Liewe Os,
Ná jou laaste skrywe is ek so opgewonde oor Desember dat ek amper begin om die tyd om te wens. Ma sou vreeslik met my baklei het omdat ek die horlosie so dophou en wegwens op dieselfde tyd. Nes ek altyd gedoen het wanneer sy haar bekende melktert begin saamslaan het. Onthou jy hoe lank dit gevoel het vandat sy die bestanddele bymekaar gegooi het tot wanneer sy vir ons elkeen die grootste sny denkbaar op ’n kleinbordjie bedien het? Nou ja, jul kuiertjie voel vir my nes daai, ook ’n miljoen jaar ver!
Gepraat van ’n miljoen – kan jy glo wie toe nou gewen het met Kokkedoor Vuur en Vlam, en met R1 miljoen van Toyota weggestap het, Goue Kokkedoor omhoog? Ek moes jou bel om die nuus te deel, wat eintlik so bietjie van ’n spoiler was met betrekking tot hierdie skrywe van my. Ek was bang gewees dat jy uit pure nuuskierigheid die Interwebs sou inspan om die wenspan uit te vind – en toe besluit ek om daardie nuuskierigheid van jou te blus.
Maar wag, kom ons begin by die begin, sodat jy ook ’n idee kan kry van net hoe straf daardie laaste uitdaging was waarin Nataan en Mooie Kevin die stryd aangesê is deur Gert en Mal Karen.
Die dertiende episode van hierdie onvergeetlike reeks begin met soetsappige en eerlike waarnemings van elk van die laaste deelnemers. En dan word die twee spanne ingelig dat hulle net vyf ure het om kos vir gaste te maak, wat al ’n tradisie is vir die laaste uitdaging in Kokkedoor. En wat moet hulle voorberei? Die twee spanne moet ’n braai-‘oepsie’ maak wat geïnspireer is deur die duiwelruiters van ouds – en dit moet hul eie gemaakte wors insluit. (’n ‘Oepsie’ is basies pruimedante wat in spek toegedraai is, net ingeval jy ook nie geweet het nie.)
Die tweede element moet ’n wildspastei wees. Dan, ’n groot beessnit, asook enige ander tipe vleisgereg van hul keuse. Een van daardie geregte moet op ’n kruisspit gemaak word. Hulle moet ’n Sweedse fakkelgat gebruik om dit mee gaar te maak. Die beoordelaars wil dan ook hul eie surf & turf-dis hê – maar dit moet ’n paella wees. Hulle moet ook ’n brood bak of braai, en gepaste bydisse maak. Om die tiende seisoen van Kokkedoor te vier moet die spanne ook ’n vlammende verjaardaggebak bedien – met goed wat brand.
Daar is 30 gaste wat gevoed moet word – en wie se asems weggeslaan moet word. Die troosprys van die uitdaging is dat hulle een dag het om te beplan – en eers die dag daarna aan die werk moet spring.
En dan gebeur die ding wat sekerlik my grootste kritiek teen die hele seisoen is: ’n onvergeetlike, pragtige, dramatiese realiteitsreeks gebruik ’n afgewaterde, vervelige en baie vergeetlike wil-komies-wees-speletjie om te besluit wie van hierdie seisoen se eks-deelnemers die amper-wenners gaan bystaan in die kombuise vir die eindstryd.
Kyk, moet my nie verkeerd verstaan nie: ons het almal ’n innerlike-kind wat graag nog wil speel, maar hierdie besigheid los ’n wrang smaak in my mond. Sekerlik is daar ’n beter manier om eks-deelnemers te verdeel in spanne om die amper-wenners by te staan? Maar dis nie my grootste probleem nie. In my stilligheid wonder ek maar net of dit regtig nodig is dat ALMAL van hulle MOET ingedeel word – en of hulle regtig moet handjie bysit?
Neem dit dan nou nie weg van die vier amper-wenners wat hard baklei het, week in en week uit, vir hulle plekkie in daardie kombuise nie? Het hulle nie juis so ver gekom omdat hulle persoonlik en innig met hul kreatiewe handewerk gewoeker het nie? Gaan daar nie van daardie eks-deelnemers wees wat genoeg suur druiwe bymekaar gemaak het in die weke van hul vertrek tot nou om dalk die amper-wenners se planne te kelder nie? Ek weet 30 gaste is baie, maar gee hulle dan eerder meer tyd om voor te berei – maar daar is baie spesifieke redes waarom die eks-deelnemers huis toe gestuur is… En ek dink dit is waar hulle eintlik maar moet bly.
Maar nou, ja, ná die kinderagtige speletjies afgehandel is, staan sake so: Mooie Kevin en Nataan gaan ondersteun word deur Bertus en Natalie, Nicole en Ander Lara; Borries en Laratjie, en Rodney en Mandre. Mal Karen en Gert word gehelp deur Cindy en Joubert, Ashley en Anel, Tjaart en Dominee Jan, en Braam en Francois.
Dit is nogal vir my interessant hoe die verskillende spanne dink oor watter kombinasie van ’n kinkel- en onthou-kok om bymekaar te sit – en ook wie die laaste pare is wat hulle gekies het… Die ander groot fout met die terugbring van die eks-deelnemers is dat ’n mens nie meer soveel tyd met die laaste vier kan deurbring nie, want elkeen van die eks-deelnemers kry nou kans om goedjies te sê waarin ek weinig belangstel. Dis seker maar my competitive nature, maar ek het ’n pad gestap saam met almal van hulle om uiteindelik by hierdie finale episode uit te kom.
Ek stel nie meer belang in die vorige karakters nie, want die enigste mense wat eintlik vir my saak maak is Nataan, Gert, Mooie Kevin, en Mal Karen. Die res hoort ver in die agtergrond. Ek wil weet wat die amper-wenners dink, sê, doen, en voel – nie die dikwels komiese en meestal onbelangrike en vergete (vir hierdie episode) eks-deelnemers nie. Dis soos om na ’n Best Of-compilation album van jou gunsteling sanger te probeer luister, maar nou is daar ’n klomp ander wat covers doen van hul beste liedjies…
Die cuteness-faktor kom wel in wanneer Laratjie en Oom Joubert alweer teen mekaar werk (soos wat hulle gedoen het in die hele seisoen), en Ashley en Deelnemer Bertus ook teen mekaar te staan kom, alhoewel Ashley hulle twee nog beskryf as “braaibroers”
Nataan & Mooie Kevin
Borries staaf my punt oor eks-deelnemers wanneer hy opmerk dat daar ’n probleem in die span is: too many chiefs, en al daai, maar dan erken hy ook hy is deel van die probleem. Mandre irriteer my nog elke keer wanneer hy op skerm verskyn, maar verdien punte wanneer Nataan vertel dat hy regtig ingespring het om die taak ligter te maak vir die amper-wenners. Dominee Jan laat my hart warm klop wanneer hy terug is om vir homself – en die kyker! – te bewys dat hy wel kan wors maak. Kevin, met goeie reg, verstaan nie hoekom die ribbetjies nog nie op die vuur is wanneer hy sy pot op die vuur plaas nie.
Borries sukkel met Nataan oor die braaiery, maar dit is nie duidelik of dit is oor die knertsies wat hy vat en of dit regtig gaan oor braaivernuf nie. Dis ook duidelik dat Deelnemer Bertus en Borries nie om dieselfde vuur sit nie – en die ketelbraai spook weer by Deelnemer Bertus, nes dit gedoen het in die ketelbraai-uitdaging. Nicole voel Kevin het haar so bietjie in die diepkant gegooi met die paellas, maar is dankbaar vir Rodney wat haar uithelp. Nataan laat in die laaste tien minute ongelukkig van die brood verbrand, en hy voel dat hy almal teleurgestel het met die ou foutjie. Nadat Ander Lara 5kg se wors gemaak het, kom sy agter dat die uitdaging net ’n paar worsies benodig vir die braai-‘oepsies’.
Mal Karen & Gert
Karen wys hoe sy multitask wanneer sy die deeg vir die kaiingbrood bymekaarsit. Busybody-beheervraat Anel is weer terug op haar pos. Joubert en Ashley kry die ribbetjies op die rooster met behulp van Ashley se draadkarretjie-bou ervaring van sy grootwordjare. Tjaart het ’n probleem met die paellas, en Anel beaam dat dit nie in enigiemand se broek sit om vier panne paella op ’n vuur te maak nie.
Karen bestuur die eks-deelnemers mooi, en sy is baie direk oor wat sy wil hê – en ook wat sy nie wil hê nie. Sy wil beslis slapdeeg gebruik vir die wildspastei, en die blommerangskikking/versiering aan die bo-kant van die pasteie is ’n idee wat ek gaan steel. Dit blyk dat Kobus eintlik die idee-gewer was van die malvalekker-koekbesigheid waarmee Gert en Mal Karen hul uitdaging mee wil afsluit. Nou wonder ek maar net: sou dit van die begin af hul unieke idee gewees het, of het hulle besluit om dit te maak ná hulle van Kobus se voorbeeld gehoor het?
En die wenners is…
Wanneer die laaste van die kos borde gevind het, en die kompetisie uiteindelik verby is, voel dit vir my na ’n antiklimaks. Ná 13 weke se swoeg en sweet saam met hierdie mense is dit dan nou ook die einde van hierdie stryd, en ek sluk sommer al klaar aan die klein knoppie in my keel oor hierdie nuwe vriende wat ek gaan moet groet wanneer die wenners aangekondig word oor ’n paar minute.
Maar voor die finale eindfluitjie geblaas word, is daar eers nog ’n klein verrassing: kykNET en Lion-vuurhoutjies en -vuuraanstekers het besluit om vir die naaswenners R200 000 te skenk. Die eindbedrag wat tussen die twee spanne gedeel word is R1,2 miljoen – en dit is beslis iets om oor te kraai!
Die finale opmerkings oor die twee spanne se kos word gemaak, en dit wil-wil klink asof hierdie ’n gelykop besigheid gaan wees – maar Gert en Mal Karen word aangewys as die span wat die beoordelaars weggeblaas het met ’n manjifieke vuurvertoning.
Nog pluimpies!
Indien hierdie ’n prysuitdeling was, sou ek nog ’n paar pluimpies wou uitdeel. Een vir die fotografie van hierdie reeks, want daar is miljuisende prentjies wat in my kop hemel. Ek wou kort-kort in die seisoen van die episodes stop om screengrabs te kon maak van die prentjies, sodat ek dit later kon opblaas en in my huis hang. Dan, wie ook al die musiek en die musiekkeuses vir die reeks gedoen het, behoort ’n groot wildspastei te kry – want dit was nou lekker klanke wat ek gaan mis, veral ook omdat dit die seisoen ’n baie meer internasionale gevoel gegee het. En dan laaste, maar nie die minste nie, was dit baie lekker om vir Kortjas van Vlug na Egipte en Terug na Egipte te kon hoor: Chris van Niekerk het een van die lekkerste – en duidelikste – rasperstemme in onder ons land se voorste akteurs.
Nou wil ek net weet: gaan die mense wat die reeks gemaak het darem vir ons ’n kookboek (of is dit nou ’n vuurboek) gee vir Kersfees? Daar is ’n paar episodes wat ek weer op my PVR gaan moet hou as ek vir julle wil verras met ietsie spesiaal hierdie Desember – en volgende week begin daar ’n nuwe realiteitsreeks wat vir my baie lekker klink: Die Brug! Maar so tussen deur die brugbouers en die vuurherders, gaan ek nou eers bietjie die vuur in my hart blus met ’n ou eetdingetjie – en dink aan al die memories wat hierdie seisoen by my opgebring het.
Ons sien julle een van die dae, boetie! Maar ek is seker ek praat met jou na die semi-finals hierdie naweek van die Wêreldbekerrugby. Hopelik snoei die Springbokke die Engelse Rose ongenaakbaar!
Groete,
Jou suster, Annie, wat baie na jou verlang!
Kokkedoor Vuur & Vlam saai Donderdagaande uit om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144 en DStv Stream). Die reeks is ook op Catch Up beskikbaar. Ons geliewe resensent, Annie Brand, se recaps word direk ná elke nuwe episode omstreeks 21:00 gepubliseer.