Liewe Os,
Onthou jy nog daai atletiek-liedjies wat ons as kinders so uitbasuin het oor die dawerende vlaktes van ’n rugbyveld-en-atletiekbaan-kombinasie? Daar was ‘ons het die gees, ja, man, ja!’ en ‘jêmblikke, visblikke!’ en wat ook al die verkose kreet van die somer was – wat weer sou herhaal met die etlike rugbywedstryde in die winter. Een van daardie liedjies het ook gegaan: ‘Bring die water, bring die sand, want (naam van atletiek- of rugby-ster hier) is AAN DIE BRAND!’ So is dit dan ook nou die geval met die splinternuwe seisoen van kykNET se Kokkedoor!
Ek weet nie of julle dit daar in Australië te siene sal kry nie, my broer, maar ek wens so julle kan hierdie baie slim en beeldskone aanbieding van dié realiteitsreeks in die hande kry. Dit is watertand-lekker kykgenot, met ’n eg Suid-Afrikaanse aanslag. En dít maak ’n mens honger en lus (vir kuier om ’n vuurtjie, stouterd!).
Jy weet hoe baie ek van mooi goed hou – en hierdie reeks is beslis mooi! Nee, wag, mooi klink soos iets wat ’n mens sê oor ’n Barberton daisy. Hierdie reeks is indrukwekkend beeldskoon. Dit is só eksoties pragtig dat ek portrette wil maak van die hele titelsekwens, en dit hang langs die fotos van jou, Mamma, Pappa, ál die oumas en oupas, en die Klein Karoo-plaas van ons grootwordjare.
Die reeks is geskiet op Struisbaai, in die Wes-Kaap, en as julle dit hierdie Desember tot by my maak, gaan ons beslis daardie spesiaal geboude plekkie soek. Ek het vir Herklaas gesê ek wil my kombuis sloop en ook so ’n kombuis-ateljee-spasie hier bou. Maar Herklaas dink dit moes ’n groot bedrag geld gekos het om dit so uniek en nostalgies te laat lyk en voel.
Die beoordelaars van dié seisoen is Bertus Basson (ek het al vir jou van hom vertel: hy is die bobaas meester van In die Sop) en dan ’n Franse boerseun met die naam Kobus Botha. Bertus is meer bekend aan my omdat hy hier in die land bly, maar ek ken nie vir Kobus so goed nie. Hy bly in Frankryk. Hulle twee lyk kwaai, en ek dink hulle gaan beslis nie doekies omdraai met die 20 mense wat gekies is om sake uit te braai nie. Soos wat Kobus ook sê: “Ons is nie jou sielkundige nie, ons is jou beoordelaar!”
Quote van die week
As ek die vuur aansteek, beteken dit vir my dat ek net kan rustig wees en ontspan. Die vuur praat nie terug nie, die vuur kan my nie oordeel nie. Ek kan my wyntjie geniet, en ek kan my vleis braai.
– Jan
Daar is twee kategorieë van braaiers: die Onthoubraaiers, en die Kinkelbraaiers. Soos wat ek verstaan is die Onthoubraaiers nie spesifiek opgeleide kosmakers nie, terwyl die Kinkelbraaiers wel opleiding in kosmaak ontvang het. Die eerste episode se doel is om spanne te vorm wat bestaan uit een van elk. Maar om hierby uit te kom, moet elkeen eers individueel wys wat in hulle steek – en of hulle weet hoe om ’n vuur reg te benut.
Verbeel jou: oop vure en kole in die kombuis? Nooit eers gedink ’n mens kan dit so doen nie! Maar Bertus sê dit is nou die in-ding in moderne restaurante reg oor die wêreld, en dat braai nou weer “rock ‘n’ roll” is! Het julle al so iets teëgekom waar julle bly? Kobus se woorde is vir my net so mooi as hy sê, “braai is nie net oor kos nie; braai is ook ’n skouspel!” Ek weet jy en Herklaas sou nou lekker lag oor ek saam met die man stem – want dit is iets wat julle al jare lank vir my sê. Maar hier is dit nou uit die gekwalifiseerde en professionele perd se bek!
Die tyd vir praat en ginnegaap is dan verby, en die kompetisie spring weg met ’n harde knal. Kobus verduidelik vir die Onthoubraaiers wat hy wil sien in hul dis vir die dag, en onthul dan dat hulle geelstert (vars uit die see van Agulhas) vir hom moet voorberei. Hy wil ’n perfek gaargemaakte vis hê sonder enige tierlantyntjies. Dis vir my vreemd, want dit is tog ’n kosmaak-kompetisie, maar ek sit toe maar en kyk hoe elke Onthoubraaier hierdie gaan interpreteer.
Bertus se opdrag aan die Kinkelbraaiers is om ’n lamrak (van ’n merino uit die Overberg) vir hom gaar te maak. Sy opdrag is wel meer ingewikkeld, want hy soek ’n dis wat goed genoeg is vir een van sy restaurante. Onmiddellik sak my moed in my skoene, want dit is darem ’n vreeslike opdrag vir die eerste rondte! En hulle het nie baie tyd nie, broer! Jy en Herklaas sou hierdie toets heeltemal gedop het, want julle is nooit op tyd met jul braaiery nie…
Almal spring dan weg, en begin beplan en voorberei. Tussendeur ontmoet ons van die Onthoubraaiers.
Nicole wil wen omdat sy vir mans wil wys dat vroue ook bobaas-braaiers kan wees. Sy haak egter in die verskriklike groot spens by die brandewyn vas. Karen is ’n pas-geskeide vrou wat emosioneel raak wanneer sy praat oor braai en wat vuur vir haar beteken. ’n Selfvoldane deelnemer wat ook Bertus heet, wil eers sy koerant lees voor hy begin braai. Francois breek sommer ’n houtlepel omdat hy gewoond is aan sy toebehore by die huis.
Joubert en Lara is ’n oom en niggie wat eintlik ingeskryf het om kragte saam te span, en nou neem hulle teen mekaar deel. Anel het vir die eerste keer haar eie vis voorberei, want haar man doen dit gewoonlik. Jan is ’n NG Kerk-predikant van Cradock-Oos in die Oos-Kaap. Nate se liefde vir braai kom van die feit dat hy in die Cape Flats grootgeword het op die derde vloer van ’n gebou waar daar nie spasie was vir braai nie. Rodney is ’n spysenier wat van Oudtshoorn af kom, met baie idees: hy wil ’n dis voorsit wat sy familie van sal hou.
Die eerste beoordeling gaan oor die algemeen nie so great nie. Party se visse is nie gaar nie, of oor-gaar, terwyl ander perfek is – maar die bykosse pas nie. Dis ’n eerlike besigheid die, want die kritiek is nie vermakerig of baasspelerig nie. Rou en eerlik, soos party se braai-tegnieke. Lofprysings en verdoemenisse word uitgespreek, en party deelnemers se egos word so bietjie geknak. Francois besef dat hy harder sal moet probeer, en dat ’n mens “meer as net persoonlikheid gaan nodig hê om die ding te wen”…
Dan is dit tyd vir die Kinkel-braaiers se beurt om ook hul ysters in die vuur te gooi.
Tjaart is ’n nie-vleiseter wat nie seker is waar die vlamme gestook moet word nie. Borries is ’n self-erkende “pap-profeet” wat meen hoewel elke Kinkelbraaier dink hulle kan braai, is dalk meer ego’s as kole in die kompetisie onder die klomp. Die pragtige Kevin onthul sy plan om te wen. Kevin wil met mense se koppe speel deur baie arrogant te wees. Natalie is ’n perfeksionis wat reeds laat blyk het dat sy nie van Onthoubraaier Lara se manier van doen hou nie.
Kinkelbraaier Lara maak reeds ’n fout wanneer sy haar vleis voorberei, maar besluit om deur te druk. Ashley verklap dat sy gunsteling ding om te doen in die wêreld is om kos te maak. Braam se liefde en kennis van vleis kom daarvan dat hy basies in ’n Spur grootgeword het. Cindy se fokus is op haar vleis, want sy sê daai skaap blêr in Afrikaans – en nie Chinees nie! Gert, wat van die Oos-Kaap kom, voel hy het iets om te bewys – en lyk nie na ’n man met te veel fieterjasies nie. Mandre wil koffie gebruik in sy “wenresep”, maar Bertus en Kobus wonder of dit gaan werk.
Tyd is nie aan almal se kant nie, en die beoordeling is ook rou en eerlik, wat soms in skerp teenstelling is met van die pragtig gestileerde borde. Bertus sê hy eet eerder ’n lelike bord wat flippen lekker is, en daar is heelwat van hulle. Mandre se skouspel van ’n bord is nie ’n wenner nie. Borries se doringtak-bord verklap dat hy tegniek het – maar sy kos is nie tegnies so smaakvol nie.
Die drama skuif dan na die Kole-kamer, waar die deelnemers uitvind of hulle oor die kole gehaal word of nie. Van die Onthoukokke word Lara, Jana, en Bertus uitgesonder. Die een wat beslis uitstaan bo die res is Lara. Oom Joubert se hart swel so dat sy oë sommer vol trane skiet.
Die Kinkelkokke wat uitgesonder word is Cindy, Ashley, en Gert – maar die gunsteling van die dag is Gert. Lara en Gert moet dan die spanne vir die res van die seisoen uitsorteer met ’n pak kaarte – maar eers kan hulle hul eie spanmaats kies. Gert kies vir Anel, en Lara kies vir Ashley. En dan word die res van die spanne uitgesorteer deur die pak kaarte (waarop die name, vanne en gesigte van die deelnemers op pryk) een vir een te wys sonder om met mekaar te praat. Hierdie speletjie is interessant, want dit is pure luck wat eintlik die spanne saamstel.
Die spanne lyk dan so: Lara en Nicole; Kevin wil eintlik vir Joubert hê, maar kry dan vir Jan; Tjaart en Nate; Rodney en Natalie; Karen en Mandre; Cindy en Bertus; Braam (wat nie vir Francois wil hê nie) en Francois; en Borries en Joubert. Nie almal is ewe opgewonde oor hul spanmaats nie, maar gelukkig is daar niks wat niemand hieraan kan doen nie. Lady Luck het haar kombinasies gemaak, en nou moet hulle net die wa deur die drif trek.
Ek sien nogal uit na hierdie seisoen. Jy moet laat weet of ek vir jou daar in die verre nog updates moet stuur. Ek gaan myself solank weeg, want ek gaan nie hierdie reeks kan kyk sonder om te eet nie! Die kos lyk net te lekker. Ek het juis vir Herklaas gevra om sommer gou vir ons ’n ou tjoppie op die vuur te gooi, want Mamma is nou so uitgehonger, ek lek sommer die televisieskerm as ek die episode weer kyk op Catch Up!
Groete vir Sheila en die kinders! En onthou om ook aan ons te dink terwyl julle ’n vuurtjie aansteek aan daardie kant.
Groete,
Jou suster, Annie, wat baie na jou verlang!
NS: Ek sal later uitbrei oor die gebruik van musiek in die program. Dit is pragtig! Dalk kan ek vir jou ’n playlist maak op YouTube? Dan kan jy darem hoor hoe hierdie reeks klink? Ek gaan vir Marcus moet kry om my te wys hoe om dit te doen. Die kinders van vandag is baie beter met die rekenaar-en-internet-goeters as ons!
Tips van die week
Bertus Basson: “Ek verkies skouertjoppies, net met sout, bros gebraaide vet met ’n klein bietjie vars suurlemoensap op die einde.”
Kobus Botha: “Braai ’n roofvis soos geelstert, geelbek of snoek. Vlek, maar los die kop, vel en grate aan. Baie smaak kom uit die gelatien van die grate en die vet van die vel. Gooi bietjie sout. Braai oor baie warm kole aan die vleiskant tot bruin. Draai om, hou op die baie warm kole tot die vel blase maak. Dit smelt die vet en verander die smaak van lekker na heerlik. Lig dan hoog oor die kole tot net gaar terwyl jy bietjie botter bo-op smelt. Eet met vingers en vars brood.”
Kokkedoor Vuur & Vlam begin op Donderdag 27 Julie om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144). Ook op Catch Up beskikbaar. Ons geliewe resensent, Annie Brand, se recaps word direk ná elke nuwe episode omstreeks 21:00 gepubliseer.