Menu terloops
In Recaps & Resensies [3 Aug 2023]

‘Kokkedoor Vuur & Vlam’: Wie sit die POT mis?


In die tweede episode van ‘Kokkedoor Vuur & Vlam’ op kykNET het van die deelnemers geleer dat jy maklik die pot mis kan sit met potjiekos… En so is die eerste span toe ook huis toe gestuur!

Deur Annie Brand

Stroom aanlyn

‘Kokkedoor Vuur & Vlam’: Wie sit die POT mis?

Liewe Os,

Dit was so lekker om jou stem te hoor Sondag. Ek is bly jy het my vorige e-pos geniet, en dat jy en Sheila besluit het om self ‘Kokkedoor Down Under’ aan te pak in jul buurt. Met soveel Suid-Afikaners wat nou daar bly, kan dit seker ’n heerlike friendly fire-kuiertjie raak. 

Ek dink hierdie week van Kokkedoor Vuur & Vlam gaan julle dalk inspireer om ook ’n potjiekos-kompetisie aan te durf. Martelize Brink, die blonde koppie met die goue stem (wat haar stempel afdruk as ’n radio-omroeper, TV-persoonlikheid, en kookboekskrywer) sluit as gasbeoordelaar by Bertus en Kobus aan. Die uitdaging? Eerstens moet die spanne (wat ná verlede week uit een Kinkelbraaier en een Onthoubraaier bestaan) ’n potjie maak wat hul herkoms vier. Tweedens moet hulle ’n ‘halfpadhappie’ maak: iets wat die beoordelaars met die hand kan eet terwyl hulle wag vir die pot om klaar te maak. Hulle het net drie ure om die hele besigheid saam te slaan! 

Dis nogal ’n tall order, dink ek, want daar moet reeds so baie gedink word om daardie pot perfek reg te kry. Onthou, twee verskillende deelnemers beteken twee verskillende herkomste! Dit maak die beplanning tricky, want hoe verteenwoordig ’n mens nou twee mense in een pot? Ek wonder nogal wat jy en Sheila sou kies om te maak, want jy is meer van ’n braaier as ’n potmaker… En sy is meer van ’n vreter as ’n voorbereider. Daai kraaines van wegneemete-brosjures teen julle yskas gaan nie werk in hierdie uitdaging nie. En so ook nie daardie aangeplakte fop-naels van haar nie! 

Die spanne spring dan weg met ’n beplanningsessie – en kort voor lank is dit net bedrywige bytjies waar jy kyk! 

Kokkedoor Vuur & Vlam
Die beoordelaars, Bertus en Kobus, sit aan saam met Martelize Brink om die deelnemers se kos te proe. Foto: Verskaf

Gert & Anel

Hulle maak ’n beesvleis kortrib vir hulle halfpadhappie, en iewers is daar gestoofde vrugte ook in die mix. Hul happie is ’n wenner! Soveel so dat Kobus hulle laat weet dat, indien hy dit in Frankryk vir iemand gaan voorberei, sal hy vir almal vertel dat dit sy oorspronklike idee was. Met die opskep, sê Gert vir Anel hy wil hoor dat hulle mooi borde het, juis omdat daar in die vorige episode gesê is dat Gert nie mooi borde voorsit nie… Maar wel verskriklike lekker kos! 

Kokkedoor Vuur & Vlam
’n Ligte oomblik in die kombuis tussen Gert en Anel. Foto: Verskaf

Lara & Ashley

Ashley is bekommerd dat hy en Lara dalk te goed saam kan werk, en dat hulle dan geskei sal word. Hulle maak ’n Kalahari boerbok-skenkelpot met kerrie – want dit is in albei se herkoms teenwoordig. Lara hoop die pot smaak soos haar oupa s’n, want dit is dan ’n wen in haar boeke. Lara se mielie-muffins sukkel, maar Ashley bly haar persoonlike cheerleader. Lara dink sy vertroue in haar is nie altyd gegrond nie… Hul halfpadhappie (mielie-muffins met Bovril) is vir Kobus te soet, en Bertus sou graag meer Bovril wou gehad het. Ashley is baie trots op hul potjie, en beskou dit as ’n meesterpotjie. 

Nicole & Ander Lara

Hulle beplan ’n lamskerrie-potjie – met skaapstertjies en -tongetjies! Dit klink nou glad nie vir my lekker nie, maar Nicole meen dat, hoewel hierdie besigheid volksvreemd klink, dit altyd ’n wenner is wanneer sy dit maak. Lara is bang, maar opgewonde oor hul pot. Ek sterf eerder tienduisend dode! Nes Lara, eet ek mos glad nie afval nie, en Nicole is bevrees dat hul potjie dalk ’n flop kan wees (hoewel sy daarop aangedring het). Ek sê altyd, “Skoenmaker, hou jou by jou lees.” Vir wat nou iets aanpak waar slegs een van die deelnemers weet wat hulle doen – of watter smake hulle na streef!? Kobus is die een wat oplet dat Nicole nie praat van ‘ons’ nie, en ek wonder so by myself of dit dalk die eerste tekens van ’n krakie in die span kan wees. Hulle halfpadhappie is ’n chip and dip-besigheid.

Mooi Kevin & Dominee Jan

Die twee beplan ’n lamskenkelpotjie. Kevin kan dalk nie die pot se naam spel nie, maar sy astrante “mooigeid” maak op vir dié tekortkoming. Kevin gee nie om hoe die pot lyk nie, want hy is meer behep daarmee dat die pot “bef*k” moet proe. Shame, wonder hoe die dominee voel oor Kevin se gekruide taal? Veral as ’n mens nou dink dat die enigste spice in ’n dominee se lewe iets te doen sal hê met die verkondiging van die Woord. Hul halfpadhappie is ’n mieliebrood en ekstra spek jaffel met lamsbobotie. Bertus dink hulle mis uit op een van die smake wat ’n bobotie ’n wenner sou maak. 

Tjaart & Nate

Die uitdaging met hierdie twee is dat Nate van ‘min’ iets ‘baie’ kan maak, want dit is hoe hy groot geword het – terwyl Tjaart bekommerd is dat die ‘min’ op die bord die beoordelaars ‘minder’ gaan beïndruk. Nou nie om te Bybels te raak nie, maar onthou jy die storie van Jesus met die twee brode en die vyf vissies? Klink vir my asof hier dalk nog ’n wonderwerk op hande is. Hul beplande potjie gaan net een groente bevat, en dit maak Tjaart ’n senuweewrak. Hulle halfpadhappie is ’n soutpoffertjie met ’n bokmelk-vla met suurlemoenskil bo-op. Bertus se enigste kritiek teen hul halfpad-happie is dat dit te loperig is. Vir die main event, maak hulle ’n bokpot, want dit is belangrik vir Tjaart – hy en sy pa boer met bokke. 

Rodney & Natalie

Die moeilikheid prut reeds vroeg in hierdie pot, want die twee lyk nie asof hulle kan saamstem oor wat gemaak moet word nie – en kan nie eers saamstem oor watter tipe pot (of grootte pot!) gebruik moet word nie. Rodney voel sy idees word afgeskiet, terwyl perfeksionis Natalie net nie van haar idees wil afstand doen nie. Ek is heeltemal ten gunste van #girlpower, maar in ’n span moet ’n mens seker ook die kuns van #compromise kan toepas, nie waar nie? Op die ou einde maak hulle ’n volstruisnekpot, terwyl hulle halfpadhappie ’n platbrood en sosatie is (wat op die ou einde van die dag ’n boere-taco vorm). Natalie dink Rodney is scatter-brained en sy neem die pot oor.

Die strewe na perfeksionisme begin Natalie onderkry, want sy wil alles maak. Rodney weet darem wanneer om nie te stry nie en staan terug. Maar selfs hy verwoord sy frustrasie met die hele proses, want hy besef dat hierdie intense druk is waaronder hulle werk. Bertus dink hul halfpadhappie is ’n goeie idee, maar dat dit sout en speserye kort om dit ’n wenner te maak. Natalie se kloutjies kom uit wanneer sy voel Rodney konsentreer nie op die groot goed wat gedoen moet word nie. Die sarkasme drup van die tong af wanneer sy oor hom praat. Natalie spreek haar teleurstelling in Rodney uit, want sy voel sy het meeste van die werk gedoen. Sy troos haarself egter met die idee dat sy darem weet alles is perfek.

Quote van die week

’n Cluttered space is ’n cluttered mind. Ek hou van my kombuis skoon hou

– Ashley

Karen & Mandré

Mandré erken dat hy nie veel weet van potjiekos maak nie. Hy gaan sterk op sy spanmaat moet steun om hierdie ’n wenner te maak. Karen se idee is om die Kalahari en Durban-kerrie met mekaar in ’n pot te versoen. Karen raak erg emosioneel met die opskep, want sy beskryf die pot as alles wat haar pa versinnebeeld. Ons vind ook uit dat Karen se pa oorlede is, en dat al wat hy ooit wou doen, tot die dag van sy dood, was om ’n pot te maak. 

Cindy & Deelnemer Bertus

Cindy wil hul pot eenvoudig hou, want sy dink die jonger deelnemers wil dalk te fênsie gaan met tricks of the trade. Daar is gemengde gevoelens oor hul halfpadhappies, en ek glo dit is die kweper-pureé besigheid op hul spekstokkies wat ’n suur smaak in die mond gelos het. Is dit nie bietjie van ’n self-fulfilling prophecy gewees om reg aan die begin te sê die jonges probeer te fênsie gaan, en dan maak ’n mens dieselfde fout nie? 

Braam & Francois

Braam is nog glad nie oorreed dat Francois die ideale spanmaat vir hom is nie. Francois het immers tyd om grappies te maak vir die kamera terwyl Braam reeds in volle kompetisie-mode is. Hulle maak ’n osso buco, maar met springbok. Braam wil dit onmiddellik patenteer as ‘spring buco’, terwyl hul halfpadhappie ’n braaibroodjie focaccia is. Basies ’n biltongbrood. Die beoordelaars geniet die happie. 

Borries & Joubert

Joubert kan net dink aan een pot wat beslis kan werk, terwyl Borries nie beïndruk lyk nie. Ek is nie seker nie, maar dit wil vir my voorkom of vooropgestelde idees dalk hierdie span kan kortwiek. Hulle pot klink asof hulle nie kon saamstem nie: skaaprib, boerbok, en skaaptong. Klink vir my soos ’n nagmerrie-take op paella. Ek sal daardie bord maar eerder by my wil laat verbygaan. Vir hul halfpadhappie het hulle gerookte oesters en ’n mossel tapa gemaak. Kobus dink dit is ’n baie goeie idee, maar dit het te veel elemente en beskryf dit as ’n “belaglike nonsens” (veral omdat hy van ’n rou oester hou), maar moet op sy tong byt as hy erken dat hy nogal van die mossel tapa hou.

Met die opskep, begin die twee mans mekaar se kookpunte te toets, want elkeen wil dinge op sy eie manier gedoen kry. Borries beskryf Joubert as iemand wat gou kan kwaad raak. Ná die opskep, is dit nogal cute om te sien dat die twee wel ’n tipe van verstandhouding het. Maar ek dink dit gaan meer oor die feit dat een die verstand het en die ander een die houding – en beide dink hulle is die verstandige een…

Borries en Joubert het mekaar se kookpunte getoets. Foto: Verskaf

In die Kolekamer merk Mandré op dat Natalie en Rodney nie langs mekaar sit by die tafel nie. Bertus kondig die top-drie spanne aan. Gert en Anel word geprys vir die feit dat hul gestoofde vrugte saam met lam voorgesit het. Dit word weer beklemtoon dat Gert se borde nie mooi is nie – maar flippen lekker. Tjaart en Nate is verbaas dat hulle in die top-drie is. Karen en Mandré is net so opgewonde dat hulle saam met die res uitgesonder word. Karen en Mandré word dan ook as die algehele wenners van hierdie rondte aangewys. 

Die slegste potte van dié rondte is Lara en Ashley, Rodney en Natalie, en Nicole en Ander Lara. Lara en Ashley se pot word beskryf as netjies – maar Kobus dink om kos op te skep met ’n tweezer is nie waaroor potjieskos gaan nie. Ek stem nogal saam met hom, wanneer hy sê dat potjiekos met ’n lepel opgeskep moet word. Rodney en Natalie word uitgehaal oor die feit dat hulle groente na niks gesmaak het nie, en hul volstruisnek was nie gaar nie.

Nicole en Ander Lara se kerrie het blykbaar nie na kerrie geproe nie. Nicole dink dit is omdat sy Ander Lara vertrou het met die maak van die belangrikste element van die potjie – wat toe nou ge-backfire het. Ander Lara is geskok in die uitslag, en dink hulle het die pot misgesit… En dat sy naïef was om al hul vertroue in daardie pot te sit. 

Rodney en Natalie word huis toe gestuur, met swaar harte. Ek voorspel dat die hartseer Natalie en ’n brutale eerlike Rodney nie gou weer om dieselfde vuur gaan sit nie. Rodney beskou hierdie as ’n leerproses, terwyl Natalie net haar pa wil bel. 

Kokkedoor Vuur & Vlam
Rodney en Natalie aan die kook. Foto: Verskaf

Ek dink die potjiekos-rondte was die ideale geleentheid om te toets wie murg in hul pype het, en wie regtig as spanne kan saamwerk. Ek voorspel reeds dat daar nog lang trane gaan vloei in die res van die reeks, want elkeen wil graag hul stempel afdruk op hierdie unieke kompetisie. Nie almal se kool is egter die sous werd nie. Net tyd sal leer wie se harte brand vir braai, en wie die koue kole onder die heethoofde is…

Nou, ja, toe! Stuur bietjie foto’s van jul knetter-kuier daar Doer Onder. Ek gaan nou eers kyk of hier nie dalk ’n versnappering is ná al hierdie heerlike disse op skerm gewys is nie. Ek het nou baie lus vir daai mielie-muffin en Bovril-konkoksie!

Groete,

Jou suster, Annie, wat baie na jou verlang!

Tips van die week 

Martelize Brink: “ ’n Pot is ’n baie eenvoudige manier om lekker baie en heerlike kos vir mense voor te sit. Maar my pa het gesê dit is nie ’n ding wat jy enigiets in moer nie, nè? Jy moet vir hom met respek behandel. Dis ’n verskriklike moeilike ding eintlik om groente so te kry dat jy individueel kan proe hoe dit smaak, maar terselfdertyd moet hulle ook na die pot smaak. Jou aartappels altyd vroeër, jou aartappels is jou verdikkingselement. Moenie baba-aartappels net so in neuk nie; sny dit altyd in die helfte deur. Hy moet kan raak aan daai stysel. En moenie wegloop van ’n pot of op sy eie los nie – gee vir hom daai liefde wat hy verdien.”


Kokkedoor Vuur & Vlam saai Donderdagaande uit om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144 en DStv Stream). Die reeks is ook op Catch Up beskikbaar. Ons geliewe resensent, Annie Brand, se recaps word direk ná elke nuwe episode omstreeks 21:00 gepubliseer.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

‘Wyfie’: Jou kykgids vir Oktober 2024

Dinge raak ernstig tussen Maggie en Shay en Kyla moet moeilike keuses maak. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer

Silwerskermfees 2024: Waar en wanneer om vanjaar se kortfilms die week op TV te kyk

Vanjaar se Silwerskermfees het weereens voortgebou op meer as ’n dekade se ontwikkelingsprojekte in die plaaslike filmbedryf – en die eerste sarsie stories word hierdie Saterdagaand, 7 September 2024, op kykNET uitgesaai.

Meer

‘Wyfie’: Jou kykgids vir September 2024

Amanda kom voor moeilike besluite te staan en Kyla is in ’n desperate situasie verstrengel. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer
12

12 klassieke chick flicks en reekse om te kyk

Gryp die popcorn en rosé en kyk ’n paar van die mees ikoniese chick flicks en reekse wat ons oor die jare vermaak en geïnspireer het. Of jy nou lus is vir ’n lekker romcom, ’n hoërskooldrama, of ’n feel good-reeks, hierdie lys van 12 throwback-juwele is beskikbaar op jou gunsteling-stromingsplatforms.

Meer
Sien alle opsies