hulle wors gaan maak – en ’n pap-”blompot”. Nie ’n cooking clue wat dit was nie, maar het dit in my notaboekie gepen vir verdere ondersoek. Dit is wanneer Jan begin sukkel om die wors gestop te kry wat die pawpaw die fan begin strike. Dit blyk dat die dominee vergeet het om die senings uit die vleis te sny – en dit maak Kevin so warm onder die kraag dat hy in ’n swetsende matroos verander. Sy lont, erken die mooie man, is bitterlik kort.
Die spanwerk verander onmiddellik in ’n oorlog want Kevin moet sy elemente klaarmaak, terwyl Jan weer van vooraf moet begin vleis sny (die keer sonder senings!), geur, maal, en stop. Kevin maak dit baie duidelik dat hy nie hier is om te verloor nie, en dat sy hart ten volle is op die hoop om hierdie kompetisie te wen. Arme Jan voel soos ’n ongewenste gas by ’n onthaaltafel, maar probeer sy beste om sy fout reg te stel terwyl Kevin sy misnoeë baie duidelik te kenne gee. Ná Kevin klaar is met sy “blompotte”, spring hy ook in om die wors gestop te kry. Jan raak emosioneel wanneer die tyd verstreke is, en dit is duidelik dat Kevin gebuk gaan onder heelwat spanning.
Quotes van die week
Dit lyk baie sexy hoor, amper soos jy!
Joubert (terwyl Borries die mieliepap-tamalas maak):
Ek is sommer smoorverlief op jou!
Weer Joubert aan Borriesterwyl hy die sous/smoor wat hy gemaak het, inskep in ’n bakkie
Kom ons kry die wors op die tafel, en dan praat ons weer.
Borries se reaksie op Joubert se troetelwoorde…
Tjaart & Nataan
Met die spensdraffie vind ons uit hierdie twee gaan dhania maak: ’n Halaal wors. Tjaart verklap dan dat hulle basies ’n boheemse worsbroodjie maak, waar die pap die broodjie gaan vorm, en hulle sousie die gewone tamatie- of mosterdsous gaan vervang.
Cindy & Deelnemer Bertus
Hulle besluit om La Bamba-wors te maak, terwyl Cindy ook cachapa maak – ’n kruising tussen ’n paptert en ’n braaibroodjie wat van Venezuela afkomstig is – met drie tipes souse. Kobus waarsku hulle nogal dat hulle hom nie moet vertel van die lekker goed wat hulle beplan en dan nie daarmee deurdruk tot op die bord wat vir hom bedien word nie.
Karen & Mandré
Ek sou dink dat die vorige rondte se wenners baie druk moet ervaar om weer bo-aan die lys te kom met ’n volgende rondte, maar ’n baie selfvoldane Mandré is so koel soos ’n komkommer. Hy erken ruiterlik dat hy homself sal wil kloon as hy opsoek was na nog ’n ideale sjef in ’n kombuis. (Braam dink Mandré se ego gaan hom nog in warm water laat beland…)
Karen en Mandré is verheug wanneer hulle agterkom dat hulle die res van die spanne ver voor is: almal sukkel nog om hul worse te stop, en hulle is reeds lankal verby hierdie stap. Hulle besluit dan ook om bier by die boerewors te bring, deur ’n slap hakskeentjie in ’n dronk hakskeentjie te verander deur middel van ’n bier-mosterdsous. Dis duidelik dat Karen aan Mandré as ’n kind dink, maar dat Mandré nie ’n ma nie – maar ’n spanmaat – in dié kompetisie soek.
Braam & Francois
Braam begin sommer die dag met geite, want hy bekla alweer sy lot oor sy spanmaat. Wat doen Francois wat vir Braam so om-ellie? Blykbaar is Francois te rustig vir die gespanne en gedrewe kompetisie-deelnemer Braam… Ek sou dink dat dit ’n kalmerende effek op ’n mens sou hê, maar dalk is dit net ek wat glo in die wonderwerke van kalmte. Die twee maak ’n “boer-botie-wors” met ’n geel mieliepap-roti, wat bedien gaan word met ’n komkommer en tamatie sambal. Braam se fokus is om die vleis koud te hou wanneer hulle begin maal en stop, terwyl Francois ewe gedweë net handjie bysit.
Borries & Joubert
Joubert lyk soos die een wat vir Borries bymekaar gaan hou gedurende hierdie kompetisie. Die twee besluit om ’n wildswors raak te braai en om Mexico en die Vrystaat met mekaar te versoen vir hierdie uitdaging. Selfaangestelde papkoning Borries het besluit om sy pap vandag in die vorm van Mexican tamales aan te bied – met murgbotter – wat dan soos stukkies sushi opgesny word. Klink vir my asof hulle dalk eerder Mexico, Japan, en die Vrystaat met mekaar gaan versoen. Joubert sukkel met sy hande en die nabye hitte van die vuur help glad nie.
Kolekamer
In die Kolekamer is almal op hete kole terwyl die beoordelaars hul wors, pap en sous borde beoordeel. Die pap word van die corn flakes geskei, want die kokke wat hulle sous werd is, styg uit bo die res wanneer die beoordelaars elke bord noukeurig eet en bespreek. Meer as een span is bekommerd oor wat die uitslag gaan wees, en nog meer op hul senuwees oor wie hul braaitange sal moet ophang en huis toe gaan. Dit is veral Kevin en Jan wat voel hulle sit in Tamatiestraat.
Die #TopTwee spanne van die week is Francois en Braam, en Nicole en Ander Lara.
Francois spreek sy wens uit dat hy hoop hy en Braam kan die volgende uitdaging ook weer vir ’n home run slaan, maar Braam lyk bra skepties. Ander Lara en Nicole se oplossing vir hul pap-sternasie is dan ook uiteindelik die element wat hulle die algehele wenners van die boerewors-kompetisie maak. Nicole is opgewonde dat hulle die mans op hul watsenaams laat kyk het, tewyl Ander Lara dink hulle moet weer net baie nou saamwerk om die ander uitdagings die hoof te bied.
Die #OndersteTwee spanne van die week is Mandré en Karen, en Lara en Ashley.
Nou kyk, is dit net ek of is hier nou reeds een of ander vonkvloek oor die reeks? Want dit wil voorkom dat ’n mens liefs nie ’n rondte moet wen nie, want anders gaan jy in die #OndersteTwee beland – en dit is beslis nie ’n truuk van die beoordelaars nie! Is dit dalk net ’n geval van wenners wat hulle fokus verloor? Of dalk nie daaraan dink om konstant hul beste braaitange voor te hou nie? Ons sal seker maar moet wag en kyk of dieselfde lot vir Nicole en Ander Lara wag wanneer hulle volgende week weer almal die stryd aansê…
Ashley voel asof Bertus sout in sy wonde vryf wanneer die beoordelaar nie net hul wors nie, maar ook hul pap kritiseer – en dan by hulle wil weet wat met hulle aan die gang is. Nie een het eintlik antwoorde nie. Karen en Mandré se kos word bestempel as smaakloos, en dit is vir Mandré nogal erg om te hoor. Daar is wel ’n groot sug van verligting wanneer die beoordelaars aankondig dat hierdie nie ’n uitkloprondte is nie, maar dat daar wel ’n spanlid-skommeling plaasvind. Lara gaan van volgende week af saam met Mandré kyk dat hulle nie die pap op die grond laat val nie, terwyl Ashley en Karen saam-saam kierangs gaan braai.
Wat sou jy as boerewors bedien het, my liewe broer? Ek kan nie dink dat ’n kangaroo-boerie nou iets is waarna ek sou smag nie, nog minder ’n sousie wat gemeng word met ’n eucalyptus-stropie van een of ander aard nie… Sheila besit nie eers ’n kookboek nie, so ek weet nie watse tipe hulp sy sou kon wees nie – maar vra haar sommer net vir interessantheid wat sy sou voorstel?
Nou ja, dis weer laat aan hierdie kant. Ek groet vir eers, want daar is ’n hot dog met my naam op. Dis net ’n plein Vienna-worsie en ’n broodrolletjie, hoewel ek nogal geïnspireer voel ná hierdie episode om dalk hierdie kits-ete op te zush met ietsie meer eksoties – maar ek is nou te honger. Dink jy die kameramanne by Kokkedoor raak net so belustig vir die kos op hande soos ek?
Groete,
Jou suster, Annie, wat baie na jou verlang!
Tips van die week
Borries: “Draai jou wors slegs twee keer. Wors hou nie daarvan om aan wors te raak nie – daarom moet daar spasie wees om dit te braai.”
Gert: “Dit is belangrik om jou senings uit te haal, want as jy nie jou senings uithaal nie, gaan dit by die lemmetjie ophou. En dan gaan jy alles eers moet oopmaak en skoonmaak, en dis als tyd wat jy mors.”
Kokkedoor Vuur & Vlam saai Donderdagaande uit om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144 en DStv Stream). Die reeks is ook op Catch Up beskikbaar. Ons geliewe resensent, Annie Brand, se recaps word direk ná elke nuwe episode omstreeks 21:00 gepubliseer.